Читать книгу Witwatersrand - Wilbur Smith - Страница 14

11

Оглавление

Die volgende twee jaar is ’n oorgangstyd van hul kinderdae na volwassenheid vir Sean en Garrick. Dit is asof hulle op ’n sterk stroom dryf, asof hulle vinnig op die rivier van die lewe meegevoer word.

Dele van die rivier vloei diep en stil.

Ada is een van hierdie dele. Steeds begrypend, met die vermoë om uitdrukking te gee aan daardie begrip, bly sy onveranderlik in haar liefde vir haar eggenoot en die gesin wat sy as haar eie aanvaar het.

Waite is ook een van daardie dele. Sy hare is effens gryser, maar hy bly steeds groot van liggaam, groot van lag en groot van vermoë.

Dele van die rivier vloei vinniger …

Soos Garrick se vertroue in Sean. Met elke maand wat verbygaan, is Garrick se behoefte aan Sean groter, want Sean is sy skild, sy staatmaker. As Sean nie daar is om hom te beskerm wanneer hy in gevaar verkeer nie, gebruik hy sy laaste toevlug: Hy kruip weg in homself, weg in die warm, donker mistigheid van sy eie gees.

Hulle gaan perskes steel: die tweeling, Karl, Dennis, en twee ander seuns. Rondom mnr. Pye se boord is daar ’n hoë heining wat sy pragtige perskes beskerm. Hulle is so groot soos ’n man se vuis en so soet soos heuning, maar selfs nog soeter wanneer hulle gesteel kan word! Die seuns gaan met ’n ompad die boord binne, deur ’n plantasie wattelbome.

“Ons moenie te veel van een boom pluk nie,” beveel Sean. “Ou Pye sal dit sweerlik dan agterkom.”

Hulle kom by die heining en ná ’n rukkie kry Sean die gat waarvan hulle lankal weet.

“Garry, bly jy hier en staan brandwag vir ons. As iemand kom, fluit jy.” Garrick probeer om nie te verlig te lyk nie. Hy het nie kans gesien vir hierdie strooptog nie.

Sean gaan voort. “Ons sal die perskes vir jou aangee. En moenie daarvan eet voor ons klaar is nie, gehoor?”

“Hoekom kan hy nie maar saamgaan nie?” vra Karl.

“Omdat hy nie kan hardloop nie, daarom. As hulle hom vang, sal hulle weet wie die ander is en dan sal ons ook in die pekel wees.”

Karl is tevrede. Sean buk laag en kruip hande-viervoet deur die gat in die heining. Die ander volg die een ná die ander totdat Garrick alleen buite bly staan.

Hy staan vas teen die heining; dit laat hom veilig voel. Die minute sleep verby en Garrick vroetel senuweeagtig met sy hande. Wat draai hulle tog so?

Skielik hoor hy stemme. Mense kom deur die plantasie in sy rigting aangestap. Hy voel paniekerig en druk homself nog dieper in die heining in. Hy dink nooit daaraan dat hy die ander moet waarsku nie.

Die stemme kom al nader en dan gewaar hy Ronny Pye tussen die bome deur. By hom is twee van sy vriende. Al drie het slingers in die hand. Hulle oë is in die lug, want hulle soek voëls in die bome.

Dit lyk vir eers nie of hulle Garrick in die heining gaan sien nie, maar toe hulle amper verby is, draai Ronny toevallig sy kop in Garrick se rigting en gewaar hom. Hulle staar na mekaar. Daar is skaars tien tree tussen hulle. Die uitdrukking van verbasing op Ronny se gesig by die aanskoue van Garrick wat hier so verskrik in die heining wegkruip, verander geleidelik en daar kom ’n listigheid in sy oë. Hy kyk vinnig rond om te sien of Sean nie dalk naby is nie.

“Dis ou Hinkepoot-pinkepoot!” kondig hy aan, en sy twee vriende draai terug en kom staan weerskante van hom.

“Wat doen jy hier, Houtbeen?”

“Het die rotte jou tong afgebyt, Houtbeen?”

“Nee, die rysmiere het sy been afgevreet.” Hulle lag hard met die doel om seer te maak.

“Praat met ons, Houtbeen.” Ronny Pye het ’n paar bakore wat soos twee waaiers weerskante van sy kop uitsteek. Hy is klein vir sy ouderdom, gemeen en hy het rooi hare.

“Toe dan, Houtbeen! Praat dan!”

Garrick lek met sy tong oor sy droë lippe. Die trane brand al klaar in sy oë.

“Haai, Ronny, laat hom loop vir ons, soos dié.” Een van die ander boots Garrick se hinkstap na. Hulle lag weer, nog harder dié slag, want hulle sien Garrick se vrees. Hulle kom nader. “Wys vir ons hoe jy loop.”

Garrick draai sy kop heen en weer op soek na ’n wegkomkans.

“Jou broer is nie hier nie,” kraai Ronny. “Dit help nie om na hom te soek nie, Houtbeen.”

Hy gryp Garrick aan die hemp en pluk hom uit die heining uit.

“Wys vir ons hoe jy loop!”

Garrick probeer tevergeefs om Ronny se hand los te kry.

“Los my! Ek sal vir Sean sê! Ek sal vir Sean sê as jy my nie los nie!”

“Nou goed, ek sal jou los,” stem Ronny in en met albei hande stamp hy Garrick voor die bors. “Moenie hiernatoe kom nie, loop soontoe!”

Garrick steier agteruit.

Maar een van die ander is reg vir hom. “Moenie hiernatoe kom nie, loop soontoe!” En hy stamp hom in die rug. Hulle staan in ’n wye kring om hom en stamp hom heen en weer tussen hulle.

“Loop soontoe!”

“Loop soontoe!”

Die trane loop oor sy wange. “Hou op, asseblief, asseblief!”

“Asseblief, asseblief,” spot hulle hom.

En dan voel Garrick skielik met groot verligting die gefladder agter sy oë. Hulle gesigte vervaag en hy voel nie meer hul hande op hom nie. Hy slaan gesig eerste op die grond neer, maar hy voel geen pyn nie. Twee van hulle buk om hom op te tel en sien die moddertrane op sy wange.

Toe kom Sean deur die gat in die heining agter hulle. Sy hemp staan bak van die perskes. ’n Oomblik lank bly hy hande-viervoet sit en kyk wat gebeur. Dan spring hy op en loop hulle storm. Ronny hoor hom kom, laat val Garrick en draai om.

“O, so jy is besig om Pa se perskes te steel!” skree hy. “Ek sal …”

Sean se vuis tref hom op die neus en hy sit plat in die stof. Sean swaai om met die doel om die ander twee ook by te kom, maar hulle lê reeds die rieme neer. Hy hardloop ’n paar tree agter hulle aan en draai dan om na Ronny. Hy is egter te laat. Ronny hardloop ook reeds koes-koes tussen die bome weg. Die bloed drup-drup van sy neus op sy hemp.

“Hoe voel jy, Garry?” Sean kniel langs hom en probeer die sand van sy gesig afvee met ’n vuil sakdoek. Sean help hom orent en Garrick staan effens waggelend regop. Sy oë is oop, maar op sy lippe is ’n dromerige, leë glimlag.

Daar is mylpale langs daardie rivier. Party van hulle is klein, soos ’n hopie klippe in vlak water.

Waite Courtney kyk oor die ontbyttafel na Sean. Die vurkvrag eier en gebraaide spek steek op pad na sy mond toe vas.

“Draai jou kop na die lig toe,” beveel hy agterdogtig. Sean gehoorsaam.

“Wat de duiwel sit daar op jou gesig?”

“Wat?” Sean voel met sy hand oor sy wang.

“Wanneer laas het jy gewas?”

“Ag, moenie laf wees nie, my ou man!” Ada skop sy been onder die tafel. “Dis nie vuil nie, dis baard!”

“O, baard, nè?” Waite kyk stip na Sean en glimlag breed. Hy maak sy mond oop om iets te sê en Ada weet dadelik dat hy ’n grap wil maak, een van daardie lomp grappe van hom wat Sean net sal seermaak in sy halfvolwasse manlikheid. Sy val hom in die rede: “Ek dink jy moet vir hom ’n skeermes koop, Waite. Dink jy nie ook so nie?”

Waite verloor die draad van sy grap, brom iets en steek die eier in sy mond.

“Ek wil nie skeer nie,” sê Sean en hy bloos bloedrooi.

“Hulle sal vinniger groei as jy hulle in die begin so ’n bietjie skeer,” lig Ada hom in.

Regoor haar sit Garrick verlangend sy ken en bevoel.

Party van die mylpale is yslik groot, soos bakens.

Waite kom die seuns in die begin van die Desembervakansie by die skool haal. In die geharwar van koffers in die verewaentjie laai en totsiens sê aan Fräulein en hulle maats, van wie hulle party nie weer oor ses weke sal sien nie, sien die tweeling glad nie dat Waite bra vreemd optree nie.

Eers later toe die perde twee keer vinniger as gewoonlik huis toe galop, vra Sean: “Waarom dan so haastig vandag, Pa?”

“Julle sal sien,” antwoord Waite. Garrick en Sean kyk skielik met groot belangstelling na hom. Dit was sommer ’n los vraag wat Sean gevra het, maar Waite se antwoord sit hulle dadelik aan die gis. Waite glimlag breed terwyl hulle hom met nog vrae bestook. Sy antwoorde bly maar vaag. Hy geniet die speletjie terdeë en teen die tyd dat hulle op Theuniskraal aankom, is die twee seuns dol van nuuskierigheid.

Waite hou die perde voor die huis in en ’n staljong kom nader gedraf om die leisels te neem. Ada staan hulle op die stoep en inwag. Die waentjie staan skaars stil of Sean spring af en hardloop die trappies op na haar toe. Hy soen haar vinnig.

“Wat gebeur, vertel asseblief?” pleit hy. “Pa wil nie sê nie, maar ons weet daar’s iets aan die gang.”

Garrick kom ook haastig-haastig die trappies op. “Toe, toe, Ma! Vertel!” Hy pluk haar aan die arm.

“Ek weet nie waarvan julle praat nie,” lag Ada. “Julle moet jul pa maar weer vra.”

Waite kom agter hulle die treetjies op, sit sy arm om Ada se middel en gee haar ’n drukkie.

“Ek weet nie waar hulle daaraan kom nie,” sê Waite, “maar hoekom sê jy nie vir hulle om in hul slaapkamer te gaan kyk nie? Hulle kan hul Kersgeskenke vanjaar maar so ’n bietjie vroeër kry.”

Sean is voor Garrick in die sitkamer en teen die tyd dat hy by die slaapkamerdeur kom, is Garrick ver agter.

“Wag vir my,” roep Garrick benoud. “Asseblief, man, wag vir my.”

Sean bly in die deur staan.

“Wragtag!” fluister hy.

Garrick kom agter hom staan en tesame staar hulle na die twee leertassies wat op die tafel in die middel van die kamer lê. Dis sulke plat, lang tassies van blink gepoleerde leer, die hoekies met koper beslaan.

“Koeëlgeweers!” sê Sean en hy stap stadig na die tafel toe asof hy die twee tasse bekruip en elke oomblik verwag dat hulle sal verdwyn.

“Kyk!” Sean raak met een vinger aan die gedrukte goue letters op die deksel van een van die tasse. “Ons name staan glad daarop!”

Hy laat die slotte oopspring en tel die deksel op. In sy nes van groen materiaal, swaar gegeur met geweerolie, glinster ’n gedig in staal en hout.

“Wragtag!” sê Sean weer. Dan kyk hy om na Garrick. “Gaan jy nie joune oopmaak nie?”

Garrick hink na die tafel toe terwyl hy sukkel om sy teleurstelling te verberg. Hy wou so graag ’n stel van Dickens se werke gehad het.

In die rivier is daar maalgate …

Die laaste week van die Kersvakansie lê Garrick in die bed met een van sy verkoues. Waite Courtney is Pietermaritzburg toe vir ’n vergadering van die Beestelersvereniging en op die plaas is daar min te doen. Nadat Sean een oggend die siek bees in die sanatorium gedokter en inspeksie in die suidelike deel van die plaas gery het, kom hy terug huis toe en bring ’n uur by die stal deur waar hy met die stalvolk ginnegaap. Toe staan hy huis se kant toe. Garry slaap en Ada is besig om botter te maak in die melkkamer. Sean vra vir Josef sy kos en eet staan-staan in die kombuis. Terwyl hy eet, wonder hy wat hy die namiddag gaan doen. Hy weeg die moontlikhede versigtig teen mekaar op. Die geweer vat en duiker gaan soek hier bo langs die berg of ry na die gate bokant die Witval en palings vang? Toe sy kos op is, weet hy nog nie watter koers hy sal inslaan nie. Hy stap oor die werf na die koel donkerte van die melkkamer.

Ada glimlag vir hom oor die karring. “Dag, Sean, jy wil seker jou kos hê?”

“Dankie, Ma, Josef het dit al vir my gegee.” Hy snuif die reuk van die melkkamer op. Hy hou van die kaasagtige aroma van vars botter en die eienaardige geur van die beesmis waarmee die kamer se grondvloer gesmeer is.

“Wat gaan jy vanmiddag doen?”

“Ek het juis kom vra of Ma vanaand wildsvleis of palings wil hê. Ek weet nie of ek moet gaan skiet of gaan visvang nie.”

“Palings sal lekker wees, ons kan hulle inlê en dit môre eet wanneer jou pa terug is.”

“Ek sal vir Ma ’n hele emmer bring.”

Sean saal sy perd op, hang sy blik aaswurms aan die saal en met sy visstok oor sy skouer ry hy weg in die rigting van Ladyburg. Hy ry oor die Bobbejaanspruit, maar draai net oorkant die brug af van die pad en volg die stroom op na die val toe.

Toe hy onderkant die Van Essens se plaas om die wattelbos kom, besef hy dat hy ’n fout gemaak het deur hierdie pad te kies. Tussen die bome uit kom Anna aangenael terwyl sy haar rok met albei hande bokant haar knieë hou. Sean sit die ponie op ’n drafstap en kyk reg voor hom.

“Sean! Haai, Sean!”

Sy is voor hom en sy probeer om hom af te sny. Daar is geen kans om haar te ontwyk nie en hy hou die perd maar in.

“Hallo, Sean.” Sy blaas en haar gesig is rooi van die inspanning.

“Hallo,” mompel hy terug.

“Waarheen gaan jy?”

“Soontoe en terug om te kyk hoe ver dit is.”

“Jy gaan visvang. Kan ek saamgaan?” Sy glimlag innemend. Haar tande is klein en wit.

“Nee. Jy praat te veel. Jy sal die vis wegja.” Hy sit sy ponie weer aan die loop.

“Ag, asseblief. Ek sal stilbly, regtig ek sal.” Sy draf langs die perd.

“Nee.” Hy tik die perd met die teuels en trek weg van haar. Hy ry omtrent ’n honderd tree. Toe kyk hy om en sien dat sy nog altyd agternakom. Haar lang swart hare wapper agter haar in die wind soos sy hardloop. Hy hou die perd weer in en sy kom tot by hom.

“Ek’t geweet jy sal stilhou,” sê sy hyg-hyg.

“Sal jy asseblief huis toe gaan? Ek wil nie hê jy moet agter my aanhardloop nie.”

“Ek sal tjoepstil bly, regtig ek sal!”

Hy weet dat sy hom waarskynlik tot bo-op die berg sal volg en hy willig in.

“Nou goed, maar ek waarsku jou, as jy een woord sê, net een enkele woord, stuur ek jou huis toe!”

“Ek beloof. Help my ’n bietjie op.”

Hy trek haar op die perd se kruis en sy sit dwars met haar arms om sy lyf. Hulle klim teen die platorand uit. Die paadjie loop vlak verby die Witval en hulle voel die stuifwater soos ’n fyn mis teen hulle aanwaai. Anna hou by haar belofte totdat sy oortuig voel dat hulle so ver weg is dat Sean haar nie alleen huis toe sal stuur nie. Toe begin sy weer praat. Wanneer sy ’n antwoord van hom wil hê, en dis nie te dikwels nie, gee sy sy middel ’n druk en dan knor Sean so ’n slag.

Sean kniehalter die perd en los hom tussen die bome bokant die watergate. Hy steek sy saal en toom in ’n erdvarkgat weg, dan stap hulle deur die riete af na die water. Anna hardloop voor hom uit en toe hy op die sandbank kom, staan sy klippies in die water en gooi.

“Haai, moenie klippe gooi nie! Jy sal die vis verjaag!” skree hy.

“Ag, ek’s jammer. Ek het skoon vergeet.”

Sy gaan sit en woel haar kaal tone in die sand. Sean sit aas aan sy hoek en swaai dit die groen water in. Die stroom stoot sy dobber in ’n wye kring teen die oorkantse wal rond en hulle sit albei ernstig daarna en kyk.

“Dit lyk my nie of hier vis is nie,” sê Anna.

“’n Mens moet geduldig wees, jy kan nie verwag om sommer dadelik een te vang nie.”

Met haar toon teken Anna in die sand. Vyf minute gaan stadig verby. “Sean …”

“Sjuut!”

Nog vyf minute. “Aag, wat, visvang is sommer ’n lawwe besigheid.”

“Niemand het jou saamgenooi nie,” herinner Sean haar.

“Dis warm hier.”

Sean antwoord nie.

Die hoë plate riete en biesies keer die koel windjie af en die wit sand weerkaats die son tot by die riete. Sy pluk ’n hand vol lang spiesvormige blare af en vleg hulle inmekaar.

“Dit verveel my hier,” kondig sy aan.

“Nou ja, gaan huis toe.”

“En ek kry warm.”

Sean trek sy lyn op, kyk na die wurms aan die hoek en gooi dit terug in die water. Agter sy rug steek Anna vir hom tong uit.

“Kom ons swem liewer,” stel sy voor.

Sean steur hom nie aan haar nie. Hy druk die dik end van sy stok in die sand, trek sy hoed laag af om sy oë teen die songlans te beskerm en leun terug op sy elmboë met sy bene lank voor hom uitgestrek. Hy hoor die sand knars soos Anna agter hom rondbeweeg en dan is dit weer stil. Hy begin wonder wat sy aanvang, maar hy wil nie omkyk nie, want dit sal ’n bewys van swakheid wees.

Meisiemense! dink hy bitter.

Hy hoor iemand agter hom hardloop. Hy sit vinnig regop en begin omkyk. Net toe flits haar wit lyf by hom verby en tref die water met ’n harde geplons soos dié van ’n vet forel. Sean spring orent.

“Haai, wat vang jy aan?”

“Ek swem,” antwoord Anna, halflyf in die groen water. Sy sak agteroor op haar rug en skop dat die skuim wit staan.

“Voertsek, vissies, voertsek, weg is julle!” raas sy terwyl sy borrels blaas onder die water.

“Haai, jy moenie dit doen nie!” sê Sean halfhartig. Hy wil hê sy moet opstaan, maar Anna kniel in die water, wat haar nou by haar ken vat.

“Dis heerlik! Hoekom kom jy nie in nie?” Sy draai om op haar maag en duik onder die water in. “Kom jy nie in nie?” vra sy terwyl sy die water uit haar oë vryf.

Sean staan heeltemal verward op die wal. Binne ’n paar sekondes het sy gevoelens teenoor haar ’n revolusionêre verandering ondergaan. Hy wil graag saam met haar in die water wees, maar hy is skaam.

“Jy’s bang! Toe, ek wed jy kan nie!” Sy terg hom en die uitdaging por hom aan.

“Ek’s g’n bang nie.”

“Nou ja, kom dan in.”

Hy huiwer nog ’n paar oomblikke, maar gooi dan sy hoed op die grond neer en knoop sy hemp oop. Hy draai sy rug op haar terwyl hy sy broek uittrek. Dan swaai hy vinnig om en duik in die water, dankbaar vir die bedekking wat dit hom gee. Toe sy kop weer bo uitkom, is Anna gereed en druk dit dadelik weer onder die water. Hy voel-voel, vang haar been, staan op en gooi haar op haar rug in die water. Hy trek haar na die vlak kant toe waar die water haar nie kan bedek nie. Sy slaan met haar arms op die water terwyl sy probeer om haar kop bo te hou en gil van plesier. Sean se voet haak agter ’n klip vas en hy slaan neer. Sy ruk los en druk hom onder die water en toe hy weer opkom, gryp sy ’n hand vol sand en vryf dit in sy hare. Dan rol hy om en gryp na haar, maar sy glip weg en duik weer in die diep kant in. Sean swem agter haar aan, maar sy bly buite bereik en tart hom uit.

Uiteindelik kry hy haar in ’n hoekie van die diep poel waar die water tot by hulle kenne kom. Sean word kwaad. Hy wil haar vashou. Toe sy sien dat sy stemming verander, loop sy deur die water wal toe. Sy stap na sy klere, tel sy hemp op en droog haar gesig daaraan af terwyl sy kaal en sonder skaamte voor hom staan. Sy het ’n hele klomp broers en sy het alle beskroomdheid lankal verleer. Sy sprei die hemp op die sand uit, gaan sit daarop en kyk na hom.

“Gaan jy nou uitkom?”

Hy was ongemaklik en het homself met sy hande toegemaak. Anna het nader beweeg op die hemp. “Jy kan sit as jy wil.”

Hy het haastig gaan sit en sy knieë opgetrek tot onder sy ken. Haar dop gehou uit die hoek van sy oog. Daar was ligte hoendervleis rondom haar tepels van die koue water. Sy was bewus dat hy vir haar kyk en het haar skouers teruggetrek, want sy het dit geniet. Sean het weer oorweldig begin voel. Dit was duidelik dat sy nou in beheer is. Voorheen was sy iemand om voor te knor, maar nou was sy die een wat die bevele gee en hy die een wat dit nakom.

“Jy het hare op jou bors”, sê Anna terwyl sy draai om na hom te kyk. Hulle was nog yl en sag, maar Sean was bly hy het hulle. Hy maak sy bene reguit.

“En jy is baie groter dáár as wat Frikkie is.” Sean het weer probeer om sy knieë op te trek, maar sy sit haar hand op sy been om hom te keer.

“Kan ek aan jou vat?”

Sean het probeer praat, maar sy keel was nou toe en daar wou geen klank uitkom nie. Anna het nie gewag vir ’n antwoord nie.

“Kyk! Dit raak heel parmantig – net soos Caribou s’n.”

Caribou was Mnr. Van Essen se hings.

“Ek weet altyd wanneer Pa vir Caribou ’n merrie laat diens, want hy sê ek moet vir Tant Lettie gaan kuier. Ek kruip gewoonlik net in die plantasie weg. Mens kan die kamp goed van daar af sien.”

Anna se hand was sag en rusteloos, Sean kon aan niks anders dink nie.

“Het jy geweet dat mense ook mekaar diens, net soos die perde?” het sy gevra.

Sean het geknik. Hy het die biologieklas wat mnr. Daffel en Geselskap in die kleinhuisie aangebied het, bygewoon. Hulle was vir ’n rukkie stil en toe fluister Anna.

“Sean, sal jy my diens?”

“Ek weet nie hoe nie,” sê Sean hees.

“Ek wed jou perde weet ook nie die eerste keer nie, en mense seker ook nie,” sê Anna. “Ons kan uitvind.”

Dit raak al sterk skemer toe hulle huis toe ry. Anna sit agter hom op die perd met haar arms om sy middel geklem en die kant van haar gesig styf tussen sy skouerblaaie gedruk. Hy laai haar agter die plantasie af.

“Sien jou Maandag in die skool,” sê sy terwyl sy tussen die wattelbome wegdraf.

Sean ry stadig huis toe. Hy voel leeg van binne. Dis ’n vreemde terneergedrukte gevoel wat hom verbyster.

“En toe, waar’s die vis?” vra Ada.

“Hulle wou nie byt nie.”

“Het jy nie eens enetjie gekry nie?”

Sean skud sy kop en stap deur die kombuis.

“Sean.”

“Ja, Ma?”

“Wat is verkeerd, my kind?”

“Niks nie,” antwoord hy vinnig. “Daar’s niks verkeerd nie, Ma.” Dan glip hy in die gang af na sy kamer en die siek Garrick in die bed.

Garrick sit regop in die bed en lees. Sy neus is rooi en seer van die gedurige geblaas. Hy laat sy boek sak toe Sean inkom en glimlag. Sean stap na sy eie bed en gaan sit daarop.

“Waar was jy?” Garrick se stem is dik van die verkoue.

“By die kuile bokant die val.”

“Het jy visgevang?”

Sean antwoord nie. Hy leun vooroor met sy elmboë op sy knieë. “Ek het Anna raakgeloop. Sy het saamgegaan.”

By die hoor van Anna se naam groei Garrick se belangstelling en hy hou Sean se gesig stip dop. Sean het nog altyd daardie halfvraende uitdrukking in sy oë.

“Garry,” sê hy en steek vas. Maar hy moet daaroor praat, hy moet vertel, en wanneer hy uiteindelik die woorde uitkry, trek Garrick sy asem vinnig in van pure verbasing. Hy word bleek tot agter sy ore en net sy neus sit soos ’n groot rooi kol op sy gesig.

“Ag, ek bedoel …” Sean praat stadig asof hy die besigheid vir homself duidelik probeer kry. “Ek bedoel …” Hy maak ’n hulpelose gebaar met sy hande. Die woorde bly soek. Dan leun hy terug op sy bed.

En uiteindelik het die rivier oor die laaste waterval gestort en hulle meegesleur in die see van manlikheid in.

Mnr. Clark kon Sean nie breek nie. In plaas daarvan het hy ’n bittere stryd ontketen waarin hy stadig maar seker veld verloor het, en nou is hy bang vir Sean. Hy laat Sean nie meer opstaan nie, want Sean is net so lank soos hy. Die stryd is reeds twee jaar aan die gang: Hulle het mekaar se swakhede agtergekom en hulle weet hoe om dit uit te buit.

Mnr. Clark kan dit nie verdra dat iemand snuif nie; moontlik het hy dit onbewustelik beskou as ’n soort bespotting van sy eie mismaakte neus. Sean beskik juis oor ’n wye repertoire van snuiwe wat wissel van ’n skaars hoorbare snuifie soos dié van ’n wynproewer tot ’n harder geskraap agter in sy keel.

“Jammer, Meneer, ek kan nie help nie. Ek is effens verkoue.”

Mnr. Clark kom gou agter dat hy Sean kan terugbetaal deur vir Garrick by te kom. Deur Garrick maar net so effens seer te maak, kan hy Sean baie leed berokken.

Mnr. Clark het ’n slegte week agter die rug. Sy lewer, wat deur aanhoudende malaria-aanvalle verswak is, het hom moeilikheid gegee en dis nou al drie dae dat hy aan ’n dowwe galhoofpyn ly. Daar was onaangenaamheid met die dorpsraad oor die voorwaardes waarop sy kontrak hernu moes word. Sean snuif al van die vorige dag af te lekker en mnr. Clark is hiervan net mooi tot oorlopens toe vol. Hy kom die klaskamer binne en neem sy plek in agter die kateder. Hy kyk sy leerlinge stadig deur totdat sy oë op Sean rus.

Laat hom vandag net weer begin, dink mnr. Clark. Laat hom net weer begin en ek sal hom vermoor!

In die loop van die twee jaar het hy die kinders se plekke verander. Garrick en Sean is geskei en Garrick sit nou voor in die kamer, waar mnr. Clark hom maklik kan bykom. Sean is byna heel agter.

“Haal uit jul Engelse leesboeke,” beveel mnr. Clark. Standerd-eens, blaai na bladsy vyf. Standerd-twees, blaai na …”

Garrick snuif waterig. Die hooikoors pla al weer.

Mnr. Clark klap sy boek met ’n knal toe.

“Verdomp,” sê hy liggies. En dan baie harder: “Verdomp!” Hy begin liggies bewe van woede en die randjies van sy neusgate staan wit oopgesper.

Hy spring van sy verhogie af en kom na Garrick se lessenaar. “Jou klein pes! Jou verdomde klein pes, verdomde mankpoot!” skree hy terwyl hy Garrick met die plathand deur die gesig slaan. Garrick koes en keer met albei hande om sy kop gevou.

“Jou klein vuilgoed,” skel mnr. Clark op hom. “Nou begin jy ook die speletjie.” Hy gryp ’n bos van Garrick se hare en pluk sy kop hard op die bank af sodat sy voorkop op die skryfblad voor hom klap. “Ek sal jou leer. Die Here hoor my, ek sal jou leer!”

“Ek sal jou wys!” Doef!

“Ek sal jou leer!” Doef!

Teen hierdie tyd is Sean by hulle. Hy gryp mnr. Clark se arm en ruk hom terug. “Los hom! Hy het niks gedoen nie!”

Mnr. Clark sien Sean se gesig voor hom, die gesig wat hom nou al twee jaar terg. En buite homself van woede, bal hy sy vuis en haak af na die gesig.

Sean steier van die geweld van die hou. Sy oë traan. ’n Oomblik lank lê hy uitgestrek oor die lessenaar waarop hy te lande gekom het. Hy gluur Clark aan en grom soos ’n dier.

Die geluid bring Clark tot besinning. Hy staan agteruit, maar hy vorder net twee tree voor Sean op hom is. Sean slaan hom met albei vuiste, hik-hik met elke hou, totdat Clark voor teen die swartbord vassteier. Hy probeer wegbreek, maar Sean vang hom aan die kraag van sy hemp en pluk hom terug. Die kraag skeur halfpad af in Sean se hand en die seun slaan hom weer. Clark gly af teen die muur totdat hy op die vloer teen die muur bly sit en Sean hygend oor hom staan.

“Loop hier uit,” sê Clark. Sy tande is rooi van die bloed en ’n paar druppels loop oor sy lippe. Sy kraag staan windmakerig regop langs sy oor.

Daar is geen geluid in die vertrek behalwe Sean se harde geblaas nie.

“Loop hier uit,” sê Clark weer.

Die woede sak stadig uit Sean se lyf weg. Hy staan ’n oomblik bewend van die reaksie en dan stap hy deur toe.

“Jy ook!” Clark wys na Garrick. “Loop hier uit en moenie weer terugkom nie!”

“Kom, Garry,” sê Sean.

Garrick staan op uit sy lessenaar, hink na Sean toe en saam loop hulle uit op die speelterrein.

“Wat gaan ons nou doen?” Daar is ’n groot rooi bult op Garrick se voorkop.

“Ek skat ons moet seker maar huis toe gaan.”

“Wat van ons goed?”

“Ons kan dit tog nie alles dra nie. Ons sal dit seker maar later moet laat haal. Kom ons loop.”

Hulle stap uit die dorp uit en met die pad langs plaas toe. Hulle is al byna by die brug oor die Bobbejaanspruit voor hulle weer met mekaar praat.

“Wat dink jy sal Pa doen?” vra Garrick. Dis die groot vraag wat albei besig hou sedert hulle uit die skool gekom het.

“Wat Pa ook gaan doen, dit was dit werd,” grinnik Sean. “Het jy gesien hoe neuk ek hom, hè? Doef! Vol in die bek.”

“Jy moes dit nie gedoen het nie, Sean. Pa gaan ons vermoor. Vir my ook en ek het niks gedoen nie.”

“Jy het gesnuif,” herinner Sean hom.

Hulle kom op die brug aan en gaan leun langs mekaar oor die reling terwyl hulle in die water afstaar.

“Hoe voel jou been?” vra Sean.

“Dis seer. Ek dink ons moet bietjie rus.”

“Nou goed, as jy so sê.”

Hulle bly ’n hele ruk stil en dan: “Ek wens darem jy het dit nie gedoen nie, Sean.”

“Dit sal nie help om te wens nie. Ou Neusgate is behoorlik opgeneuk en al wat ons nou kan doen, is om te prakseer wat ons vir Pa gaan vertel.”

“Hy’t my geslaan,” sê Garrick. “Hy kon my verongeluk het.”

“Ja,” stem Sean regverdig saam. “En hy’t my ook geslaan.”

Hulle dink ’n rukkie na.

“Miskien moet ons maar wegloop,” stel Garrick voor.

“Sommer so sonder om Pa daarvan te sê?” Dit pla Sean nogal.

“Ja, ons kan matroos gaan word of so iets.”

“Jy sal seesiek word, jy word dan siek op die trein.”

Weer dink hulle hard oor die probleem. Dan kyk Sean na Garrick en Garrick na Sean, en asof hulle vooraf ooreengekom het, staan hulle regop en vat weer die pad Theuniskraal toe.

Ada is voor die huis in die tuin doenig. Sy het ’n breërandstrooihoed op haar kop om die son uit haar gesig te hou en oor die een arm dra sy ’n mandjie blomme. Sy is so besig met haar blomme dat sy nie die twee seuns sien voor hulle halfpad oor die grasperk is nie. Toe sy hulle sien, bly sy botstil staan. Sy moet haarself staal, probeer om haar emosies onder beheer te kry. Uit ondervinding weet sy dat sy die ergste van haar twee stiefseuns moet verwag en dat sy dankbaar moet wees wanneer dit nie die ergste is nie.

Hulle loop al stadiger hoe nader hulle aan haar kom. Uiteindelik steek hulle albei vas soos twee opwenmannetjies wat afgeloop het.

“Hallo,” sê Ada.

“Middag, Ma,” antwoord hulle tegelyk.

Garrick vroetel in sy sak, haal ’n sakdoek uit en snuit sy neus. Sean staar in die lug na die spits Hollandse gewel van die opstal asof hy dit nog nooit voorheen gesien het nie.

“En toe?” Ada se stem bly kalm.

“Mnr. Clark het gesê ons moet huis toe kom,” kondig Garrick aan.

“Hoekom?” Ada voel sy gaan nie lank kalm bly nie.

“E … e …” Garrick kyk na Sean, maar hy gee nog altyd sy volle aandag aan die gewel.

“E … e … Ma sien, Sean het hom teen die kop geslaan totdat hy neergeslaan het. Ek het niks gedoen nie.”

Ada kreun saggies. “Ag, nee!” Sy haal diep asem. “Nou goed. Begin heel voor en vertel die hele storie.”

Hulle vertel stuk-stuk en om die beurt. Dis ’n deurmekaarspul van woorde en elke af en toe val hulle mekaar in die rede en argumenteer oor die kleiner besonderhede. Toe hulle klaar is, sê Ada: “Julle moet maar na jul kamer gaan. Julle pa werk vandag in die kampe hier by die huis en hy sal nou-nou kom eet. Ek sal probeer om hom so ’n bietjie voor te berei.”

Die kamer voel vir hulle soos ’n dodesel.

“Hoeveel dink jy sal hy ons gee?” vra Garrick.

“Hy sal ons seker deurloop totdat hy moeg is, dan sal hy rus en ons nog gee,” antwoord Sean.

Hulle hoor hoe Waite se perd die werf binnetrippel. Hy sê iets aan die staljong en lag hard. Die kombuisdeur klap en dan is daar ’n halfminuut lank ’n gespanne stilte voor Waite eensklaps iets bulder. Garrick wip soos hy skrik.

Die volgende tien minute kan hulle hoor hoe Ada en Waite in die kombuis praat: dis sy gedreun en haar kalmerende gemurmel. Dan klink Ada se voetstappe in die gang af tot by hulle deur. Sy kom binne.

“Julle pa wil julle sien, hy’s in sy werkkamer.”

Waite staan voor die kaggel. Sy baard is vaal van die stof en hy frons so geweldig dat sy voorkop vol diep vore lê soos ’n geploegde land.

“Kom binne!” bulder hy toe Sean klop. Hulle stap agter mekaar in en gaan staan voor hom. Waite slaan met sy karwats teen sy been en die stof warrel op uit sy broek.

“Kom hier,” sê hy aan Garrick en hy vat ’n hand vol van die seun se hare. Hy draai Garrick se gesig op en kyk na die kneusplek op sy voorkop.

“Hmm!” sê hy. Hy los Garrick se hare en dit bly soos ’n graspol regop staan. Hy gooi die karwats op die stinkhoutlessenaar neer.

“Kom hier,” dis Sean se beurt. “Hou jou hande dat ek kan sien. Nee, met die palms na onder!” Daar is verskeie stukkende plekkies op albei hande en een kneukel lyk dik en opgeswel.

“Hmm,” sê hy weer. Hy draai hom om na die rakkie langs die kaggel, haal ’n pyp daaruit en stop dit uit die tabakkruik.

“Julle is twee vervlakste gekke,” sê hy, “maar ek sal dit waag en julle op vyf sjielings die week begin. Gaan eet nou, daar’s werk vanmiddag.”

Hulle kyk hom ’n oomblik ongelowig aan en draai dan om deur toe.

“Sean.” Sean steek vas; hy het geweet dis te goed om waar te wees. “Waar het jy hom geslaan?”

“Oral, Pa. Oral waar ek kon bykom.”

“Dit help niks nie,” sê Waite. “Jy moet mik na die kant van sy kop, hier.” Hy tik met sy pypsteel teen die punt van sy kakebeen. “En jy moet jou vuiste styf toehou anders breek jy elke been in jou hand voor jy baie ouer is.”

“Ja, Pa.”

Hy maak die deur saggies agter hom toe en vir die eerste keer glimlag Waite. Hy trek ’n vuurhoutjie, hou die vlammetjie oor sy pyp en toe dit lekker brand, blaas hy dik rook uit.

“Hel, ek wens ek kon dit gesien het. Daardie pennelekkertjie sal dit nie weer waag om met my seun te lol nie.”

Witwatersrand

Подняться наверх