Читать книгу Witwatersrand - Wilbur Smith - Страница 22
19
ОглавлениеGarrick word eerste van die reuk bewus. Dit gee hom ’n soort aanknopingspunt vir sy gedagtes en hy kan begin uitkom uit die wegkruipplek in sy brein. Vir Garrick gaan hierdie terugkoms na die werklikheid altyd gepaard met ’n soort lighoofdigheid en ’n verskerping van sy sintuie. Kleure is skerper, sy vel gevoeliger, smake en geure duideliker, helderder.
Hy lê op ’n strooimatras. Die son skyn helder, maar om hom is skaduwee. Hy lê op die stoep van die klipmuurhospitaal bokant Rorkesdrif. Hy dink weer aan die reuk wat hom na die werklikheid teruggebring het. Dis ’n mengsel van verrotting, sweet en mis, die reuk van geskeurde binnegoed en gestolde bloed.
Hy herken dit. Dit is die reuk van die dood. Dan skuif sy oë in fokus en sien hy die dooies. Hulle lê opgestapel langs die muur om die werf waar die kruisvuur van die winkel en die hospitaal hulle betrap het, hulle lê verstrooi tussen die geboue. Die grafgrawers is besig om hulle op waens te laai. Hulle lê teen die skuinste af tot in die drif, hulle lê in die water en teen die oorkantse wal uit. Dooie Zoeloes met hulle wapens en skilde om hulle. Honderde van hulle, dink Garrick met verwondering, nee, duisende van hulle.
Dan word hy bewus van twee reuke. Albei is die reuk van die dood. Daar is die stank van die swart lyke wat lê en swel in die son en daar is die reuk van sy eie liggaam en die liggame van die mans om hom: dieselfde reuk van pyn en ontbinding, maar swaar met ontsmettingsmiddel.
Garrick kyk na die mans om hom. Hulle lê in ’n lang ry op die stoep af, elkeen op sy eie matras. Party is aan die sterf, baie leef nog. Elkeen se verbande is met bloed en jodium bevlek. Garrick kyk na sy eie liggaam. Sy linkerarm is oor sy kaal bors vasgebind en hy voel hoe die pyn binne-in hom klop, stadig en swaar soos ’n begrafnistrom. Om sy kop is daar ’n verband. Ek is gewond. Weer is hy verwonderd. Hoe? Hoe’s dit moontlik?
“Jy het teruggekom na ons toe, Besie,” praat ’n opgewekte Cockneystem hier langs hom. “Ons het gedog jy is bokveld toe.”
Garrick draai sy kop om te kyk na die spreker. Dis ’n klein mannetjie met ’n apiegesig en ’n flennie-onderbroek. Die res van sy lyf is toegewikkel in ’n verband soos ’n Egiptiese mummie.
“Die dok het gesê dis net skok. Hy’t gesê jy sal nou-nou weer bykom.”
Hy roep: “Haai, Dok, die held is weer pure perd.”
Die dokter kom vinnig aangestap. Daar is swart kringe onder sy oë, hy lyk moeg en oud van te veel werk.
“Jy sal dit maak,” sê hy nadat hy gevoel en gedruk het. “Jy het net rus nodig. Hulle stuur jou môre terug.” Hy stap verder, want daar is baie gewondes, maar dan steek hy vas en kyk om. Hy glimlag vir Garrick. “Dit sal seker nie help om die pyn te verlig nie, maar jy word aanbeveel vir die Victoriakruis. Die generaal het gister jou sitasie onderteken. Ek dink jy sal dit kry.”
Garrick staar na die dokter. Hy begin stuk-stuk onthou.
“Daar was ’n geveg,” sê Garrick ingedagte.
“Dié kan jy verdomp weer sê!” Die klein mannetjie langs hom brul van die lag.
“Sean!” sê Garrick. “My broer! Wat het van my broer geword?” Daar is stilte en Garrick sien die vinnige skaduwee van spyt in die dokter se oë. Garrick sukkel orent.
“En my pa? Wat het met my pa gebeur?”
“Ek is jammer,” sê die dokter eenvoudig. “Ek is bevrees hulle is albei dood.”
Garrick lê op die matras en kyk na die drif. Hulle is besig om die lyke uit die vlakwater te haal, plas-plas sleep hulle dit wal toe. Hy onthou die geplas van die water toe Chelmsford se leër deur is. Sean en sy pa was onder die verkenners wat die kolonne gelei het, drie troepe van die Ladyburg Mounted Rifles en sestig manskappe van die Natalse Polisie. Chelmsford het hierdie manne gebruik, want hulle het die wêreld geken waaroor die eerste opmars sou plaasvind.
Garrick het hulle met verligting sien wegry. Hy kon skaars glo dat hy die geluk gehad het om disenterie te kry die dag voor die ultimatum verstryk het en die leër die Tugela oor is.
“Die gelukkige vreksels,” het een van die ander siek soldate gekla terwyl hy gekyk het hoe die manne wegtrek. Garrick was glad nie jaloers nie; hy wou nie gaan veg nie, en hy was tevrede om hier te wag saam met die ander dertig siek manskappe en die garnisoen van sestig om die drif te verdedig terwyl Chelmsford se leër Zoeloeland binneval.
Garrick het gekyk hoe die verkenners uitsprei anderkant die drif en in die deinende graswêreld verdwyn, hoe die hoofafdeling van die leër, die waens en die ander voertuie hulle volg totdat hulle ook soos ’n reuseluislang in die verte weggekronkel en ’n uitgetrapte paadjie in die gras agtergelaat het.
Hy onthou die stadige sleepgang van die dae terwyl hulle daar by die drif gewag het. Hy onthou hoe hy saam met die ander getjommel het toe hulle opdrag gekry het om die winkel en die hospitaal met sakke en beskuitblikke vol sand te versterk. Hy onthou die verveling.
Dan kry hy weer daardie hol gevoel op sy maag as hy die boodskapper onthou.
“Daar kom ’n ruiter!” Garrick het hom eerste gewaar. Gesond van sy disenterie het hy brandwag gestaan bokant die drif.
“Die generaal het sy tandeborsel vergeet en het dit laat haal,” spot sy vriend langs hom. Niemand staan op nie. Hulle sit en kyk na die stippeltjie wat oor die vlakte aankom na die rivier.
“Hy kom vinnig,” sê Garrick. “Jy moet maar die kaptein gaan roep.”
“Sal seker maar,” sê die ander brandwag. Hy draf teen die helling uit na die winkel toe en Garrick staan op en stap af na die rivier. Sy houtbeen sak weg in die modder.
Garrick se maat kom terug en staan langs hom. “Die kaptein sê ons moet hom opstuur na die winkel toe wanneer hy kom.”
“Daar is iets nie pluis met die manier waarop hy ry nie,” sê Garrick. “Hy lyk moeg.”
“Hy lyk soos ’n ou wat dronk is. Kyk hoe val hy rond in die saal soos laat Saterdagnag.”
Garrick snak na sy asem. “Hy bloei. Hy’s gewond.”
Die perd strompel die rivier in en die ruiter val vooroor op sy nek. Die sy van sy hemp is blinkswart van die bloed, sy gesig bleek van pyn en stof. Hulle gryp die perd aan die teuels toe hy deurkom. Die ruiter probeer skree, maar al wat hy uitkry, is ’n krakerige gefluister.
“Om vadersnaam, berei julle voor. Die kommando is omsingel en uitgemoor. Hulle kom – die hele swart skreeuende horde. Hulle sal voor donker hier wees!”
“My broer?” vra Garrick “Wat het met my broer gebeur?”
“Dood,” sê die man. “Dood, hulle is almal dood.” Hy gly van sy perd af.
Dan kom hulle, die Zoeloe-impies. Hulle kom in die bulformasie, die groot swart bul wie se kop en flanke die plein volloop en wie se horings links en regs oor die rivier steek om hulle te omsingel. Die bul stamp met twintig duisend voete en sing met tien duisend kele totdat sy stem klink soos die see op ’n stormagtige dag. Die sonlig flits skerp op die spieslemme terwyl hy sing-sing aankom na die Tugela.
“Kyk ’n bietjie. Die voorstes dra die helms van die Husare!” roep een van die manne in die hospitaal uit. “Hulle het Chelmsford se gesneuweldes geplunder. Kyk, daar’s een met ’n uniform en daar’s ander met karabyne.”
Dis warm in die hospitaal, want die dak is van sinkplaat en die vensters is toegestop met sandsakke. Die gleufies vir die gewere laat min lug in. Die manne loer deur die gleufies, party in hulle pajamas en ander met kaal bolywe en natgesweet van die hitte.
“Dan is dit waar. Die kommando is uitgemoor.”
“Genoeg van die gepraat. Gereed op jul poste en hou jul monde toe.”
Die Zoeloe-impies kom deur die rivier. Hulle front is vyf honderd voet breed en die duisende voete maal die water tot wit skuim.
“My Here! O, liewe Here!” fluister Garrick terwyl hy kyk hoe hulle aankom. “Ons het geen kans nie. Daar is so baie, so baie.”
“Hou jou bek! Verdomp!” snou die sersant met die Gatlingmasjiengeweer hier langs hom.
Garry hou sy hand oor sy mond.
Een van die malariagevalle begin ylhoofdig sing en iemand anders lag skel, histeries.
“Hier kom hulle!”
“Laai!”
Die metaalgekletter van die geweermeganismes klink op.
“Hou jul vuur, manne. Skiet net op bevel.”
Die stem van die bul verander van die diep, sonore gesang tot die skrille getjank van die stormloop, ’n hoë, waansinnige geskree om bloed.
“Kalm nou, manne! Kalmte! Hou jul vuur.”
“Liewe Here,” fluister Garrick saggies terwyl hy kyk hoe die hordes die wal uitkom. “Asseblief, liewe Here, moet my nie laat sterf nie.”
“Gereed!”
Die eerstes is by die muur van die hospitaalwerf. Hulle gepluimde hoofversiersels is die skuim van ’n swart golf soos hulle oor die muur kom.
“Vat korrel!”
Sestig geweers word opgelig, gereed, gemik op die warboel van swart liggame.
“Vuur!”
Donder, dan die klap van die koeëls in die vlees, soos ’n hand vol gruis in ’n poel modder. Die hou slaan ’n gat in die wal van swart liggame. Die gebondelde lope van die Gatlingmasjiengeweer wip-wip-wip terwyl dit van die een kant na die ander swaai en die Zoeloes afmaai sodat hulle opmekaar val, dik langs die muur. Die stank van kruit brand in die neusgate.
“Laai!”
Die gapings in die swart geledere bly nie lank oop nie. Dié wat agter is, neem die plekke van die gesneuweldes.
“Vat korrel!”
Weer kom hulle, ’n soliede swart muur, al skreeuende, en hulle is halfpad oor die werf.
“Vuur!”
In die skadu van die stoep snik Garrick hard en met sy regterhand se vingers druk hy in sy oë asof hy probeer om die herinneringe uit te wis.
“Wat makeer, Besie?” Die Cockney rol moeisaam op sy sy en kyk na Garrick.
“Niks,” sê Garrick vinnig. “Niks nie.”
“Jy begin onthou, nè?”
“Wat het gebeur? Ek kan net stuk-stuk onthou.”
“Wat het gebeur?” Die soldaat herhaal die vraag. “Wat het nié gebeur nie!”
“Die dokter het vir my gesê …” Garrick kyk vinnig op. “Hy het gesê die generaal het my sitasie geteken. Dit beteken Chelmsford lewe nog. My broer en my pa moet dan mos ook nog lewe.”
“Jy moet dit maar vergeet, Besie. Die dok het sin gekry in jou, jy met jou houtbeen en wat jy gedoen het, en hy het navraag gedoen oor jou mense. Daar’s niks aan te doen nie.”
“Hoekom?” wil Garry wanhopig weet. “As Chelmsford lewe, moet hulle tog sekerlik ook lewe.”
Die klein mannetjie skud sy kop. “Chelmsford het sy basiskamp opgeslaan op ’n plek met die naam Isandlwana. Hy het ’n garnisoen met al die waens en voorrade daar agtergelaat. Met vlieënde kolonne is hy uit om ’n strooptog te onderneem, maar die Zoeloes het hom ontglip en die hoofkamp aangeval. Toe het hulle hierheen gekom. Soos jy weet, het ons hulle twee dae vasgehou totdat Chelmsford se kolonne ons kom help het.”
“My mense, wat het met hulle gebeur?”
“Jou pa was in die Isandlwanakamp. Hy het nie ontkom nie. Jou broer was in Chelmsford se kolonne, maar hy is afgesny van die hoofmag en het in een van die skermutselinge voor die hoofslag geval.”
“Sean dood?” Garrick skud sy kop. “Nee, dis onmoontlik. Hulle kan hom nie doodmaak nie.”
“Jy sal verbaas wees hoe maklik hulle dit gedoen het,” sê die Cockney.
“’n Paar duim se lem op die regte plek is genoeg vir die beste.”
“Maar nie Sean nie. Jy het hom nie geken nie. Jy sal ook nie verstaan nie.”
“Hy’s dood, Besie! Hy en jou pa en sewe honderd ander. Die wonderwerk is die feit dat ons nie ook dood is nie.” Die mannetjie wikkel na ’n gemakliker posisie op sy matras. “Die generaal het ’n toespraak gehou oor ons verdediging hier. Grootste prestasie in die annale van Britse heldhaftigheid, of so iets, het hy gesê.”
Hy knipoog vir Garrick. “Vyftien sitasies vir die ou kruis – jy’s in een van hulle. Ek sê, Besie, is dit nie iets nie? Wat sal jou nooi sê as jy by die huis kom met daardie groot ysterghong klink-klank om jou bors, hè?”
Hy staar na Garrick en sien hoe die trane olierig langs sy wange afkruip. Hy kyk weg van Garrick se smart.
“Komaan, ou Bees. Jy’s verdomp ’n held. Onthou jy daardie deel, onthou jy wat jy gedoen het?”
“Nee,” kom Garrick se stem hees. Sean. Jy kan my nie alleen agterlaat nie. Wat moet ek aanvang sonder jou?
“Ek was langs jou. Ek het alles gesien. Ek sal jou vertel,” sê die Cockney. En terwyl hy praat, kom die gebeurtenisse die een ná die ander terug na Garrick en pas hulle op die regte plekke in sy geheue in.
“Dit was die tweede dag. Ons het toe al drie en twintig stormlope afgeweer.”
Drie en twintig. Was dit soveel? Garrick het tred verloor. Wat hom betref, kon dit maar net een enkele opstuwende afgryslikheid gewees het. Hy kan selfs nou nog vrees agter in sy keel proe en dit in sy eie sweet ruik.
“Toe stapel hulle hout op teen die hospitaalmuur en steek dit aan die brand.”
Zoeloes wat oor die werf aankom met bondels brandhout, neerslaan onder die geweervuur, ander wat dit optel en dit nader bring tot hulle ook sterf, en weer kom ander om hulle plekke te neem. Die vlamme, bleekgeel in die helder sonlig. ’n Dooie Zoeloe bo-op die brandende stapel hout.
“Ons het ’n gat in die agterste muur geslaan en begin om die siekes en gewondes daardeur uit te dra na die winkel toe.”
Die seun met die assegaai in sy rug gil soos ’n meisie toe hulle hom optel.
“Toe die verdomde barbare sien ons gee pad, kom hulle weer. Hulle kom toe van daardie kant af,” hy wys met sy verbinde arm, “waar die kêrels in die winkel hulle nie kan bykom nie, en net jy en ek en ’n paar ander by die skietgate – die ander het almal gewondes gedra.”
Daar was daardie Zoeloe met die blou reiervere van ’n indoena op sy kop. Hy het die stormloop gelei. Sy osvelskild wit-en-swart gespikkel en om sy polse en enkels trosse strydratels. Die oomblik toe die Zoeloe hom halfomdraai om vir sy soldate te wink, het Garry geskiet. Die Zoeloe het hande-viervoet neergesak terwyl sy binnegoed uithang.
“Toe hulle die deur van die hospitaal bereik, kon ons hulle nie meer uit die vensters bestook nie, die hoek was te skerp.”
Die gewonde Zoeloe begin kruip na Garrick se kant toe. Sy mond beweeg en sy oë hou Garrick se gesig dop. Hy het nog steeds sy assegaai in sy hand. Die ander Zoeloes hamer op die deur en een kry sy spiespunt deur ’n bars in die hout en lig die dwarsbalk op. Die deur is oop.
Garrick staar na die Zoeloe wat deur die stof met sy oopgeskeurde maag na hom aangekruip kom. Die sweet loop teen Garrick se wange af en drup van die punt van sy ken af, sy lippe bewe. Hy tel sy geweer op en mik weer na die Zoeloe se gesig. Maar hy kan nie skiet nie.
“Dis toe dat jy weggespring het, Besie. Ek’t gesien hoe die dwarsbalk uit die hake gelig word en ek’t geweet dat daar die volgende oomblik ’n hele trop van hulle deur die deur sou wees en dat ons geen kans teen hulle spiese op kort afstand sou hê nie.”
Garrick laat val sy geweer. Dit kletter op die sementvloer neer. Hy draai weg van die venster. Hy kan nie langer na daardie verminkte, kruipende ding kyk nie. Hy wil hardloop en gaan wegkruip. Dis reg. Wegkruip. Hy voel hoe die gefladder agter sy oë begin en hy sien hoe die wêreld vaal word om hom.
“Jy was die naaste aan die deur. Jy het die enigste ding gedoen wat ons kon red. Ek weet, ek sou wraggies nie die moed gehad het om dit te doen nie.”
Op die vloer lê hope leë patroondoppe, blink, gladde kopersilindertjies. Garrick struikel en toe hy val, steek hy sy arm uit.
“Here,” die klein Cockney ril weer, “om jou arm daarin te steek soos daardie slag – ek sou dit nie reggekry het nie.”
Garrick voel hoe sy arm kraak toe die horde Zoeloes teen die deur aanstorm. Hy hang daar en staar na sy verwronge arm. Hy kyk hoe die deur rittel en beur onder hul aanslae. Hy voel geen pyn nie en ná ’n rukkie is alles grys en warm en veilig.
“Ons het deur die deur geskiet totdat ons hulle van die ander kant af weggevee het. Toe kon ons jou arm uithaal, maar jy was buite weste. Tot net nou.”
Garrick staar uit oor die rivier. Hy wonder of hulle Sean begrawe het en of hulle hom daar in die gras laat lê het vir die voëls.
Hy lê op sy sy en trek sy bene teen sy bors vas met sy lyf opgekrul. Toe hy nog ’n wrede klein seuntjie was, het hy eendag die skulp van ’n kluisenaarskrap oopgebreek. Sy sagte, vet onderlyf was so kwesbaar dat ’n mens die binnegoed deur die deurskynende vel kon sien. Die diertjie het sy liggaam in dieselfde verdedigende houding opgekrul.
“Ek skat jy sal jou ghong kry,” sê die Cockney.
“Ja,” sê Garrick. Hy wil dit nie hê nie. Hy wil vir Sean terughê.