Читать книгу Afstande - Dan Sleigh - Страница 4
Skopos
ОглавлениеNagri se verhaal lê in die stilte tussen die Ou en Nuwe Testamente, anderkant geheue, anderkant kennis. As bakens vir sy verhaal noem ek hier enkele fatale gebeure, maar daar was vele soortgelyk, of erger, ook in lande waar nie geskryf is nie, of op plekke waar niemand oorleef het nie.
Koning Nebukadnesar van Assur verwoes Jerusalem in 586 v.C. en sleep die Jode as slawe na Babilon, wat hy tevore van die Chaldeërs verower het. Twee Ou-Testamentiese profete later word die stad van sy seun, Belshahar, afgeneem deur sjah Kuros se Perse, soos ’n engel vir hom, die voorkennis teen ’n muur geskryf het. Twintig jaar later regeer sjah Kuros oor vier-vyfdes van die bekende wêreld. Sy ryk (imperium, rijk, empire, Reich) strek oor Mesopotamië, Arabië, Assurië, Lidië en Egipte, van die Indus tot die Nyl. Egipte is hernoem tot satrapi Mudraja; elke naamsverandering moet opnuut sout in die wonde vryf. Ongeveer daar eindig die Ou Testament, met die Jode in ballingskap, ongeveer dáár pas die wraakgebed van Psalm 137 in, wat Nagri as “Die Wasvrou se Lied” geken het. Die Griekse woord psalmos beteken ’n pluk aan ’n harpsnaar óf ’n boogsnaar, uit heimwee of vir vryheid. Presies so het Nagri dit gesing.
Nou kyk Persië noordwes, oor sy woestyne en oor daardie smal see heen na die land van die Hellene. Sy nuwe naam sal satrapi Eleni wees. Sjah Darius se aanval op die Hellene in 490 v.C. word by Marathon afgeweer, maar tien jaar later probeer sy seun Xerxes (Sjah-’ar-Sjah, sy titel is sy naam) dit weer, met ’n invalsmag van een en ’n half miljoen. Nege Weë sal vir altyd onthou word, en Termopulai, waar die rooiblom die geilste groei, in bloed en spier en brein en murg en been gewortel. Xerxes brand Athene af, maar word op see by Salamis en Mikale verslaan; dít was die muur van hout wat die orakel beloof het: Skepe, nie skilde nie.
Die goue tydperk van Athene onder Perikles, eerste burger, dramaturg en soldaat, begin omtrent 460 v.C. met ’n besef van identiteit en ’n opbloei van die kunste en wetenskap. Omdat omstandighede ideaal daarvoor is, eksperimenteer hy ook met die demokrasie. Dan dink hy aan veiligheid sodat dié kosbare kind, die kiem van vrye denke en die saad van die latere Westerse beskawing, nie in die wieg vermoor word nie. Hy fortifiseer Athene en verbind stad en see deur middel van die Lang Mure. In die suidweste voel Sparta se bitter politici hoe die mag uit hulle hande gly.
Die oorlog tussen die Spartaanse Bond en die Bond van Delos, gelei deur Athene, begin in 431 v.C. Onder die halfmiljoen plattelandse vlugtelinge wat tussen die Lang Mure skuil, breek pes (waarskynlik pokke) uit. Perikles sterf daaraan, en daardie selfde jaar word Xenophon in Athene gebore. Ná ’n dekade van oorlog sonder uitkoms onderneem Sparta, in ruil vir goud om ’n vloot te bou, om al Persië se aansprake op die Egeïese eilande en Asië (vandag Turkye) te erken. Nog één dekade van oorlog, en Sparta verower die landbougebied noord van Athene. Voedselproduksie verval. Van 404 v.C. beleër hulle Athene. Honger noodsaak totale oorgawe. ’n Skrikbewind van drie jaar volg.
Siklusse begin, sommige eindig, ander gaan voort, alles amper onmerkbaar in tyd se groter wentelinge. Met tienduisend Helleense huursoldate lei prins Kuros in 401 v.C. ’n staatsgreep teen sy broer sjah ArtaXerxes van Persië. Die gewese Lughawe Saddam Hussein buite Bagdad is ongeveer waar die slag van Kunaxa geveg is. Xenophon van Athene, soldaat teen wil en dank, beskryf hulle opmars daarheen en aftog daarná. Nagri die Jood probeer die hele ekspedisie in ’n tydsiklus pas. Saam teken hulle die toekomskaart vir Aleksandros, die sogenaamde Grote.
Athene verban Xenophon demokraties omdat hy teen Sparta se bondgenoot geveg het, en veroordeel Sokrates, wat teen die demokrasie gewaarsku het, demokraties tot die dood. Die wêreld kreun om verlossing.
Die Tyd van die Ram was op hande. In 338 v.C. verenig Philipos II van Makedon (soos dit hóm pas: met staal, bloed en vuur) al die Helleense stadstate in een ryk. Twee jaar later volg sy twintigjarige seun hom op as Aleksandros III, wie se naam Helper van Mense beteken. Sy roeping is die uitwissing van die Persiese Ryk. In 333 v.C. kruisig hy tweeduisend verdedigers van Tirus rondom hulle stad, die jaar daarna word hy in die Tempel van die Ram in Egipte tot god verhef, die volgende jaar verslaan hy sjah Darius III en brand Babilon af. Só eindig die Persiese Ryk. Nagri se sending is voltooi, maar ook nie: Die profeet moet leef tot hy die Verlosser gesien het, moontlik dus vir ewig. Sy evangelie eindig met die woorde: Moenie wens om vir ewig te lewe nie, dié wens kom uit vrees. Leef vreesloos. Xenophon het sy gode oorleef, kan dit nie met julle ook gebeur nie?
DAN SLEIGH
Pinelands