Читать книгу Afstande - Dan Sleigh - Страница 11

Die leër

Оглавление

Die werksdag begin wanneer die herout sy lied, helder soos ’n trompet, in die rye tussen die tente sing: “Dit is rooidag. Staan op, staan op.” Dan ruk die onderoffisiere tentpenne uit en skop na die bondels op die grond. “Op! Op!” Xenophon ken dit van hy sestien is. Pikette word ingeroep en die buitewag afgelos, dan oggendparade, vroeëkos en opleiding.

Die tweede oggend stel Proxenos hom voor aan die tien kapteins van sy regiment. Een van hulle – kort, breed en donker met diggekrulde hare – weet hoe om dié om hom welgesind te maak. Hy is met rekrute besig, sy gereedskap lê op ’n bank agter hom, sy stem is diep, hees en stowwerig soos ’n uitgetrapte paradegrond.

Proxenos trek vir Xenophon aan sy arm. “Staan. Luister.”

Die kaptein hou ’n helm voor hom, buikhoog. “Die kam van perdehaar is ’n kussing wat jou kop teen slae beskerm. En dit laat jou hoër lyk. Nie groter nie, langer. Jou vyand misgis hom: Kan hy oor jou skild reik? Dit gee jou die kans met die swaard van onder af op. Julle kamme loop van voor tot agter. Word jy onderoffisier, dra jy dit van kant tot kant. Offisiere s’n is oorkruis. So herken ons mekaar. Binne-in jou helm, altyd ’n goeie wolmus, nie ’n taai velmus nie. En hou dit skoon en jou hare kort. Luise.”

Hy loop op en af soos ’n ploegperd in ’n voor. Plaasgesigte staar na hom, jy verwag om hawerstrooi in hulle hare te sien. Hy wys hulle ’n vegspies, die skag is op verskeie plekke met diggenaaide leer gespalk. “Ons noem hóm die weduweemaker. Jy mag ’n huis hê en ’n vrou, maar hier,” hy beduie na die grond, “hier het jy net jou naam en ’n wapen. Kies wapens wat jou nie gaan verraai nie. Jou spies is twee en ’n halwe tree lank. Dit is ook die afstand tussen geledere. Skat jou spasie daaraan wanneer julle aantree. Hier is die handgreep, meesterlik gevleg van twaalf nat riempies, al sê ek dit self. Leer om te vleg, behoorlik en dig, nie so-so nie, vir ’n voetsoldaat is niks so-so of amper goed genoeg nie. Gebruik jou spies soos jou manlikheid – hou dit skoon, gebruik dit net waarvoor dit bedoel is en moenie dat dit roes nie.”

Hy lê die spies op die bank, haak sy arm deur die lusse van ’n swaar skild en lig dit oor sy kop. “Dit is jou hoplon. Hiervan is die mure om die vaderland gebou. Kies jy hom, word jy hoplite. Onthou die rympie: helm en harnas beskerm één karkas, skilde beskut ’n hele gelid. Hy is een volle tree breed, of die lengte van jou arm van skouer tot vingerpunte. Gemaak van eikehout, nie van jong den soos jou ma se deegplank nie. Met beesvel oorgetrek en met yster beslaan. Dié ring is vir die voorarm, só. Hier is die handgreep. Hou albei skoon, dat jy nie sere aan jou arm kry nie, anders word die voetsoldaat ’n las vir sy maat. En jy dra hom in hierdie sak. As jou skild voor jou bors is, dek sy sak jou nek en rug. Jou hoplon lê nooit op die grond nie. Stut hom teen iets. Moet hom ook nie beskilder met uitdagende ontwerpe nie, anders soek die vyand se helde jou uit. Kies iets soos ’n blom of ’n hasie, en liewer in wit. Jou hoplon weeg soveel soos jou spies, swaard, skede, harnas, skeenskutte, rugsak, helm, alles tesaam. Jy kan hom ’n oorgewig hoer noem, maar hy is joune vir die veldtog. As dit sal troos, onthou: Lank voor ’n vyand jou afmaak, dra jy jou dood aan jou hoplon.”

Die kaptein lê die skild by die spies op die bank. Sy hare en baard blink van die sweet asof hy al van sonop met hoplon en spies hardloop. Hy tel ’n kleiner, halfmaanvormige skild op, lig dit bo sy kop uit. Sy rekrute staar op na die bloedrooi skild wat met geel weerligstrale beskilder is. Die kaptein staar terug. “Hierdie enetjie is nou jou pelta. Kies jy hom, word jy peltast. Jy dra lig: net rugsak, vier gooispiese, swaard en pelta, maar jy loop nooit weer nie. Peltastai hardloop, bergop, bergaf, deur riviere, strandlangs, met die hoofstraat deur ’n stad, deur slote en vleie, deur begraafplase, olyfboorde, langs hawemure, oor dyke, deur mosterdlande, deur velde vol rooiblom.”

Nou spring die kaptein met wapens en skild gereed, hy skerm in die lug: “Julle val aan. Dáár wag die vyand, agt man diep. Spoed is die woord. En soek ruimte, ruimte om jou swaard te gebruik. Agter julle kom negentig hoplitai, hulle skilde soos ’n muur. Hulle dryf julle voort, julle sien die groot spiese van agter af oor julle koppe kom wat steek na die gesigte voor julle, só, só, só. Hardloop! En omdat jy moet hardloop, dra jy nie skoene nie, maar jy word daaraan gewoond en spaar baie geld. Peltastai kry minder soldy, maar is eerste by die buit, in die hoenderhokke en by die vrouens.”

Die donker kaptein hyg van die inspanning. Soveel nuwelinge, soveel ander al dood of ontslaan, en weg, en hy wat nie jonger word nie. “Nou,” sê hy, “oorlog met dennebolle. Mik na die gesig en dye. Julle links begin elke man met ’n hoplon, dié regs gebruik pelta, en kyk watter een die meeste van jou hou. Daarna kan jy besluit. Begin as ek fluit. Stop dadelik as ek weer fluit.” Hy druk ’n vinger onder ’n wit kerf deur sy wenkbrou. “Dié kom van ’n groen bol gegooi ná die kaptein gefluit het. Amper blind gewees. Net daar uit die regiment weggejaag met ’n skop onder die agterste. Maar eers is ek my beurt gegee. Dink soos julle werk.”

“Dit is Agasios van Stimfalië,” sê Proxenus. “As ek iets oorkom, volg hy my op. Kom, ek stel jou voor.”

Hulle sit saans voor die tent, drink wyn en luister na die geluide van mans en diere in die donker. Hulle stort wyn in die gras.

“Zeus die Krygsman,” sê Proxenos. Hy drink die beker in een teug leeg.

“Apollo van Afstande,” antwoord Xenophon. Apollo is die god aan wie hy hom op hierdie tog vir beskerming toevertrou. “Hoe kon Kuros al hierdie mense in sy mag gekry het?” vra hy. “Dit moet miljoene kos.”

Proxenos maak of hy insig in die prins se gedrag het. “Ondernemingsgees en vrygewigheid, of beloftes daarvan. Kyk om jou; hy gebruik Grieke eerder as sy eie lui en sluwe mense om sy werk gedoen te kry.”

Hou oningeligtes aan die raai, dink Xenophon. Gooi skaduwees op skerms. Skep illusies. Sy neef is deur die prins betower. “Maar hoe kon hy al dié mense in sy mag kry?” herhaal hy.

Weer die gemoedelike glimlag: “Jy weet dat ons generaals nie wil huis toe gaan nie, oor die nuwe regering. Liewer landuit, maar nóóit onder ons mense se verdrukker nie. Ons swerf hier in Asië en verhuur ons aan die man met die meeste geld. Vandag aan dié, môre miskien téén hom. So wag ons tot die wiel weer draai en ons huis toe kan gaan. Die vrees om in vreemde grond begrawe te lê hou ons almal taamlik sober.” Proxenos strek sy bene voor hom na die vuur toe, kyk in sy beker, reik na die wynsak. “Kuros het ’n paar van ons uitgeweke generaals gewerf om ’n opstandjie in Pisidië te gaan onderdruk. Klearkos die Spartaan is ’n ander geval. Hy is deur sy eie regering oor sy wreedaardigheid ter dood veroordeel en wil nie graag huis toe gaan nie. Hy het sy veterane aan die nuwe Griekse kolonies noord van die Bosporus verhuur. Kuros het hom daar gaan soek en tienduisend darik beloof. Klearkos moes daar bly en hom gereed hou tot hy ontbied word.”

“Waarom het jy betrokke geraak, Proxenos? Is die betaling regtig so goed?”

“Kuros het my net om ’n regiment gevra vir een ekspedisie teen Pisidië.” Hy lê sy hand vertroulik op Xenophon se skouer. Dit is irriterend; sy neef het van sy jeug af dié gewoonte. “Wat ék gesoek het, het hy belowe terwyl ons op kussings op die tapyte in sy tent gelê het. Teen die dak was honderde sterre met gouddraad geborduur. Daar was musiek – van hulle soort – en uitstekende wyn. ’n Ry meisies, lieflike goed, het vir ons gedans. Ons het aan die waterpyp gelê en suig, aan die rook van perskeblare en appelskille, en daardie meisietjies kaal gekyk. Ek het aan jou ook gedink, Xenophon. Toe vra Kuros wat ek dink van ’n nuwe koning op die Persiese troon, een wat nooit weer my vaderland sal pla nie. Nog wyn?”

Xenophon leun dadelik vorentoe, hy gebruik die kans om onder die lastige hand uit te kom. “Met water, asseblief.”

“Ek vra hom toe wat die nuwe koning daarvoor sal verwag, want Grieke is nou mos maar arm. ‘Niks meer as die vriendskap van Proxenos nie,’ sê hy. As dit soveel werd is, drink ons daarop, sê ek, en hy sê: ‘Versamel soveel hoplitai as jy kan en trek saam op teen die skuim wat moeilikheid maak in Pisidië.’ Geen bedrag is daar genoem nie, geen woord is geskryf nie, geen handdruk is gegee nie. Prinse praat nie oor soldy nie, maar hulle beloon lojaliteit en vriendskap rojaal. Prinslik.”

Met sy oë op die vroegste sterre en ’n koue glimlag wat hy vir donker oomblikke hou, sug Xenophon. “En hier sit ou Xenophon en ou Proxenos vanaand en drink die donker wyn,” sê hy.

“Prinse maak so,” sê Proxenos. “Donker wyn. Luister, waarom skryf Homeros van ‘wyndonker see’? Wat het hy bedoel?”

Omdat albei eindeloos is. Albei het verskeie gesigte met die potensiaal vir verdriet of geluk. Albei sing van skrik én van plesier. Albei se diepte is onbekend, maar die wyn is altyd dieper as die beker. Xenophon spreek nie dié gedagtes uit nie. “Die digter laat dit aan jou verbeelding oor, Neef,” sê hy. “Miskien bedoel hy net die kort, duister lewe self.”

Dit was heel aan die begin, in die tyd van onskuld. Nagri glimlag terwyl hy dié woorde skryf in die xenon wat skerp na vet en uie ruik, en dink hoe die slang in die paradys gekom en onskuld daar verander het, en ’n engel met ’n vlammende swaard gestuur is om ’n nuwe orde te vestig. Ek is die profeet Nagri, die swaard van God.

Hy onderdruk met moeite die haat wat dié gedagte veroorsaak en skryf niks hiervan neer nie. Wat die twee Griekse soldate daar by Sardis betref, by fakkellig, met wynbekers by ’n vuurtjie voor hulle tent, hulle is soos twee toeskouers agter skaakspelers se stoele. Die wedstryd het pas begin en hulle is nie deel daarvan nie, maar hulle bespreek fluisterend oorsaak en gevolg, hulle dink hulle weet wat gebeur. Ook daaroor glimlag Nagri: Proxenos het na iets mensliks verlang, want soldate praat graag oor perde, wapens of die vriende wat hulle vroeër geken het. Maar ek ken jou nou effens, Xenophon my weldoener, dink Nagri, jy meng jou woorde en gedagtes soos wyn en seewater, totdat dit rooi en onsmaaklik soos bloed word, eie aan die lewe.

Nagri sny ’n skerp nuwe punt aan die grys pluim wat vir hom uit die hemel gestuur is en roer sy dik, donker ink deeglik.

“Jy sien,” sê Proxenos, “dit is waarom ek na jou verlang het. Hoe klink ‘seedonker hemel’? Is ek nou dronk? Seedonker hemel. Wat is tog vanaand so aan die kolk en dein daarbo in die Melkweg, Neef ? Ek het my woord aan die prins gegee, maar het van hom heeltemal niks gekry om op te vertrou nie. Hy gee voor dat sy doel net is om die Pisidiërs stil te maak, maar as hy sou reken dit is tyd om sy broer die koning in die hoofstad aan te val, lê hier dié groot mag, baie nuttig, heeltemal gereed. Waarheen wil hy, met al die mense? Xenias het al aangekom, Sokrotos is hier, Pasion is hier, Sophanetos is hier, ek is hier. Dit is seweduisend. Hy het vir Aristipos laat weet om te kom, en Klearkos en Menon is op pad. Dit maak dan tienduisend. Daardie twee, Klearkos en Menon, almal weet hulle was nog nooit vriende nie.”

Hy skud die donker, bitter moer uit sy beker en staan op. “Ek moet kooi toe. Let bietjie vir my op, Neef, waar die tenttoue is.”

Xenophon bly by die kole sit tot hulle uitgebrand is, en luister na die aandwind in die bome en die donker geroep van uile en patrollerende wagte. Proxenos se bediende bring ’n fakkel, en saam lig hulle die generaal van die grond af op sy matras, maar hy steier weer orent om in die houtemmer in die hoek water af te slaan.

Die dag begin wanneer die herout sing, “Staan op, staan op! Dit is die rooidag.”

Die Griekse huurtroepe word vóór vroeëkos aangetree om ’n teregstelling te aanskou. Dertien inlanders het met donkermaan uit die kamp probeer dros. Die buitewag het hulle omkoopgeld van die hand gewys en hulle aan die prins se wagoffisier oorhandig. Nou staan hulle met hulle hande agter die rug gebind, hulle jurke afgeskeur en hulle rûe bloedig geslaan. Hulle pleidooi is hulle is die koning se onderdane en wou na satrap Tisafernes oorloop om aan hulle eed getrou te bly. Tisafernes, vertel Proxenos, is satrap van die aangrensende satrapi, oudste van al die koning se satraps, sy voorste generaal en een van sy Goue Raad.

Stof dryf reeds in die lou lug tussen die bome waarin ook die vroeë kookvure se rook gevange hang. Die prins spreek die versamelde soldate toe. Hy skreeu met ’n hoë stem en maak driftige handgebare. Sy tolk boots dit alles na. Hy vind hierdie dertien honde aan drostery skuldig. Wat sal koning ArtaXerxes doen aan sulkes wat sý leër verlaat? Hy sal hulle nie ophang nie, want die lug is heilig. Hy sal hulle nie begrawe nie, want die aarde is heilig. Hy sal hulle nie onthoof nie, want die swaard is heilig. Kuros laat aan elkeen ’n graaf gee om ’n skouerdiep gat te spit voor die verhogie op die rand van die paradegrond waar hy soggens die saluut neem. Hy laat hulle voete en hande vasbind en staande begrawe. Dae lank sterwe hulle weeklaend onder die lenteson, terwyl voorbereidings vir die opmars om hulle voortgaan.

“Kyk, Neef,” sê Xenophon. “Jou nuwe koning, ons verlosser.”

Dit was agttien maande gelede, onthou Nagri in die herberg in Bisantion, toe satrap Tisafernes gehoor het van die geweldige monstering by Sardis. Hy, Nagri die Jood, eunug uit die kinders van Israel wat gevange is in Babilon, was toe dienaar van die koning en het al Tisafernes se rapporte gelees en afskrifte gemaak vir koning ArtaXerxes, vir die tweede Kamer, vir die geheime biblioteek en die alsiende Oog, en elke kopie met die satrap se naam en met sy eie onderteken: Satrap Tisafernes se spioene laat weet dat in Sardis tot sewe, agt keer meer soldate onder prins Kuros lê as wat nodig is om ’n rebellie in Pisidië te bedwing. Die satrap vertrek dadelik op die koninklike hoofweg met seshonderd gekeurde ruiters om koning ArtaXerxes se mag te versterk en weiding en voorraad te verwoes so ver as hy ry. Mag die Groot Koning, Koning van Konings, Seun van Ahura-Mazda, leef en sy slaaf Tisafernes se dankbare dienste onthou.

Reeds voordat prins Kuros uit Sardis vertrek het, het sy broer die koning die verdediging van sy hoofstad begin voorberei.

Afstande

Подняться наверх