Читать книгу Toe-Val-Lig - Amore Bekker - Страница 11

Rus in vrede, Gerald, my vriend

Оглавление

Ek was baie lank gelede ’n lugmagvlieënier en het ’n kollega gehad met die naam Gerald Snyman. In 1971 het die weermag ’n groot parade by die Goodwood-skouterrein gereël vir Republiekdag waar onder meer drie vliegtuie van die “VIP”-eskader ’n verbyvlug sou doen.

Gerald was ’n Buccaneer-vlieënier op Waterkloof, maar was op Langebaan gestasioneer in die aanloop tot die parade. Hy was op bystand in geval een van die ander vlieëniers die dag van die parade nie kon vlieg nie.

Die drie vliegtuie was op pad na die skouterrein vir ’n oefenlopie en Gerald is gevra of hy nie as ’n passasier wil saamvlieg nie in plaas daarvan om op Langebaan rond te sit. Al drie vliegtuie het dié dag teen Tafelberg verongeluk. Elf mense is dood.

Jare later, toe ek vir SAL vlieg, was Gerald se pa, oom Kassie Snyman, en sy ma heel toevallig onder die passasiers op ’n vlug George toe. Hulle het op Klein-Brakrivier gewoon. Ek dag toe ek sal laag vlieg van Mosselbaai af verby Kleinbrak en vir die passasiers die storie van Gerald vertel. Oom Kassie was in trane en kon amper nie praat nie.

Maar toe vertel hy my van die eintlike toeval. Ongeveer nege maande ná die tragiese ongeluk het hy die toneel van die ongeluk besoek, en wat vind oom Kassie daar in ’n boom? Gerald se ID-kaart. Net die een hoek was effens verbrand. Wat is die kans dat dit behoue gebly het in die vlamme en geweldige hitte ná die ongeluk, om nie van die Kaapse weer te praat nie?

Dit het oom Kassie ’n bietjie berusting gebring. Hy het gevoel sy seun weet van hom. Dankie tog vir daai toeval.

Danie Smit

Toe-Val-Lig

Подняться наверх