Читать книгу Afstande - Dan Sleigh - Страница 5
Die boodskapper
ОглавлениеNagri huur ’n kamer in ’n herberg vir vreemdelinge in Bisantion. Die vrou van die plek, warm en swetend, vee met ’n grys, klam vadoek oor haar gesig, slaan dit oor haar skouer en stoot die bodeur vir hom oop om in te kyk. Die salpeterreuk van perdestal hang daar, vaag, skaars ’n herinnering, maar hy ruik oumens, bloed, gebrande teer, en asyn wat mildelik op die vloer gesprinkel is. Kort gelede is hier ’n amputasie uitgevoer, was hier ’n lyk. Watter siekte, vra hy? Nee, geen siekte nie, sê sy. ’n Ou soldaat met wit hare; ’n pylpunt in sy heupbeen het sy lewe lank bly sweer, ’n klont swart gif die grootte van haar vuis. ’n Kooi vir hom? Nee. Nooit weer ’n kooi nie.
Die lae mure is rof gepleister en effens gewit, die ongelyke klipvloer waarskynlik nie sonder luise nie. Naby die deur is ’n gemesselde krip, en in die muur houtpenne vir tuie. Daaraan hang hy sy sak en bruin rok. Onder die krom daklatte, silwer van spinnerak, by die luggat in die sonkantse muur, sit ’n gebreekte swaelnes van geel klei, jy sien die wit misspatsels op die vloer. Sy sal iemand stuur om hier te vee. Hoeveel, per dag? En per maand?
Nagri betaal vooruit, word skoon strooi op die vloer beloof, en begrawe dié aand sy weldoener se geskenk elmboogdiep onder sy slaapplek. Hier in die xenon is almal reisigers, uitlanders, enkelinge of twee en drie bymekaar, almal bondeldraers onderweg, een kyk nie om na ’n ander nie, jy is nie deel van hierdie of daardie lewe nie, almal lyk vreemd, maar niemand vra vrae nie en niemand soek geselskap nie. ’n Behoefte aan geld is al wat hulle gemeen het, daarom steek hy syne weg.
By die lig van ’n kort kers krap hy van sy strooi opsy, grawe die rou klei om ’n plaveisteen uit met die punt van sy krom Koerdoesji-dolk, lig die plat klip uit sy plek en hol ’n ronde gat daaronder uit, so diep as hy met die dolk kan reik. Daarin plaas hy ’n velsakkie met goue Persiese munte, ’n maand gelede by Pergamos gebuit. Hy mag dit nie in die stad wys nie, niemand moet hom met daardie ekspedisie en met daardie soldate verbind nie. Hy bedek alles soos voorheen, dig en sorgvuldig. Van môre af moet hy werk vir sy daaglikse brood.
Bedags hou hy die deur oop. Sy kamer kyk uit op ’n stowwerige binnehof met ’n droë put, ’n leë trog en twaalf kamers daarom, waaruit hy tale van die Kaspiese See, die Moorse kus en Swart Arabië hoor. Hy was hom met koue water wat ruik na wier. Dit hys hy met ’n leeremmer aan ’n riem uit ’n put in die skemer vertrek met die oop herd, waar die lang tafel en die banke, die kleivloer en mure ruik na rook en wyn en varkvet. Hy eet nie wat hulle daar onder wolke van stoom en houtrook opdis nie, maar koop spaarsaam op die mark: brood, wit kaas, olywe, en eet alleen. Die krummels gee hy aan mossies op die grond.
Omdat sy kamer nie ’n venster het nie, gaan hy ligdag en sononder in die binneplaas waar ’n rooi haan en drie swart henne skrop, draai sy gesig suid, in Jerusalem se rigting, en bid stil met sy hand op sy jeukende agterkop.
Voormiddae skryf en lees hy briewe vir ’n inkomste. Hy huur by die markmeester ’n slagtersblok en twee dennestompe, een vir hom, een vir sy kliënt, wat hy onder ’n digte groen boom met trosse pers blomme soos druiwetrosse neersit. Langs hom vreet vier esels aan ’n gerf hooi, op die voorste een se flank staan Te Koop met pik geverf.
Op sy blok is ’n kissie met velle papirus, ink en grys poeier wat hy van droë seeskulpe gemaal het. ’n Bejaarde moeder leun bedroef vorentoe, haar tandelose gesig geploeg deur weemoed. Sy noem haar naam en die van haar oorlede man. Nagri moet asseblief skryf aan ’n varkboer anderkant die grens, die vriend van haar man se oorlede niggie se man, of enigeen daar wat van die meneer weet, om te verneem na haar seun. Hy is weer weg, nou ’n tyd al. Verneem net, en sê . . .
Nagri vra uit tot hy omtrent al die moontlike weet, skryf haar brief en lees dit voor. Toe sy knik, onderteken hy dit: Deur Xenos op die mark in Bisantion, en klad dit met poeier. Hy vra haar ’n obolos, en sy betaal hom met elf groot ganseiers.
Agter haar wag ’n ou man sonder ore, in die heupe geknak en met die dik, wit riwwe van kettingswere om sy nek en enkels. Sy yl hare is geel van see en son, sy seningrige arms en dun wange is die persbruin van gerookte vis. Hy haal ’n strook sweetgevlekte papirus met ligbruin sproete soos antieke bloedspatsels uit sy mus en rol dit met stram vingers voor Nagri oop.
Die skrif is Egipties. Satrap Esedras se seël links onder lyk maklik om te vervals, maar die straf vir so ’n oortreding maak dit onwaarskynlik, amper onmoontlik. Die man druk op die papier met ’n krom, knopperige bruin wysvinger met teer onder die nael: Wat is dit, wat sê dit hier, Meneer?
Dit is ’n ontslagbrief uit die galeie. En hulle wil hom nie glo nie, by die heilige Aphrodite. Hy probeer hier ’n lewe maak met ’n huurskuit, maar kaptein Etenikos van die stadswag, hy stuur elke oggend iemand: Hy moet geld gee anders vat hulle hom weer suid. Met sy polse teen mekaar beduie hy boeie en kettings.
Nagri kyk rond. Twee soldate in die swart-en-geel van die stadswag loop hande agter die rug van kraam tot kraam, weg van hom af, hulle luister na pryse en kyk na die ware en die mense agter die tafels, hulle patrolleer hier vir orde en eerlikheid, maar loer vir ’n groet, ’n geskenk, of ’n knik met betekenis. Hulle beurt het pas begin, later sal hulle op die hoek gaan staan en die vrouens straataf dophou.
Sal jy in gewone taal skryf wat dit hier sê, Meneer? Ja. Wees versigtig, Meneer, verwag moeilikheid hieroor.
Nagri doop sy pen en skryf: Saolos van Skios, gevonnis tot vyf en veertig jaar op die koning se galeie oor verkragting, ontsnapping en diefstal, is na voltooiing van vonnis vrygestel. Met die seël van satrap Toth-Ammun-Esedras, in die vierde jaar van koning ArtaXerxes. Deur Xenos vertaal op die mark in Bisantion. Hy strooi poeier oor die ink en blaas dit van die papirus af, die stowwerige lug tussen hulle flikker ’n oomblik van perlemoen.
Nagri wil goed doen aan die armes en verdruktes, en wil nie die soldate se aandag trek deur sy vreemde aksent nie. Hy fluister: “Wys dit aan goewerneur Aristarkos se klerk.”
Die roeier luister met sy kop laag en ’n maer hand agter die harige gat van sy oor, sy tandelose mond hang oop. Hy fluister terug: “Nie aan die stadswag nie?”
Pasop. Miskien is hy as spioen gestuur. Antwoord hom nie.
“Ek was nie vanmôre see toe nie, Meneer. Hulle het my spane toegesluit daar in die vesting. Kan ek môre kom betaal met ’n bossie vis?”
“Ja, vis is goed.”
Nagri hoor die Joodse taal daar, in kramers se gesprekke agter die tafels, maar met ’n ander uitspraak as dié van die Joodse slawe in Babilon. Oor sy outydse uitspraak en die geheim van sy sending praat hy met hulle Grieks, en stel hom as Xenos, vreemdeling, voor. Hy vra of hulle Jerusalem toe gaan. Nee, volgende jaar, volgende jaar.
Op die hitte van die dag vou hy sy bruin velkombers dubbeld op die dik strooi by die kamerdeur, stut sy rug teen die muur en werk met ’n plank op sy skoot aan die verhaal van hulle aftog. Hy sny die skag van die grys pluim wat hy by Trapezum aan die Swart Kus uit die hemel ontvang het tot ’n punt, doop dit in dik bruin ink en skryf die vertikale en horisontale wiggies van die Persiese taal: Sonder Xenophon was daar geen leër nie, sonder die leër geen Xenophon nie. Hy oordink elke sin tydsaam en besluit oor inhoud en woordorde voordat hy dit neerskryf. Hier in die roerlose warm lug droog die ink gou, in die berge was dit soms dae lank in die horing gevries.
Saans skryf hy by die tafel in die groot kamer met die oop herd waarvan die boonste vetterige swart stene nog effens hitte het, tussen ’n rokende olielamp en ’n krom kers wat na bokvet ruik. Vir dié voorreg betaal hy uit sy inkomste. Hy stoot die herberg se swart kat vloer toe en rol die generaal se teks, met potlood dof op ongebleikte katoen geskryf, langs hom oop. Hy som dié teks op, hy laat dele weg, hy herskryf dit na eie behoefte, na die wens van die Vaders en vir die Verlosser se doel alleen.
Nie alles wat met hulle op daardie verskriklike reis gebeur het, staan in die generaal se relaas nie. Hy sê byvoorbeeld nie hoe verkenners die jong prinses Eleuda-Marta se stoet in die woestyn teëgekom het, haar lyk met ’n onthoofde jaar oud kind in elke arm, in heuning gebalsem op ’n wa waaruit donker stroop drup, en omgewe deur wolke vlieë, elke malende naaf ’n deeg van sand en brommers, hul geluid soos dié van honger soldate wat die kospotte ruik. Daar was goud, perde en haar lyfwag se wapens om te buit toe hulle self nog nie eens boë gehad het nie, haar arms en hande was swaar van sierade, maar niemand wou gaan nie. Dit was vreemd. Maar dit maak nie meer saak nie, die aftog is verby. Xenophon se taak is klaar. Syne begin.
Hy ken die generaal se kodes. 3.36. NNV. 2 beteken hulle het drie dae marsjeer, 36 myl gevorder en twee dae by Nineve oorgelê. Dié spookagtige stad, waar die profeet Jona ernstig met God verskil het, onthou hy as ’n groot verlate begraafplaas langs ’n droë rivierbedding, met woestynsand manhoog teen uitgewaaide mure. Hy was daar op die aftog, nie met die opmars nie – die stede van hulle opmars ken hy nie.
Sy styl is soos smeewerk: woorde tot frases, frases tot sinne met spraakritmes; as jy dit stadig lees, moet jy ’n tempelpriester se inkantasie kan hoor: Ek is Nagri die Jood. Ek is die swaard, die pyl wat vlieg. Ek is die engel gestuur om julle kinders se skedels teen mure te verbrysel. Ek is die doodskadu. Waarheen vlug julle? Daar is geen skuiling nie.
Hy luister. Sy sinne ontbreek aan nederigheid. Hy moet daarteen waak. Dit is die swart vrug van jare lange haat. Dit is gepas dat profete oortuig en vurig oor hulle taak voel, maar altyd met ’n onderdanige hart. Vir homself, totaal niks, sy beloning is om vir die Verlosser ’n fakkel te dra en in sy skadu te loop. En die Verlosser gaan ’n Griek wees, een vir eenvoud, matigheid, kalmte en orde. Maar die teenwoordigheid van haat in sy gemoed erken hy, net soos die aanwesigheid daar van die bose.
Nagri maak met sy regterhand ’n afdak oor sy oë, hy wys met die pluim verby sy kers se flikkerende blou pit na die sluipende skaduwees wat lyk of hulle saamsweer in die verste hoek van die kamer. Hy fluister om die klanke van sy eie taal te hoor: “Wagte, watter strydkar is dit? Wie kom daar aan? Dit sal kaptein Jehu wees, my heer. Hy jaag altyd soos ’n besetene.” Boek van die Konings, tweede deel, negende hoofstuk, vers agttien tot twintig. Dit is die taal. Maak ’n Joodse geskiedenis, ’n nuwe boek. Vir ’n koning in ’n koets en ’n dame in haar reiswa sal sy manuskrip ’n stamperige rit wees op ’n ongebaande pad, langs afgronde, langs die rokende puin van verbrande stede waar die verlate strate met ontlasting en bloed geplavei is en die nagwind ruik na dood en perdesweet. Hulle sal verneem hoe soldate perde bergop sleep, van soldate en hoere in die hete bed, van matrose geketting aan spane en banke, van gekruisigde kinders.
Hy begin weer: Ek is Nagri die boodskapper, getuie van wonderwerke. Hy haal die Farao se Boekrol van die Dooies uit sy geheue en vervang by elke geleentheid Amon-Ra se naam met sy eie: Ek was die eerste bries wat oor die donker oseaan van ewigheid waai, ek was die eerste lig, die eerste sonop, ek was in die begin van dinge. Enige Jood sal dit herken, die profeet Moses het dit as openingstrofes van sy Genesis gebruik.
So bly Nagri van die môre tot die aand besig. Langs die paragrawe waarin gevegte beskryf word, het die generaal ’n swart ster geteken om name te merk van dooies én van oorlewendes wat hul op die aftog onderskei het. Nagri doop sy pen in swart ink en maak elke puntige ster rond, doop ’n ander in rooi en teken vier kelkblare om die donker hart, ’n papawer op ’n skraal stengel, elke blom so groot soos sy duimnael. Soos ’n rooi-en-swart ketting strek dit teen die kant van sy boekrol af. Mensbloed. Dit was ’n moeilike reis, elke myl daarvan betwis, en hulle het ’n wye, rooi spoor gelaat vir gelukkige kraaie om oor te dans en tevrede vlieë om oor hande te vryf.
Soms gaan hy laatnag buitetoe om in agterstrate te wag met munte in sy hand. Hy wag op hoeke, hy wag onder die lanterns buite taphuise en bordele dat vrouens met die maskers van koorlede na buite kom, dan bied hy hulle van die geld aan wat sy weldoener hom geskenk het. Hulle runnik van skrik vir die groot baardlose man met woeste hare; hulle vloek, spot hom, klap die geld uit sy hand, gil vir ander om te kom kyk. Elke keer laat hy die geld op die plaveisel, hulle mag weer daarna kom soek.
Soms gaan hy uit om na die sterre te kyk, hoe hulle in hulle wit en blou en geel miljoene oor die donker Bosporus wemel. Hy haal skaars asem, hy dink hulle behoort aan die hemel en is die geeste van gestorwe mense. En tussen hulle swem die planetai, die swerwers, na die oomblik waarvoor hy, tot sy ewige dankbaarheid, uitgekies, gebore en opgevoed is. Hy ondersoek hulle bewegings, of dit al neig na die skitterende fakkel wat die geboorte van die Verlosser sal aankondig, maar merk nog niks ongewoons nie.
Soms word ’n ster gelos en val dit brandend, rooi vir ’n oomblik, weg in die donker.