Читать книгу Witwatersrand - Wilbur Smith - Страница 17

14

Оглавление

“Hulle sê die Goewerneur het jou pa laat haal terwyl hy in Pietermaritzburg was. Goed twee uur lank met hom alleen gepraat.” Stefanus Erasmus haal sy pyp uit sy mond en spoeg ’n blink straal op die spoorstawe onder hom. In sy tuisgemaakte bruin klere en sy velskoene lyk hy nie juis na ’n ryk beesboer nie. “Nou ja, ons het tog g’n profeet nodig ons vir om te vertel wat gaan gebeur nie, of hoe?”

“Nee, oom,” stem Sean ontwykend saam. Die trein is laat en Sean luister nie eintlik na wat hy sê nie. Daar is ’n aantekening in die veeregister wat hy moet verduidelik en hy berei sy toespraak in sy kop voor.

“Ja, ons weet goed genoeg waaroor dit alles gaan.” Ou Erasmus sit die pyp terug in sy mond en praat om die steel. “Dis nou al twee weke sedert die Britse Resident teruggeroep is van Cetshwayo se kraal by uMgungundlovu. Liewe Here! Vroeër dae sou ons die kommando al lankal uitgeroep het.” Hy stop sy pyp, druk met ’n eelterige wysvinger die gloeiende tabak vas. Sean let op dat die vinger krom getrek en vol littekens is deur die snellerbeuels van honderde swaar geweers.

“Jy was nog nooit op kommando nie of hoe, jong?”

“Nee, oom!”

“Dan’s dit tyd dat jy op kommando gaan, bleddie hoog tyd, jong.”

Teen die berg fluit die trein en Sean skrik skuldig.

“Daar kom hulle.” Erasmus staan op van die bankie waarop hulle gesit het en die stasiemeester kom uit sy kantoortjie met ’n opgerolde vlag in die hand. Sean voel hoe sy maag stadig in sy binneste wegsak, totdat dit êrens bokant sy knieë tot rus kom.

Die trein kom die stasie binne, blaas-blaas verby terwyl die remme knars en kerm. Die enkele passasierswa kom presies regoor die houtperron tot stilstand. Erasmus stap vorentoe en neem Waite se hand.

“Goeiemôre, Stef.”

“Môre, Waite. Hulle sê jy is nou die nuwe voorsitter. Mooi so, kêrel.”

“Dankie. Het jy my telegram gekry?” Waite praat haastig.

“Ja, ek het dit gekry. Ek het die ander gesê en ons kom almal môre Theuniskraal toe.”

“Mooi.” Waite knik. “Julle bly natuurlik vir middagete. Ons het baie waaroor ons moet praat.”

“Is dit wat ek dink dit is?” Erasmus grynslag. Die baard om sy mond is geel van die tabak en sy gesig is bruin en vol rimpels.

“Ek sal jou môre alles vertel, Stef.” Waite knik vir hom. “Intussen moet jy maar solank daardie ou voorlaaier van jou uit die kis haal.”

Hulle lag, die een diep in sy keel en die ander skerp en blikkerig.

“Gryp die koffers, Sean. Laat ons weg wees.” Waite neem Ada se arm en saam met Erasmus stap hulle na die waentjie toe. Ada dra ’n nuwe rok van blou materiaal met pofmoue en ’n breërandhoed. Sy lyk mooier as voorheen, maar effens bekommerd oor die mans se geselsery. Dis eienaardig dat vrouens nooit met dieselfde, amper kinderagtige entoesiasme van mans, uitsien na die moontlikheid van oorlog nie.

“Sean!” Waite Courtney se bulderstem dra duidelik uit sy werkkamer, die gang af en deur die toe deur van die sitkamer. Ada laat sak haar breiwerk in haar skoot en op haar gesig kom ’n uitdrukking van onnatuurlike kalmte. Sean staan op van die stoel waarop hy gesit het.

“Jy moes hom dit al vroeër vertel het,” piep Garrick. “Jy moes hom aan tafel gesê het.”

“Ek het nie kans gekry nie.”

“Sean!” Nog ’n donderslag uit die werkkamer.

“En wat het nou gebeur?” vra Ada sagweg.

“Dis niks nie, Ma. Moenie Ma daaroor bekommer nie.”

Sean stap na die deur toe.

“Sean.” Garrick se benoude stem. “Sean, jy sal nie … ek bedoel jy hoef nie te vertel …”Hy steek vas en hy sit kromgetrek in sy stoel. In sy oë is ’n amper wanhopige smeekuitdrukking.

“Toe maar, Garry. Ek sal dit regmaak.”

Waite Courtney staan oor sy lessenaar. Tussen sy gebalde vuiste lê die veeregister oop. Hy kyk op toe Sean inkom en die deur toemaak.

“Wat gaan hier aan?” Hy druk met ’n groot, breë vinger op die bladsy voor hom. Sean maak sy mond oop asof hy iets wil sê en sluit dit dan weer.

“Toe, ek luister!”

“Pa sien …”

“Na die duiwel met Pa sien! Sê jy net vir my hoe jy dit reggekry het om die helfte van die beeste op hierdie plaas in ’n bietjie meer as ’n week vrek te maak.”

“Dis nie die helfte van die beeste nie, dis net dertien.” Sean voel seer oor die oordrywing.

“Net dertien!” bulder Waite. “Net dertien! Allamagtag man, moet ek vir jou vertel hoeveel dit in harde kontant werd is? Moet ek vir jou sê hoeveel dit werd is aan harde werk, tyd en kommer?”

“Ek weet, Pa.”

“Jy weet!” Waite se asem jaag. “Ja, jy weet ook alles. Daar’s niks wat iemand jou kan vertel nie, nè? Nie eens hoe om dertien van die beste osse vrek te maak nie.”

“Pa …”

“Moenie my staan en Pa nie, verdomp!” Waite klap die swaar boek toe. “Vertel net vir my hoe jy dit reggekry het. Wat beteken ‘dipvergifting’? Wat de hel is ‘dipvergifting’? Het jy dit vir hulle gegee om te suip? Of het jy dit in hulle agterwêreld opgedruk?”

“Die dip was te sterk,” sê Sean.

“En hoekom was die dip te sterk? Hoeveel het jy ingegooi?”

Sean haal diep asem. “Ek het vier blikke ingegooi.”

Daar is ’n stilte en dan vra Waite saggies: “Hoeveel?”

“Vier blikke.”

“Is jy dan mal? Is jy heeltemal stapelgek?”

“Ek het nie gedink dit sou hulle kwaad doen nie.”

Sy sorgvuldig voorbereide toespraak is heeltemal vergete en onbewustelik herhaal hy die woorde wat hy Garrick hoor sê het. “Dit het laat geword en my been …” Sean besef skielik wat hy sê, steek vas en Waite staar agterdogtig na hom. Dan helder sy gesig op.

“Garry!” sê hy.

“Nee!” skree Sean. “Dit was nie hy nie. Ek het dit gedoen!”

“Jy lieg vir my.” Waite stap om sy lessenaar. Die ongeloof klink duidelik in sy stem. Sover hy weet, is dit die eerste keer dat dit gebeur het. Hy staar na Sean en sy woede wel nog sterker in hom op. Hy het nou die osse vergeet. Dis die leuen wat hom ontstel. “Wragtag, ek sal jou leer om my die waarheid te vertel.” Hy gryp die sweep van die lessenaar af.

“Moenie my slaan nie, Pa!” waarsku Sean en hy staan terug. Waite lig die sweep op en bring dit oorhands af. Dit sis saggies en Sean swenk weg, maar die punt van die voorslag tref hom nog op die skouer. Die pyn laat Sean na sy stem snak en hy tel sy hand op om die seerplek vas te hou.

“Jou vervlakste klein leuenaar!” skree Waite en hy swaai sy sweep sywaarts asof hy koring maai. Dié slag krul die voorslag om Sean se bors en onder sy opgeligte arm in. Dit sny sy hemp oop soos ’n skeermes sodat ’n mens die rooi haal oor sy ribbes en om sy rug kan sien.

“Dè, hier’s nog!” Waite lig die sweep. Terwyl hy met sy arm in die lug en sy lyf van balans gedraai staan, besef hy hy het ’n fout gemaak. Sean hou nie meer die sweephale op sy lyf vas nie. Sy hande is laag langs sy sye en sy vuiste is gebal. Die hoeke van sy wenkbroue is opgetrek en dit gee sy gesig ’n byna sataniese uitdrukking. Sy oë, nie nou meer blou nie maar gitswart, is gelyk met Waite s’n.

Waite se verbasing is so groot toe hy sien dat sy seun hom stormloop dat hy nie dadelik kan reageer nie. Voor hy weer die sweep kan afbring, is Sean op hom. Sean slaan hom een hou in die middel van die oop borskas. Met die volle gewig van sy liggaam daaragter plant hy die hou.

’n Stadige lamheid trek oor Waite en hy steier terug teen sy lessenaar. Die sweep val uit sy hand. En toe kom Sean weer. Waite voel soos ’n kewer in ’n piering stroop. Hy kan sien en dink, maar hy kan nie beweeg nie. Hy sien hoe Sean drie vinnige tree vorentoe gee, hoe sy regterhand oorgehaal word soos die haan van ’n geweer en hoe dit op sy oop gesig afskiet.

In daardie breukdeel van ’n sekonde, terwyl sy liggaam traag-traag beweeg maar sy brein soos blits werk, val die skille van ouerlike blindheid van Waite Courtney se oë en besef hy dat hy te doen het met ’n man wat hom in lengte en krag ewenaar, maar in ratsheid oortref. Hy besef ook al voordeel wat hy het, is sy ervaring in veertig jaar se vuisgevegte.

Sean slaan. Die hou het al die krag van die eerste een. Waite weet dat hy dit nie sal oorleef as dit hom in die gesig tref nie – en tog kan hy nie roer om dit te ontwyk nie. Al wat hy kan doen, is om sy kop op sy bors te laat sak en Sean se hou bo-op sy kop te vat. Die geweld daarvan gooi hom agteruit oor die lessenaar, maar toe die hou tref, hoor hy duidelik hoe Sean se vingers kraak.

Waite druk op die hoek van die lessenaar en sukkel op sy knieë. Hy kyk na sy seun. Sean staan vooroor gebuk van die pyn, sy gebreekte hand teen sy maag gedruk. Waite kom orent en terwyl hy die lug met diep teue insuig, voel hy sy krag terugkom.

“Nou goed,” sê hy, “as jy wil baklei, kan ons baklei.” Hy stap om die lessenaar, stadig, met die hande gereed. Hy onderskat nie meer sy teenstander nie.

“Ek gaan jou nou behoorlik op jou plek sit,” kondig hy aan. Sean staan regop en kyk na hom. Die pyn is duidelik op sy gesig te lees, maar daar is ook woede. Iets swel binne-in Waite toe hy dit sien.

Hy kan veg en hy is moedig. Ons sal nou sien of hy ook ’n pak slae kan verdra, dink Waite. En terwyl hy hom stilweg verlekker, kom Waite nader. Hy hou Sean se linkerhand dop. Aan die regter steur hy hom nie, want hy weet hoe seer dit is en dat niemand ’n hand in so ’n toestand kan gebruik nie.

Hy skiet sy eie linkervuis uit, proe daarmee, en probeer om Sean uit te lok. Sean systap die hou en beweeg binnetoe verby sy arm. Waite is wawyd oop vir Sean se regter, sy stukkende regter, die hand wat hy tog nie kan gebruik nie. Maar Sean gebruik die vuis wel; hy plant dit met al sy krag in Waite se gesig.

Waite sien ’n warboel kleure voor hom en dan word alles swart. Hy swaai half-om, slaan neer en kom met sy skouer op die luiperdvelmat te lande. Met mat en al skuif hy oor die vloer tot in die kaggel. In die donkerte voel Waite Sean se hande op hom en hoor hy sy stem.

“Pa! O, my Here! Pa, lewe Pa nog?”

Dit word effens ligter voor Waite en hy sien Sean se gesig vaagweg. Die woede is weg, maar in die plek daarvan groot kommer wat aan paniek grens.

“Pa, asseblief, Pa!”

Waite probeer regop kom, maar hy kan nie. Sean moet hom help. Hy kniel langs Waite en hou hom vas terwyl hy lomp met sy gesig werskaf, probeer om die hare uit sy oë te vee en die deurmekaar baard reg te strook.

“Ag, ek’s jammer, Pa! Regtig, ek’s jammer. Laat ek Pa na die stoel toe help.”

Dan sit Waite in die stoel en vryf die kant van sy kaak. Sean hang bekommerd oor hom. Hy het skoon vergeet van sy eie hand.

“Wat het jy probeer doen – my doodmaak?” vra Waite bedruk.

“Ek het dit nie bedoel nie. Ek het net my humeur verloor.”

“Ek weet,” sê Waite. “Dit het ek so pas agtergekom.”

“Pa, omtrent Garry. Pa het mos nie nodig om met hom te praat nie, nè?”

Waite laat sak sy hand van sy gesig en kyk ernstig na Sean.

“Ek sal ’n ooreenkoms met jou sluit,” sê hy. “Ek sal nie met Garry praat nie, mits jy my twee dinge beloof. Die eerste is: Moet nooit weer vir my lieg nie.”

Sean knik vinnig.

“Twee: As enigiemand ooit weer met ’n sweep na jou slaan, beloof my jy sal hom dieselfde gee as wat jy nou vir my gegee het.”

Sean begin glimlag en Waite gaan norserig voort. “Laat ons nou kyk na jou hand.”

Sean hou die hand uit en Waite ondersoek dit. Hy roer die een vinger na die ander. Sean krimp ineen.

“Seer?” vra Waite. Hy het my hiermee geslaan! dink hy. Liewe hemel, ek het darem vir myself ’n woeste entjie mens grootgemaak.

“So effens,” antwoord Sean. Hy is weer bleek.

“Die hand is ’n hele gemors,” sê Waite. “Jy moet liewer maar dadelik dorp toe sodat dokter Van Rooyen dit kan probeer regmaak.”

Sean staan deur se kant toe.

“Wag ’n bietjie!” Sean gaan staan en Waite kom moeisaam uit die stoel op. “Ek gaan saam met jou.”

“Ek sal regkom, Pa. Bly Pa liewer hier en rus.”

Waite steur hom nie daaraan nie en stap deur toe.

“Regtig, Pa, ek sal alleen regkom.”

“Ek kom saam met jou,” sê Waite hard. Dan voeg hy saggies, amper onhoorbaar by: “Ek wil saamgaan, dêmmit!”

Hy tel sy arm op asof hy dit om Sean se skouers wil sit, maar voor dit hom raak, laat hy dit weer langs sy sy val. Saam stap hulle uit in die gang.

Witwatersrand

Подняться наверх