Читать книгу Toe-Val-Lig - Amore Bekker - Страница 14

‘Bright Eyes’

Оглавление

Nadat my ma op Kersdag in my broer se huis geval het, het sy self opgestaan en op die rusbank gaan lê en slaap. Sy het later die dag wakker geword en saamgeëet voor ons huis toe is en sy bed toe is. Toe sy die volgende oggend wakker word, kon sy my en die huis nie herken of onthou nie. Sy was deurmekaar en het gekla dat haar heup seer is. Sy het ook gesê dat daar dié nag ’n lang vrou met helder, wit klere in die huis was. Ek het my nie daaraan gesteur nie.

Selfs nadat haar heup in die hospitaal versorg is, was my ma steeds deurmekaar en het sy by my suster gaan bly. In dié tyd help ek eendag ’n kliënt en moes ek iets vir hom gaan haal. Toe ek terugkeer, sê hy dat daar ’n lang vrou met spierwit klere agter my aanloop, maar dat sy nie haar gesig wys nie. Ek het yskoud geword en al die hare op my lyf het gerys. Ek het hoendervleis gekry. Hoe op aarde kan twee mense wat mekaar nie ken nie, dieselfde ding sê?

My ma is kort daarna in haar slaap oorlede. Toe ek hartseer huis toe ry, begin Art Garfunkel se “Bright Eyes” op RSG speel. Die trane vloei en toe ek om ’n draai ry, spring daar ’n konyn of haas in die pad in. Hy kyk na my, hop-hop oor die pad en verdwyn weer in die veld. (“Bright Eyes” is die temalied uit Watership Down wat oor hase gaan.) Ek trek van die pad af en huil snot en trane. Toevallig? Nee. Toe val lig.

George Gerber

Toe-Val-Lig

Подняться наверх