Читать книгу Afstande - Dan Sleigh - Страница 17

Die woestyn

Оглавление

Van Miriandos trek hulle weg van die see. In een dagskof verdor en verdof die landskap tot sandveld en duine met lae, sonverbrande struike, geel graspolle, bruin kliprante. Die lug verander van blou na wit, die horison bly dynserig. By die drif waar die koninklike hoofweg deur die Kalos-rivier gaan, rus die leër by ’n dorpie van Assuriese slawe wat al meer as twee eeue onder Persiese juk is. Die rivier het helder kuile vol groot rooibont visse wat, net soos die rooibont duiwe wat in die dorp se stofstraatjies loop, as gode aanbid word. Xenophon teken dit as moontlike bronne van proviand aan. Die dorpshoof verwelkom die prins met sout en brood en ’n geskenk van twee meisies en twee seuns. Kuros raak die sout en brood aan, stuur die volgende dag as ’n gebaar van vriendskap albei dogters terug (hy het ’n week gelede in Miriandos nog ’n jong meisie gekry) en gee die seuns vir sy dokter om te kastreer as ’n geskenk aan sy nuwe vriendin. Maar die eerste aand al gooi die inwoners die soldate met klippe en vervloek ’n Griek wat vier duiwe onder ’n wip gevang het. Hulle priesters kom by Kuros kla, dit is nie hulle skuld nie, maar hierdie sonde gaan afskuwelike ongeluk oor die leër bring.

Weens die hitte lê hulle die grootste deel van elke dagmars vóór sonop af, en marsjeer in vyf dae tot by die sterk fonteine van die Dardes-rivier. Belesis, satrap van Assurië, se koel paleis, twee verdiepings hoog en helder geel geverf, staan in ’n groen park met spuitfonteine, dammetjies met rooi visse, houtbruggies en watervalle deurskynend soos stortende glas. Hy is ook weg, hoofstad toe. Sy takbokkies wei onder die bome en wit poue sleep lang, lang sterte oor grasperke. Kuros laat die tuiniers en oppassers soek en doodslaan, hy laat sy soldate die waterleidings van die spuitfonteine uitgrawe om dit te breek, hy laat die wit poue en die takbokkies doodmaak, die bome en die donkergroen struike oortrek van wit, geel en rooi rose, laat hy uitkap. “Nou kan sy sonbesies vir hom van die grond af sing,” sê hy.

Van dié soort oorlog maak het die Grieke al gehoor, en dit veroorsaak ’n suur minagting en ’n vae onrus soos die eerste gerug van ’n komende pes. Van die toringhoë, swart rooksuil van die brandende paleis marsjeer hulle voort na Tapsakos om die Eufraat oor te steek. Dit is ’n magtige rivier, agthonderd tree breed, en ’n verfrissende gesig met wye, varsgroen graanlande, natgelei deur kanale. Teen die wal lê ronde bote soos rietmandjies vasgemaak. Daar vind hulle die verkoolde oorblyfsel van die koninklike pont, ooglopend satrap Abrokomas se werk. Kuros bly vyf dae by Tapsakos om groenvoer te laat sny; laat sy vee in die jong graan los en die ronde rietbote uitsleep en verbrand.

Hier vind Kuros dit goed om aan sy Griekse generaals te sê dat hy Babilon toe gaan om sy broer dood te maak; hulle moet die soldate inlig en beveel om saam te trek. Die soldate voel die groeiende afstand van die see agter hulle as ’n fisieke bedreiging, elke tree, elke dag verder verwar en bekommer hulle nou. Hulle skreeu dat die generaals die hele tyd daarvan geweet en stilgebly het tot hier in die middel van die godlose, dor woestyn. Hulle is bedrieg en mislei, en weier om verder te gaan.

Klearkos vloek en dreig om hulle leierloos daar te laat lê vir die Perse en die aasvoëls, dan paai hy en herinner hulle aan die eersteklas-soldy wat die prins hulle gaan betaal. Maar die soldate wil niks met die prins en sy familie te doen hê nie, hulle gaan nie hierdie Eufraat oorsteek nie.

’n Groot goue maan skuif die lug in terwyl die generaals die leër se besluit aan Kuros oordra. Die morrende, dreigende regimente bly sit op die paradegrond met klippe in hul vuiste. Die prins laat vir die generaals die soet geel wyn skink, glimlag en beloof dat elke man met hul aankoms in Babilon vyf silwer minae in kontant sal kry, benewens volle soldy wanneer hulle in Asië terug is. Dit is baie goeie geld. Maar die generaals voel onseker oor die troepe. Daar was te veel beloftes en die soldate moet eers sê wat hulle van dié voorstel, die soveelste, dink.

Menon praat in die maanskadu onder palmbome met sy regiment. Hy herhaal wat Kuros hom voorgesê het: “Kom, laat ons hulle almal voorspring. Kuros gaan bly wees as ons oorsteek terwyl die ander nog sit en kla. Volg hulle ons later, bly dit óns wat die voorbeeld gestel het. Maar as hulle stem teen verdere opmars, gaan ons weer terug. Kuros sal ons lojaliteit onthou en beloon.”

Menon se manskappe glo hom, en voordat een van die ander generaals ’n antwoord aan die prins stuur, pak Menon se regiment op en trek in maanlig deur die rivier. Kuros lag toe hy hoor dat Menon se regiment oor is. Voor die ander se verleë gesigte stuur hy hom ’n draagbaar vol geskenke. Hulle kan Menon se soldate daar op die oorkantse wal om vure sien dans, sien hoe hulle met kruike in die hand in die lug spring en die prins se naam skreeu. Hulle stemme kom helder oor die slangblink water.

Arras lei die volgende oggend met eerste lig sy negentigduisend oor, met die prins se bagasietrein ná hom en dan die Grieke agterna deur hulle modder. Die dorpenaars kyk verwonderd toe, hulle kan nie onthou dat een al ooit te voet hier deur die Eufraat is nie. Sjah Darius het die koninklike hoofweg deur hulle dorp laat aanlê en ’n vlot voorsien met ’n ponthouer wat sy klein, ongereelde inkomste uit reisigers moes wurg. Satrap Abrokomas het enkele weke gelede die pont verbrand om die prins te vertraag, en nou lyk dit asof die rivier Kuros begunstig, asof hy bestem is om koning te word.

Meer as ’n jaar later, in Kotiora aan die Swart Kus, het Xenophon sy groot kaart van die ekspedisie voltooi en tye en afstande bereken. Hy sien toe Tapsakos is presies by die halfpadmerk. “Kyk,” sê hy aan Nagri, “dit is seker nie toevallig nie. Kuros kon ewe goed terugdraai as vorentoe gaan. Maar waarom was al die geheimsinnigheid en bedrog nodig?”

“Oor die ingebore boosheid in sy bloed en in sy murg, en in die hart en verstand van sy broer en hulle hele vervloekte gespuis.”

By Kotiora was Nagri amper waansinnig van wanhoop.

Met die vaal, breë Eufraat aan hul regterkant, trek die optog deur die hete Arabiese Woestyn, ’n skuiwende skaduwee op die sonwyser wat die einde van die koning se dag sal wys. Smiddags skuil hulle teen die hitte. Die reuk van baksteenoond styg na sononder uit die stofgebakte grond. Die landskap is meestal geel, maar soggens verander dit van oranje na vaal, en soos die son skuif, verander geel na wit, en oranje na bruin, sononder verdonker rooi na pers na diep diepblou. Die aarde is gelyk, met enkele duine soos verstilde golwe van fyn rooi sand en die uitgestrekte oppervlak geriffel soos ’n windgestrykte see. Miskien was daar vroeër ’n see, want Xenophon sien versteende skulpe op die grond en een maal die perfekte afdruk van ’n vis in ’n klip. Bome is daar nie, net lae struike en harde plante soos bitterals, en voëls soos groot gompoue wat kort entjies vlieg, maar gou moeg word. Die soldate braai vleis op kole van ysterharde doringhout wat die volgende dag nog gloei en wat hulle met sand moet blus. Vreemde sterre kom snags laag in die suidooste op, en hulle hoor jakkalse en onbekende nagvoëls.

Langs die hoofweg, in ’n kromming van die rivier, is ’n rusplek met die naam Korsote, in die skadu langs die ingetuimelde mure van ’n verlate stad. Daar is tekens van ’n groot brand lank gelede, maar niemand weet meer wanneer dit gebeur het nie en niemand kom hierdie swartverbrande boustene weghaal nie, asof hulle vervloek is. Die stadsfontein borrel nog sterk, soet en koel.

Hulle bly drie dae binne die swart mure, in die geloof dat hulle daar onsigbaar is vir verkenners, terwyl hulle kos uit die omgewing versamel. Xenophon, onrustig gemaak deur gebrek aan inligting, krap tussen ruïnes, maar kry geen bene of erdewerk of ystergoed of iets wat lyk na oorblyfsels van ’n tempel of ’n altaar nie. Teen watter vergete god sou hierdie mense, jonk en oud, gesondig het, en waarom is daar nie ’n laaste boodskap op ’n muur geskryf nie? Verbyganger, gaan vertel wat hier gebeur het. Miskien was daar geen tyd nie.

Die swaar goue sterre snags en die blinkwit son bedags begelei hulle, dra hulle. Voet vir voet, tree vir tree meet die leër die hoofweg tussen Sardis en Babilon af. Hulle ervaar elke kluit en droë spoor in die sand, elke stofstorm, elke rusplek in skadu onder die yl musiek van bronstige sonbesies, hulle ervaar dit soos soldate, in kla en lag en sweet en slaap. Môre en oormôre is nie die soldaat se saak nie, maar sy offisier s’n. Jy kla, en gaan maar aan.

Daar kom heuwels in hulle pad, dan rotskoppe en lae, kaal berge. Na dertien dae kom hulle by Die Poort, waar die rivier en die pad in ’n pas tussen swartgebrande granietkranse deurgaan. Die troepe kry soutvleis gemaak van pakesels wat op dié dor en klipperige trek dood is, maar daar is nie meer groente, lensies of brood nie. Op die aandmark in die Persiese kamp koop jy ’n hoed vol gars vir vier sigli, genoeg vir drie brode, maar dit is te duur vir die gewone man. Nou maak Kuros party marse langer en dryf mense en diere genadeloos om by voer en ander proviand uit te kom. Hy word humeurig en gevaarlik, hy dreig hulle met ’n dorsmars na Sharmande.

Die pad tussen die rivier en die rotsmure word te smal vir waens, en die touleiers neem die osse die modderwater in. ’n Afdeling inlandse voetvolk probeer om ’n wa wat in die diep modder vassit en die pad versper uit die taai, suigende klei te lig, maar hulle kan nie vorder sonder om eers die vrag af te laai nie. Kuros stop die eerste rytuig waarin van sy edelste familielede is en beduie hulle om te gaan help. Die mense peul uit die koets, gooi hulle purper af net waar hulle staan, hardloop in hulle geborduurde jurke en lang broeke teen ’n wal af, sommige nog met armbande en goue kettings om die nek, en spring met al hulle sierade aan in die modder. Die sweep klap en daar word gevloek, en hulle dra self die wa tot op droë grond.

Proxenos lag daaroor. “Ek wonder wat hy hulle beloof het. Wat dink jy, Neef, goud of die gesel?”

Perse laag en hoog verstaan dit: Vrees maak sterk. Hulle glo dit van moedersknie af as ’n lewenswaarheid.

Op die rand van die Arabiese Woestyn kom hulle op die hitte van die dag aan by die wilgergroen en palmryke Sharmande, soos ’n groen sieraad op die Eufraat se oewer. Die soldate word die namiddag vry gegee. Die meeste Grieke eet hulle rantsoen van growwebrood en verwaterde dadelwyn en slaap in die koelte onder die bome. Een afdeling van honderd Kretaanse peltastai staan tou voor ’n gratis bordeel waarmee prins Kuros hulle vir die wegruim van ’n rotsstorting beloon het, maar die taptoe blaas met sononder en ’n onderoffisier kom haal die oorblywendes kamp toe. Net na middernag vertrek die optog weer by fakkellig.

By die volgende staanplek is daar ’n bakleiery tussen ’n soldaat van Menon en een van Klearkos. Klearkos oordeel dat Menon se soldaat dit veroorsaak het en laat hom ’n pak gee. Toe die man dit gaan vertel, is sy makkers woedend vir Klearkos, en toe die generaal en ’n paar lyfwagte later mark toe ry, sien Menon se houthalers hom en een slinger sy byl agter hom aan. Die byl val mis, maar toe gooi iemand ’n klip, en meer klippe volg. Klearkos jaag terug na sy regiment en laat die trompet blaas vir aantree. Regop, swaar, aan die spits van sy Trasiese ruiters, ry hy op Menon se tente af. Sy hoplitai bewaak sy kamp, die spiese rus gereed teen die skouers en skilde leun gereed teen knieë.

Menon storm by sy tent uit toe hy die trompet hoor en skreeu om te bewapen. “Los julle harnas, bewapen en tree aan. Vorm front na regs. Kapteins, hou rigting op die regterflank. Gereed? Looppas mars.”

Proxenos kom met die agterhoede in die kamp aangery en skrik vir die twee Griekse regimente wat met vaandels en strydkrete teen mekaar optrek. “Hou jou posisie daar, Klearkos, in die naam van al die gode. Moenie jou makkers se bloed verspil nie.” Hy stuur sy hoplitai tussen die twee partye in, ry self vorentoe en pleit van ver af: “Hou daar, hou daar, Klearkos. Moenie naderkom nie.”

“Jy belet my na ek amper doodgestenig is? Ken jy my? Staan weg of ek kom haal jou uit die pad uit.”

Kuros hoor die trompette en kom met sy Onsterflikes, hy ry sy bont perd langs Proxenos in, spring tussen hulle af en roep al drie generaals na hom toe. “Klearkos, Menon, Proxenos,” gil hy toe hulle voor hom staan, “as julle onder mekaar doodmaak, gaan ek nie my doel bereik nie, en julle sterf eerloos, ver van julle huise af. Die inlanders agter my gaan groter vyande van julle soldate word as wat my broer se leër ooit kan wees. Sit weg julle wapens.”

Klearkos kom stadig tot sy sinne, hy blaas soos ’n bees en proes ’n sproei van slym en fyn waterdruppels by sy neusgate uit, gooi sy skild agter sy skouer, sy swaardpunt sukkel om die skede se lip te vind. Hy hyg en weier om hand te skud, gespe sy helm los, maar bedink hom en trek dit weer vas. Kapteins lei die drie siedende regimente weg na hulle kampe om wapens te stapel, maar hulle hou mekaar onderlangs dop, trommel die swaardpunt teen die skild se rand en skreeu dreigemente oor die skouer.

“Onsekerheid maak hulle gespanne,” sê Proxenos toe hy sy tuniek uittrek. Die sweet tap hom af. Hy maak sy hele watersak oor sy kop leeg en vee sy lyf met ’n nat doek af.

Xenophon wonder of spanning dié tyd in die mars noodwendig sleg is. “Laat hulle vir mekaar grom en tande wys,” sê hy aan Proxenos. “Hoe nader hulle aan die vyand kom, hoe gevaarliker word hierdie hoplitai.”

’n Ent verder wag verkenners by spore en perdemis weerskante van die hoofweg. Die generaal ondersoek die tekens: Omtrent tien dae gelede het tweeduisend ruiters hier gekampeer. Dit moet satrap Abrokomas wees. Kan hy ingehaal word? Hy trek sonder waens, is te ver voor en kom altyd eerste by voer en verversings. Met gedwonge marse kan die ruitery hom probeer inhaal, maar hulle moet liewer die moeite gespaar word.

Toe die trompet die Grieke later die dag parade toe roep, staan ’n bebloede kop met ’n silwer hoofring op ’n spies voor die verhogie wat die prins vir hom op die rand van die paradegrond laat regsit het. Die prins skreeu in sy eie taal oor verraad en waai ’n bruin kopdoek in die lug. Dit is moeilik om te verstaan wat hy sê, maar sy dreigemente is heeltemal duidelik. Die soldate probeer die dooie gesig herken, maar die bloedgekoekte baard en masker van kruipende brommers en vlieë maak dit onmoontlik.

Klearkos ken die hele storie; hy is die vorige nag laat uit sy kooi ontbied vir ’n verhoor. Hy vertel dit by lamplig in die offisierstent, met ’n gespanne, geheimsinnige houding, woeste trekke van sy gesig en gulsige slukke uit sy geduikte silwer drinkbeker. Hy laat hulle sy status en sy kennis sien. “Die verraaier,” sê hy gewigtig, “jy sal dit nooit sê nie, was ’n buite-egtelike seun van koning Darius, ’n soort oom van die koning en prins Kuros. Sy naam was Oraster, ’n aansienlike man en ’n goeie soldaat.”

Kuros het duisend ruiters aan Oraster toevertrou, vertel hy, om Abrokomas in te haal en uit te wis. Kuros kom in besit van ’n brief waarin Oraster sy trou aan koning ArtaXerxes bevestig en vra dat Abrokomas hom en sy duisend ruiters as vriende ontvang.

Ná sy relaas swyg Klearkos en gryns. Hy laat die offisiere wag en hou hulle gesigte dop. Hy maak sy beker vol, drink dit leeg, maak dit weer vol. Hulle hou hom dop en wag. Wat Klearkos hulle eindelik meedeel, is dat Kuros vir Oraster laat arresteer het en sy ses belangrikste familielede ontbied het, maar die Grieke weet nie wat gebeur het nie, tot Klearkos om middernag genooi is om aan ’n verhoor deel te neem. Die Perse beskou hóm as hoof van al die Grieke.

Nou gaan Klearkos, beker in die hand, eers in die emmer in die hoek urineer, dat hulle oor sy woorde nadink: Die Perse beskou hóm as hoof van al die Grieke. Hulle luister in stilte na die geplas in die emmer. Hy kom terug, neem die fles van die tafel en skink die generaals se bekers vol. Hulle sien dat albei sy skoene nat is. Ouderdom begin teen die leier tel. Wat faal hierna? Geheue, uithouvermoë, sy drang om te wen, sy drif om te moor? Alles wat nodig is vir ’n leier. Klearkos gaan raad nodig hê, en nie van jong manne nie.

Klearkos vertel grimmig verder: In die nagdonker laat Kuros al die inlandse regimente tot hulle kamp inperk en vra hom om ’n afdeling hoplitai te voorsien vir ’n kordon rondom die blou tent en om self in die tent aan ’n verhoor deel te neem. Honderde goue sterre hang daar binne teen die dak geborduur; dit is soos ’n woestynnag, jy verwag om krieke en jakkalse te hoor. Die tent was swak verlig, donker figure het langs die prins op kussings gesit en daar was ’n swaar reuk van bokvet en rose. Agter hom het ’n groot geblinddoekte arend op ’n dwarshout aanhoudend skerp gegil. Wat hóm betref, vertel Klearkos, hy wou net so gou moontlik uit daardie dodelike plek kom, terwyl die ondervraging aangaan.

“Daar lê die brief. Daar staan die man, so duidelik skuldig soos ene wat jy by jou vrou in jou bed vang. Maar Kuros wil weet hoe verspreid die verraad is.” Oraster se regters is almal aan hom verwant soos hulle wet verlang. Hulle luister na die aanklag, die getuienis, die bekentenis.

Oraster het die afgelope maand in sy gewete oortuig geword van prins Kuros se sonde. “Ek het lank hieroor gedink, my prins,” sê hy. “Ek ken jou en ek ken die koning, en tussen julle is daar nie veel te kies nie. Daarom moet ek aan myself getrou bly.”

“Is jy alleen, Oraster, of is daar nog ander?”

“Ek is alleen, prins Kuros. By jou is honderdduisend. Maar ek doen reg.”

Die arend gil en Kuros sug. “Wat is reg?” Toe vra hy eerste vir Klearkos om sy oordeel.

“My advies is, maak hom van kant,” sê Klearkos.

Kuros vra die ander, en almal stem met Klearkos saam. Toe staan die sewe mense op, van die oudste tot die jongste, en loop vorentoe om die gespe van Oraster se gordel aan te raak, dit is ’n slang om ’n skedel gehaak. Doodstraf. Die wagte het hom weggeneem, en almal wat tevore voor hom moes buig, buig toe hy verbygaan.

Afstande

Подняться наверх