Читать книгу Afstande - Dan Sleigh - Страница 13

Die opmars

Оглавление

Wat sou koning ArtaXerxes doen aan hierdie Xenophon wat sy land kom verken? Hy sou die spioen se oë uitsteek, die kwaaddoener se hande afkap, die verklikker sy tong laat behou om van die koning se genade te getuig, en hom laat gaan. Vir hóm, Nagri die droster en verraaier, wag die rooster, die brandoond, of om afgeslag en gesout te word. Hy moet ernstig waak teen oordaad in sy teks, die Vaders het hom vermaan om oor sy heilige opdrag te skryf asof hy eendag tussen die profete gereken sal word. Die Verlosser moet ook sien die sending het nie in ’n digter se droom gebeur nie, soos ongelowiges sê van die profete Esegiël en Daniël: “Daardie twee eunugs het te veel papawersap gedrink.” Miskien was dit wel so, om hulle geweldige pyn en bloeiende letsels aan liggaam en gees te vergeet. Hy sal sy boek noem Die Boek van Afstande. Die onderdele daarvan is verbonde, soos ’n landmeter se ketting is alles een.

Nagri vind dele van Xenophon se joernaal traag, selfs vervelig. Naamlose soldate se daaglikse trek van rusplek tot rusplek, soos miere belaai en bewapen en met geen ander gedagte nie as om die man voor hom te volg, dag na dag, tree na tree, myl na myl, lyk eers vir hom van weinig belang. Is dit nie genoeg om te sê hulle het marsjeer van Sardis tot by Kunaxa nie? Veel later het hy Xenophon se bewustheid van afstande begryp, van myle gekoop met sweet, steiltes, sweepslae, en die belang daarvan vir God se eie soldaat.

Die prins trek eers suidoos, vermy die barre heuwels en soek roetes waar hy lang skofte op groen gelyktes kan aflê. Na drie dae rus hulle waar ’n brug oor sewe bote gebou is, op die Persiese manier. Hulle diere wei daar by die Meander-rivier wat sestig tree breed, enkeldiep en traag heen en weer deur kort, harde gras kronkel. Kuros het self die brug laat maak.

Xenophon teken besonderhede aan ingeval iemand die inligting nodig het: Hoe loop die koninklike hoofweg, hoe ver is elke skof, hoe lyk die terrein waaroor dit gaan, waar is rivierbote, brûe, driwwe, passe, verskansings op hoogtes, soutlekke vir die vee? Waar is skoon, drinkbare water, hoe breed word die Meander in die reënseisoen? Waar is weiding en fonteine, waarmee boer mense in hierdie streek, wat lewer elke distrik in elke seisoen vir voetsoldate om te eet?

Van die Meander af bring een lang dagmars suidoos hulle by die sierlike wit stad Kolossae tussen los en lae heuwels op ’n boomlose vlakte. Die stad is ommuur, met torings op die hoeke, agter die muur is geboue van twee en drie verdiepings, gepleister en geverf. Die stadsvaders wag die prins met sout en brood in, hy is hulle eie satrap, maar hulle staan verward oor sy Griekse huurlinge. Waar gaan hy met die leër heen? Waarom vertoef hy hier? Geen antwoorde nie.

Op die vyfde dag na hulle aankoms word ’n trompet op die muur bo die stadspoort geblaas: Die stofbank in die noorde is waarskynlik dié van voetvolk, en in die namiddag verskyn generaal Menon van Tessalië uit die heuwels met ’n duisend hoplitai en vyfhonderd peltastai. Hy is ’n vriend van prins Kuros, en het ’n swaai aan sy heupe en ’n houding asof hy en sy goed belangriker as ander is. Sy regiment moet van die eerste dag af vóór die Grieke marsjeer, en al praat die generaals daarteen, laat die prins dit toe. Hulle steek nie hulle ontevredenheid weg nie. “Ons sal sien wanneer Klearkos kom,” sê hulle.

Kuros gee ’n nuwe rigting en hulle draai noordoos na Kelanae, waar sjah Xerxes tagtig jaar gelede tweemiljoen man gemonster het vir die opmars teen Athene. Hulle het die omgewing se bome almal afgekap en sy riviere daagliks droog gedrink.

Xenophon ondersoek die jong stad van songebakte stene, gebore uit moderne oorlog en outydse fabels. By die groot rots waaruit die waterval van Marsyas vloei, het die prins ’n paleis en ’n vesting, deur sy vader gebou. Dit is ’n rots soos ’n kasteel, die fontein wat klinkend daarteen afstort, is genoem na die satir wie se vel Apollo afgeslag en in die vlak grot agter die waterval gehang het. Die vel word daar vertoon; dit lyk vir hom na ’n stuk motgevrete hondevel.

Aan ’n roering, ’n onreëlmatige rimpeling in sy perd se maanhaar bo-op die skouerknop wanneer sy loop, sien Xenophon dat sy las het van ’n voorbeen. Hy lei haar na die hoefsmid toe. Die man voel die hele been van bo tot onder en kry ’n gevoeligheid en swelling langs die knie. “ ’n Spier,” sê hy. “Smeer dit môre en aand in met warm terpentyn.” Maar Proxenos sê: “Moenie vir jou verneder nie, Neef. Ek stuur ’n soldaat om dit te doen.” Maar hy behandel self sy perd. Kan die soldaat nie vir iets dringenders of nuttigers gebruik word nie? Kan hulle albei nie met rus gelaat word nie?

Xenophon dwaal alleen. Hy is bekommerd oor ’n afwesigheid van broederskap in die regiment, asof Proxenos dink dit is genoeg as ’n generaal algemene bevele aan sy kapteins gee, goeie werk prys en lof van slegtes weerhou – niks meer word van hom verlang nie. Sy neef is van goeie oordeel en dapper genoeg, maar skeep die harde kern van veterane af wat die hart van sy offisierskorps en die gees van elke afdeling van sy regiment is. Hulle dra hom in die hart, maar hy dra hulle nie. Hy eet nooit saam met hulle nie, gee nie spesiale aandag aan hulle nie, erken nie individue deur sekere voorregte of ’n persoonlike woord nie, gee nie geskenke aan sy oudstes en voorstes nie. Hy kyk nie hoe hy die gewone man se lewe effens makliker en minder gevaarlik kan maak nie, hy ken nie eens almal se name nie. Dit is asof ’n leërkamp nie sy neef se natuurlike tuiste is nie, asof hy te beskaaf is vir voetsoldate, en sy slegstes dit weet en misbruik. Die gevolg is dat dit lyk of sommige dink hulle bewys hom ’n guns as hulle ’n bevel uitvoer.

Daar is die geval van ’n soldaat met emmers aan ’n juk. Proxenos vra: “Gaan haal asseblief my perd by die smid, en bring hom hier.”

Xenophon luister daarna; dit is nie goed genoeg nie. Die bevel moet wees: Gaan haal my perd. Enigiets meer is ’n gesprek.

“Ek dra die hele dag water, my arms is af,” kla die man.

Ander hoor en draai om te kyk. Orde in Griekse leërs is streng; oortreders word gerapporteer en voor die vergadering van kapteins geroep, strawwe word die volgende oggend afgelees en uitgevoer. Proxenos beveel, maar die man het elke keer meer as hy te sê. Toe sê die man se kaptein: “Verskoon my, Generaal. Laat ek dit hanteer,” en neem die soldaat agter die offisiere se tent in, slaan hom met die vuis tot hy belangstelling wys om die perd te gaan haal en gee hom daarna gevange aan die wag. Die volgende oggend kry hy ’n openbare loesing met latte deur die twee jongstes uit sy afdeling, een aan elke kant, vyftig houe van elkeen op sy kaal agterste.

Orde is noodsaaklik en Proxenos sal hulp nodig hê. Dit lyk of kaptein Agasios dit verstaan en oor die regiment waak.

Hier in Kelanae het Kuros ’n paleis met ’n park vol wilde diere. Hy nooi die Griekse generaals op ’n jagtog, maar antwoord nie as hulle vra waarom hulle noord trek nie. Hulle probeer sy strategie agterkom. Dit lyk of hy hulle in ’n wye kring agter om Pisidië lei, en hy sal soldy moet gee al veg hulle nie. Van een volmaan tot die volgende hou hy hulle in onkunde by Kelanae gelaer, tot Klearkos daar opdaag na ’n mars van die Swart Kus af, met duisend hoplitai, agthonderd Trasiese peltastai en tweehonderd Kretaanse boogskutters. Hulle skilde is swart, die letter ‘L’ vir Lakonië is in rooi dwarsoor geverf: Sparta!

Klearkos se koms was ’n dag van belang, onthou Nagri, nie net vir prins Kuros en sy agterdogtige volgelinge in Kelanae nie, maar vir die somber koning ArtaXerxes in veraf Babilon én vir alle Jode wat as slawe in sy land gevange sit. Hy, Nagri, het self Klearkos se geweldige naam genoem aan die geheime leiers van sy mense in slawerny. Gaan Klearkos die Griek die verlosser wees van wie die profete gepraat het, die held wat vir die Jode voorspel is, die strydwa en perde van Israel waarvan geskryf staan in die Boek van Konings? Dan was hulle vryheid op hande. Vir die Vaders in ballingskap was generaal Klearkos se aankoms groot en welkome nuus. Die pionne wat God gaan gebruik in die spel van konings was nou voltallig en gereed op die tafel. In gefluisterde gesprekke het hulle na Klearkos verwys as merkavah. Die woord beteken “strydkar” in Joods. Waar is die merkavah nou, Nagri? Hoe vorder jou merkavah?

Klearkos is groot, breed en woes bebaard. Wat van sy gesig te sien is, lyk of dit van klonte klei aanmekaar gegooi is. ’n Halwe oor hang soos ’n brak s’n, sy neus is weg, net twee gate sit tussen sy oë. Hy is ’n geweldige soldaat,’n verwerpte, ’n banneling, berug sonder ’n enkele vriend of vertroueling, selfs sy lyfwag en skilddraer word daagliks verwissel. Sy suksesse op die slagveld is ’n getuigskrif vir die Spartaanse opvoeding en sy lewe ’n beeld van die verskrikking wat daaruit spruit. Xenophon weet van sy reputasie van afpersing, roof, ’n slagting in ’n kamer vol gaste.

Prins Kuros lag nou. Klearkos is sy troefkaart. Hy voel gereed en toegerus vir enigiets wat sy broer teen hom in die veld kan stoot. Hy laat vir die Spartaanse moordenaar blou en rooi baniere hys, tamboere slaan, trompette blaas, en nooi al die offisiere na ’n fees om hom te verwelkom.

Die nuwelinge kry twee dae om te rus en gereed te maak, en op die derde oggend laat die prins sy huurlinge in die park by Kelanae aantree om elke offisier, onderoffisier en soldaat se naam, rang en plek van herkoms op te skryf. Twaalf Persiese klerke werk die dag lank aan naamlyste, terwyl die soldate onder die bome dobbel en wag op ’n beurt om voor die tafels te staan. Xenophon wens om ’n afskrif van al die lyste vir sy verslag, maar ken nog nie iemand wat die Babiloniese wigskrif in Grieks kan omsit nie. Hy gebruik self die kans om Proxenos se regiment se name in die regimentele joernaal te skryf, die generaal, sy kapteins, sy hoplitai en peltastai, die draers en ander nie-vegtendes, tot ’n totaal van elfhonderd-agt-en-twintig wat Nemesis uitdaag en hulle geluk in die suide gaan soek.

Na die monstering is daar vir elkeen wildsvleis en soveel wyn hy wil hê, wat in baie gevalle weggedra word om met familielede te deel, maar ’n twis breek in die generaals se tent uit tussen Menon en Klearkos oor watter regiment vóór sal wees. Klearkos daag sy jonger opponent tot ’n geveg tot die dood met messe, die wenner neem die verloorder se regiment. Menon lag hom uit en sê hy sal sy kok stuur, dié werk met messe. Klearkos ruk Menon se goue wynbeker uit sy hand en kap sy oogbank daarmee oop, dat die vel ’n oomblik wit krul en dan donkerpers bloed tap.

“Kom, kom, kom, poeftertjie,” sê hy en wink Menon nader met die vingers van sy duimlose linkerhand en staan met sy dolk gereed en wag, maar Kuros stap tussen hulle in.

“Klearkos, jy lei,” sê hy. “Menon, kom na my tent toe.”

Van Kelanae af trek hulle twee dae noord, verby gehuggies waar dit lyk of daar net ’n hond of ’n hoenderhaan woon, want die landsvolk het voor hulle satrap die heuwels in gevlug met wat hulle kan saamdra of wegjaag. Wat kom soek hy hier, só ver in die vreedsame noorde?

Daarna trek hulle tussen steil heuwels deur en volg smal klipperige riviere op in valleie waar weerskante honderde appelbome soos wit skuim in blom staan. Aan die einde van dié sappige streek lê die Pottebakkersmark, ’n dorp van vierkantige tente onder die rook van ronde oonde soos byekorwe. In die heuwelhange is wye, persrooi kleigate gegrawe. Hier is die beste Persiese erdegoed te koop, geverf met patrone van blomme en blare in grasgroen, blougroen, baksteenrooi en helderblou op wit soos jy nooit in die vaderland sien nie.

Maar wat kom maak hulle hier? Die soldate wonder waarom hulle na erdeflesse moet kyk as hulle vir oorlog betaal word. Die rede word geleidelik duidelik, want hulle draai hier oos en trek dae aaneen oor wit, klipperige skuinstes waar duisende dierespoortjies lê soos herders hulle vee die bruin wildernis in jaag, tot hulle op die moerassige Kaistervlakte kom. Sy roete was dus agter om Pisidië; die sogenaamde rebellie en die lang trek noord was alles skyn om die koning se spioene te mislei. So meen die Grieke, en só skryf die amptenaar Xenophon in sy joernaal die dag voor hulle die Kaistervlakte bereik.

Twee jaar later glimlag Nagri stil oor sy weldoener se destydse naïwiteit. Die Grieke het nie vir koning ArtaXerxes geken nie. Hy is nooit mislei deur die eenvoudige, dom, vals skuiwe van sy enigste broer nie. Hy het presies geweet waar en hoe sterk sy teenstander is. Sy inligting oor die man en sy doelwit was altyd vars en korrek. ArtaXerxes het van Klearkos se aankoms ook geweet, en dit was vir hom van groot belang, maar veel, veel belangriker vir die Jode wat al die eeue lank in sy land in slawerny gehou word.

Afstande

Подняться наверх