Читать книгу Witwatersrand - Wilbur Smith - Страница 7
4
ОглавлениеDie nag bring hulle Garrick terug na Theuniskraal. Waite Courtney ry stadig en versigtig met die verewaentjie en Sean kom ver agter te perd aan. Hy kry koud in sy dun kakiehempie en sy maag voel nog altyd naar van wat hy gesien het. Daar is kneusplekke op sy boarm waar sy pa hom vasgehou en hom gedwing het om te kyk.
Die bediendes het lanterns op die stoep gesit. Hulle staan eenkant in die skadukolle, stil en angstig. Toe Waite die liggaampie in die kombers met die stoeptrappies opdra, vra een saggies in Zoeloe: “Die been?”
“Dis af,” antwoord Waite skor.
Hulle sug almal saggies en die stem praat weer: “Dit gaan goed met hom?”
“Hy lewe,” sê Waite.
Hy dra Garrick deur na die kamer wat vir gaste of siekte opsy gesit is. Hy bly in die middel van die kamer staan terwyl sy vrou skoon lakens oor die bed gooi. Dan lê hy die kind neer en maak hom toe.
“Wat kan ons nog doen?” vra Ada.
“Ons moet maar wag.”
Ada voel-voel na haar man se hand. Dan prewel sy: “Asseblief, God, laat hom lewe. Hy’s nog so jonk.”
“Dis Sean se skuld!” Waite se woede vlam skielik op. “Garry sou so iets nooit op eie houtjie gedoen het nie.” Hy probeer sy hand loskry uit Ada s’n.
“Wat gaan jy nou doen?” vra sy.
“Ek gaan hom ’n pak slae gee! Ek gaan die vel van sy bas slaan!”
“Ag, asseblief, moenie!”
“Hoe bedoel jy nou?”
“Hy het genoeg straf weg. Het jy nie gesien hoe lyk hy nie?”
Waite laat sy skouers moeg sak en hy gaan sit in die leunstoel langs die bed. Ada raak aan sy wang. “Ek sal hier by Garry bly. Gaan probeer jy ’n bietjie slaap kry, ou man.”
“Nee,” sê Waite. Sy kom sit langs hom op die stoel. Waite slaan sy arm om haar middel. En ná ’n lang ruk raak albei aan die slaap, styf teen mekaar in die stoel langs die bed.