Читать книгу Versamelde werk: Sheila Cussons - Sheila Cussons - Страница 16

Albatros

Оглавление

Die wit meeue swenk opsy vir hom. Hulle kras en tuimel voor hom uit, maar hy seil swaar op groot gestrekte vleuels, ’n skip, die gees van ’n skip.

Hy is die behoeder van hulle wat vaar, en een wat eenmaal in die grys branding verlore geraak het en nou ewig vir andere die weg aandui. Drie maal draai hy om die boegspriet: dit is sy seën.

Om die kiel plooi skuim soos vlerke oop en in die reisigers aan boord begin die diep pols van die see te klop. Wanneer die kus nie meer te bespeur is nie, is daar geen grens tussen die beweging van bloed en golfslag nie. Dit is die tweede skeppingsdag – vorm groei, maar dis nog nie verdeeld nie. Die kim roer op en neer, ’n kompasnaald tussen water en hemel – en tussen sintuig en siel bly die blink snoer van die jare verby. Deining na deining word ek terugwaarts vervoer, en orals is beweging; alles is ritme, herinnering, inkeer – kring op kring, een telling krimpend tot die onmiddellike oomblik, dan weer verbreidend, oneindig, totdat ek my oorgee aan die vinnig opeenvolgende beelde van ou gebeure wat nou almal aan mekaar verwant is, sodat ek nie meer kan vasstel waar en wanneer elkeen ontstaan het nie.

Ek onthou ’n swaaiende uithangbord een nag deur ’n treinvenster gesien. Daar was woorde op, in die snelle donker reën onleesbaar. Agter geslote oë en deur menige droom het dit my agtervolg: heen en weer slingerend, voorspellend.

Ek onthou ’n gesig vlugtig gesien tydens ’n nagtelike reis, wat ek herken het as dié van ’n seun wat ek as kind geken het. Saam het ons een aand met die gestorwenes gepraat, en later laggend aan mekaar beken: dit was nie ’n gees nie maar ek wat met jou gepraat het. In drome, toe ek selfs sy naam vergeet het, het sy volwasse, verouderde gesig deur die raam van ’n uithangbord na my gestaar. Dit wou dat iets wat eenmaal gesê is, herhaal moes word.

Van ’n dreunende hoogte af sien ek die gekaarte weë waarlangs ek alreeds gereis het. Tussen klowe, oor riviere en om skiereilande lê die stippellyn van my vroegste reise. Ek merk dat dit ’n geheel vorm, ’n vreemde skrif wat ek nog nie kan ontsyfer nie. Namate die dreuning al hoër klim, kom daar ’n dynserigheid oor die ontwerp: ’n glinsterende stuiwing wat opwaarts styg, en skielik word al die onsigbare strominge van die hemel waarneembaar, kruis- en dwars­vloeiend deur die digte newel, die rimpelende duinveld van die geheue.

’n Skaduwee soos dié van gestrekte vleuels daal neer oor my en ek voel my meteens die hart van ’n liggaam wat groot en rustig is. Ek word die bewuste sintuig waarom sy ewewig hang. Ek besef, en fluister iets deur daardie liggaam; hy gehoorsaam met ’n handeling: tot my stroom ’n sagte ritme, ’n polsslag, die deininge van ’n see – en ek weet ons beweeg nou ver buite alle herinneringe, waar geen gekaarte weë meer is nie. Wat ek aan die begin as beelde van tye en plekke gesien het, word die ingewinge waaruit hierdie liggaam sy rigting moet raai. Alles is kennis, en alle tye is nou.

Versamelde werk: Sheila Cussons

Подняться наверх