Читать книгу Witwatersrand - Wilbur Smith - Страница 15
12
ОглавлениеNou het Sean ’n baan waarop hy kan hardloop. Hy is gebore om te hardloop en Waite Courtney het hom uit die stal gelei waar hy die hele tyd op die stang staan en byt het. Hy het hom die teuels gegee. En Sean het gehardloop, hy het met vreugde gehardloop, met al sy krag, sonder om hom te steur aan die prys of die afstand.
Wanneer hy soggens nog voor dagbreek saam met sy pa en Garrick in die kombuis staan en koffie drink, die hande bak gemaak om die hitte van die beker, voel hy hoe die opwinding vir die dag wat voorlê in hom bewe.
“Sean, vat jy vir Zama en N’Duti en gaan kyk dat daar geen afgedwaaldes daar onder in die ruigtes langs die rivier is nie.”
“Ek sal net een jong saamneem, Pa. Pa sal N’Duti by die dipgat nodig hê.”
“Nou goed. Maar probeer om teen die middag terug te wees by die dippery. Ons moet vandag goed ’n duisend deurkry.”
Sean sluk die laaste paar monde vol koffie en knoop sy baadjie vas. “Nou ja, dan maak ek maar aanstaltes,” sê hy.
’n Staljong hou sy perd vir hom reg by die agterdeur. Sean laat sy geweer in die skede gly en spring in die saal sonder om aan die stiebeuel te raak. Hy tel sy hand op, glimlag vir Waite, swaai die perd om en ry oor die werf. Dis nog donker en koud. Waite hou hom uit die kombuisdeur dop.
So vervlaks selfversekerd, dink Waite. En tog is dit die seun wat hy gehoop het hy sou hê en hy voel trots.
“Wat moet ek doen, Pa?” vra Garrick hier langs hom.
“Laat ek sien. Daar’s nog daardie klompie siek verse hier onder in die kamp …” Waite steek vas. “Nee, wag, kom jy liewer saam met my, Garry.”
Vroeg soggens, wanneer die son nog ’n soort kunsbeligting op die aarde gooi, goudkleurig en dartelend en die skadu’s lank en swart lê, werk Sean. Oor die middag, wanneer die son wit bak en die hitte hom laat sweet, werk hy. En in die reën, wanneer die mis grys en klam om hom dwarrel. In die kort skemer werk hy. En donkeraand kom hy by die huis. Maar hy geniet elke oomblik daarvan.
Hy begin sy pa se beeste ken, nie op hulle name nie, want net die trekosse het name, maar aan hul kleur, hul grootte en hul eienaardighede. Later kyk hy net na die trop en weet dadelik watter diere makeer.
“Zama, waar’s daardie ou koei met die krom horing?”
“Nkosi,” kom die antwoord, “gister het ek haar na die siekkraal gevat. Daar’s wurm in haar oog.” Dis opvallend dat hy nie meer aangespreek word met die verkleinwoord Nkosizana nie. Dis nie meer “kleinbaas” nie.
Hy ken die veesiektes, selfs nog voor dit begin, aan die manier waarop die bees loop of sy kop dra. Hy weet wat die voorgeskrewe behandeling is. Vir spykerwurm, lampolie in die wond totdat die maaiers uitdop soos ’n skoot rys. Oogontsteking, permanganaat as spoelmiddel. Antraks en sponssiekte, ’n koeël en vuur toe met die karkas.
Hy help sy eerste kalf die wêreld in. Tussen die doringbome op die wal van die Tugela werk hy heeltemal alleen, met sy moue opgerol en die seepagtige slym op sy hande. Hy kyk hoe die koei die kalf skoonlek en hoe hy waggelend regop probeer bly. En daar is ’n eienaardige, beklemmende gevoel in sy keel.
Die plaaswerk is nie genoeg om al sy energie op te brand nie. Terwyl hy werk, speel hy ook.
Hy oefen sy rykuns, swaai af van die saal, hardloop langs die perd, wip op en oor die saal, anderkant af, hy staan op die saal terwyl die perd op volle vaart galop, maak sy bene oop en kom kaplaks! met sy agterwêreld in die saal neer. Sy voete glip in die stiebeuels sonder om te soek.
Hy oefen met sy koeëlgeweer totdat hy ’n vlugtende jakkals op honderd en vyftig tree kan tref en die klein liggaam middeldeur kan kloof met die swaar koeël.
En dan is daar nog ’n spul van Garrick se werk wat hy doen.
“Ek voel nie lekker nie, Sean.”
“Wat skort?”
“Ag, my been is seer. Jy weet hoe dit skaaf as ek te veel ry.”
“Maar hoekom gaan jy nie liewer huis toe nie?”
“Pa het gesê ek moet die draad rondom dipgat Nommer Drie regmaak.” Garrick leun vooroor op sy perd om sy been te vryf en hy gee ’n dapper glimlaggie.
“Maar jy het dit dan hoeka verlede week reggemaak,” praat Sean teë.
“Ja … maar jy sien, die draad het weer so bietjie losgeraak.” Garrick se herstelwerk hou, eienaardig genoeg, nooit baie lank nie.
“Het jy die draadskêr hier?” Garrick haal dit vinnig uit sy saalsak.
“Ek sal dit regmaak,” sê Sean.
“Hel, man, vreeslik baie dankie,” en ná ’n kort huiwering, “jy sal nie vir Pa sê nie, nè?”
“Nee, jy kan mos nie help as jou been seer is nie.”
En dan ry Garrick huis toe, sluip in die gang af na die slaapkamer en ontvlug saam met Jim Hawkins na Treasure Island.
Die plaaswerk maak ’n splinternuwe gevoel in Sean wakker. Wanneer die reën die gras groen laat opslaan en die vlak panne op die plato vol loop, is dit nie maar net ’n teken dat die voëls weer nesmaak en dat daar weer baie visse in die Bobbejaanspruit gevang kan word nie. Nou beteken dit dat hulle die beeste onder uit die vallei kan opvat boontoe, dit beteken dat dit vet troppe sal wees wat hulle na die veilings op Ladyburg sal neem, dat nog ’n winter verby is en dat die aarde ryk is aan lewe en ryk is aan belofte van lewe. Die beeste ervaar ook hierdie nuwe emosie. Dit is ’n sterk, byna barbaarse gevoel van baaswees.
Een middag laat sit Sean tussen ’n lappie bome op sy perd en kyk na ’n troppie beeste wat op ’n stuk oop vleiland voor hom loop. Hulle is besig om te wei, die koppe laag op die grond en die sterte klits lui-lui na ’n lastige vlieg. Tussen hom en die dikste deel van die trop loop ’n kalf van omtrent drie dae oud. Die diertjie is nog sommer so liggeel van kleur en lekker lomp op sy bene. Maar dit verhinder hom nie om val-val kringetjies in die kort gras te hardloop en sy bene op die proef te stel nie. In die trop bulk ’n koei en die kalf steek op die plek vas, met sy bene ongemaklik wyd oopgespalk en sy ore spits in die lug. Sean lag en tel die leisels van die perd se nek af op. Dis týd om huis toe te gaan.
Net toe sien hy die lammervanger. Die voël het reeds met sy duik op die kalf begin en val soos ’n groot swart klip uit die lug met die vlerke teruggevou en die kloue gereed vir die gryp. Die wind fluit deur sy vlerkvere.
Versteen sit Sean en kyk. Die voël tref die kalf en Sean hoor hoe die bene met dieselfde skerp klap van ’n droë tak kraak. Die volgende oomblik lê die kalf swakkies en spartel in die gras en sit die voël gehurk bo-oor hom.
Sean sit nog ’n sekonde langer verslae, lamgeslaan deur die spoed waarmee alles gebeur het. Dan wel die haat in hom op, so geweldig dat dit vir hom voel of sy maag geknoop word. Hy skop sy hakskene in die perd so ribbes en die dier skiet vorentoe. Sean jaag op die lammervanger af en los ’n skerp, lang gil, ’n soort dierlike uiting van haat.
Die lammervanger draai sy kop sywaarts en kyk met die een oog na hom. Dan maak hy sy groot geel bek oop en beantwoord Sean se kreet. Hy los die kalf en vlieg op. Sy vlerke vee eers swaar, laag oor die grond, maar dan styg hy al vinniger op en win veld op Sean.
Sean pluk sy geweer uit die skede en trek sy perd op die agterpote op. Hy spring uit die saal en ruk die slot van sy geweer oop.
Die arend is nou omtrent vyftig tree voor hom en klim vinnig in die lug in. Sean skuif ’n patroon in die slot, klap dit toe en lig die geweer – alles in een beweging.
Dis ’n moeilike skoot. Die voël trek weg van hom opwaarts en die geklap van sy vlerke ruk sy lyf op en af. Sean skiet. Die geweer skop terug teen sy skouer en die rook warrel weg in die wind sodat hy kan sien hoe die koeël tref.
Die lammervanger dop om in die lug. Hy bars soos ’n kussing in ’n bol vere oop en tuimel grond toe met die ses-voet-lange vlerke slap agterna. Voor die voël grond raak, hardloop Sean na waar hy val.
Die lammervanger is reeds dood toe hy daar aankom, maar hy draai sy geweer om en met sy hande om die loop geklem haak hy van bokant sy kop af en slaan die voël met die kolf. Toe hy die derde hou plant, breek die kolf, maar hy hou aan met slaan. Hy snik van woede.
Uiteindelik hou hy op en bly hygend staan. Die sweet stroom van sy gesig af, sy hele liggaam bewe. Die lammervanger is ’n pappery van vleis en vere.
Die kalf lewe nog toe hy by hom kom. Maar die geweer weier. Sean kniel langs die kalf en met trane van woede brandend in sy oë sny hy die dier met sy jagmes keelaf.