Читать книгу Afstande - Dan Sleigh - Страница 12

Die inval

Оглавление

Die prins kies die datum van vertrek in oorleg met sy sterre wiggelaar en kondig hulle marsorde af. Die leërs verlaat die stad en neem hulle plekke buite die mure langs die grootpad in. Uiteindelik. Jy hoor nou ’n opgewondenheid in die stemme en sien haas in wat gedoen word.

Xenophon is ’n amptenaar in die regiment van Proxenos wat deur die prins as agterhoede gebruik sal word. Een van sy pligte is om rekord te hou van wat in die regiment gebeur; rolle papirus en ink word daarvoor voorsien. Hy hou ook sy persoonlike joernaal oor plekke en afstande in verkorte skrif op ongebleikte katoen. Hy behoort ook ’n afskrif daarvan te maak, dit is altyd goed om ’n afskrif te hê. Hy ry op die merrie wat hy gekies het, met papirus en potlood in sy rugsak, om te gaan kyk na die optog wat ’n paar myl ver langs die pad soos ’n dodelike slang uitgestrek lê. Hy wil weet waaruit hierdie leër bestaan, uit watter mense en van watter streke, wat die slang se kop en geraamte en spiere en hart sal vorm. Hy wil presies weet wie aan die optog gaan deelneem en waar hulle te vind sal wees. ’n Hamer in Zeus se hand is hulle, maar mense, almal mense.

Vóór sal die lyfwag ry, met hul bruin borsharnas soos verroeste skubbe, dan die prins met sy rooi-en-wit vegkar en sy nuwe woonwa vir die gesluierde vrouens wat hy saam op die reis wil hê, dan sy twintig vars geverfde swart strydkarre met sekels aan die wiele; dan sal sy bruingeklede voetvolk onder generaal Arras marsjeer, dan sy ruitery in hulle grys en goud, daarna sy huishouding met vrouens, vriende, amptenare, babbelende bediendes en stugge slawe.

Xenophon lei sy wit perd verder langs die pad terug, verby die koninklike groep aan die voorpunt, dáár lê die lang, bont en onwelriekende konvooi van ossewaens met kos, water en bagasie, ’n wa met ’n smidswinkel daarop en muile en kamele gelaai met dierevoer vir ’n reis deur ’n woestyn. Hy sien hoe langs die pad teer gebrand word, ’n swetende Assuriese reus lig ’n wa met sy skouer dat die wiele afgehaal en gesmeer kan word, ’n trekketting word gelas, ’n tent gelap en perde beslaan, tentpale in bondels gebind. ’n Slaaf wat teen ’n wawiel gegesel word, bevuil hom. Sestig bokke word geslag en trekgoed vir die osse word op die grond uitgelê. Die reuk hier is van houtrook, derms en perdemis. Nog verder agtertoe is die dierewagters met los esels, osse en klaende kamele, duisende pakdraers te voet, die swaarbelaaide muile van tentmakers, tuiemakers, wapensmede, bakkersknegte wat meulstene aan pale dra, vet kokke, skraal musikante, akteurs met honger gesigte, hoeremeesters, ’n valkenier met ’n hok vol valke en ’n hondemeester met twaalf smal bruin jaghonde op strooi in ’n stink kou op wiele waarteen die stadshonde hulle bene kom lig. Daar is ook vier wit katte met blou oë en lang hare soos sybokke in ’n koutjie met hulle eie oppasser.

Omtrent ’n myl agtertoe, om uit die stof te bly, sal die agterhoede van Grieke met hulle wapendraers en bagasiewaens, vrouens en kinders, en ’n honderdtal handelaars met negosiegoed op esels en kamele volg.

Die laaste nag voor die opmars begin, maak hulle bondels en slaap sonder tente buite. Xenophon teken die marsorde in Proxenos se regimentele joernaal en in sy eie aan. Hy bereken dat daar honderd-en-twaalfduisend mense op weg gaan. Mag Apollo van Afstande elkeen help.

Met die bleekword van die oggendster word die Grieke met die trompet opgeroep. Hulle offer vroeg met graan en wyn, want oor die dou op die gras is hulle slagvee al voordag in die pad gesit.

Die hele wêreld kom om prins Kuros te sien vertrek. Die son se eerste blink strale deur die smal reghoek van Artemis se geel tempelsuile is die teken aan almal. Die tamboer begin dreun. Swepe klap en die osse en kamele steun en blêr waar hulle paksaals opgegord word. Stampende waens rammel stadig oor die harde grond. Onderoffisiere skreeu hulle hees in die stof. Die Grieke trek ordelik en grimmig deur die skreeuende mense wat van weerskante in hulle pad kom. Later, wanneer hulle buite sig van die stad is, sal hulle die blinkgevryfde helms afhaal, ligte, wye velhoede opsit en hulle swaar skilde agter die rug hang.

Proxenos lyk goed te perd met sy nuwe Persiese saal en tuig. Xenophon ry self op die Griekse manier met net ’n toom en kleed. Hy wil met sy eerste soldy ’n saal en stiebeuels koop. Hy kyk om hom rond. Dit is ’n stadige begin, vol vertragings. Die prins verwag twaalf myl per dag van hulle, maar nou sien hy nog net diere wat deurmekaar raak en kla, skreeuende sweepswaaiende drywers, vlieë en brommers wat oor alles swerm, vuil kinders wat agter hulle aanhardloop om iets van die waens te probeer steel, en agter húlle kom ’n trop dorpshonde. En hoog daarbo, swart spikkels in die lug, aasvoëls in hulle wye, stil kringe. “Oor ons, die gode,” sê Xenophon aan Proxenos.

Op ver pieke in die suide skitter nog sneeu, maar die lenteweer is warm en jong papawervelde stoot reeds groen uit die grond. Die donker kaptein Agasios kom ry langs Xenophon en vra oor sy ervaring uit. Die man stel natuurlik belang in sy bevelvoerder se vriend; word hy ’n wins of ’n las vir die afdeling en die regiment, iemand wat in die pad gaan kom, gedurig beskerm moet word en uit gevare gered moet word? Xenophon antwoord hom in frases, teësinnig: Hoplite, van sy sestiende jaar. Later, met die hulp van sy oom, kaptein in die stadswag tot met die oorgawe aan Sparta.

“So,” sê Agasios, “jy is bekend met bagasiemuile, kampe in heuwels en berge, swaar en ligte infanterie, ruitery, offisiere se onkunde, Zeus se weer en die kok se humeur. Dit is genoeg. Ons kan iets regkry.”

Van die lang skofte ry, kry Xenophon skaafplekke aan sy dye. Die Grieke het nooit ’n ruitervolk geword nie, daarvoor is hulle land te bergagtig; nou oorweeg hy om ’n Persiese broek te dra, as hy dit te koop kan kry. Maar dit sal hom dadelik uitsonder as ’n sagte man. Waar dit moontlik is, lei hy sy perd of knoop hom aan ’n wa se reling en loop saam met die voetvolk. Húlle tel elke stok hout op vir wagvure en kookvure. Hy ken die gewoonte, tel ook hout op en dra dit saam. Proxenos frons daaroor: Die offisiersklas dra nie hout nie; jy verneder jou voor slawe, en wat meer is, hy verkies dat vriende by hom bly vir geselskap en advies. Daarvoor het hy aan Xenophon twee perde gegee.

Na die winter is die veld vol water en vars jong weiding, en daar is blomme in die gras langs die pad, en voëls sing, maar Xenophon noem dit nooit nie. Hy skryf sy joernaal strak en saaklik soos Tukidides s’n oor die oorlog in die vaderland, sodat komende geslagte sal weet waarom, wanneer en waar dit gebeur het, hoe dit verloop het, wie die generaals daarvóór was en wie die politici daaragter. Tukidides noem net wat die marsorde en vordering aangaan, geen blomme en voëltjies nie.

Afstande

Подняться наверх