Читать книгу Toe-Val-Lig - Amore Bekker - Страница 13
Lig het drie keer geval
ОглавлениеMy vriendin Christelle, wie se kind in my graadeen-klas was, was ’n geregistreerde diamanthandelaar en Manie het die baie spesiale, duur diamant vir my ring by haar gekoop.
Een Vrydagoggend in die lente moes ek die graadsewes met die skoolbussie na ’n ander skool neem. By dié skool gekom, het ek na my hand gekyk en besef my diamant was weg! Terug by ons skool het ons die klaskamer, die bussie, die hele skool gefynkam. Kinders het chicken parade gehou en die terrein waar die bussie gestaan het deursoek. Dit was ’n aaklige naweek van soek, soek en nogmaals soek. Die Maandag sou terreinpersoneel die bussie net ná skool was. Nadat my graadeens verdaag het, het ek kop onderstebo kantoor toe gestap om die bussie se sleutels terug te teken. Op pad loop ek Christelle en twee ander vriendinne raak en sy vra of sy ’n laaste keer die diamant in die bussie kan soek.
Terwyl ek en die ander twee staan in bid, gee Christelle ’n harde gil. Sy’t die diamant onder die bussie se vloermatjie aan die passasierskant gekry! Daardie dag het ek my diamant in ’n snesie toegedraai en huilend van dankbaarheid vir Manie gaan wys hoe lig geval het.
’n Hele ruk daarna was dit Manie se beurt. Hy het graag werkies in en om die huis gedoen, maar het sy ring mooi opgepas. Dit was dus baie vreemd dat dit skoonveld was.
Ek was toe swanger met ons dogtertjie, Amarise, en het ’n toestand ontwikkel wat my regterhand aan die slaap laat raak en doodgaan het. Volgens dokters sou dit ná haar geboorte vanself regkom. So is Amarise gebore, maar my hand het steeds doodgegaan en ek kon nie dinge doen soos om fyn knopies vas te maak nie. Toe sy vyf weke oud was, het drie gewapende rowers op 12 Augustus 2007 om drieuur die oggend by ons nuut geboude meenthuis ingestap. Ek en Manie het gillend orent gespring in die bed. Die eerste ding wat hulle geëis het, was goud, ons karre en kontant. Ek was net daarop ingestel om die boosaards tevrede te stel en wou my trouring onder die kombers afhaal om vir hulle te gee. Presies op daardie oomblik gaan my hand dood en laat val ek die ring onder die komberse. Ek steek toe my hande in die lug (soos die rowers beveel het) en sê: “Look, I have nothing.” Hulle het my geglo.
Na die tyd het Manie en ons buurman my ring onder die komberse uitgehaal. Daar het lig geval op ons trouringe, die enigste waardevolle juweliersware wat ons gehad het.
’n Paar maande ná die roof hang ons nuwe gordyne op en toe ons die gordynringetjies uit die houertjie gooi, rol Manie se ring ook daaruit. Dit was die derde keer dat lig op ons trouringe geval het. Die nag van die huisbraak was die laaste keer dat my hand doodgegaan het.
Alphia Engelbrecht