Читать книгу Witwatersrand - Wilbur Smith - Страница 13
10
ОглавлениеGroot en klein, meisies en seuns, ontvang saam hulle onderrig in een groot klaskamer. Die kinders sit in dubbelbanke. Op die mure is daar ’n paar landkaarte, ’n groot stel tafels en ’n prent van koningin Victoria. Van sy kateder af beskou mnr. Anthony Clark sy nuwe leerlinge. Daar is ’n gespanne stilte, een van die meisies giggel senuweeagtig en mnr. Clark se oë dwaal in haar rigting, maar hulle steek vas voor hulle haar bereik.
“Dis my ongelukkige plig om julle te probeer opvoed,” kondig hy aan. En dis geen grappie nie. Sy roepingsin is lank reeds oorweldig deur sy diepe afkeer van kinders. Hy gee nou net onderwys om ’n salaris te kry.
“En dis jul ewe onplesierige plig om julle met al die krag tot jul beskikking hieraan te onderwerp,” gaan hy voort terwyl hy teësinnig in hulle blink gesigte kyk.
“Wat sê hy?” fluister Sean sonder om sy lippe te roer.
“Sjuut,” sê Garrick.
Mnr. Clark se oë swaai vinnig om en val op Garrick. Stadig stap hy in die gangetjie tussen die banke af en kom staan langs hom. Met sy duim en voorvinger vat hy ’n paar van die klein haartjies op Garrick se slaap en pluk dit met ’n vinnige beweging opwaarts. Garrick los ’n gil en mnr. Clark stap stadig terug na sy lessenaar.
“Ons sal nou voortgaan. Standerd-eens, maak asseblief jul spelboeke op bladsy een oop. Standerd-twees blaai na bladsy vyftien …” Hy deel almal se werk uit.
“Het hy jou seergemaak?” fluister Sean. Garrick knik so effens en Sean voel hoe die haat vir die man in hom groei. Hy staar na hom.
Mnr. Clark is ’n raps oor die dertig jaar oud. Hy is skraal, ’n feit wat sy driestukpak eerder beklemtoon as verberg. Sy gesig is bleek en sy hangsnor gee dit ’n weemoedige uitdrukking. Die punt van sy neus wip so geweldig dat ’n mens wie weet waar in sy neusgate kan sien; hulle steek soos die bek van ’n dubbelloopgeweer uit sy gesig. Hy kyk op van die lys wat hy in sy hand hou en mik met sy neusgate reguit na Sean toe. ’n Oomblik kyk hulle stip na mekaar.
Moeilikheid, dink mnr. Clark. Hy kan hulle onfeilbaar uitken. Breek hom voor hy buite beheer raak.
“Jy, seun, wat is jou naam?”
Sean draai hom met groot gebaar om en kyk oor sy skouer. Toe hy terugkyk, gloei mnr. Clark se wange. “Staan op!”
“Wie, ek?”
“Ja, jy!”
Sean staan op.
“Wat’s jou naam?”
“Courtney.”
“Meneer!”
“Courtney, Meneer!”
Hulle kyk na mekaar. Mnr. Clark wag dat Sean sy oë moet laat sak, maar hy kyk stip na hom.
Groot moeilikheid, baie groter as wat ek gedink het, besluit mnr. Clark, en hy sê hardop: “Goed, sit maar.”
’n Mens kan byna sien hoe die spanning in die klas verslap. Sean voel die bewondering van die ander kinders. Hulle is trots op die manier waarop hy die saak hanteer het. Iemand raak aan sy skouer. Dis Anna in die bank net agter hom. Dis die naaste wat sy aan hom kon kom. Gewoonlik sou hy hom vererg het vir haar aanmatiging, maar nou laat dit hom nog meer selfvoldaan voel.
Die uur is lank vir Sean. Hy teken ’n geweer in die kantlyn van sy spelboek en vee dit dan weer sorgvuldig uit. Hy sit ’n rukkie na Garrick en kyk totdat sy broer se verdieptheid in sy werk hom irriteer.
“Bokker!” fluister hy, maar Garrick ignoreer hom.
Sean is verveeld. Hy skuif rusteloos op sy bank rond en kyk na die agterkant van Karl se kop voor hom. Daar is ’n ryp puisie op sy nek. Hy tel sy liniaal op om die puisie ’n druk te gee. Maar voor hy dit kan doen, tel Karl sy hand op asof hy sy skouer wil krap. Tussen sy vingers is ’n stukkie papier. Sean sit die liniaal neer en probeer ongemerk die papiertjie vat. Hy hou dit op sy skoot en lees een woord daarop: “Muskiete.”
Sean grinnik. Sy nabootsing van ’n muskiet was een van die baie redes waarom die vorige onderwyser bedank het. Ses maande lank het ou Akkedis geglo dat daar muskiete in die kamer is – en die volgende ses maande het hy geweet daar is nie muskiete in die vertrek nie. Hy het elke moontlike plan bedink om die skuldige te betrap, maar op die ou end was hy self die slagoffer. Sodra die eentonige gesing begin het, het die spiertjie in die hoek van sy mond begin ruk.
Sean maak sy keel skoon en begin brom. Dadelik kan ’n mens voel hoe almal spook om hul lag binne te hou. Elke kop, ook Sean s’n, is hardwerkend oor ’n boek gebuig. Mnr. Clark se hand huiwer ’n oomblik terwyl dit op die bord skryf, maar gaan dan gladweg voort.
Dis ’n oulike nabootsing. Deur die krag van sy stem te vermeerder of te verminder, wek Sean die indruk dat die insek heen en weer in die kamer vlieg. ’n Ligte trilling by sy keel is die enigste aanduiding dat hy verantwoordelik is vir die gesing.
Ná ’n rukkie hou mnr. Clark op met skryf en draai hom om na die klas. Sean maak nie die fout om op te hou nie. Hy laat die muskiet nog ’n rukkie vlieg voor hy êrens gaan sit. Mnr. Clark klim van sy kateder af en stap tussen die ry banke aan die ander kant van die klaskamer deur. Een of twee keer gaan hy staan om die werk van sy leerlinge na te gaan. Toe hy agter in die kamer kom, stap hy oor na die ry waarin Sean sit. By Anna se bank steek hy vas.
“Dis mos nie nodig om so ’n geweldige krul aan jou L te sit nie,” sê hy vir haar. “Laat ek jou wys.” Hy vat haar potlood en skryf. “Sien jy wat ek bedoel? Om in ’n mens se skrif vertonerig te wees is net so lelik as om in jou alledaagse gedrag vertonerig te wees.”
Hy gee haar potlood terug, swaai dan skielik op sy een been om en slaan Sean ’n harde hou met die plathand teen die kant van sy kop. Sean se kop ruk eenkant toe en die hou klap hard deur die stil klaskamer.
“Daar het ’n muskiet op jou oor gesit,” sê mnr. Clark.