Читать книгу Witwatersrand - Wilbur Smith - Страница 20
17
ОглавлениеOmtrent vyftig waens staan uitgespan op die buiterand van die plein. Die plein self is oop en daar brand die vure in die koolgate. Twee rye boktafels staan naby die vure en hierop werk die vroue met die vleis en die boerewors, sny en smeer brood, stal rye gebottelde kos uit en stapel die eetgoed op skinkborde. Hulle vrolik die aand op met hul stemme en gelag.
Op ’n gelyk plek lê ’n yslike seil uitgesprei, gereed vir die dans. Op elke hoek hang ’n lantern aan ’n paal. Die orkes is reeds besig om te stem. Die viole krys-krys en die enkele konsertina laat ’n aanvanklik asmatiese gehyg hoor.
Die mans staan in groepies tussen die waens of sit gehurk by die koolgate. Hier en daar wys ’n beker se boom ’n paar oomblikke lank opwaarts.
“Ek wil nie moeilik wees nie, Waite.” Petersen kom oor na waar Waite en sy kapteins staan. “Maar ek sien jy het Dennis in Gunther se troep geplaas.”
“Dis reg.” Waite bied hom die beker aan en Petersen neem dit terwyl hy die nek met sy hempsmou afvee.
“Dis nie omdat ek nie van jou hou nie, Gunther.” Petersen glimlag vir Gunther Niewenhuizen. “Maar ek sal baie gelukkiger wees as ek Dennis in my troep kan hê. ’n Ogie oor hom kan hou?”
Almal kyk na Waite om te hoor wat hy gaan sê. “Geeneen van die seuns ry met hul pa’s saam nie. Ons het dit doelbewus so gereël. Jammer, Dave.”
“Maar hoekom?”
Waite Courtney kyk weg, oor die waens na die vurigrooi sonsondergang bokant die berg. “Dis nie sommer ’n kleinbokskietery hierdie nie, Dave. Jy sal vind dat jy beslissings moet neem wat vir jou makliker sal kom as jou seun nie daarin gemoeid is nie.”
Die omstanders brom instemmend.
Stef Erasmus haal sy pyp uit sy mond en spoeg ’n straaltjie in die vuur. “Daar is dinge wat nie mooi is vir ’n man om te sien nie,” sê hy. “Dis dinge wat te kwaai is vir hom om te vergeet. Hy moenie sien hoe sy seun sy eerste man doodskiet nie. En hy moet ook nie sy seun sien val nie.”
Hulle is nou stil. Hulle weet dis waar. Hulle het nog nie voorheen daaroor gepraat nie, want te veel pratery maak ’n man se hart week. Hulle ken die dood en hulle weet waarvan Stef praat. Een vir een draai die koppe totdat almal oor die plein kyk na waar die klompie jongkêrels anderkant die vure saamdrom. Dennis Petersen sê iets en sy maats lag. Maar die mans kan nie hoor wat dit is nie.
“Om te kan lewe, moet ’n man af en toe iemand anders doodmaak,” sê Waite. “Maar wanneer hy te jonk iemand doodmaak, verloor hy iets … respek vir die lewe, hy maak dit goedkoop. Dis net so met vroumense. ’n Man moenie met ’n vrou intiem verkeer voor hy die betekenis daaraan verstaan nie. Anders word dit ook goedkoop.”
“Ek het my eerste vrou gehad toe ek vyftien was,” sê Tim Hope-Brown. “Ek kan nie sê dit het hulle juis goedkoper gemaak nie. Om die waarheid te sê, ek het agtergekom dat hulle maar verdomp duur is.”
Waite se diep dreunlag klink bokant die ander uit.
“Ek weet jou oukêrel betaal jou ’n pond per week, maar wat van ons ouens, Sean?” maak Dennis beswaar. “Ons is nie almal miljoenêrs nie.”
“Nou goed dan. Vyf sjielings in die pot. Die wenner vat alles.”
“Vyf sjielings is billik,” sê Karl, “maar kom ons kry eers gou die reëls duidelik sodat daar nie agterna ’n stryery kom nie.”
“Net dooies, wondskote tel nie,” sê Sean.
“En daar moet getuies by wees,” dring Frikkie van Essen aan. Hy is ouer as die ander. Sy oë is reeds rooierig, want hy het die aand se drinkery al begin.
“Nou goed dan. Net dooie Zoeloes en ’n getuie vir elke doodskoot. Die een met die hoogste telling vat die pot.” Sean kyk die kring gesigte deur om instemming te kry. Garry staan agterlangs. “Garry sal bankier speel. Kom, Garry, hou uit jou hoed.”
Hulle betaal die geld in Garry se hoed en hy tel.
“Twee pond van ons agt. Dis reg.”
“Jislaaik, die ou wat wen sal sy eie plaas kan koop.”
Hulle lag.
“Ek het ’n paar bottels lawaaiwater in my saalsakke weggesteek,” sê Frikkie. “Kom ons gaan proe.”
Die wysters van die horlosie in die kerktoring sê dis kwart voor tien. Om die maan hang ’n paar silwerrandwolke en die nag is baie koeler. Die ryk braaivleisgeur trek saam met die stoom uit die braaigate oor die dansers op die bokseil. Die viole saag en die konsertina huil die maat uit terwyl die dansers wikkel en warrel en die omstanders die maat op die hande klap of aanmoedigings skree. Iemand joel soos ’n Hooglander in die koors van die jolyt.
“Waarheen gaan jy, Sean?”
“Ek kom nou-nou terug.”
“Maar waarheen gaan jy?”
“Wil jy hê ek moet jou sê, Anna? Jy wil tog nie regtig weet nie?”
“O, ek sien. Moenie lank draai nie. Ek sal daar by die orkes vir jou wag.”
“Dans solank met Karl.”
“Nee, ek sal vir jou wag, Sean. Moet asseblief nie lank wegbly nie. Daar’s so min tyd oor.”
Sean glip by die kring waens uit, hy hou in die skadu van die bome op die sypaadjie, swenk langs Pye se winkel af in die stegie. Hy hardloop, spring oor die sloot en kruip deur die doringdraad. Dis donker en stil in die plantasie, soos hy gesê het. Die dooie blare ritsel en ’n takkie kraak onder sy skoen. Iets hardloop in die gras, ’n geskarrel van klein voetjies. Sean se maag wip. Senuwees. Seker net ’n haas. Hy kom by die heining en soek die gat. Hy loop dit mis, kom terug en kry dit met die tweede poging. Hy glip deur in die boord in. Met sy rug teen die muur plantegroei bly hy staan en wag. Bo-op is die bome grys van die maanlig, maar onder donker en swart. Hy kan die dak van die huis oor die bome sien. Hy weet sy sal kom, natuurlik. Hy het haar mos gesê om te kom.
Die kerkklok slaan die uur en later die enkele slag van die kwartier. Sean is kwaad. Vervlakste meisiekind! Hy stap deur die boord, versigtig, al in die skadu. Daar brand ’n lig in een van die syvensters. Hy kan sien hoe dit uitvloei in ’n geel kol op die grasperk. Hy loop stil om die huis.
Sy sit by die venster met die lamp agter haar. Haar gesig is donker, maar die lamplig hang ’n koperagtige krans om haar kop. Daar is ’n soort verlange in haar houding, in die manier waarop sy by die vensterbank staan. Hy kan die buitelyn van haar skouers deur die wit materiaal van haar nagrok sien.
Sean fluit, ’n lae noot om net vir haar te bereik. Die klank laat haar skrik. ’n Sekonde langer staar sy uit die lig in die donker en dan skud sy haar kop, stadig en vol spyt, heen en weer. Sy trek die gordyne toe en deur die materiaal sien Sean haar skaduwee wegbeweeg. Dan gaan die lamp dood. Sean stap terug deur die boord en die plantasie. Hy bewe van woede. Uit die steeg hoor hy die musiek op die plein en stap vinniger. Toe hy om die hoek kom, sien hy die ligte en bewegende figure.
“Die klein bobbejaan,” sê hy hardop. Hy is nog kwaad, maar daar is ook ’n ander gevoel. Toegeneentheid? Respek?
“Waar was jy? Ek het byna ’n uur gewag!” Besitlike Anna.
“Soontoe en terug om te kyk hoe ver dit is.”
“Dis nie snaaks nie! Sean Courtney, sê my waar jy was?”
“Wil jy dans?”
“Nee.”
“Goed. Moenie.”
Karl en ’n paar ander staan by die kole. Sean stap in hulle rigting.
“Sean! Sean! Ek’s jammer.” Berouvolle Anna. “Ek wil graag dans.”
Hulle dans, stamp-stamp tussen die ander pare op die seil, maar nie een praat ’n woord nie totdat die orkes ophou om die sweet af te vee en die droë kele nat te maak.
“Ek het iets vir jou, Sean.”
“Wat is dit?”
“Kom, ek sal jou wys.”
Sy lei hom weg van die lig tussen die waens en gaan staan by ’n stapel saals en komberse. Sy kniel, maak een van die komberse oop en staan op met die baadjie in haar hande.
“Ek het dit vir jou gemaak. Ek hoop jy hou daarvan.”
Sean neem dit by haar. Dit is van skaapvel, gelooi en blink gemaak, met liefde geryg en gestik, die binnewol spierwit gebleik.
“Dis pragtig,” sê Sean. Hy besef hoeveel werk dit geverg het en dit laat hom skuldig voel. Geskenke laat hom altyd skuldig voel.
“Baie, baie dankie.”
“Pas dit aan, Sean.”
Warm, knus om die middel, ruim genoeg op die skouers: Dit laat sy sterk liggaam nog sterker lyk. Anna staan naby hom en sy stryk die kraag reg.
“Jy lyk mooi daarin,” sê sy met die selfvoldane plesier van die gewer.
Hy soen haar en die stemming verander. Sy hou hom styf om die nek vas.
“Ag, Sean, ek wens jy kon bly.”
“Kom ons sê behoorlik totsiens.”
“Waar?”
“My wa.”
“Wat van jou ouers?”
“Hulle is terug plaas toe. Pa kom môreoggend weer in. Ek en Garry slaap hier.”
“Nee, Sean, hier’s te baie mense. Ons kan nie.”
“Jy wil nie,” fluister Sean. “Dis jammer, want dis dalk die laaste keer.”
“Wat bedoel jy?” Sy is skielik klein en stil in sy arms.
“Ek gaan môre weg. Jy weet wat kan gebeur?”
“Nee, moenie so praat nie! Moenie eens daaraan dink nie!”
“Dis waar.”
“Nee, Sean, moenie. Asseblief tog, moenie.”
Sean glimlag in die donkerte. So maklik, so uiters maklik.
“Kom ons gaan na my wa toe.” Hy vat haar hand.