Читать книгу Toe-Val-Lig - Amore Bekker - Страница 5
’n Beursie onder ’n kar
ОглавлениеIn 1974 was ek in matriek in die destydse Oos-Vrystaat. Saam met my in die klas was Chrissie; ons was van sub A tot matriek in dieselfde klas. Chrissie se familie was skatryk. Ek het daarenteen aan die verkeerde kant van die spoorlyn grootgeword.
Ons het alles saam gedoen en was onafskeidbaar. Ons het as tieners saam leer dans en is saam matriekafskeid toe. Ek het haar dié aand die eerste keer gesoen. Ons verhouding het ernstig geraak en ons het drome gehad van trou en kinders kry. Ons het mekaar belowe dat as een van ons iets sou oorkom, die ander een daar sou wees met ’n rooi roos en sou fluister: “Ek is lief vir jou.”
Chrissie is toe universiteit toe, maar ek het agtergebly. Dit was die eerste keer dat ons geskei was en ons het elke moontlike geleentheid gebruik om bymekaar te wees. Ses maande later is ek weermag toe en het ons mekaar nog minder gesien – slegs een keer per maand. Maar ons het bokse vol briewe vir mekaar geskryf.
Toe ek grens toe is, het die briewe opgedroog. Op ’n dag kry ek een van haar pa om my mee te deel dat Chrissie in Amerika verder gaan studeer het en dat ek nie moet probeer om met haar in verbinding te tree nie. Sy het iemand anders ontmoet en hulle is verlief, maar sy het nie die moed om dit self vir my te sê nie.
Ek het vir jare oor haar getreur en het intussen gehoor dat sy getroud is. Die tyd het aangestap en ek het ook later iemand spesiaals ontmoet. Sy was ’n wonderlike vrou; ons was baie lief vir mekaar en het mekaar ondersteun.
Nogtans het ek af en toe aan Chrissie gedink en het dit gevoel asof daar ’n gemis in my lewe is.
My vrou het skielik siek geword en is twee jaar terug oorlede. Ons was 38 jaar lank getroud. Later het ek ook siek geword en het die dokter my meegedeel dat ek ses maande oor het om te leef.
Een middag, voor ’n besoek aan die onkoloog, klim ek uit my motor in die parkeerarea en merk ek iets onder ’n voertuig voor my lê. Ek buk en tel dit op. Tot my verbasing is dit ’n beursie. Binne-in is kontant, kredietkaarte en ’n kwitansie met ’n naam en selfoonnommer op.
Ek bel die nommer en ’n jong vrou antwoord die foon. Dis Anita, die naam op die kwitansie. Sy was oorstelp van vreugde. Gelukkig was sy nog in die hospitaal sodat ons in die koffiewinkel kon ontmoet. Toe ek haar sien, het ek in koue sweet uitgeslaan en lighoofdig gevoel. Sy was Chrissie se ewebeeld!
Sy het gesien iets skort en bestel onmiddellik vir my iets om te drink. Intussen gesels sy land en sand en vertel dat sy hartseer is omdat haar ma in die hospitaal op sterwe lê. Haar stiefpa is ’n jaar vantevore oorlede. Toe sy haar ma se naam noem, val ek amper van my stoel af.
Dis Chrissie, my Chrissie.
Ons het mekaar gegroet en ek is na die dokter toe. Ná my afspraak het ek by ontvangs gaan vra waar Chrissie lê. Ek het ’n rooi roos gekoop en is na haar saal toe. Sy het vir my mooier as ooit gelyk. Toe sy my sien, het ons gelyktydig geglimlag en begin huil. Sy het haar hand na my uitgesteek.
Ek vertel haar hoe ek haar opgespoor het en sy sê: “My liefste Eben, Anita is jou dogter.” Sy het my toestemming gegee om vir Anita, wat na my ouma vernoem is, te sê.
Sy vertel my toe wat gebeur het, hoe sy uitgevind het sy is swanger, hoe haar ouers haar oorsee gestuur het om die geboorte af te wag ten einde die skandaal te vermy. Sy beduie ek moet nader kom en fluister in my oor: “Ek is en was nog altyd lief vir jou.”
Aan haar pinkie was die seëlring wat ek 40 jaar gelede met my eerste salaris vir haar gekoop het. Ons het ons belofte aan mekaar volbring. Chrissie is dieselfde aand stil in haar slaap oorlede. Dit was asof sy op iets gewag het.
Ek het besluit om nie vir Anita die waarheid te vertel nie. Ek wou nie hê sy moes lelike gedagtes van haar oupa koester nie. Ek het self nie meer lank om te lewe nie, maar is gelukkig. Ek het twee wonderlike vroue in my lewe gehad, maar ek het nie ’n belofte aan een van hulle verbreek nie.
Ek en my vrou kon nie kinders hê nie, maar nou het ek ’n pragtige dogter en drie kleinkinders. Hulle weet net nie van my nie.
Dit was nie toeval dat daai beursie daar gelê het nie.
Eben
Ns. Ek het fiktiewe name gebruik om onskuldige geliefdes te beskerm.