Читать книгу Witwatersrand - Wilbur Smith - Страница 16

13

Оглавление

So sterk is hierdie nuwe gevoel van Sean dat hy selfs Garrick vir kan haat. Maar sy haat duur nie lank nie. Sean se woede en sy haat kom en gaan vinnig, soos die vlamme van ’n brand in die droë gras, hoog en skroeiend, maar gou uitgewoed en agterna net die dooie as sonder ’n gesmeul.

Waite was weg toe die ding gebeur. Die laaste drie jaar is Waite Courtney benoem as voorsitter van die Beestelersvereniging, maar elke keer het hy die benoeming van die hand gewys. Hy was mens genoeg om die prestige van so ’n amp te begeer, maar hy was ook bewus van die feit dat sy plaas kwaai sou ly weens sy voortdurende afwesigheid. Sean en Garrick het al twee jaar gewerk toe dit weer tyd word om ’n bestuur vir die vereniging te kies.

Die aand voor die vergadering in Pietermaritzburg praat Waite met Ada. “Ek het verlede week ’n brief van Bernard gehad, vrou.” Hy staan voor die spieël in die slaapkamer en snoei aan sy baard. “Hulle dring daarop aan dat ek my vanjaar as voorsitter verkiesbaar stel.”

“Dis baie wys van hulle,” sê Ada. “Hulle sal die beste man hê as jy voorsitter word.”

Waite frons soos hy konsentreer op die knippery. Sy glo so vas in hom en sy vermoë dat hy selde aan homself twyfel. En nou, terwyl hy na sy eie gesig in die spieël kyk, wonder hy hoeveel van sy welslae hy aan Ada se steun te danke het.

“Jy kan dit regkry, Waite.” Dis geen uitdaging of ’n vraag nie, maar ’n kalme feitestelling. Sy glo dit as sy dit sê.

Hy sit die skêr op die laaikas neer en draai om na haar. Sy sit met haar bene gevou op die bed en sy het ’n wit nagrok aan. Haar hare hang los om haar skouers, ’n donker massa.

“Ek dink Sean kan sake hier reghou,” sê sy en dan haastig, “en natuurlik Garry.”

“Ja, Sean leer vinnig,” stem Waite saam.

“Gaan jy die werk vat?”

Waite huiwer ’n oomblik. “Ja,” sê hy, en knik met sy kop.

Ada glimlag. “Kom hier,” sê sy en hou haar hande na hom uit.

Sean neem Waite en Ada stasie toe op Ladyburg. Op die einde het Waite daarop aangedring dat Ada saamgaan, want hy wou hê dat sy dit met hom deel.

Sean sit hulle bagasie in die trein en wag terwyl hulle met die klein klompie ander beesboere gesels wat ook na die vergadering gaan. Dan fluit die trein en die reisigers spat uitmekaar na hul kompartemente. Ada soen Sean en klim in. Waite bly ’n oomblik langer op die perron by Sean.

“Luister, Sean, as jy hulp nodig het, ry oor na mnr. Erasmus op Leeukop. Ons sal Donderdag terug wees.”

“Toe maar, Pa. Ek sal nie hulp nodig hê nie.”

Waite se mond verhard. “Dan is jy seker die Almagtige: Net Hy het nooit hulp nodig nie,” sê hy skerp. “Moenie vervlaks hardkoppig wees nie, as jy moeilikheid kry, gaan vra Erasmus.”

Hy klim in. Die trein gee ’n ruk, trek weg en rol by die stasie uit op pad na die platorand.

Sean staan dit ’n rukkie agterna en kyk en stap dan terug na die verewaentjie. Hy is baas van Theuniskraal en hy hou van die gevoel wat dit hom gee. Die klompie mense op die perron begin uiteengaan en tussen hulle verskyn Anna.

“Hallo, Sean,” sê sy. Sy dra ’n groen katoenrokkie wat al so effens verbleik is van al die was. Sy loop kaalvoet. Sy glimlag met haar klein wit tandjies en hou Sean se gesig dop.

“Hallo, Anna.”

“Gaan jy nie Pietermaritzburg toe nie?”

“Nee, ek moet die plaas oppas.”

“O!”

Hulle bly stil, ongemaklik voor so baie mense. Sean gee ’n kuggie en krap die kant van sy neus.

“Komaan, Anna! Ons moet huis toe,” roep een van haar broers voor die kaartjieskantoor. Sy leun oor na Sean.

“Sal ek jou Sondag sien?” fluister sy.

“Ek sal kom as ek kan. Maar ek weet nie, ek moet die plaas oppas.”

“Ag, probeer asseblief, Sean.” Haar gesig is ernstig. “Ek sal vir jou wag. Ek sal kos saamvat en die hele dag wag. Kom, asseblief, al is dit net vir ’n rukkie.”

“Goed, ek sal kom.”

“Belowe jy?”

“Ek belowe.”

Sy glimlag verlig.

“Ek sal vir jou op die paadjie bokant wag.” Dan hardloop sy na haar mense toe en Sean ry terug na Theuniskraal.

Garrick lê en lees op sy bed.

“Ek dog Pa het gesê jy moet aangaan met die merk van daardie nuwe beeste wat ons Woensdag gekoop het?”

Garrick sit sy boek neer en lig hom op. “Ek het Zama aangesê om hulle in die kraal te hou tot jy terugkom.”

“Maar Pa het mos gesê jy moet dit doen. Jy kan mos nie die diere die hele dag sonder kos en water daar hou nie.”

“Ek haat die brandery,” brom Garrick. “Dit maak my naar as hulle so bulk wanneer ’n mens met hulle werk en die stank van daardie gebrande hare en vel gee my ’n kopseer.”

“Wel, iemand moet dit doen. Ek kan nie, ek moet afgaan na die dipgate om nuwe dip in te gooi vir môre.” Sean is besig om sy humeur te verloor.

“Magtag, Garry, hoekom is jy altyd so vervlaks hulpeloos?”

“Is dit my skuld dat ek net een been het?” Garrick se trane is al weer naby. Die verwysing na sy been het die gewenste uitwerking. Sean koel onmiddellik af.

“Ek’s jammer!” Sean glimlag op sy onweerstaanbare manier. “Ek sal jou sê. Ek sal die beeste brand en dan maak jy die gate reg. Laai die blikke dip op die skotskar en vat ’n paar stalvolk met jou saam om jou te help. Hier’s die sleutels van die pakkamer.” Hy gooi die bos op die bed langs Garrick. “Jy kan nog voor donker klaar wees.”

In die deur draai hy om. “O, ja, moenie vergeet om al ses gate reg te maak nie, nie net dié wat aan die huis se kant is nie.”

Garrick laai daarom ses blikke dip in die skotskar en ry teen die bult af. Nog voor donker is hy terug. Die voorkant van sy rybroek is swart gevlek van die teeragtige vloeistof en daar is ook ’n swaar dipkol op sy een stewel. Toe hy uit die kombuis in die gang af kom, hoor hy Sean uit die werkkamer roep. “Haai, Garry. Is jy al klaar met almal?”

Garrick is verbaas. Waite se werkkamer is ’n heilige plek, as ’t ware die allerheiligste van Theuniskraal. Selfs Ada het geklop voor sy ingaan en die tweeling het net daar gekom om straf te kry. Garrick hink in die gang af en stoot die deur oop.

Sean sit agteroor in sy pa se draaistoel met die stewels bo-op die skryftafel en die enkels netjies gekruis.

“Pa sal jou doodmaak.” Garrick se stem bewe effens.

“Pa is in Pietermaritzburg,” sê Sean.

Garrick staan in die deur en kyk die kamer deur. Dit is die eerste keer dat hy die vertrek werklik sien. Op vorige besoeke was sy gedagtes te besig met die geweld wat sou volg. Die enigste meubelstuk in die vertrek wat hy goed ken, is die diep leunstoel waaroor hy altyd gebuk het om sy agterwêreld vir die sambok te hou.

Nou kyk hy die kamer deur. Die mure is tot teenaan die dak uitgepaneel, die hout blink gepoleer en donkergeel. Die plafon is met sierpleister uitgevoer, ’n soort akkerblaarmotief. In die middel hang ’n lamp aan ’n koperketting. Die kaggel is van bruin gekapte klip gebou, yslik groot, ’n mens kan amper regop daar inloop. ’n Paar stompe lê reg vir die vuur. Op die lysie bokant die kaggel lê pype en staan ’n tabakkruik; in die rak langs die muur hang gewere. Langs dié ’n boekrak met swaar bundels in groen en maroen leer gebind, ensiklopedieë, woordeboeke, boeke oor reise en boerdery, maar geen fiksie nie. Oorkant die lessenaar hang ’n skildery van Ada teen die muur. Die kunstenaar het daarin geslaag om iets van haar kalmte daarin oor te dra. Sy dra ’n wit rok en in haar hand hou sy haar hoed. ’n Pragtige stel buffelhorings hang bokant die kaggel teen die muur en oorheers feitlik die vertrek met hul dik-getande knobbels en wye weglêpunt.

Dis ’n man se kamer dié. ’n Mens kan dit sommer voel. Daar is los hondehare op die luiperdvelmat op die vloer en Waite se reuk hang in die lug, ’n reuk net so eie aan hom soos die tweedjas en breërandvilthoed wat agter die deur hang.

Die deurtjies van die drankkabinet langs Sean lê oop en op die tafel staan ’n bottel brandewyn. Sean sit met ’n glasie in die hand.

“Jy drink Pa se brandewyn,” kla Garrick hom aan.

“Dis nogal glad nie sleg nie,” sê Sean. Hy hou die glas in die lug en bekyk die vloeistof daarin. Hy proe versigtig daaraan en hou dit in sy mond terwyl hy hom voorberei om te sluk. Garrick hou hom eerbiedig dop en Sean probeer hard om nie ’n gesig te trek as die brandewyn in sy keel afloop nie.

“Wil jy ook hê?”

Garrick skud sy kop en die walms kom op in Sean se neus en laat sy oë traan.

“Pa sal jou doodmaak,” sê Garrick weer.

“Sit daar,” beveel Sean. Sy stem is hees van die brandewyn se vuur. “Ek wil ’n werkplan opstel vir die tyd wat Pa weg sal wees.”

Garrick stap na die leunstoel toe, maar voor hy daar kom, verander hy van plan; die herinneringe is darem te onplesierig. In plaas daarvan draai hy om na die bank en gaan op die rand sit.

“Môre,” sê Sean met een vinger in die lug, “sal ons al die beeste in die huiskampe dip. Ek het Zama aangesê om te sorg dat hulle vroeg aankom. Jy het mos al die gate gedoen, nie waar nie?”

Garrick knik en Sean gaan voort.

“Saterdag,” en Sean hou sy tweede vinger op, “sal ons brandpaaie bo teen die berg maak. Die gras is kurkdroog daar. Jy kan een klompie volk vat en naby die val begin. Ek sal by die ander end, naby Frederickskloof begin. Sondag …” Sean bly stil. Sondag is dit Anna.

“Sondag wil ek kerk toe gaan,” sê Garrick haastig.

“Dis in die haak,” antwoord Sean. “Gaan jy maar kerk toe.”

“Gaan jy nie saam nie?”

“Nee,” sê Sean.

Garrick kyk af na die luiperdvelle op die vloer. Hy probeer nie om Sean om te haal nie. Hy weet Anna sal ook in die kerk wees en moontlik kan hy haar ná die diens huis toe bring in die verewaentjie as Sean nie daar is om haar aandag af te trek nie. Hy raak ingedagte, begin lugkastele bou en luister nie verder wat Sean sê nie.

Die volgende oggend is die son al op wanneer Sean by die dipgat aankom. Hy jaag ’n klein troppie agterblyers tussen die bome uit na die oop stuk rondom die gat. Garrick het reeds begin om die beeste deur te jaag en anderkant in die drupkraal staan ’n stuk of tien, nat en miserabel, hul lywe swart van die dip.

Sean stoot sy troppie deur die dipkraal se hek tussen die dik massa bruin liggame in wat reeds daar ingeprop staan. N’Duti skuif die pale van die hek terug in posisie om die diere binne te hou. Sean ry langs die draad af na ’n klompie bome waar hy sy perd vasmaak. Dan stap hy na die dipgat toe. Garrick staan by die muurtjie en leun teen een van die pale waarop die dak rus.

“Môre, Garry. Hoe gaan dit hier?”

“Doodreg.”

Sean leun oor die muurtjie langs Garrick. Die gat is twintig voet lank en agt voet breed. Die oppervlak van die dip lê laer as die grond. Rondom die gat is ’n lae muurtjie en bo-oor is ’n strooidak wat moet keer dat die reën nie in die vloeistof kom nie.

Die beeswagtertjies jaag die diere in die drukgang af tot op die rand van die gat en hier steek elkeen vas.

“Eyapi! Eyapi!” skree hulle en die gebeur van die ander beeste agter dwing die voorste een om in te spring. As een nog steeks is, leun Zama oor die draad, gryp sy stert en byt dit hard.

Elke bees spring met sy neus hoog in die lug en die voorpote tot onder die keel opgetrek in die gat. Hy verdwyn heeltemal onder die swart olierige vloeistof, duik dan weer op en swem wild in die gat af totdat die hoewe die skuins wal aan die onderpunt tref en hy opsukkel na die drupkraal toe.

“Stoot hulle aan, Zama, stoot hulle aan!” skree Sean.

Zama lag en byt met sy groot wit tande in die stert van ’n steeks os.

Dis ’n swaar dier en toe hy in die dip val, spat ’n druppel van die vloeistof op teen Sean se wang waar hy oor die muurtjie leun. Sean steur hom nie daaraan nie en hou die gedoente in die gat dop.

“Gits, as ons nie die beste pryse vir hierdie klomp by die volgende veiling kry nie, dan ken die kopers nie goeie vee nie,” sê hy aan Garry.

“Hulle is nie onaardig nie,” stem Garry saam.

“Nie onaardig nie? Hulle is die vetste osse in die distrik.” Sean is op die punt om verder oor hierdie onderwerp uit te wei, maar hy word skielik bewus van die gebrand van die druppel dip op sy wang. Hy vee dit met sy vinger af en ruik daaraan. Die reuk brand in sy neus. ’n Oomblik staar hy onnosel daarna terwyl die plekkie op sy wang soos ’n kool vuur brand.

Hy kyk vinnig op. Die beeste in die drupkraal maal rusteloos rond en terwyl hy kyk, steier een van hulle sydelings en stamp met sy kop teen die paalheining.

“Zama!” skree Sean hard. Die Zoeloe kyk op. “Keer hulle, om vadersnaam, moenie dat nog deurkom nie!”

Nog ’n os staan op die rand van die gat gereed. Sean pluk sy hoed van sy kop en spring op die muurtjie. Hy slaan die dier met die hoed in die gesig en probeer om hom terug te dryf, maar verwilderd boender hy in die gat. Sean trek homself aan die dakpaal op en spring af op die plek waar die dier gestaan het, op die rand van die gat.

“Keer hulle!” skree hy weer. “Gooi toe die hek, moenie dat nog inkom nie!”

Hy sprei sy arms voor die ingang van die gat uit en hou met albei hande weerskante aan die draad vas terwyl hy skop na die gesigte van die diere voor hom.

“Opskud, julle lamsakke, opskud! Gooi toe die hekke!” Die osse beur op hom af, ’n muur gehoringde koppe. Met die gedruk van agter en Sean al skoppende hier voor hulle, raak hulle verbouereerd. Een probeer oor die draad spring. Toe die dier sy kop swaai, raps die horing Sean oor die ribbes en skeur sy hemp flenters.

Sean voel hoe die houtpale van die hek agter hom voor die ingang van die gat gegooi word. Zama se hand gryp hom aan die arm en pluk hom uit die geharwar van hoewe en horings. Twee beeswagters help hom oor die draad, maar hy stamp hulle hande weg voor hy op die grond is.

“Komaan!” skree hy en hy hardloop na sy perd.

“Nkosi, kyk jou bloed!”

Die bloed sypel rooi teen die voorkant van Sean se hemp uit, maar hy voel geen pyn nie. Die beeste wat deur die dipgat is, is nou in die verskriklikste nood. Hulle storm heen en weer in die kraaltjie, bulk jammerlik. Een slaan in die stap neer en toe hy uiteindelik weer orent kom, bewe sy bene so dat hy skaars kan staan.

“Rivier toe!” skree Sean. “Jaag hulle rivier toe. Probeer om dit af te was, Zama. Gou, man, gou! Maak oop die hek!”

Die Bobbejaanspruit is ’n myl van die dipgate af. Een van die beeste vrek voor hulle die diere uit die drupkraal kan kry en nog tien voor hulle die water haal. Hulle vrek met wilde stuiptrekkings terwyl hul liggame sidder en hul oë in hul koppe omdop.

Dié wat oorbly, jaag Sean teen die wal af die water in. Die water is helder en skoon en van elke bees wat inkom, spoel die dip in ’n donkerbruin wolk weg.

“Bly jy hier, Zama. Moenie dat hulle uitkom nie.”

Sean stuur sy perd deur die water na die oorkantste wal en keer die osse voor wat daar probeer uitklim.

“Nkosi, een verdrink!” roep N’Duti. Sean kyk oor die rivier en sien ’n jong os in die vlak water lê en krul. Sy kop is onder water en sy pote spartel op die oppervlak.

Sean seil van sy perd af en loop die water in. Voor hy by die os kom, vat die water hom onder die armholtes. Hy probeer om die os se kop bo water te hou en hom wal toe te sleep.

“Help my, N’Duti!” roep Sean en die Zoeloe kom die rivier in. Dit is ’n hopelose taak. Elke keer as die os ’n ruk gee, verdwyn hulle albei onder die water. Teen die tyd dat hulle hom by die wal kry, is hy dood.

Sean bly uitgeput in die modder langs die dooie dier sit. Sy longe brand van die water wat hy gesluk het.

“Bring hulle uit, Zama,” hyg hy. Die oorlewendes staan verdwaas in die vlak water of swem doelloos in kringe rond. “Hoeveel?” vra Sean. “Hoeveel is vrek?”

“Nog twee terwyl jy in die water was. Altesame dertien, Nkosi.”

“Waar’s my perd?”

“Hy het die loop geneem en ek het hom maar laat gaan. Hy is seker terug huis toe.”

Sean knik.

“Bring hierdie klomp maar op na die siekkraal. Ons moet hulle ’n paar dae lank dophou.”

Sean staan op en stap terug na die dipgat. Garrick is weg en die hooftrop staan nog altyd in die kraal. Sean maak die hek oop en laat hulle uit. Hy voel al klaar beter. Maar met die terugkeer van sy krag kom ook die woede en die haat. Hy vat die paadjie huis toe. Sy nat stewels sjor-sjor terwyl hy loop en met elke tree haat hy Garrick meer. Garrick het die dip aangemaak. Garrick het sy beeste doodgemaak en Sean haat hom daarvoor.

Toe Sean teen die bult voor die huis uitkom, sien hy Garrick op die werf staan. Garrick sien hom ook; hy verdwyn in die kombuis en Sean begin hardloop. Hy nael by die kombuisdeur in en loop byna een van die bediendes uit die grond.

“Garrick!” skree Sean. “Verdomp, waar’s jy?” Hy deursoek die huis, eers haastig en dan deegliker. Garrick is weg. Die venster in hulle kamer is oop en op die vensterbank is ’n stowwerige stewelspoor. Garrick is deur die venster.

“Jou vervlakste lafaard!” skree Sean terwyl hy ook deur die venster klim. Buite staan hy ’n oomblik stil terwyl hy vinnig op en af kyk. Sy vuiste bal werktuiglik.

“Ek sal jou kry!” skree hy weer. “Ek sal jou kry waar jy ook al wegkruip.” Hy kies koers oor die werf na die stalle toe, maar halfpad soontoe sien hy dat die deur van die melkkamer toe is. Hy stoot aan die deur en besef dat dit van binne gesluit is. Sean staan ’n entjie weg van die deur en loop dit dan met sy skouer storm. Die slot bars oop en die deur klap hard teen die muur. Sean skaats oor die vloer en kom teen die oorkantse muur tot stilstand. Garrick is besig om deur die venster te probeer klim, maar dit is klein en hoog bo die grond. Sean gryp hom aan die sitvlak van sy broek en pluk hom terug.

“Wat het jy met die dip aangevang, hè? Wat het jy daarmee aangevang?” Hy skree in Garrick se gesig.

“Ek het nie geweet dit sou hulle doodmaak nie.”

“Sê my wat jy gedoen het!” Sean het hom voor aan die hemp beet en trek hom deur se kant toe.

“Ek het niks gedoen nie, regtig nie. Ek het nie geweet dit sou gebeur nie.”

“Ek gaan jou tog foeter, dus kan jy maar vertel.”

“Asseblief, Sean, ek het nie geweet nie!”

Sean druk Garrick teen die deur vas en hou hom daar met sy linkerhand. Sy regterhand haal hy oor met die vuis gebal.

“Nee, Sean! Asseblief tog, moenie!”

En skielik vaar die woede uit Sean. Sy hande sak langs sy sye. “Goed, maar sê net vir my wat jy gedoen het,” sê hy koel. Sy woede het gesak, maar die haat is nog daar.

“Ek was moeg. Dit was al laat en my been was seer,” fluister Garrick. “Daar was nog vier gate oor om vol te maak en ek het geweet jy sou kyk of al die blikke leeg is, en … en dit was so laat …”

“En toe?”

“En toe het ek al die dip in die een gat gegooi, maar ek het nie geweet dit sou hulle doodmaak nie, regtig, ek het nie geweet nie.”

Sean draai om en begin stadig huis toe stap. Garrick struikel-struikel agterna.

“Ek’s jammer, Sean. Regtig, ek’s jammer. Ek het nie geweet dat …”

Sean loop voor hom by die kombuis in en klap die deur in sy gesig toe. Hy stap deur na Waite se werkkamer. Hy haal die swaar leergebonde veeregister van die rak af en dra dit na die lessenaar. Hy maak die boek oop, vat ’n pen en doop dit in die ink. ’n Rukkie staar hy na die bladsy en dan skryf hy die syfer dertien in die kolom “sterftes”. Agterna skryf hy “dipvergifting”. Hy druk so hard op die pen dat die punt die papier sny.

Die res van daardie dag en ook die volgende werk Sean en die beeswagters by die dipgat. Hulle trek die gif uit die gat, maak dit vol skoon water en meng vars dip daarmee. Hy sien Garrick net etenstye en dan praat hulle nie met mekaar nie.

Die volgende dag is Sondag. Garrick gaan vroeg dorp toe, want die kerkdiens begin om agtuur. Toe hy weg is, begin Sean met sy voorbereidings. Hy skeer hom, met die gesig naby die spieël werk by bra versigtig en lugtig met die skeermes aan sy bakkebaardjies. Hy vorm dit versigtig na wens, maar die hare van die res van sy gesig skeer hy af totdat die vel glad en vars lyk. Dan stap hy na die hoofslaapkamer en help hom goed aan sy pa se briljantien. Hy sorg darem dat hy die deksel netjies terugskroef op die potjie en dat hy dit wegsit presies soos hy dit gekry het. Hy vryf die briljantien in sy hare en snuif die geur daarvan waarderend op. Hy kam sy hare af oor sy voorkop, maak dan ’n paadjie in die middel en strook die hare weerskante glad met Waite se silwerrugborsels. Dan volg ’n skoon wit hemp, ’n broek wat hy nog net een keer vantevore aangehad het, skoene wat net so blink soos sy hare – en Sean is gereed.

Die horlosie op die kaggelrak in die sitkamer verseker hom dat hy nog baie tyd het. Om presies te wees, twee uur. Dis nou agtuur, die diens sal nie voor negeuur oor wees nie en dan is daar nog goed ’n uur nodig voor Anna van haar familie kan wegkom en die afgesproke plek bokant die val kan haal. Hy maak hom gereed om te wag. Hy haal die jongste uitgawe van die Natal Farmer uit die rak en lees daarin. Hy het dit reeds drie keer gelees, want dis al ’n maand oud en selfs die goeie artikel oor maagparasiete in beeste en skape is nie meer so boeiend interessant nie. Sean se aandag dwaal af. Hy dink aan die dag wat voorlê, beskou sy broek, sien dat dit nie goed genoeg sit nie en trek dit reg. Nog ’n rukkie sit hy, maar dan staan hy op, stap na die kombuis en bedel ’n koppie koffie by Josef. Toe hy klaar gedrink het, is daar nog ’n halfuur oor.

“Aag, kom, bog!” sê hy en hy skree op ’n staljong om sy perd te bring. Hy ry teen die berg uit. Hy laat die perd toe om op sy gemak skuinsweg teen die helling uit te klim. Bo gekom, klim hy af en laat hy die perd blaas. Vandag kan hy die loop van die Tugela op die vlakte sien, ’n strook donkergroen. Hy kan die dakke van die huise op Ladyburg tel. Die kerktoring in sy kopergewaad blink soos ’n ligbaken in die sonlig.

Hy klim weer op sy perd en ry al met die rand van die plato langs tot by die waterstroom bokant die val. Hy daal al langs die riviertjie en ry op ’n vlak plek deur die water, bene bo-op die saal getrek om sy skoene droog te hou. Langs die kuile saal hy af en kniehalter die perd. Dan stap hy in die paadjie af totdat dit oor die afgrond wegsak onder die digte bosse in wat om die val groei. Dis koel en klam in die bos. Oral groei mos, want die blaredak van die bome en klimoppe hou die son buite. Êrens in die ruigte is ’n vleiloerie doenig.

“Ghloe-ghloe-ghloe” sê die voël, omtrent soos ’n bottel wat leegloop. Die helder note van sy stem klink dof en ver onder die ewige gedreun van die val.

Sean sprei sy sakdoek oor ’n klip langs die paadjie en gaan sit daarop. Hy wag net vyf minute en begin dan ongeduldig vroetel. Ná ’n halfuur mompel hy vies: “Ek sal tot ’n honderd tel … as sy dan nog nie hier is nie, gaan ek niks langer wag nie.”

Hy tel en toe hy die beloofde syfer bereik, hou hy op en kyk angstig in die paadjie af. Daar’s geen teken van Anna nie.

“Ek gaan nie die hele dag hier sit nie,” kondig hy aan, maar wend geen poging aan om op te staan nie. ’n Vet geel wurm trek sy aandag. Dit sit op ’n boomstam ’n entjie verder af langs die paadjie. Hy tel ’n klippie op en gooi na die wurm. Dit slaan ’n duim bokant die wurm vas en spring in die bossies in.

“Amper,” moedig Sean homself aan en buk om nog ’n klippie op te tel. Ná ’n rukkie het hy die voorraad klippies om hom uitgeput, maar die wurm is nog steeds besig om tydsaam teen die boomstam op te seil. Sean moet noodgedwonge rondsoek na nog klippies. Hy kom terug met twee hande vol en gaan sit weer op sy plek. Hy begin van voor af die wurm bestook. Elke gooi word met die grootste versigtigheid gemik. Met die derde tref hy volmaak en die wurm bars oop met ’n straal groen sop. Sean voel gekul. Hy soek rond na nog ’n teiken, maar kry Anna in plaas daarvan. Sy staan langs hom.

“Hallo, Sean.” Sy het ’n pienk rok aan. Haar skoene dra sy in die een hand en in die ander ’n klein mandjie. “Ek het ’n bietjie kos vir ons gebring.”

“Hoekom het jy so gedraai?” Sean staan op en vee sy hande aan sy broek af. “Ek het gedog jy kom nie meer nie.”

“Ek is jammer. Alles het verkeerd geloop.”

Daar volg ’n ongemaklike stilte en Anna bloos effens onder Sean se blik. Dan draai sy om en loop met die paadjie boontoe. “Kom ons kyk wie is eerste bo!”

Sy is rats op haar kaal voete. Met die rok bokant die knieë gehou, is sy uit in die sonlig voor Sean haar kan vang. Hy gryp haar met albei arms van agter om die lyf en hulle val in die gras langs die paadjie. Hulle bly so lê terwyl hulle mekaar vashou en hygend lag.

“Die kerk het so lank aangehou ek het gedog dit gaan nooit end kry nie,” sê Anna. “En daarna …”

Voor sy kan klaarmaak, druk Sean sy mond op hare en dadelik slaan sy haar arms om sy nek.

“Ag, Sean, dit was so lank. ’n Hele lange week.”

“Ek weet.”

“Ek het jou so gemis. Ek het elke dag aan jou gedink.”

Sean lê met sy gesig diep in haar nek gedruk. Hy antwoord nie.

“Het jy my gemis, Sean?”

“Hmm,” brom Sean en vat die lel van haar oor tussen sy tande.

“Het jy aan my gedink terwyl jy gewerk het?”

“Hmm.”

“Sê dit mooi, Sean. Sê dit behoorlik vir my.”

“Ek het jou gemis, Anna. Ek het die hele tyd aan jou gedink,” lieg Sean en hy soen haar op die mond.

Anna spring orent en tel haar mandjie op. “Komaan, kom ons gaan na die waterkuile toe.”

Hulle het ’n spesiale plek. Daar is riete rondom en ’n groot boom op die wal bokant die kuil gooi ’n skadukol op die wit en skoongespoelde sand. Sean gooi sy saalkleed oop sodat hulle daarop kan sit. Hulle kan hoor hoe die rivier verbykabbel, maar hulle kan dit nie sien nie. Met elke luggie ritsel die riete en knik met hul donserige koppe.

“… en ek kon nie van hom ontslae raak nie,” babbel Anna voort terwyl sy die mandjie eetgoed uitpak. “Hy het net daar gesit en gesit, elke slag as ek iets sê, bloos hy en wikkel hy op sy stoel. Oplaas het ek sommer gesê: Jammer, Garry, maar ek moet nou loop.”

Sean lyk suur. Garrick se naam herinner hom aan die dip. En hy het hom nog nie vergewe nie.

“En toe ek in die huis kom, kry ek Ma en Frikkie aan die baklei. Ma was in trane en die ander kinders was in die slaapkamer toegesluit.”

“Wie het gewen?” vra Sean belangstellend.

“Hulle het nie regtig baklei nie, hulle het mekaar sommer staan en verskree. Albei was dronk.”

Sean is altyd effens geskok deur die ongeërgde manier waarop Anna van haar familie se drinkgewoontes praat. Almal het geweet van mnr. Van Essen en sy twee oudste seuns, maar dit was nie vir Anna nodig om daaroor te praat nie. Eenkeer het Sean probeer om haar reg te help. “Jy moenie sulke goed oor jou pa sê nie. Jy moet hom respekteer.”

En Anna het kalm na hom gekyk en gevra: “Hoekom?” Wat nogal ’n moeilike vraag was om te beantwoord. Nou praat sy dadelik oor iets anders.

“Wil jy eet?”

“Nee,” sê Sean en vang haar. Sy sit haar teë, protesteer preutserig totdat Sean haar vasvat en haar soen. Dan lê sy stil en beantwoord sy soene.

“As jy my nou gaan stop gaan ek kwaad raak,” het Sean gefluister en die boonste knoop van haar rok doelbewus losgemaak. Sy het sy gesig met ernstige oë dop gehou en haar hande het op sy skouers gebly totdat hy haar bloes tot by haar middellyf los gemaak het en sy die skerp swart kurwes van sy wenkbroue met haar vingers omlyn het.

“Nee, Sean, ek sal jou nie stop nie. Ek wil ook, ek wil net so graag soos jy wil.”

Daar was so baie om te ontdek. Elke deel was vreemd en wonderlik en hulle was die eerstes om dit te vind. Die manier hoe die spiere uitstaan aan die kant van sy bors onder sy arms maar hoe dit terselfdertyd ’n plek ooplos waar sy die buitelyn van sy ribbes kon sien. Die tekstuur van haar vel, glad en wit met die vae, blou aanduiding van die are daar onder. Die diep holte in die middel van sy lae rug – sy kon sy rugraat voel toe sy haar vingers daarin druk. Die donsies op haar wange, so bleek en fyn dat hy dit slegs in die sonlig kan sien. Hoe hulle lippe gevoel het teen mekaar en die fyn gefladder van tonge benede. Die reuk van hul lywe, die een melkerig en warm en die ander swaar en intens. Die hare op sy bors wat dikker groei onder sy arms, en hare: verbasend donker teen haar vel, ’n klein, syerige nes. Elke keer was daar iets nuuts om te ontdek en te groet met sagte geluide van plesier.

Hy kniel nou voor haar, haar kop agteroor gegooi en haar arms effens opgelig om hom te ontvang. Maar Sean buig skielik sy kop en raak aan haar met sy mond. Die smaak van haar is skoon, soos die smaak van die see.

Haar oë vlieg oop. “Sean, nee, jy moenie – o nee, jy moenie.” Daar was lippe binne-in lippe en ’n knoppie, saggies veerkragtig soos ’n klein, groen appel. Sean het dit gevind met dit punt van sy tong.

“O Sean, jy kan nie dit doen nie. Asseblief, asseblief, asseblief.” Maar haar hande was in die dik hare agter sy kop om hom daar te hou.

“Ek kan die nie meer vat nie, kom oor my … vinnig, vinnig, Sean.”

Vol soos ’n seil in ’n stormwind, opgeswel en hard en styf, verder as sy limiet gestrek tot dit bars en tot niet geblaas word in die wind. En toe is alles weg. Die wind in die seil, die spanning en die lus, alles weg. Net die groot niksheid van vrede het oorgebly. Miskien is dit ’n tipe dood; miskien is dit hoe die dood is. Maar net soos die dood, nie ’n einde nie – want selfs die dood besit die saadjies van opstand. Hulle het teruggekom van die vrede na ’n nuwe begin, eers stadig en toe vinniger totdat hulle weer twee mense was. Twee mense op ’n kombers tussen die riete, die sonlig wit op die sand rondom hulle.

“Dit is elke keer beter en beter – nè, Sean?”

“A!” Sean strek sy arms en lê terug.

“Sean, jy het my regtig lief, nie waar nie?”

“Natuurlik. Natuurlik het ek jou lief.”

“Ek dink jy moet my liefhê om te doen,” sy huiwer, “om te doen wat jy nou net gedoen het.”

“Maar ek het mos so gesê, het ek nie?” Sean se aandag dwaal af na die mandjie kos. Hy vat ’n appel en vryf dit blink teen die kombers.

“Sê dit vir my behoorlik. Hou my styf vas en sê dit vir my.”

“Goeiste, Anna, hoeveel keer moet ek dit vir jou sê?” Sean hap die appel. “Het jy van jou ma se brosbeskuit gebring?”

Dit word al sterk donker toe Sean op Theuniskraal terugkom. Hy gee sy perd aan ’n staljong en stap die huis binne. Sy lyf tintel van die son en hy voel die leegheid en melancholie van die na-liefde, maar dis ’n lekker gevoel soos die melancholie van ou herinneringe.

Garrick sit alleen in die eetkamer aan tafel. Sean stap in en Garrick kyk senuweeagtig op.

“Naand, Garry.” Sean glimlag en ’n oomblik lank is Garrick skoon uit die veld geslaan. Sean kom sit op die stoel langs hom en gee hom ’n houtjie op die arm.

“Het jy vir my ook ’n bietjie kos laat bly?” Sy haat is weg.

“O, daar’s baie.” Garrick beduie gretig. “Vat vir jou van die aartappels. Hulle smaak vorentoe.”

Witwatersrand

Подняться наверх