Читать книгу Witwatersrand - Wilbur Smith - Страница 23
20
ОглавлениеDokter Van Rooyen hou sy arm vir Ada toe sy van die verewaentjie afklim. Vyftig jaar van werk in hierdie beroep van hom het hom nog nie immuun gemaak teen ander mense se smart nie. Hy het net geleer om sy gevoelens te verberg; geen spoor daarvan wys in sy oë of op sy mond of op sy geplooide, bebaarde gesig nie.
“Hy’s gesond, Ada. Hulle het goeie werk van sy arm gemaak. Dit wil sê, vir militêre dokters. Die arm sal reguit aangroei.”
“Wanneer het hulle gekom?” vra Ada.
“Omtrent so vier uur gelede. Hulle het al die gewondes van Ladyburg in twee waens huis toe gestuur.”
Ada knik en hy kyk na haar met beroepsonverskilligheid, steek die skok weg wat die verandering in haar voorkoms hom gegee het. Haar vel is so droog en leweloos soos die blare van ’n geparste blom, haar mond is hard en vasberade teen die smart toegeklem en haar rouklere laat haar twee keer ouer lyk.
“Hy wag hier binne vir jou.” Hulle stap die treetjies van die kerk op en die klein klompie mense staan opsy sodat hulle kan ingaan. Daar is gedempte groete vir Ada en die gewone begrafnisgemeenplase. Daar is ander vrouens ook in swart aangetrek, vroue met dikgehuilde oë.
Ada en die dokter stap die koel somberheid van die kerk binne. Die banke is opsy geskuif teen die mure om plek te maak vir die beddens. Vrouens beweeg tussen hulle rond en mans lê daarop.
“Ek hou die ergste gevalle hier sodat ek hulle onder oë kan hê,” sê die dokter aan haar. “Daar’s Garry.”
Garrick staan op van die bankie waarop hy sit. Sy arm hang ongemaklik in die verband oor sy bors. Hy hink na hulle toe en sy houtbeen klop hard op die klipvloer.
“Ma, ek is …” Hy steek vas. “Sean en Pa …”
“Ek het jou kom haal om huis toe te gaan, Garry.” Ada praat vinnig, sy sluit haar oë by die aanhoor van daardie twee name.
“Hulle kan hulle nie sommer so daar laat lê nie. Hulle behoort …”
“Asseblief, Garry. Kom, laat ons huis toe gaan,” sê Ada. “Ons kan later daaroor praat.”
“Ons is almal baie trots op Garry,” sê die dokter.
“Ja,” sê Ada. “Asseblief, laat ons huis toe gaan, Garry.” Sy kan dit voel, daar, net onder die oppervlak, en sy hou dit binne: soveel verdriet in so ’n klein plekkie. Sy draai terug na die deur. Sy moenie dat hulle dit sien nie. Sy moenie huil hier voor hulle nie. Sy moet terugkom op Theuniskraal. Gewillige hande dra Garry se bagasie uit na die verewaentjie en Ada vat die leisels. Niemand praat weer voor hulle oor die bult is en afkyk op die opstal nie.
“Jy’s nou baas van Theuniskraal, Garry,” sê Ada saggies. Garrick skuif ongemaklik rond op sy sitplek langs haar. Hy wil dit nie wees nie. Hy wil nie daardie ou medalje hê nie. Hy wil vir Sean hê.