Читать книгу Witwatersrand - Wilbur Smith - Страница 11
8
ОглавлениеDie son sit al hoog toe Waite Courtney die volgende oggend terugry na die opstal om sy ontbyt te eet. ’n Staljong vat die perd en lei hom weg na die kamp, maar Waite bly voor die tuiekamer staan en kyk om hom rond. Hy kyk na die netjiese wit heinings van die perdekamp, na die skoongeveede agterplaas en sy huis vol mooi meubels. Dis lekker om ryk te wees, veral as ’n mens weet wat dit was om arm te wees. Sewe duisend morg goeie weiveld en soveel bees as wat die grond kan dra, goud in die bank. Waite glimlag en stap oor die werf.
Hy hoor Ada sing in die melkkamer:
Hoe ry die Boere? Sit, sit, so!
Sit, sit, so! Sit, sit, so! Hoe ry die Boere?
Sit, sit, so! Sit, sit, so! Hoera!
Sy het ’n soet, helder stem en Waite glimlag nog breër; dis lekker om ryk te wees en om verlief te wees. Hy gaan staan in die deur van die melkkamer. Die dik klipmure en die swaar grasdak maak dit koel en donker daarbinne. Ada staan met haar rug na die deur toe. Haar lyf beweeg op maat van die liedjie terwyl sy die karring draai. Waite kyk ’n rukkie na haar, dan stap hy nader en sit albei arms om haar middel.
Verskrik draai sy om in sy arms en hy soen haar op die mond. “Goeiemôre, my mooi meisie.”
Sy verslap teen hom. “Goeiemôre, Meneer,” sê sy.
“Wat is daar te ete?”
“Ag, watter romantiese gek het ek getrou!” Sy sug. “Kom, ons gaan kyk.”
Sy haal haar voorskoot af, hang dit agter die deur op, druk haar hare reg en hou haar hand vir hom uit. Hand aan hand stap hulle oor die werf na die kombuis. Waite snuif hard.
“Dit ruik lekker. Waar is die seuns?”
Josef verstaan die witman se taal hoewel hy dit nie kan praat nie. Hy kyk op van die stoof.
“Nkosi, hulle is daar op die voorstoep.”
Josef het die tipiese maangesig van die Zoeloes. Wanneer hy glimlag, skitter sy tande groot en wit teen die swart van sy vel.
“Hulle speel met Nkosizana Garry se houtbeen.”
Waite se gesig word rooi. “Hoe het hulle dit in die hande gekry?”
“Nkosizana Sean het my gevra waar dit is en toe het ek hom gesê die Nkosi het dit in die linnekas weggebêre.”
“Jou ellendige swaap!” skel Waite. Hy los Ada se hand en hardloop. Net toe hy in die sitkamer kom, hoor hy Sean skree en iemand hard neerslaan op die stoep. Hy steek in die middel van die vertrek vas. Hy kan dit nie waag om uit te gaan en weer Garrick se vrees te aanskou nie. Hy voel naar van kommer en woede.
Dan hoor hy Sean lag. “Klim af van my, jong. Moenie net daar lê nie!”
En dan, wonderbaarlik, Garrick se stem. “Jammer, man, maar die ding het in die vloerplanke vasgehaak.”
Waite stap na die venster en kyk uit op die stoep. Sean en Garrick lê naby die onderpunt op ’n hopie. Sean skud nog altyd soos hy lag, maar op Garrick se gesig is net ’n stywe, senuweeagtige glimlag. Sean kom orent. “Komaan, opstaan!”
Hy steek sy hand na Garrick uit en trek hom orent. Hulle klou aan mekaar vas terwyl Garrick onseker na sy ewewig soek. “Ek sweer as dit ek was, sou ek so maklik soos niks in die wêreld geloop het,” sê Sean.
“Jy sou nie. Dis verduiwels moeilik.”
Sean los Garrick en staan agteruit met sy hande uitgestrek, reg om Garrick te vang.
“Komaan.”
Sean beweeg stadig agteruit, voor Garrick, en die seun volg sukkelend. Sy arms flap langs sy sye, en sy gesig is gespanne soos hy spook om regop te bly. Hy bereik die end van die stoep en gryp met albei hande die reling vas. Nou lag hy saam met Sean.
Waite gewaar dat Ada langs hom staan. Hy kyk sydelings na haar en sien dat sy saggies die woorde “kom ons gee pad” met haar lippe prewel. Sy vat hom aan die arm.