Читать книгу Toe-Val-Lig - Amore Bekker - Страница 7
Skollies gaan stad toe
Оглавление’n Paar jaar gelede moet ek ’n viertonvragmotor in Pietermaritzburg gaan haal. Ek vlieg van Kaapstad na Durban en ry teen 70 kilometer per uur die lang pad terug met die vragmotor.
Teen twee-uur se kant ry ek verby Qumbu, oor die bult en af teen ’n lang afdraand tot waar die pad na Mthatha die Tsitsa-rivier kruis.
Skielik kom ’n skril geluid, gevolg deur ’n harde klap, onder die enjinkap uit. Die enjin is verder stil, maar die temperatuur styg vinnig en ek weet: Die waaierband wat om die waterpomp draai, is daarmee heen. Ek moet stilhou sodat die enjin nie oorverhit nie, maar daar is nêrens aftrekplek nie, net staalrelings links van die pad en ’n styl wand regs van my.
Ek haal die vragmotor uit rat uit en laat dit by die afdraand af loop tot ek ’n afdraaiplek na links kry. Ek stop en soek paniekerig my selfoon en hoop daar is ontvangs. Ek kyk rond en in my agterkop stoot ’n bekommernis moedswillig na bo. Ek sit alleen in die middel van die Transkei met ’n stukkende voertuig – vandag slaat hulle my oor die kop en sleep die voertuig weg.
Gelukkig werk my foon. My vrou google vir iemand wat kan help, maar almal kwoteer tussen R3 500 en R5 000. Ek bel ook rond en ’n werktuigkundige stel voor dat ek omdraai en stadig, stop-stop, terugry tot by Qumbu, sowat 10 kilometer agter my. Iemand op Qumbu sal sekerlik ’n ou waaierband hê.
Toe ek die derde keer bult op stilhou sodat die enjin kan afkoel, is dit by ’n taxi-stilhouplek by ’n plekkie met die naam Mvumelwano. Ek steek weer my pyp aan en wag dat die enjin afkoel. Die kruin van die bult is vlak voor my en dan is dit heelpad afdraand tot by Qumbu.
Met dié kom twee jong vroue met ’n voetpad regs van my aangestap. Tussen hulle swaai hulle ’n nege-kilogram-gasbottel. Seker op pad na Qumbu om dit te vul, dink ek. Hulle lag en gesels hard genoeg dat ek hulle kan hoor. Dan besef ek hulle praat perfekte, aksentlose Afrikaans! Hulle gaan staan reg voor die vragmotortjie se neus en loer kort-kort óm my om te sien of die minibussie nog nie aankom nie.
My nuuskierigheid kry die oorhand. “Middag!” groet ek. “Hoe kom dit dat julle twee hier in die hart van die Transkei Afrikaans praat?”
Hulle lag heerlik uit die maag uit en vertel dat hul ma ’n meisie uit die Kaapse Vlakte is, dat sy hul pa in die Kaap ontmoet en getrou het en saam met hom na sy grond in die Transkei teruggekeer het. Hoewel hulle Xhosa kan praat en volgens hul pa se tradisies grootgemaak is, is hul huistaal steeds Afrikaans.
“Maar wat maak Meneer hierso?”
Ek vertel.
Uit een mond roep hulle: “Trevor!”
’n Gesig vol oliestrepe loer om die mielies. “Yes, watsit?”
“Kom hierso! Yiza apha!” Nou lag die twee éérs lekker.
Trevor kom al handskoonmakend nader. “Hoe kan ek help, meneer?”
Ek vertel van die fan belt.
Hy spring om en enkele minute later is hy terug met ’n ou waaierband wat, verduidelik hy, hy sommer op die ashoop gekry het.
“Laat sak sy kop, meneer.” Ons maak die kajuit los en dis nie 10 minute nie of ons slaan hom terug. Trevor stof sy hande selfvoldaan af. “Daar’s hy, meneer. Jy sal tot op die plaas kan ry, maar dan sal jy ’n nuwe fan belt moet opsit.”
“Verskriklik dankie, Trevor, en julle meisies, vir jul hulp! Trevor, wat skuld ek jou?”
“Wat? Meneer vir mý skuld? Nog te nooit’ie! Meneer moet laat waai. Die Kaap lê nog ver.”
Ek gee hom ’n paar rand. Hy bedank my opreg, soos net iemand met ’n dankbare hart kan doen. Ek bieg. “Jy weet, ek het gedink vandag is my laaste dag hier in Transkei. Ek was baie bekommerd dat ek beroof gaan word.”
“Nee wat, meneer,” sê Trevor. “Die skollies is almal stad toe.”
Ons groet en belowe om mekaar weer te sien. Ek vertrek bult af en skielik oorval ’n hartseer my, nie soos in hart-seer nie, maar soos in die ontdekking van iets ongeloofliks – ’n soort openbaring. ’n Soort kultuurbekering. Hoe verkeerd was ek nie. Dankbaar vir ’n herstelde vragmotor, maar ook oneindig dankbaar vir die les wat ek geleer het. Ons kan mos almal in vrede saamleef solank ons mekaar se basiese behoeftes onthou – vrede, liefde, hulp, aanvaarding, barmhartigheid.
Martin Tuck