Читать книгу Versamelde werk: Sheila Cussons - Sheila Cussons - Страница 13

Gestaltes

Оглавление

“Hulle woon in alle lewende dinge. Sommige mense beweer dat hulle selfs voorwerpe is, selfs dit wat die mens gemaak het. Miskien. Alle dinge, soos jy, het twee liggame – een wat die oog waarneem en ’n ander wat ons dalk sal vind, as ons soek.” Woorde deur iemand gesê.

Ek het onthou toe ek die rooi rose op ’n smal, regop boekrak sien staan het. Ek het begin soek toe ek met waterverf en ’n vel wit papier voor hulle gaan sit het.

Soos destyds in die vrykamer het ek gekyk en gewag. Toe kom dit uit die rose, skaam en versigtig, die ander liggaam. Hoe moet ’n mens dit beskryf? Dit het my nie verbaas nie, want ek het gesit en wag daarop. Sodat ek dit maklik kon herken, het dit gedeeltelik na ’n mens probeer lyk, maar klein: omtrent ses duim lank, ’n deursigtige koperrooi liggaam, byna soos ’n mens – byna, want die bolyf was die duidelikste sigbaar, en twee arms oopgesprei asof dit weerskante iets wou terugvou van die liggaam: ’n gebaar soos dié van iemand wat deur ’n heining probeer kruip en dan met ’n uiters delikate beweging vorentoe kom en orent staan, op ’n bevel wat hy effens vermaaklik vind. Die hoof kon ek nie duidelik sien nie, maar ek het geweet dat daar ’n hoof moet wees. En sterk, die geur van rose in ’n halfdonker plek.

Daarna het ek my uiterste bes gedoen om te skilder wat ek gemeen het dat ek gesien het. Ek was tevrede met my prent van ’n fee: ’n mens kan nie te veel van ’n prent verwag nie.

Die tweede gestalte was onafhanklik van enige voorwerpe. Hy het gewoon in ’n landskap wat ek maar net kon vermoed. Hy het in sy wysheid verkies om onsigbaar te bly; sy enigste toegif aan my was die ongeveer menslike persoonlikheid wat hy aangeneem het. Tegelykertyd was hy die wese en die plek, die figuur en die landskap. Omdat beelde nodig is, het ek hom só gesien: skraal en rank soos die mense van my eerste eensaamheid: ’n jong man met ’n grys mantel; grysblonde hare, ruig en gekrul. Maar hy het my in verwarring gebring. Asof hy weier om waarneembaar te word, het hy gesê: “Nou is ek jou broer. Ek is nie jonger en ook nie ouer as jy nie. Eendag sal jy my ken. Tot dan. Maar waar ons ook al gaan, sal jy my volg. Orals sal ek wág vir jou, jy kóm na my. Maar moenie soek na my nie, nooit nie.”

Die moeder aan die kind: “Ek het nuus vir jou. Onthou jy dat jy eendag twee jaar gelede na my gehardloop het uit die tuin om te sê dat ons eendag ’n broertjie in die huis sou hê? Jy het ook probeer raai wanneer dit sou gebeur, onthou jy? Nou ja, jy was heeltemal reg: hy kom – maar wat sal jy doen as hy ’n sussie is?”

Die nuwe kind lê in die stootwa en kwyl. So pas het hy wakker geword en daar is rooi merke op die wang waarteen die kussing gedruk het. Sy linkerhand gryp behendig aan die kant van die waentjie vas, dan die regterhand; hy beur vorentoe en sit triomfantelik regop.

Tussen hom en die oudste kind verskyn die tweede gestalte. Hy is onsigbaar, afgesien van ’n soort koelte, die gevoel van ’n donker kleur. Dis nie die jong man met die grys mantel nie, en tog is dit hy. Daar is ’n duisternis om hom, ’n kleed, en sy hare is ruig en swart. Hy praat met ’n vinnige stem binne die verstand van die kind: “Nou is daar hierdie seun in jou plek. Ek sal jou kom haal. Jy is bly.”

Versamelde werk: Sheila Cussons

Подняться наверх