Читать книгу Toe-Val-Lig - Amore Bekker - Страница 4
’n Preek vir die president
ОглавлениеDit was die tradisie by die Groote Kerk in Kaapstad om die Sondag voor die parlementsopening ’n erediens te hou waarheen die staatspresident, die vier administrateurs en parlementslede uitgenooi word. In die verlede is hierdie uitnodiging deur die betrokkenes as vanselfsprekend aanvaar.
Met die nuwe bedeling in 1994 was dit egter nie so vanselfsprekend nie. Die president het immers nie aan een van die drie Afrikaanse kerke behoort nie (soos in die verlede altyd die geval was) en die regering was die ANC (destyds nog ’n vreemde gedagte).
Hoe nou gemaak? Die voorstel van ’n wyse gryse is aanvaar: Stuur die uitnodiging aan die president en laat hy besluit. Plaas só die bal in sý baan.
So gesê, so gedaan. Twee maande voor die opening van die parlement is die uitnodiging aan die kantoor van die staatspresident gestuur. Sonder reaksie.
Nou moet ek erken: Omdat ons geen reaksie van die president se kantoor ontvang het nie, het ek aanvaar dat hy nie gaan kom nie. Daarna het ek van die uitnodiging en die preek wat daarmee gepaard sou gaan, vergeet. Die preek wat ek voorberei het, het glad nie met die moontlikheid van die president se teenwoordigheid rekening gehou nie.
Die Vrydag voor die erediens skakel ’n joernalis van Die Burger my. Hy wil weet of die staatspresident die Sondag se erediens gaan bywoon.
In antwoord op die joernalis se vraag moes ek hom meedeel dat ons wel ’n uitnodiging gerig het, maar geen reaksie ontvang het nie. Ons het aanvaar die skrywe het iewers verlore geraak. Die Saterdag verskyn daar toe ’n berig in Die Burger wat melding maak dat die Groote Kerk mnr. Mandela na die tradisionele erediens uitgenooi het, maar geen reaksie ontvang het nie.
Vyfuur daardie Saterdagmiddag skakel mnr. Jakes Gerwel, privaat sekretaris van die president, my. Hy sê hulle het kennis geneem van die koerantberig, maar die president sal wel die volgende dag se diens bywoon. Hy vlieg spesiaal van Pretoria af Kaapstad toe daarvoor.
Kan jy jou indink watter geskarrel dié nuus toe veroorsaak: Veiligheidsmanne wat die hele kerk moes deursoek; daar is elke Sondag blomme in die kerk, maar nou moet die rangskikking ekstra groot wees; benewens die gebruiklike tee ná die diens moet daar nou ook koekies wees; die orrelis speel elke Sondag baie mooi, maar nou sal hy moet uithaal …
En my preek? Sou ek ’n nuwe een moes uitwerk? Nee. Dis hier waar die lig toe val.
Want die teksvers wat ek vir die diens – ’n doodgewone een sonder Mandela – gekies het, was Romeine 12 vers 21: “Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie.” Dit het soos ’n handskoen by die geleentheid gepas en het juis mnr. Mandela se lewensfilosofie weerspieël. Met ’n paar klein aanpassings was die preek perfek vir die geleentheid.
Toevallig? Nee. Toe val lig – beskikkingslig!
’n Stertjie: Ná die tyd het ek ’n handgeskrewe brief van Nelson Mandela gekry waarin hy verskoning vra vir sy karige bydrae in die kollektebord; hy het sy beursie by die huis vergeet.
Ds. Johann Smith