Читать книгу Witwatersrand - Wilbur Smith - Страница 9
6
Оглавление“Is jy seker dis gemaklik?” Waite sit op sy hurke voor Garrick se stoel en verstel die been. Ada staan langs hulle.
“Ja, ja, laat ek dit nou aanpas. Gits, ou Sean sal verras wees, nè? Ek sal Maandag al saam met hom kan teruggaan, nè?” Garrick bewe van gretigheid.
“Ons sal sien,” brom Waite ontwykend. Hy staan op en stap om die stoel. “Ada, liefling, vat jy sy ander arm. Luister nou, Garry: Ek wil hê jy moet dit eers net voel. Ons sal jou ophelp en jy kan net daarop staan om jou ewewig te kry. Verstaan jy?”
Garrick knik gretig.
“Nou ja, opstaan!”
Garrick trek die been na hom toe en die punt knars oor die houtvloer. Hulle tel hom op en hy laat sy gewig op die been sak.
“Kyk net, ek staan daarop! Haai, kyk, ek staan daarop!” Sy gesig straal.
“Laat my loop, komaan, laat my loop!”
Ada kyk na haar man en hy knik. Saam lei hulle Garrick vorentoe. Hy struikel twee keer, maar hulle hou hom vas. Bof, bof klink die houtbeen op die vloerplanke. Voor hulle die einde van die stoep bereik, weet Garrick al dat hy die been moet oplig as hy dit vorentoe swaai. Hulle draai en op pad terug na die stoel struikel hy net een keer.
“Dis mooi, Garry, jy kom mooi reg,” lag Ada.
“Jy sal sommer in ’n japtrap op eie houtjie kan loop,” grinnik Waite verlig. Hy het nooit durf hoop dat dit so maklik sou wees nie. Garrick neem sy woorde letterlik op en sê: “Laat ek nou alleen staan.”
“Nie nou nie, kind, jy het goed genoeg gedoen vir een dag.”
“Ag, Pa, asseblief. Ek sal nie probeer loop nie. Ek sal net staan. Pa en Ma kan bystaan om my te vang. Asseblief, Pa, asseblief!”
Waite weifel ’n oomblik en Ada praat namens Garrick. “Ag, laat hom maar, hy het so goed begin. Dit sal help om hom vertroue te gee.”
“Nou maar goed. Maar moenie probeer roer nie! Is jy reg, Garry? Los hom!” Hulle haal hul hande versigtig van hom af. Hy wankel effens en hulle hande skiet terug.
“Toe maar, ek kom reg. Los my maar!” Hy glimlag vol vertroue en hulle los hom weer. Hy staan ’n oomblik regop en vas, dan kyk hy af na die grond. Die glimlag verdwyn van sy gesig. Hy is alleen op ’n hoë berg en sy maag draai duiselig in hom rond. Hy is skielik bang, wanhopig, onredelik bang. Hy steier verwilderd vorentoe en voor hulle hom kan bykom, roep hy: “Ek val! Haal dit af!”
Soos blits gryp hulle hom en laat hom op die stoel sit.
“Haal dit af! Ek gaan val!” Die verskrikte geskree jaag Waite aan en hy pluk wild aan die gespes waarmee die been vasgemaak is.
“Dis af, Garry! Ek hou jou vas, jy’s veilig!” Waite druk hom teen sy bors vas en probeer hom met die krag van sy arms en die veiligheid van sy eie groot liggaam kalmeer, maar Garrick hou aan met sy verskrikte gestoei en geskree.
“Vat hom kamer toe, vat hom binnetoe.” Ada praat vinnig en dringend en Waite hardloop met die kind nog altyd aan sy bors gedruk die huis binne.
En dan kry Garrick vir die eerste keer sy wegkruipplek. Die oomblik dat sy vrees te groot word om te verdra, voel hy iets binne-in sy kop roer, iets wat agter sy oë fladder soos ’n mot teen ’n venster. Alles word vaal om hom soos in ’n misbank. Die mis raak dikker en dikker en alle lig en geluide word verdof. Dis warm in die mis, warm en veilig. Niemand kan hom hier bykom nie, want dit is soos ’n kombers om hom gedraai en dit beskerm hom. Hy is veilig.
“Ek dink hy slaap,” fluister Waite aan sy vrou, maar hy klink uit die veld geslaan. Hy kyk noukeurig na die seun se gesig en luister na sy asemhaling.
“Dit het so gou gebeur, so onnatuurlik. En tog, dit lyk nie of daar iets verkeerd is nie.”
“Dink jy ons moet die dokter laat kom?” vra Ada.
“Nee.” Waite skud sy kop. “Ek sal hom net toegooi en by hom bly tot hy wakker word.”
Garry word vroeg die aand wakker, sit regop in die bed en glimlag vir hulle asof niks gebeur het nie. Ontspanne en skamerig-opgewek eet hy ’n groot aandete en niemand praat weer van die been nie. Dit is amper asof Garrick dit vergeet het.