Читать книгу Afstande - Dan Sleigh - Страница 9
Die soldaat
ОглавлениеXenophon offer soos hy aangeraai is, verpand sy paar boeke, koop skryfgoed, klere en medisyne, betaal vir ’n plek op ’n skip en verlaat sy huis en die stukkie grond waarop sy meeloper sukkel om groente te kweek. Kraalmis moet hy hê, die uitgeputte grond vra mis, maar daar is geen geld nie, ook geen vriende om te groet nie.
Hy loop met sy stok en bondel die dagreis tussen die stad en die see, tussen die twee rye oorgroeide puin van die Lang Mure wat die oorlog veroorsaak het, tot hy die pekelkuipe van die vissershawe kan ruik. Daar is min vragskepe langs die kaai; Athene se handel, soos sy kultuur, het doodgebloei. Sy armoedige skip lê lank in ’n stinkende hoek van Piraeus se hawe waar die getye verbleikte dryfhout, ou sandale, geel kolle braaksel en pienk, verdrinkte honde bymekaar stoot. Hulle laai nog vrag: gebeitelde wit markmerblokke, timmerhout, soutvis, huide, olie, wingerdstompies vir brandhout, vye, byewas, wyn. Taai, dadelbruin matrose werk aan dek. Die see is rustig onder ’n wye blou lentehemel.
Dan kom die westewind, en hul ontsnap uit die baai se lang, bleek omhelsing. Die koers is suid, dan oos, die bestemming is Efesos in Asië. Op die oop agterdek, in ’n hoekie waar hy nie onder die voete is nie, maak hy ’n rol ongebleikte katoendoek oop en skryf met potlood aantekeninge oor datums, plekke, tye van aankoms en vertrek en afstande in ’n soort kode: PIR vir Piraeus, PRX vir Proxenos, APL vir die heilige Apollo, SDS vir Sardis.
Efesos is ’n groter hawe, ruimer, met ’n breekwater teen die geweldige golwing wat die Aardskudder soms uit die oop see stuur, en met veel meer skepe as Piraeus omdat die hele Persiese Ryk hierdeur handel dryf. Sy strate, wat besiger as dié van Athene is en daagliks gevee word, is met ou blougevlekte marmer geplavei en glad geslyt deur tienduisende sandale. Hier, in die mees westelike satrapi van die Ryk, is die handel lewendig en die mark luidrugtig. Jy hoor vele tale en kry vreemde munte en vreemde kos, sterk gespesery en rooi en geel gekleur. Tussen twee heuwels agter die hawe staan die kolossale roomgeel tempel van Artemis, vyf of ses maal groter as wat die hoë Parthenon in Athene vroeër was. Met sy sak by sy voete en sy rug teen die hawemuur eet Xenophon brood en sout bokwors, was sy hande in die see en gaan kyk na die standbeeld van die godin Artemis, ’n wonder waarvan die hele wêreld weet.
Dertig, veertig skrotums van bulle – of is dit die borste van vroue? – hang oor die beeld se onderbuik. Dit lyk nie na ’n mens nie. Wat het die beeldhouer bedoel? Tog het sy ’n mooi en fyn gesig, en iets vreemds gebeur: Elke keer wanneer hy opkyk, is dit in haar oë; waar hy ook al in die tempelhof gaan, bly haar oë met meegevoel op hom.
Hy sluit hom op die wemelende mark aan by handelaars wat diere te koop gebring het en met negosiegoed teruggaan na Sardis, waar prins Kuros gekampeer is. Dit is wat oorlog doen: Ondernemende handelaars is selde spyt as oorlog kom. Sardis is waar hy sy neef sal ontmoet, deur die vreemde prins gehuur as ’n generaal vir sy leër wat bedoel is om oproerige onderdane te tem, maar soos Proxenos vermoed, dalk bestem vir iets wat die hele wêreld gaan verander.
Buite die stad loop hy met sy stok vooraan tussen die sederbome, met sy kampanjesak op sy rug. Toe ’n arend van naby aan sy regterkant skerp skreeuend uit ’n boomtop opvlieg, roep ’n man in hulle geselskap met die ligblou kleed van ’n waarsêer na hom: “Ek weet nie wie jy is of waarheen jy op pad is nie, vriend, maar ons is vereer deur jou geselskap.”
Iemand vra: “Wat is dit dan?”
“Iets buitengewoons,” sê die waarsêer hard, sodat Xenophon moet hoor. “Arende skree nie vir enigeen nie. Maar pas op, jong man, dit beteken ook moeite en swaarkry, omdat die arend sittend was.”
Die leier van die groep, ’n kort smous met ’n dik nek, breë skouers en ’n bors soos ’n biervat, steek sy stok op en skreeu: “Daar’s hy, Athener! Jy gaan ryk word. Ons sal graag op jou geluk drink, volgende herberg.”
“Spaar hom,” sê die waarsêer. “Arende jag in die lug. Geen rykdom nie.”
Sy reisgenote spot met sy armsalige lot en wys na ’n ry heuwels langs die pad, simmetries, mensgemaak. Onder elkeen lê ’n koning wie se naam en dade nou vergete is. Dáár lê roem, koud en dood. Wat is roem werd sonder geld? Kyk die groot skrywers, digters, almal broodarm sukkelaars. Liewer dan ’n befaamde sportman, want hulle het nooit ’n tekort aan geld of mooi meisies nie. Maar Xenophon loop ingedagte voort. Digters en waarsêers, party skryf drome, ander vertel drome. Mense soos hy. So loop hy verder, agterna geskreeu deur ’n bedelaar wat op een been staan met sy lyf om ’n stok gedraai: “Obool, obool, grote heer.”
Sardis, drie dae noordoos van Efesos, is die groen-en-wit hoofstad van prins Kuros se satrapi. Dramatiese pieke en steil rooi kranse omsluit ’n kom in diep skaduwee, waarin ’n tempel van Artemis in ’n gewyde olyfboord staan. Die suile toring agter bome, liggeel soos melk, sierlik soos dié wat vroeër op die Akropolis gestaan het en nou daar in stukke lê. Die stad is jonk en sterk ommuur. Die strate is met die streek se blou-beaarde marmer geplavei en nog nie deur gebruik geslyt nie. Xenophon let dié dinge met genot op. Hy is nog aan die begin van sy reis, aan die einde daarvan sal hy, sat van bloed en leuens, nie meer tussen mooi en lelik kan onderskei nie. Op gelyk grond langs die rivier staan duisende donkerbruin tente waartussen regimente van omtrent agthonderd man onder stofwalms heen en weer gedril word. Dit is nuwe tente van digte katoen, die opmars word duidelik ’n duur affêre. Sulke geld word nie spandeer op kort marse om ’n paar oproerige onderdane die kop in te slaan nie.
“Hou daardie moerskinders aan die draf !” rol ’n donderende stem vlak by hom. Ver weg blêr ’n trompet die bekende lied van afskeid, vertrek en verlange. Dit is die lied van die swaard. Rook trek by kookplekke, hamers klink by werkwinkels. Xenophon kyk na die bewegende toneel van honderdduisend soldate, op een plek bymekaargejaag soos vee. Hy ken dit van sy sestiende jaar af. Zeus se vuis? Nee, net die magsug van ’n prins bring almal hier, al sal hulle met persoonlike verskonings kom soos skuld, droogte, ’n gebroke huwelik, ’n onderneming wat misluk het of selfs jeugdige optimisme en avontuurlus. Sus en só sal hulle jou vandag vertel, die enigstes wat jy môre kan glo, sal die dooies wees.
In die herberg in Bisantion, waar die swaels hulle nes herbou, dink Nagri na oor wat Xenophon hom eendag in die berge gevra het terwyl die regiment honderde kamerade in bevrore aarde begrawe: “Wat glo die Jode, wat gebeur met die mens se gees as hy sterwe?”
“Dit styg soos ’n duif uit sy bors op, en rys hoër en hoër tot dit wegraak in die hemel,” het hy geantwoord. “En julle?”
“Hulle daal af in Hades en swerf daar in die skemer, koud, bedroef en verlangend na die lewe.”
Nagri wonder of Xenophon besef wat hy daardie dag by Sardis gesien het. Dit is wáár, só het dit gelyk, só het Xenophon dit self gesien. Maar verstaan hy wat hy daar sien? Die soldate is tog nie byeengebring weens die magsug van ’n prins soos hy geglo het nie. Xenophon besef dit nie, die versamelde troepe en hulle offisiere weet dit ook nie. Selfs prins Kuros en koning ArtaXerxes weet dit nie, maar hulle is pionne op ’n skaakbord. Die spel van konings het begin. Die prins het geskuif, ’n waagstuk. Sy broer het geantwoord, verdedigend. Kuros skuif nou weer, uitdagend. Die koning sal dadelik antwoord met al die mag, krag en wysheid van ’n heerser oor ’n wêreldryk.
Nagri buig oor sy boekrol en skryf: So spreek die Here. Die hand wat teen die muur skryf, is myne. ArtaXerxes van Persië is geweeg en te lig bevind. Sy land word van hom weggeneem en aan die Grieke gegee. Luister, hulle kom op die hoofweg aan.
Maar nog nie, nog nie, hy is te ongeduldig.