Читать книгу Toe-Val-Lig - Amore Bekker - Страница 9
Hy was van die begin af daar
ОглавлениеHy het op Tadcaster naby Hartswater grootgeword en later daar geboer. Ek is minder as honderd kilometer weg op Vryburg gebore en het daar grootgeword en gewerk.
Ons moes talle kere toevallig by mekaar verbygeloop het sonder dat die een die ander opgemerk het. Ons skole het op die sportveld meegeding en ons was albei daar, by die wedstryde. Later het ons albei meubels by Ghoors op Vryburg gekoop, en by Cara. Op veilingdae het ek op Amalia en Christiana in die kafee gehelp wanneer dit ons kerk se beurt was en moes hy iets te ete by my gekoop het. Maar toe was hy net nog ’n koper.
Eendag, terwyl ek op pad is Bloemfontein toe, gebeur daar ’n ongeluk vlak voor my. ’n Jong meisie het beheer oor haar motor verloor en in ’n boom vasgery. ’n Ander motor het stilgehou en twee mans het uitgeklim om te help. Dit was hy en sy pa. Ek het egter nie stilgehou nie, want ek het ’n afspraak in Bloemfontein gehad en daar was toe nou mense om haar te help.
Later jare het ek kruideniersware by Shoprite op Hartswater gekoop, waar hy ook inkopies gedoen het. Ons albei is in 1998 geskei – hy ná ’n huwelik van 26 jaar, en ek nadat ek en my man 24 jaar getroud was.
Op ’n dag bel ’n vriendin en sê sy ken ’n oulike man wat sy aan my wil voorstel. Dit was 1999, maar ek was toe nog nie reg om iemand te ontmoet nie. In Maart 2001 bel sy weer en sê die man het weer gevra of hy my kan ontmoet. Ek het toe by my dogter in Bloemfontein gewoon. In daardie stadium het ek gebid vir ’n man wat vir my sal lief wees en vir wie ek kan lief wees en dat hy na my toe sal kom, want ek wou nie uitgaan om mans te ontmoet nie. Daarom het ek dié keer ingestem om hom te ontmoet.
Dit was ’n Sondagoggend toe hy by my dogter se huis aankom. Lank, donker, aantreklik. My dogter het gesê: “Wat ’n pragtige mansmens!” Hy het gesê dat hy twee jaar lank vir my gewag het; en daardie selfde middag het hy my gevra om te trou.
Ons is op 8 Desember 2001 getroud en is steeds gelukkig saam. Ons voetspore lê nou langs mekaar, maar ek wonder steeds op hoeveel plekke myne en syne voorheen gekruis het.
Maria van Rooyen