Читать книгу Toe-Val-Lig - Amore Bekker - Страница 17
Ou liefde haal my in
ОглавлениеIn 1984 ontmoet ek Elize op ’n toe-oë-afspraak vir ’n funksie by die koshuis Tambotie op Tukkies. Van daar af het dinge tussen ons stadig maar seker ontwikkel; ek het selfs vir haar ouers op Kimberley gaan kuier. Haar ma, Bettie, en my ma, Elize, was toevallig in die vyftigerjare saam op hoërskool op Reitz.
Ons verhouding het al hoe ernstiger geraak. En toe ek die kousband vang by haar niggie se troue, het almal ge-oe en aa dat ons dan nou die volgende sou wees wat afhaak.
Maar in September 1984 skei ons paaie.
Twee jaar later ontmoet ek vir Hettie en ons trou op 2 April 1988. Ná ons wittebrood gaan haal ons ons troufoto’s by die fotograaf. Daar aangekom lê daar twee trou-albums op die toonbank. Ons s’n lê bo-op en ek tel dit op … en herken dadelik die vrou op die voorblad van die onderste album: Elize, die meisie met wie ek in 1984 uitgemaak het en met wie ek sedertdien nooit weer kontak gehad het nie. Ek loer na die eerste bladsy en die toe-val-lig-hede raak al groter.
Want toe ek die kousband op haar niggie se troue gevang het en almal gedink het dat ons voor die kansel sou beland, het niemand voorsien hoe dit inderdaad sou gebeur nie:
Ons het op dieselfde datum en tyd – 2 April 1988 om 16:30 – in dieselfde stad, Pretoria – ek in die NG Kerk Pretoria-Oos oorkant Loftus Versfeld en sy in die NG Kerk in Bosmanstraat – voor die kansel gestaan. Maar met verskillende gades.
Boonop het ons fotograaf se dogter die foto’s by hul troue geneem. So nie, sou ons seker nooit al die drade van hierdie toevallighede bymekaar kon vat nie.
André Terblanche