Читать книгу Afstande - Dan Sleigh - Страница 7
Xenophon en die spel van konings
ОглавлениеDít was die generaal wat, soos die walvis vir Jona, vir Nagri moes besorg waar God hom wou hê. En net deur te vra, oor ’n lang tyd, ongemerk en klein bietjies op ’n keer, kon jy iets oor die man te wete kom. Oor die res moes Nagri berekende afleidings maak. Xenophon het hom byvoorbeeld self vertel dat hy die orakel by Delphi gaan vra het aan watter gode hy moes offer. Die proses sluit vanselfsprekend ’n reis te voet in met ’n slaaf en ’n os. Só.
In Bisantion het die son nou agter die herberg se dak ondergegaan en die binnehof lê in skaduwee. Die twee swaels sit styf teen mekaar op ’n lat onder die dakteëls. Nagri vee die ink van sy penne af aan ’n bruin lap geskeur uit die soom van die rok wat hy met die aftog gedra het, rol sy boeke toe en pak dit weg. Dit is tyd vir sy aandgebed. Hy was sy hande en gesig, druk dit droog aan die doek wat agter sy deur hang, en gaan in die binnehof staan met sy voorkop teen die suidelike muur geleun en sy regterhand op sy agterkop, waar die hare nou afbreek tot kort, skerp stoppels. “God van ons vaders Abraham en Jakob,” fluister hy, “ek dank U vir die krag en wil, en die moed wat in my brand. Dankie dat U my uit die slawehuis laat wegkom het. Dankie vir u knegte Xenophon van Athene en die tienduisend broers wat my tot hier gebring het. Dankie vir die geleentheid om die Verlosser se koms te verkondig en ’n einde aan die Perse se verskrikking te help maak. Wys my die pad en die plek en die tyd. Laat my stem sterk en my boodskap duidelik wees. Amin.”
Na sy aandmaal van kaas, olywe en brood loop hy in die steeg voor die herberg af tot hy die see kan sien. Daar is nog nie sterre nie, maar in die skemerlug flikker vlermuise verby, klein en swart, geluidloos maar blitsig soos slingerklippe. Hy loop heen en weer voor die herberg en dink oor sy manuskrip tot hy meen dat die laaste reisigers die eetkamer verlaat het. Dan neem hy sy skryfgoed daarheen, stoot die swart kat van die tafel af – nêrens in die Wette, Kronieke van die Konings, die Liedere of Profete sien jy ’n enkele verwysing na katte nie – en rol sy boeke by die lamplig oop, die generaal s’n met die swart sterre en sy eie met rooi blomme.
’n Moeilike man om te ken, ja. Maar te midde van die Tienduisend was Nagri en Xenophon, twee vreemdelinge byeengebring deur gedagtes oor ’n moord op ’n koning en die oortuiging dat ’n god hulle daarin lei. Om die generaal was ’n gordyn van waardigheid waardeur dit onbehoorlik sou wees om te probeer kyk. Veral op parade kon jy sien hoe afgesonderd hy is, altyd alleen. Dit is hoe die tienduisend soldate hom geken het. En om die Athener Xenophon was die muur van privaatheid en formaliteit. Selfs op skrif het hy na homself in die derde persoon verwys. Jy kon brokkies uit sy verlede hoor, by hom of by ander soos Agasios wat sy vertroue volledig geniet het, maar nie veel nie. Jy moes hom altyd uitlok sonder dat hy dit agterkom.
Dit is te betwyfel of Xenophon as jong man noue vriendskappe gehad het. Hy het nie omgegee of enigeen van hom hou nie, maar was sensitief oor sy reputasie. En sonder familie. By Kotiora, die verskriklike plek, daardie hel van openbaring en wanhoop, het hy eenmaal van enkele familielede gepraat, sy pa, ’n tante en ’n jong suster wat deur vreemde soldate weggesleep is. Feitelikhede omtrent die generaal, dit skryf Nagri, en soms spring daar onverwags gedagtes op in sy verbeelding soos wilde honde uit gras: daar is stemme, klanke, slae, kleure, reuke en gebare. Dan soek hy beelde uit en kies en keur af, vóór enigiets in die profeet Nagri se boek neergeskryf word.
Xenophon is formeel, met ’n netjies geskrewe uitnodiging op skaars en duur perkament, by die spel van konings betrek. ’n Matroos met die naam Hermesion het dit van Piraeus gebring, en hy het die man met ’n skilpad en ’n kop kool betaal, verleë oor sy armoede.
Hy het ’n karige bestaan gemaak deur tekste van die meesters Tukidides, Aeskulos, Aristofanes, Euripides, Sofokles en ander uit sy boekekis te kopieer vir die stad se enkele gegoede bibliofiele. Die glorie van Griekeland, die glorie wat Griekeland was, sou deur sy toedoen voortbestaan, in afskrifte, veelvoudige afskrifte, van goeie tekste. Hy was oortuig dat as Sappho die Geliefde vergete raak, omdat in hierdie eeu van oorlog en armoede geen kopieë gemaak is nie, die wêreld sekerlik donkerder en die lewe nog armer en minder werd sou word. Deur die gode se genade was daar nog mense wat gewillig was om vir dié bewaring te betaal, en daarom kopieer Xenophon getrou terwyl hy stry teen die verlange om op die meestertekste te probeer verbeter. Dit is ’n sorgvuldige, tydrowende en swakbetaalde taak. Deels oor deeglikheid, deels uit spaarsaamheid en deels omdat hy alleen wil wees, gebruik hy nie ’n voorleser nie.
Gelukkig is daar die groentegeld; langs sy huisie het sy slaaf groente geplant en oor die tuinmuur verkoop. As hy geselskap soek, dra die ou luiaard soms ’n mandjie vol mark toe. Sy teenwoordigheid in die huis is ’n irritasie, maar iemand moet groente kweek. Xenophon praat so min as moontlik met die man.
Daar is ’n koue trek deur die huis. ’n Buitedeur staan oop.
“Skryf jy nooit iets van jou eie nie, Meester?” vra sy slaaf.
“Ek hoor die Muse net in my slaap. Dit bly drome.”
“Tog sal jy kan. Jy het so baie gelees.”
“Eendag. ’n Arm man moet eers sy bestaan maak.”
“ ’n Vrou sal help.”
“Soek vir jou een.”
“Nie vir my nie. Vir die huis. Hierdie huis het ’n vrou nodig.”
Xenophon kyk nie van die manuskrip op nie, maar sit sy vinger by die plek waar hy laas gelees het, laat sy hand met die pluim op die tafel rus en maak sy oë toe. “Soek jy iemand anders om ’n eier te kook en ’n paar stukkies wasgoed te bleik? Ek sal dit self doen. Ek is besig, maar ek sal dit doen.”
Toe haal die slaaf sy hande agter sy rug uit. “ ’n Brief, Meester. Die man wag buite.”
“Gee.”
“Ek is sewe-en-twintig jaar by jou,” het die slaaf gekla. “Jy ken my naam.”
Die brief was van sy neef Proxenos wat met ’n regiment huurtroepe by Sardis lê, en het begin met die gewone groet gevolg deur brokkies oor sy neef se gesondheid en die afsterwe van veraf familielede. Dan: Onthou jy hoe die Perse ons laat raai het? Wie is dié mense wat duisende myle ver oor woestyne, berge en seë kom om Hellene te vermoor, ons huise plat te gooi, ons boorde af te kap? Waarom? Haat hulle ons regering? Láát hulle, ons haat hulle ook. Is ons grond meer vrugbaar, ons meisies mooier, ons slawe geduldiger?Is daar ’n goudmyn in Hellas ontdek waarvan ons nog nie gehoor het nie?
Jy het my Spartaans geantwoord, Neef: Miskien is daar nie genoeg grafte in hulle land nie, en ’n skrywer aangehaal wie se naam ek vergeet. Ek het jou só verstaan: Wie oorsee sterf, lê in grond wat sy gode nooit besoek nie. Ja, so glo ons, maar wat in Apollo se heilige naam het ek of jy met Persië te doen, en hulle met ons? Dit het ek nie verstaan nie. Onthou jy hoe ons snags die liewe maan uit die lug geraai het hoe dit lyk daar waar hulle woon en mekaar vertel het wat ons hoor oor stede met geverfde mure, bruin wyn wat na rosyne ruik, klere van gestreepte katoen en geblomde sy, al die goud waarvan die wêreld praat, al die silwer en ivoor en die edelste van gekleurde stene? Ons kon net raai, en wens. Ek wou gaan kyk.
Nou, my neef, is hier ’n kans vir jou om daardie bose land self te sien. En in die beste geselskap, want ek nooi jou persoonlik. Ek het die vriend geword van ’n sekere prins wat wil koning wees (hou dit stil, agter die tande-heining soos my oupa sou sê) en hy het my gevra om ’n regiment ervare Hellene vir hom te monster. Ek gaan ’n groot naam en ’n sak vol geld hieruit maak. Hy sê sy ekspedisie is net teen rebelle in die provinsie waaroor hy satrap is, maar ek laat my kop afkap as ons nie veel verder oos trek en as helde gaan terugkom nie. Die ander rede is, ek verlang na jou wysheid. Ek sal jou aan die prins voorstel en wapens en twee perde gee.
Proxenos sluit af met die gewone soldateklagtes: Hy wens die prins wil onderweg kom, Sardis is vervelig, die prostitute is middelmatig maar duur, die bier dun, die perde stadig, die verdomde kamp staan te ver van die see af. Die gesellige hartlikheid is eie aan Proxenos, maar die brief is nie sy eie werk of selfs in sy handskrif nie. Dit is deur ’n geskoolde hand geskryf. Onderaan staan: Deur Kalakalos, openbare skriba op die mark in Sardis.
’n Uitnodiging om deel te neem aan die spel van konings, dít is wat Proxenos se brief beteken het. Sy neef verwys na die geleentheid om die bron van al hulle onheil te sien, maar wat hy wil hê, wat hy nodig het, is ’n regimentele skrywer en geselskap. Dit is goed, dink Xenophon, want werk hier het skaars geword. Hy ondersoek sy kaal werktafel met die leë inkhoring op sy staander, swart inkvlekke in die hout en die lampie van onversierde klei asof sy eie verlede en toekoms daar geskryf staan, en besluit om te gaan. Hy is ’n arm man, sy jeug amper verby, en nou toets hy sy geluk teen ’n koning. Wat ’n dwaas.
Xenophon besoek sy gewese leermeester Sokrates agter die digte granaatheining waar die ou man in ’n takskerm woon ná sy vrou hom weggejaag het, net vel en been met ’n vuil kleed en olierige strooihoed. Op skeenhoogte bo die grond is ’n lang riem tussen twee stokke gespan. Sokrates loop na links en na regs, praat met die riem, dui verskillende plekke met sy vinger aan. Verslete sandale klap onder sy voete. Hy kyk op toe Xenophon groet. Onder een oog is ’n persbruin geswelde kneusing. Die mandjie met groente en brood aanvaar hy dankbaar. Hy kyk nuuskierig binne-in.
“Jy kom iets vra,” sê hy. “Die ander weet reeds alles.”
“Wat het die Perse teen ons Hellene?” vra Xenophon.
Sokrates kyk in die mandjie, haal die brood en kaas bo-op weg en vroetel tussen die groente. “Is dit miskien oor wat ons was en weer kan word? Hulle is maats met die gewelddadige Sparta, maar bang vir óns. Wat, wat? Dink jy dit is moontlik?”
“Bang vir ’n staatjie van argitekte en digters, Meester?”
“Reg. Onthou óns het Epidaurus se perfekte amfiteater gebou. Dit is in óns taal dat Homeros, Sappho en tien ander geseëndes skryf. Wat, ou Homeros? ’n Onbegraafde lyk. Onthou net hierdie stad toe Perikles ons eerste burger was. Was dit nie die hoogtepunt van menslike bestaan in hierdie streke en ’n monument vir wat óns was nie? Al verdwyn ons volk eendag, al word ons vir ewig as slawe weggevoer, of bestaan nog net as die eienaars van vis- en groentewinkeltjies in vreemde lande, sal besoekers aan Epidaurus altyd vra: Wie op aarde was hierdie mense?”
Dit was die egte Sokrates, die mandjie vergete aan sy arm gehaak, sy twee hande bak gehou met die vingers effens oop asof hy iets gewigtigs daarin wil ontvang, en die uitdagende, tergende vrae.
Sokrates hou nie maklik op wanneer hy aan die gang is nie. Xenophon gee hom kans om jong uie tussen die groente uit te grawe, met sy duimnael af te dop en te eet met ’n brood wat hy in vier gebreek het. Dan, amper uitbundig agter die groen heining vol jong granate: “Ons kry goddelike talente, goddelike inspirasie, goddelike leiding. Daardie amfiteater, daardie Sappho is goddelike stukke. Ons het kennis gesoek van die rekenkunde, geografie, navigasie, argitektuur, medisyne. Ons het genoeg brood en wyn gehad en was vry om elke dag nuwe gedigte te skryf. Die Pers, my seun, kan nie ’n vry volk van dromers en digters bekostig nie. Die skeppende denker is sy vyand. Hy moet ons monumente verwoes. Wat, wat? Kan dit die oorsaak wees? Die bose is bang.”
“Ek weet nie,” sê Xenophon versigtig. Onkunde en vooroordeel is miskien die enigste sondes waaraan die gode nie self skuldig is nie; daarsonder sou almal goddelik wees. As Sokrates reg is, behoort hy Proxenos se donker prins te volg om ’n goedgesinde vors op die Persiese troon te probeer kry, die vaderland se onafhanklikheid te herwin, die oorloë te beëindig en vrees uit die stad te weer.
Dan vertel hy Sokrates van sy neef se voorstel, en dat hy oorweeg om dit te aanvaar. “Vir die demokrasie,” sê hy.
Sokrates antwoord dadelik: “Wat, wat, wat?” soos wanneer ’n pot oorkook en druppels op die warm as plof. “Vir demokrasie, sê jy? Wie het jou dié woord geleer, Xenophon? Het jy dit nie hier op die mark gehoor nie? Dit is waar dit hoort.”
Hy kyk toe hoe die ou man ergerlik met sy knopperige, krom vingers die kurkprop uit ’n wynfles draai en ’n paar keer diep sluk. Wat het hy verkeerd gesê? “By jou self, Sokrates,” sê Xenophon. “Nog verlede week. Die stad praat oor jou. Dit is die trots van Athene.”
Weer sluk Sokrates, rustig nou, dat hy nie stik nie, die adamsappel dans tussen bruin gordyne sonverbrande keelvel. Sluk, sluk, sluk, dan kom hy boontoe vir asem. “Toe ek die woord sê, het ek gelag,” sê hy met ’n snak. Wyn drup by sy mondhoek uit. “Julle het gesien ek lag, maar nie gehoor ek huil nie, want julle het hard hande geklap, jy en hierdie hele arme stad. Demokrasie was maar ’n eksperiment van Perikles omdat sy tyd gunstig was, die kort rukkie destyds toe soveel van ons Atheners amper beskaafd was. Maar die wêreld het sleg geword en nou klou arme Athene liefdevol aan demokrasie se koue lyk, te dom om dit te los. In enige stad, in enige huis, is die wat nie hul verstand ontwikkel het nie in die meerderheid. En die meerderheid is gewoonlik verkeerd. Die demokrasie sal altyd die vyand wees van regering deur wysheid en uitnemendheid. Al wat die demokrasie lewend hou, is die meerderheid se eis dat geen kop hoër as hulle s’n mag wees nie.”
Nou beduie Sokrates met ’n kwart van ’n potbrood in een hand en die wynfles in die ander. “Die meerderheid is ’n tiran, en dit pas politici. Hulle gee volle erkenning aan die dierlike liggaam, maar nie aan die goddelike gees nie. Hulle laat uitnemendheid verdwyn in die massa se modderpoel van algemeenheid. Dan gee hulle aan elke man, of hy wys is of dwaas, een stem, noem dit demokrasie en sorg dat almal hoor hoe daar niks was vóór die wonderlike demokrasie nie. Uitnemendheid en talent word geïgnoreer asof dit deur ’n skelmstuk verkry word. Jy sal glo as jy hoor dat atlete kreupel geslaan is in die naam van demokrasie. Uitgestem, mag nie deelneem nie! Atlete, uitgestem, hoor jy? Oral vind jy dat die beste téén die demokrasie is. Wat, wat? Moet die miere regeer omdat hulle die meeste is? Een wet vir die skaap én die leeu? Dit is meer as onderdrukking. Dit is slawerny.”
Xenophon het met ontsag geluister. Toe vra hy aan sy meester watter van die gode dalk die verwoesting van hulle vaderland veroorsaak. Dit is wat hy wil weet.
“Gaan vra jy die orakel wie of wat die Persiese vloek veroorsaak. Oor die gode se kinderagtige getwis moes Odusseus dekades lank swerf, die slagoffer van hulle sinlose wispelturigheid, wat ons hier onder naïef die noodlot noem. Wat dink jy, wat gaan al weer aan, daarbó? Gaan, gaan vra jy dit in Delphi.”
Toe hulle groet, wys hy met die leë mandjie waarin die leë fles nou lê. “Die riem, Meester?”
“Tyd, my seun! Die groot illusie. Ek het dit uitgewerk. Ek vermoed dat dit nie bestaan nie.” Hy beduie ernstig, lewendig, sy hande vol brood en sout olywe. “Die riem wys jou dat as jy sy twee punte ignoreer, sien jy dadelik die hele storie daar: Ons meet die duur van gebeure en die pouses tussen gebeure. Agt tellings, twintig tellings. Dit noem ons tyd. Sien jy? Wanneer jy terugkom, gee ek jou dit op skrif, as jy my miskien ’n stukkie papirus en ink kan bring. Wat, wat?”
Xenophon verlaat sy meester wat langs sy takskerm staan soos ’n enkele boom op ’n windgestriemde plato, sonder trots, kaal, krom en verweer.