Читать книгу Toe-Val-Lig - Amore Bekker - Страница 10
Afrikaans oral!
Оглавление’n Hele aantal jare gelede het ek en my vrou, Retha, twee maande lank per motor deur Europa gereis. Twee toeval-gebeurtenisse daar verstom ons vandag nog.
Die eerste spruit uit ’n gesprek met ’n vrou by ’n moltreinstasie in Parys. Sy het ons hoor Afrikaans praat en ons het begin gesels. Haar man was aan die ambassade in Rusland verbonde en is vir drie maande teruggeroep Suid-Afrika toe. Sy was op pad om vir hom te gaan kuier en het hul twee seuns in die sorg van goeie vriende in Rusland gelaat. Sy het oor Parys gevlieg om vir ’n dag of drie by haar suster daar te kuier.
Ongeveer ’n maand later is ons in die dorpie Ettal in Beiere, Suid-Duitsland. Terwyl ons die pragtige katedraal bewonder, kom daar ’n groep jongmense in wat ná ’n rukkie ’n aangrypende aanbiddingslied in Afrikaans begin sing. Dis toe ’n Suid-Afrikaanse koor op ’n Europese toer. Nadat hulle weer vort is, sien ons ’n seun van so twaalf met ’n groen Springbokpet op sy kop, wat in die kerk rondkyk. Toe ons hom op Afrikaans vra wie hy is, sluit ’n egpaar en ’n jonger seun van sowat nege jaar by ons aan. Hulle vertel toe dat hulle van Rusland af kom en dat goeie vriende hulle gevra het om vir ’n paar weke na hul kinders om te sien. Aangesien dit die Russiese skoolvakansie was, het hulle die boeties saamgeneem Duitsland toe. Dit was toe die vrou wat ons in Parys ontmoet het se seuns!
’n Paar dae later besoek ons Neuschwanstein, die sprokieskasteel wat in 1875 deur Ludwig die Tweede van Beiere gebou is. Dis bo-op ’n heuwel geleë en vanaf die parkeerarea kan jy óf met ’n perdekarretjie tot bo gekarwei word óf tot daar stap. Ons stap toe met die paadjie wat opdraand deur ’n woud wentel. Omtrent halfpad hoor ons hoe mense uitbundig op Afrikaans gesels en toe ons om ’n draai kom, sien ons ’n groepie wat mekaar omhels en gelukwens. Op ons vraag na die oorsaak van hul vreugde, vertel hulle dat hulle pas gehoor het dat die een egpaar se dogter, wat by die Hoërskool DF Malan in Kaapstad skoolgaan, die wenner is van die Bloemfonteinse Afrikaanse Skrywerskring se nasionale skrywerskompetisie in die afdeling vir senior leerlinge.
Groot was hul verbasing toe ek sê dat ek ses weke vantevore een van die beoordelaars van dié kompetisie was. Omdat die inskrywings anoniem beoordeel is, was ek ook nie bewus van wie die wenners was nie. Ek hoor dit toe ook vir die eerste keer en was bly ek kon haar ouers gelukwens en in hul vreugde deel.
Manie Wolvaardt