Читать книгу Toe-Val-Lig - Amore Bekker - Страница 19

Toe val lig deur die wolke

Оглавление

My pa, Theo Pauw, is in 1918 in Fort Jameson in die ou Noord-Rhodesië (Zambië) gebore; my oupa was ’n sendingpredikant en hulle was daar en op Madzimoyo (nou Chipata), ’n nabygeleë sendingstasie, gestasioneer – 549 kilometer van Broken Hill (Lusaka) en 521 kilometer van Blantyre in Nyassaland (Malawi). In 1910 het dit my oupa en ouma drie weke geneem om te voet, per machila (drastoel) en per trapfiets van Lusaka na Fort Jameson te reis. Hulle het in die dertigerjare teruggekom Suid-Afrika toe en my pa het in 1952 met sy doktorale studies in Londen begin.

Vroeg in 1953 het hy ernstig siek geword. Ek haal aan uit sy memoires, Ons erfenis is vir ons mooi, wat hy ’n jaar of twee voor sy dood in 2005 voltooi het:

“Toe ek in Mei [1953] in Londen siek word en uitgerekte mediese behandeling daar aanbeveel word, aanvaar ek die raad (telefonies) van oom Karl [Bremer] en sy twee dokter-seuns [Paul en Julius Bremer] om liewer na Suid-Afrika terug te keer. Ons [Theo en Barlo, my pa en ma, se] planne vir ’n toertjie deur Europa val dus deur die mat, en ek vlieg van Londen na Pretoria (voor die era van die spuitvliegtuig [straalvliegtuig]). Oor Midde-Afrika vra ek die kelner om uit te vind of ons roete enigsins naby Fort Jameson in Noord-Rhodesië verbygaan. Die vlieënier verneem die rede vir my navraag en laat weet: nee, Fort Jameson is taamlik ver uit ons koers, maar hy sal vroegtydig in daardie rigting swenk en my betyds na die stuurkajuit laat roep. Hoewel dit soms bewolk was, het ons ’n goeie oomblik getref en oor my geboorteplek gevlieg, laag genoeg dat ek alles kon uitken: my ou skooltjie, die gholfbaan, die hospitaal en, les bes, ons kerk en pastorie, waar ’n groep mense duidelik op die werf aan die werk was. [Sy] broer Christoff het in daardie stadium daar gewoon [en sendingwerk gedoen] en skryf toe in sy weeklikse brief aan Moeder op Stellenbosch oor die ongewone gebeurtenis. Daar kom nooit groot vliegtuie oor hulle kontrei nie, maar daardie Saterdag terwyl die hele familie op die werf besig was met die installering van hul watertoevoer, hoor hulle ’n dreuning wat al nader kom en sien tot hul verbasing ’n groot Suid-Afrikaanse passasiersvliegtuig reg bokant hul huis verbygaan. Wat sou dit beteken het?”

Kallie Pauw

Toe-Val-Lig

Подняться наверх