Читать книгу Toe-Val-Lig - Amore Bekker - Страница 6
Anette kyk uit vir my
ОглавлениеMy verloofde, Anette Roberts, het in Oktober 2017 haar eie lewe geneem. Sy het aan depressie gely. Dit alles is steeds vir my een groot verskrikking. Ek was by my huis op Jacobsbaai aan die Weskus toe ek die nuus kry.
Anette het in Bloemfontein gewoon. Ek moes die begrafnis in Bloemfontein bywoon, maar was nie in staat om alleen soontoe te ry nie. Ek wou ook nie vlieg nie, want ek hou nie van vlieg nie.
Ek het op Facebook gevra of iemand ’n geleentheid Bloemfontein toe het vir my. Op die ou end het ek een tot op Beaufort-Wes gekry, waar ek die nag in die hotel geslaap het. Die volgende oggend, ná ’n onrustige nag, stap ek by die hotel uit sonder om te weet hoe verder. Hoe gaan ek in Bloemfontein kom? Nou moet iemand my help, Anette, sê ek saggies.
Dis vroegoggend. Beaufort-Wes se strate is stil. Miskien moet ek gaan kyk waar ’n truck stop is, besluit ek. Dalk sal een van die lorriedrywers my laat saamry Bloemfontein toe. Op pad na die truck stop stap ek by die Engen-garage verby. Daar is net een motor by die petrolpompe – een met ’n Noordwes-registrasienommer. Die man sien my en kom na my toe. Hy het in die koerant gelees van Anette. Francois is sy naam, sê hy. Sy vrou kom gee my ’n drukkie. Hulle is op pad terug huis toe op Rustenburg ná hul jaarlikse vakansie op Mosselbaai. Ek kan saam met hulle ry, sê Francois. Ek weet net ek moet by Francois en Maureen en hul seun, Tiaan, in die kar klim. Ek besluit toe ook sommer ek sal saamry tot op Kimberley en daar ’n kar huur en Bloemfontein toe ry.
Daar trek ek en Francois en Maureen en Tiaan, mense wat ek van g’n kant af ken nie. Die mooiste, sagste mense. Verby Drie Susters en Victoria-Wes. Hulle luister na my hartseer vertelling, my skok oor Anette. Maureen gee tissues aan en op Britstown koop Francois vir my ’n koeldrank. Drie of vier uur later ry ons Kimberley binne – ek en hierdie engele. Ek tel my selfoon op om hul naam in te tik en te bêre. Wat is julle van, Francois? vra ek. Ek kry hoendervel en begin weer huil toe hy antwoord: “Roberts. Ons van is Roberts.” Dieselfde as Anette s’n. Toevallig? Nee … Ek glo dis my liewe Anette wat my weer wou help.
Dana Snyman