Читать книгу Versamelde werk: Sheila Cussons - Sheila Cussons - Страница 14

’n Reis

Оглавление

Die eerste dag:

Hoe sal ek vir hierdie reis voorberei? Daar is ’n paar dinge wat ek weet, wat ek moet onthou. Ek moet probeer om alleen te wees. As mense naby is, moet ek binne my alleen wees. Ek moet nie dink aan dinge wat verby is nie. Daar sal niks meer gebeur nie. Dit is die einde van iets. Alles wat ek ken, sal voortgaan sonder my. Wanneer ek gaan, sal ek niks by my hê nie, net myself. Later sal ook dít agterbly, êrens. Want waar ek gaan, is alles anders. Ek ken dit nie, maar ek sal dit ken.

Waarom gaan ek? Ek mag dit nie weet nie. As ek vra, sal ek alles verloor. Ek wil gaan, met my hele hart. Ek wou altyd, vandat ek kan onthou, net dit doen: teruggaan. Maar ek het nie geweet hoe nie. In die middel van ’n ronde wêreld, sonder ’n bo of ’n onder, ’n begin of ’n einde – hoe kon ek? More, oormore gaan ek weg en uit – vinnig, heeltemal.

Ek onthou: ’n muur bokant die swaai van breë trappe. Teen die geel muur, in die sonlig, hang ’n skildery. Ek mag dit onthou, want dit kom na my. My moeder wys daarna en sê: “Teken so iets vir my.” Op ’n skulp of ’n skuit staan ’n jong vrou. Haar hoof met die waaiende hare is swaar en vaak, soos ’n blom op ’n dun stengel. Haar liggaam is pragtig en droef. Moenie aan haar hande of haar voete raak nie. Links en regs kom iemand haar tegemoet: aan die linkerkant twee winde met hulle arms om mekaar se lywe, en regs ’n vrou met ’n mantel in haar hande – en ook hulle is droef.

Ek onthou: iets omtrent ’n jong man, vol sweet en bloed aan ’n hoë kruis. Die wêreld is rooi en swart. Hy roep: “Vader, Vader . . .”

Ek onthou: die oë van mense wat slaap, en die maan in die middel van die hemel.

Ek onthou: ’n droom van vuur in die see, en ’n droom van sterre. Dit mag ek onthou. Niks anders kom nie. Daar is niks meer nie.

Hulle is hier, en hulle is almal hy. Party is lig en ander is donker. Een se mantel is grys en ’n ander s’n is donkerblou. Daar is ’n menigte van hulle in grys en donkerblou mantels. Hulle praat met my en ek sien wat hulle sê. Hulle woorde is blink stippels in die sonlig. Die hele lug is vol stippels wat spring en draai en sweef – daar is ’n silwer stof, orals om my. Almal praat, ek hoor elkeen, ek hoor almal.

Waar is julle! Ek wil saam met julle gaan. Waarom het julle sonder my weggegaan? Dit gaan weg! Ver . . . dit gaan nou weg . . . ver . . . sonder my.

Ek het hulle nog een maal gesien, grys en donkerblou geklee, byna onsigbaar ver in ’n glinsterende, wuiwende veld; en toe het hulle verdwyn.

Terwyl ek vergeefs na hulle verlang, kom ’n vrou by my verby, die hare fladderend om haar verskrikte gesig. Sy roep herhaaldelik, koesterend, pleitend, dan dreigend, en eindelik flou en vermoeid asof sy nie meer weet waarom sy hierheen gekom het nie. Met ’n stille gelatenheid begin sy haar ontklee, mantel na mantel, en elkeen soos sy dit uit haar hande los, staan orent omdat ’n nuwe liggaam dit vul, totdat daar ’n groep vroue om haar heen vergader is, en almal is haar ewebeeld. Hulle kyk vol verwagting na haar, en wanneer sy hulle sien, is haar gesig helder van vreugde; maar byna onmiddellik word vreugde deur ’n uitdrukking van haat en vrees vervang. Sy draai haar rug op hulle en hardloop blindelings weg, dog die skare volg haar en verdwyn weer een vir een in haar vlugtende liggaam.

Toe word sy soos ’n wolk, donker en swaar, met skerp strale lig om die kontoere van haar figuur en in die voue van haar kleed. Oor die geslote oë is rus, en om haar lippe ’n onuitspreeklike deernis. Sy staan roerloos in die ligte wind – en ek weet nie of sy gebore word of sterwe nie.

Toe my verlange na my terugkeer, gewaar ek ’n oop plek tussen die digte lower van bome waarheen ek onwetend moes gestap het. ’n Donker koelte omvou my, maar deur die opening sien ek ’n goue man hoog in die lug staan. Skielik stroom iets oor hom, soos reën uit ’n onbewolkte hemel, en onmiddellik daarna stort ’n engel voor hom verby, sodat hy ’n oomblik agter die stralende figuur verdwyn. Toe hy weer sigbaar word, is hy twee persone. Hulle kyk mekaar aan en elkeen hef ’n hand en klap die ander teen die wang. Hulle kantel en val. Die blare bewe en ’n verre, helder weerklank draai om die plek waar hulle verdwyn het.

Ek het gemeen dat die figure in grys en donkerblou êrens naby moet wees. Ek begin weer verder loop, om die bome verby, deur ’n geel grasveld, maar orals is net veld en diep leë lig. En ’n singende klank in my begelei my, en ek loop, en begin glo dat ek altyd so moes geloop het . . . Hier is ek gebore, sonder ’n moeder, uit ’n gefluisterde woord of ’n windvlaag.

En toe meteens bevind ek my op ’n verbrokkelende muur bokant ’n plek waar mense doelloos heen en weer gaan, onophoudelik heen en weer, afsydig soos blindes. Asof tot myself, dog hardop, spreek ek die woord Liefde uit. Dit was ’n verdwaalde woord sonder bedoeling gesê, en almal op die plein het dit gehoor, want meteens aanskou ek iets merkwaardigs: hoedat hulle van mekaar wonderlik bewus word; hoedat elke vrou na ’n man gaan in wie se oë ’n begroeting skyn. Hy herken haar, en die hele wêreld agter haar, verby wye velde na die see en die verste ronding van die aarde. Eenvoudig gaan hulle na mekaar en hulle gesigte het die glans van Michael in sy hemelvaart. En ek hoor hoedat singende stemme teen die lug uitkring; uit die stemming van al hierdie mense kom dit: die swellende, deinende lied van die bloed. Ek luister en ril heimlik, maar toe word ek van ’n vreemde pyn bewus en angs verwar my, want wie is hierdie mense en wat gebeur daar onder op die ou verslete stene van die plein? Watter voete gaan so snel en flitsend oor die plein heen en weer?

Tuis het ek nog net die koestering van ’n vrou se hande geken. Deur die musiek heen skree ek: Nee! Plotseling verdor alle lig uit daardie plek. ’n Donker wind vervang die lied en ek sien hoedat die minnaars, nog omhelsende, in houtpoppe met starende oë van glas verander.

“Sien jy wat jy gedoen het, omdat jy nie reg onthou nie, omdat jy nie alles onthou nie. Gaan, en leef tevrede soos die ander.”

Dit was sý stem, soos dié van iemand wat die slot van ’n verhaal bereik het en die boek toeslaan.

Ek het uitgereik na ’n plek wat eindeloos deur ’n opening in digte lower verbrei – of eenmaal gesien deur klare water van ’n see, of in ’n droom besoek toe dit orals koel en donker was. Ek het verby my kragte na daardie plek gereik, en wie sal sê dat hulle wat so iets probeer doen, nie ’n groot skuld het nie? Maar dit was meteens iets toegankliks, iets wat geopenbaar is. Dit was asof iets my wou wysmaak dat ons slegs deur die intieme sfeer van ons bloed kan groei en tot begrip kan kom, daarom het ek my getroos met die sagte, eentonige ritme van ’n tydelike lewe, en toe ek weer die steeds verbreidende plek gewaar, was dit ryk met die kleur en skaduwee van die lommerige bloed.

Dinge het gebeur, maar hy en sy skitterende gevolg het nie weer aan my verskyn nie; daarom het ek later besef dat die kind tog met hulle saamgegaan het. Sy het alles net so agtergelaat, selfs haar herinneringe, ’n blyk van waardering omdat ek haar eenmaal geherberg het.

Voortaan sou ek alleen wees in ’n wêreld sonder ’n bo of ’n onder, ’n begin of ’n einde. Dit het eenmaal stilgestaan om haar uit te laat. Nou draai dit weer soos ’n wiel waarvan jy die speke kan sien in hulle ronde vlug. Veral een speek herken ek elke slag as dit verby kom. Eenmaal het dit hier waar ek aandui, stilgestaan. Sy het daaroor gehardloop soos oor ’n smal brug, na die buitenste kring, en verdwyn.

Soms het daardie speek vir my dieselfde betekenis as Februarie, sonderling in ’n kringloop van twaalf verwante maande, of Vrydag-die-dertiende waaroor mense bygelowig is. Dit flits verby, gaan, flits verby, gaan, flits verby. Soms verbeel ek my dat dit stadiger beweeg, asof dit tot ’n stilstand sleep – dan wen dit weer aan spoed en flits verby, gaan, flits verby, gaan . . .

Versamelde werk: Sheila Cussons

Подняться наверх