Читать книгу Witwatersrand - Wilbur Smith - Страница 5

2

Оглавление

In die donker kamer lê Sean en tuur na die grys opening van die venster. Buite in die naglug sit ’n skyfie van die maan. Sean kan nie slaap nie; sy gedagtes dwaal al om daardie bosbok. Hy hoor sy ouers voor hul kamerdeur verbyloop. Sy stiefma sê iets en sy pa lag: Waite Courtney se lag laat ’n mens aan veraf donder dink.

Toe hy sy ouers se deur hoor toegaan, sit hy regop in sy bed. “Garry!” Geen antwoord nie.

“Garry!” roep hy weer. Hy tel ’n skoen op en gooi dit. Hy hoor ’n kreun.

“Garry!”

“Wat wil jy hê?” Garrick se stem klink vaak en vies. “Ek het net lê en dink. Môre is Vrydag.”

“Nou ja?”

“Ma en Pa sal dorp toe gaan. Hulle sal die hele dag weg wees. Ons kan die haelgeweer vat en daai ou inkonka gaan voorlê.”

Garrick se bed kraak hard van ontsteltenis.

“Jy’s gek!” Garrick kan nie die vrees uit sy stem hou nie.

“Pa sal ons vermoor as hy ons met daardie haelgeweer betrap.”

Maar terwyl hy dit sê, besef hy klaar dat hy ’n sterker argument sal moet kry as hy sy broer van plan wil laat verander. Sean het so ver moontlik straf probeer misloop, maar ’n kans om ’n bosbokram te skiet was alles werd wat sy pa se regterarm kon gee. Garrick lê gespanne in sy bed; hy soek na woorde.

“Buitendien hou Pa sy patrone altyd toegesluit.”

Dis ’n goeie poging, maar Sean het ’n antwoord.

“Ek weet waar twee patrone is wat hy vergeet het. Hulle lê in die groot blompot in die eetkamer. Hulle is al langer as ’n maand daar.”

Die koue sweet slaan op Garrick uit. Hy voel al klaar hoe die sambok se voorslag om sy boude krul en hoe sy pa die houe tel: agt, nege, tien …

“Asseblief, Sean, kom ons dink aan iets anders.”

In die ander hoek wikkel Sean hom behaaglik tussen sy kussings in. Hy het klaar besluit.

Witwatersrand

Подняться наверх