Читать книгу Toe-Val-Lig - Amore Bekker - Страница 16
Van huis tot huis
ОглавлениеIn 1970 was ek ’n dienspligtige by die lugmaggimnasium in Valhalla net buite Pretoria. Aangesien ek oor Paasnaweek in 1 Militêre Hospitaal, Voortrekkerhoogte was, het ek nie pas gekry nie. Nadat ek ontslaan is, het ek wel ’n ekstra langnaweekpas gekry sodat ek huis toe kon gaan na Hermanus en my meisie.
Die verlange was groot en ek het besluit om liewer te ryloop omdat die trein te lank sou neem. Wat ’n fout was dit nie! Agt karre het my opgelaai, elkeen vir ’n kort entjie. Die intervalle tussenin was lank en ek het sestien uur later, ná ’n bitter koue nag, op Colesberg gekom.
Daar staan ek toe van twintig oor agt die oggend tot ná drie die middag. Ek was redelik moedeloos toe ’n barmhartige gesin my oplaai. Die man en vrou met twee klein kindertjies en ’n baba op die ma se skoot maak toe plek vir die troepie en gee my van hul heerlike toebroodjies. Boonop werk die motortjie se verwarmer en ek voel hoe ek stadig ontdooi. Hulle gesels vriendelik en laai my buite Worcester af waar my pa my kom haal.
Drie jaar later is ek op Maties en tydens die Desembervakansie van 1973 verkoop ek en agt medestudente perdehaarbesems, matsjampoe en wat nog om geld te verdien. Ons word met ’n kombi rondgery en op die hoek van ’n straatblok afgelaai om van huis tot huis die produkte te demonstreer en verkoop. Destyds het jy jou Matie-baadjie en -das gedra saam met die swaar tas vol produkte, selfs in die warm Desember. Ons het gesweet en die honde het ons gejaag terwyl ons aan voordeure klop om hopelik bestellings te kry en ’n karige kommissie te verdien.
So beland ek in Bellville. Dit is ná vieruur toe ek aan nóg ’n deur klop. Die vrou nooi my binne en roep haar man om ook na die demonstrasie te kom kyk. Die heeltyd staar albei my aan en lyk dronkgeslaan. Ná ’n paar minute onderbreek die man my en vra of ek drie jaar gelede in die lugmag was en Hermanus toe geryloop het. Wat ’n toeval! Ek gee hulle albei ’n drukkie en hulle gee my koue koeldrank terwyl ons weer oor daardie rit gesels.
Onnodig om te sê, ons was baie verbaas oor die toeval en ek het besef hoe klein die wêreld is. Dat ek in so ’n groot woongebied juis aan hul deur moes klop!
Johan Nigrini