Читать книгу Toe-Val-Lig - Amore Bekker - Страница 15

Beskuit en twee stukkies biltong

Оглавление

My oupa aan moederskant was Boel Henry Barnard. Hy is in 1885 gebore en was net vyftien in 1900, maar wou bitter graag in die Tweede Anglo-Boereoorlog gaan veg. Hulle het in Bethlehem gewoon.

’n Kennis van die gesin, Theuns Verster, het van kommando teruggekom om ’n paar perde wat hy in ’n kloof versteek het, te kom haal. Net daar het Boel en Theuns sy ma oorreed om hom toe te laat om te gaan veg. Die twee het op ’n bitter koue nag by die kommando gekom en Boel is met ’n kakiejas uitgerus.

Hulle was onbewus van ’n onlangse proklamasie deur lord Roberts dat ’n Boer wat in ’n kakiejas gevang word, summier doodgemaak word. Die jong Boel is kort voor lank in hegtenis geneem en geen verskonings oor sy ouderdom is aanvaar nie. Die krygsraad in Bethlehem het hom skuldig bevind en hy is per trein Pretoria toe gestuur waar hy geskiet sou word. Hy was heelpad onder bewaking van twee streng Tommies.

By Germiston-stasie klim hulle oor en dit wemel van Boere, almal op pad na krygsgevangenekampe. Boel loop ewe kordaat rond en word voorgekeer deur ’n Boer. Die oom vra: “Seun, wat het jy gedoen dat jy so opgepas moet word?” Met ongeloof luister hy na die verduideliking en gee vir Boel beskuit en twee stukkies biltong.

In Pretoria was die hoofregter geïrriteerd met die jong kind voor hom en wou hy weet wat die seun daar soek. Op die Tommies se verduideliking seg hy: “He should be with his mother. He is only a boy. Send him back.”

Veertig jaar later reis Boel per trein van Harrismith na Pretoria vir besigheid. Op Germiston-stasie moet hy oorklim en terwyl hy wag vir die volgende trein, sien hy eenkant ’n oom in die son sit. Hulle begin gesels en die oom vertel hom dat hy reeds afgetree het, maar dat sy seun die stasiemeester is. Omdat hy baie tyd op hande het, kom sit hy maar daar en verwyl die ure. Hy vertel toe dat hy 40 jaar gelede op die einste stasie vir sy makkers gesit en wag het sodat hulle na ’n krygsgevangenekamp geneem kan word. Toe sien hy ’n jong seun wat ter dood veroordeel is en wat deur Tommies opgepas word op pad na sy verhoor in Pretoria en … “En toe gee oom vir hom beskuit en twee stukkies biltong!” sê Boel.

Louriette de Waal

Toe-Val-Lig

Подняться наверх