Читать книгу Witwatersrand - Wilbur Smith - Страница 4

1

Оглавление

’n Fisant vlieg teen die helling van die heuwel uit, rakelings oor die graspunte. By die kruin laat hy sy vlerke sak, steek sy pote uit en verdwyn in ’n skuilte. Twee seuns en ’n hond volg die voël onder uit die leegte: die hond vooraan met sy tong wat soos ’n stuk pienk lap slap uit een hoek van die bek hang, en die tweeling wat skouer aan skouer agterna draf. Op hulle kakiehemde slaan die sweet kol-kol swart deur, want die son is nog warm, al begin hy al sterk water trek.

Die hond kry die reuk van die voël en hy steek bewend vas. ’n Oomblik lank suig hy dit deur sy neusgate in en dan begin hy sy prooi bekruip. Hy werk vinnig, heen en weer met die kop laag op die grond; net die rug en besige stert steek bokant die graspolle uit. Die tweeling kom hygend agterna. Dit is ’n stywe klim teen die helling uit.

“Bly dié kant, netnou kom jy in my pad,” hyg Sean en sy broer, Garrick, gehoorsaam gedwee. Sean is sy senior en meerdere met vier duim aan lengte en twintig pond aan gewig: Dit gee hom die reg om te beveel. Sean gee weer aandag aan die hond se spoorsnyery.

“Ruik hom uit, Tinker! Soek hom, ou honne!”

Tinker se stert wys dat hy sy baas se instruksies gehoor het. Sy neus bly op die grond snuffel. Die seuns volg in gespanne afwagting, want die voël kan elke oomblik opvlieg. Hulle kieries sit gereed in hul vuiste en hulle beweeg versigtig tree vir tree vorentoe terwyl hulle hul hygende longe probeer beheer. Tinker kry die voël waar hy plat sit in die gras. Hy spring vorentoe en vir die eerste keer begin hy blaf. Die voël vlieg met ’n wilde gefladder van vlerke tussen die grashalms uit.

Sean gooi eerste: Sy kierie trek verby. Die fisant ruk hom uit die pad van die stok en sy vlerke maal wild in die lug. Dan gooi Garrick. Sy kierie woer op in die lug en trek suisend totdat dit met ’n klap teen die fisant se vet bruin lyf vasslaan. Die voël dop om, die vere warrel in die wind en hy val grond toe. Die seuns sit hom agterna.

Sleepvlerk skarrel die fisant voor hulle deur die gras. Hulle skree van opgewondenheid terwyl hulle hom jaag. Sean kry hom eerste, draai sy nek om en staan laggend met die warm liggaampie in sy hande en wag dat Garrick nader kom.

“Dit was darem ’n lieflike hou wat jy hom gegee het, Garrick!”

Tinker spring teen sy baas op om die fisant te ruik en Sean buk en hou hom uit sodat die hond sy snoet by die voël kan kry. Hy snuffel met sy neus in die vere en probeer dan die fisant met sy bek vat, maar Sean stoot sy kop weg en gooi die fisant vir Garrick, wat dit by die ander aan sy lyfband hang.

“Hoe ver skat jy was dit? Vyftig voet?” vra Garrick.

“Nie soveel nie,” meen Sean. “Nader aan dertig, sou ek sê.”

“Ek skat dit was goed vyftig. Ek skat dit was verder as al die ander wat jy vandag raak gegooi het.” Sukses het Garrick dapper gemaak. Die glimlag verdwyn van Sean se gesig.

“O, so?” vra hy.

“Ja!” sê Garrick.

Sean stoot sy hare met die agterkant van sy hand van sy voorkop weg. Sy hare is sag en swart en val in sy oë. “En wat miskien van die een daar onder by die rivier? Dit was twee keer so ver!”

“O, nè?” kom dit van Garrick.

“O, ja!” sê Sean veglustig.

“Nou ja, as jy dan so goed is, hoekom het jy hierdie een mis gegooi, hè?”

Sean se rooi gesig word nou donkerder en Garrick besef skielik dat hy te ver gegaan het. Hy staan terug.

“Wil jy wed?” kom die uitdaging van Sean. Garrick weet nie mooi waarop Sean wil wed nie, maar ondervinding het hom geleer dat dit beslis ’n tweegeveg sal word. Garrick het nog bitter min weddenskappe teen Sean gewen.

“Dis te laat. Ons moet liewers aanstaltes maak huis toe. Pa sal ons neuk as ons laat kom vir ete.” Sean huiwer ’n oomblik en Garrick draai om, hardloop terug om sy kierie op te tel en vat dan koers huis toe. Sean draf agterna en steek hom verby. Sean is altyd voor. Omdat hy in die loop van die dag sy kuns met die kierie goed genoeg getoon het, is Sean nou bereid om vergewensgesind te wees. Oor sy skouer vra hy: “Watter kleur, dink jy, sal ou Gypsy se vul wees?”

Garrick aanvaar hierdie vredesaanbod met verligting en hulle raak hieroor en oor ’n hele spul ander belangrike sake aan die gesels. Hulle hou aan hardloop. Behalwe vir omtrent ’n uur die middag, toe hulle in die skaduwee by die rivier ’n paar fisante oor die kole gebraai het, het hulle nog die hele dag gehardloop.

Hier by hulle op die plato is dit graswêreld. Teen die lae ronde heuwels en af in die leegtes staan die gras halflyf en beweeg saam met die wind. Dit is sagte, droë gras, die kleur van ryp koring. Agter hulle strek die grasdeinings uit so ver as wat ’n mens kan sien, maar hier voor hulle verdwyn dit skielik oor die platorand. Die land stort daar af soos ’n waterval, eers regaf, maar dan sprei dit geleidelik uit totdat dit die vlaktes van die Tugela word. Die Tugela self lê twintig myl ver op die gelykte. Vandag is daar ’n wasigheid in die lug en hulle kan nie so ver sien nie. Oorkant die rivier, ver die noorde in, en ’n honderd myl ooswaarts tot by die see, strek Zoeloeland. Die rivier is die grens. Diep, regaf klowe tand die rand van die plato voor hulle, en in die klowe groei die bosse ruig en olyfgroen.

Reg onder hulle, omtrent twee myl uit op die vlakte, lê die opstal van Theuniskraal. Dis ’n groot huis met ’n Hollandse gewel en ’n gladde grasdak. In die klein kampie naby die huis wei perde, baie perde, want die tweeling se pa is ’n ryk boer. Rook van die oop vure by die bediendes se strooise gooi ’n blou valigheid in die lug en vaagweg kan hulle iemand hoor hout kap.

Sean loop tot aan die rand van die afgrond en gaan sit in die gras. Hy vat een van sy vuil voete en bekyk dit van onder. Daar is ’n gat in die sool van sy hak waar hy vroeër die dag ’n doring uitgetrek het en nou is die gat vol gemors. Garrick kom sit langs hom.

“Boeta, dit gaan darem lekker brand as Ma vanaand jodium daarop gooi,” verlustig Garrick hom. “Sy sal die vuilgoed met ’n naald moet uitgrawe, en ek wed jy sal skree, jy sal skree dat dit bars!”

Sean steur hom nie aan sy broer nie. Hy pluk ’n grasstingel en krap daarmee in die wond. Garrick hou hom belangstellend dop. ’n Mens kan jou skaars ’n tweeling voorstel wat minder na mekaar lyk. Sean is reeds besig om ’n man te word. Sy skouers is aan die uitsit en in die vet is harde spiere aan die vorm. Sy gelaat is helder: swart hare, vel bruin van die son, lippe en wange wat gloei van die vars, jong bloed onder die oppervlak, en blou oë, die donker indigoblou van ’n wolkskadu oor ’n bergmeer.

Garrick is slank gebou, met polse en enkels soos dié van ’n meisie. Sy hare is ’n vaalbruin en sy vel is vol sproete. Sy neus en die randjies van sy grysblou oë is pienk van die ewigdurende hooikoors.

Hy verloor gou-gou belangstelling in Sean se geneeskunde. Hy steek sy hand uit en speel met een van Tinker se lang ore. Dit breek die ritme van die hond se gehyg. Hy sluk twee keer swaar en die speeksel drup van die punt van sy tong af. Garrick tel sy kop op en kyk teen die helling af. ’n Klein entjie van waar hulle sit, is die bopunt van een van die bosryke klowe. Skielik snak Garrick na sy asem.

“Sean, kyk daar … daar langs die bos!” fluister hy en bewe van opgewondenheid.

“Wat’s dit?” Sean kyk verskrik op. Dan sien hy wat Garrick sien. “Hou vir Tinker vas!”

Garrick gryp die hond aan sy halsband en pluk sy kop om sodat hy nie kan sien en dalk storm nie. “Dis die grootste ou inkonka in die wêreld,” fluister Garrick.

Sean is te verdiep om te antwoord.

Die bosbok is stadig en versigtig besig om uit die ruigte te stap. Dis ’n groot ram, swart van die ouderdom, die kolle op sy boude is dof soos ou krytmerke. Met sy ore gespits en sy gedraaide horings hoog in die lug kom hy trippelend in ’n oop kol in. Hy staan ’n oomblik stil, swaai sy kop heen en weer, op soek na moontlike gevaar, dan draf hy dwars teen die heuwel af en verdwyn in ’n ander kloof. ’n Oomblik ná sy verdwyning sit die tweeling nog botstil, maar dan bars hulle tegelyk uit.

“Het jy hom gesien? Het jy daardie horings gesien?”

“So naby die huis en ons het nooit geweet hy is hier nie.”

Hulle spring regop terwyl hulle aan mekaar stamp. Tinker wat deur hulle opgewondenheid aangesteek word, hardloop blaf-blaf in ’n kring om hulle. Ná die eerste paar oomblikke van verwarring kry Sean beheer deur eenvoudig harder as sy teenstanders te raas.

“Ek wed jou hy kruip elke dag hier in die kloof weg. Ek wed jou hy slaap elke dag daar en kom net snags uit. Kom ons gaan kyk.”

Sean loop voor teen die helling af.

Op die rand van die bos in ’n klein grotjie van plantegroei, donker en koel, met ’n tapyt van dooie blare, kry hulle die ram se lêplek. Die grond is vol spore en in die dooie blare kan ’n mens sien waar hy geslaap het. ’n Paar los hare met grys puntjies lê op die blarebed. Sean buk en tel een op.

“Hoe gaan ons hom in die hande kry?”

“Ons kan ’n gat grawe en skerp stokke daarin steek,” stel Garrick gretig voor.

“Wie gaan die gat grawe, jy?” vra Sean.

“Jy kan help.”

“Dit sal ’n baie diep gat moet wees,” sê Sean vol twyfel. Die twee seuns is ’n ruk stil terwyl hulle die hoeveelheid werk oorweeg wat nodig sal wees om so ’n wip te stel. Dan praat nie een weer daaroor nie.

“Ons kan die ander ouens in die dorp kry om te help, dan kan ons hom met kieries hier kom uitboender,” sê Sean.

“Hoeveel keer het ons nie al met hulle gaan jag nie? Dis seker nou al ’n paar honderd keer en ons het nog nie eens ’n vervlakste duiker gevang nie – laat staan ’n bosbok.” Garrick steek ’n oomblik vas en gaan dan voort: “Buitendien, onthou jy nog hoe die inkonka met Frans van Essen gewerk het, hè? Toe die bok hom klaar met die horings bewerk het, moes hulle al sy derms terugdruk deur die gat in sy maag!”

“Is jy bang?” vra Sean.

“Nie ek nie,” antwoord Garrick verontwaardig en voeg haastig by: “Gits, dis byna donker. Ons moet hol.”

Hulle laat vat in die kloof af.

Witwatersrand

Подняться наверх