Читать книгу Versamelde werk: Sheila Cussons - Sheila Cussons - Страница 7

Die maan

Оглавление

Die kind is nou in haar bed en sy maak dit alles warm rondom haar. Onder haar vel brand die winterskurfheid aangenaam, want haar moeder het bene, arms en gesig met ’n lekker salf gevryf.

Vandag het sy ’n veld vol lang geel gras ontdek en nou is sy oral vol skaafplekkies wat ’n fyn, prettige pyn afgee. Sy is nie alleen nie, sy luister na die klein taaltjie van haar liggaam wat nog nie heeltemal vaak is nie. Sy kyk rond in die donker; tel blink puntjies en swart vlakke en hoeveel keer die gordyn van links na regs effens beweeg, soos ’n slinger, soos ’n persoon wat heen en weer loop. Dan kom die maan.

Die kind weet nou al wat die maan wil hê, waarheen hy gaan. Stil en skelm kom die maan hierheen: eers net ’n wit strepie agter die gordyn, dan ’n wit skyfie, dan ’n ronde wit ding se helfte, dan driekwart van ’n ronde ding: langsaam onafwendbaar. Die maan wil die kind hê. O ja, sy ken die maan en sy weet dat hy alles van haar weet, meer as die ouers. En daar is nog iets omtrent die maan, iets wat jy nie kan vertel nie, want dit is te vreemd: die maan is lank gelede. Sien, jy kan dit nie sê nie. Die kind weet al hierdie dinge omtrent die maan terwyl haar kop onder die komberse is.

Versamelde werk: Sheila Cussons

Подняться наверх