Читать книгу Afstande - Dan Sleigh - Страница 6
Die ekspedisie
ОглавлениеNagri doen besondere moeite met die verwerking van Xenophon se teks. Hy werk stadig en onderbreek sy beskrywing met oop spasies soos stiltes. Dit is uitspannings, russtasies vir ’n voorleser om asem te skep, sy keel nat te maak en weer sy plek te vind, vir ’n hoorder om sy wynbeker te laat vul of met die aandskemer kerse te laat kom, vir ’n koning om vrae te stel en dit noukeurig met sy generaals en hoogste raadslede te bespreek en sy bevele te laat neerskryf. Miskien plaas die Verlosser, vir wie se oë dit eerstens bedoel is, hierdie evangelie na dié van die laaste profete: Habakuk, Sefanja, Sagaria, Maleagi, Nagri.
Xenophon se styl herinner hom aan kameelpaaie oor klipperige rante, afgewissel met dorre sand, die omgewing droog soos woestynlug, en met net die kaal geraamtes van besonderhede, meestal oor desperate situasies waarin die skrywer na homself in die derde persoon verwys. Xenophon het gedink die voetpad oor die berg is veiliger as die gebaande pad voor hulle. Dit klink na hoorsê: Was hy daar, of nie? En was daar nie blomme en wolke nie, het voëls nooit in geurige dennebosse gesing, het strate met marmer geplavei en so glad geslyt soos glas, nooit die maan wit weerkaats nie? Die generaal noem dit nooit. Dit is woestyn, daar moet ruimte en stilte wees.
Beletsels is daagliks oor hulle pad gelê. Shaitan, die teenstander, het hulle aangeval met eindelose regimente met staal gewapen, met bitter koue en honger; hy het hulle onophoudelik beveg met onderlinge tweedrag, selfsug en armoede; hy het hulle probeer verlei met gierigheid en illusies van eer en het hulle met afstande van verlore tyd bedrieg. Baie gevegte, wonde en lyke was nodig om die teenstander in al sy gedaantes te beveg, daarom loop die ketting van rooi blomme met swart harte tot die heel einde saam met die verhaal. Nou is dit verby. Die sterre gaan na hulle aangewese plekke. Die profeet is op pad, die pyl het die boog verlaat. Die wat nie daarvan weet nie, sal dit hoor. Net die afstande, die berge, die sneeu, gaan dieselfde bly.
Nagri kyk oor die binnehof, waar ’n rooi haan drie swart henne die een na die ander dek. ’n Mag in die hemel trek mense na hulle plekke, die sterfling na sy graf, ’n jong man na sy bruid se ouerhuis, ’n kind na die moeder wat hom moet baar. Hierdie mag het hom en sy weldoener bymekaar gebring. Oorlog wis individue uit, enkelinge raak soos sout in water weg in die groot eenheid van ’n leër. Alleen, lang tye, myle ver, was hy self niemand nie, ’n draer soos ’n os of esel, maar na elke geveg druppend van sweet en dankbaar dat hy nogeens ’n paar treë nader aan Jerusalem was. Dankbaar teenoor God, teenoor Xenophon, die merkavah van sy mense, en die rooi-en-swart soldate wat hom, die boodskapper, moes besorg waar hy nodig was.
Nagri skryf sonder haas: Kyk, daar kom ’n wolk aan, rooi en swart soos sprinkane, soos brandende olyfboorde. Maak pad, maak pad vir die heilige leër. Hy dink na oor sy woorde. Al sê sy weldoener dat sy beeldspraak oorryp is, glo hy dat dit nie onvanpas is nie. Ander profete het so geskryf. Sy gebreke sal hy erken, hy sal erken dat hy soms iets op ’n naïewe manier stel wat hom sal laat klink soos ’n kind tussen volwassenes. Hy kan dit nie help nie. Hy was nooit ’n man soos die tienduisend met wie hy saam gemarsjeer het nie. Klere bedek die geheime wonde aan sy lyf, maar die wonde aan sy gees moet hy in die openbaar dra, net soos gestrafdes die verlies van ore en hande of die growwe wit brandmerk op ’n wang in die openbaar moet dra. Dít skuld die Perse hom ook. Dáárvoor, as hy kan, sal hulle betaal.
Hy weet ook dat onkunde oor menslike gevoel en sy gebrek aan ervaring daarvan, sy vermoë beperk om hom in woorde uit te druk. Hy sal waarskynlik nie Xenophon se vriendinne beskryf nie, hulle word miskien nooit meer nie as die obsene tekeninge wat soldate in hawestede koop. “En swak verdomde plaasvervangers, Jood. Swak! Swak!” raas kaptein Agasios in sy gedagtes. Agasios, die hondgetroue, die waaksame, voorste in die geveg én in die kring van spotters. Hy het saam met Agasios agttien onvrugbare maande deurgebring op ’n gewelddadige jagtog agter mag, geld en die geverfde hoer wat roem heet, saam tot aan die einde, getrou aan hulle plig, nooit afgewyk nie, niks nagelaat nie, tot die heel laaste dag toe. Sy enigste ander ervaring was van ’n slawehuis en ’n koning se paleis, en in nie een is die lewe normaal nie. Nou is hy volwasse, sover as wat dit vir ’n eunug moontlik is, en hy ken geen vroue nie en weet nie of hy hulle en hulle hom sal verstaan nie. Hoe kan hy weet?
Hy kan nie weet nie. Hy bly ’n kind van tien jaar, nog nie twaalf nie. Miskien kan woorde nie beskryf wat mense in hand-tot-hand-gevegte of in die liefdesdaad beleef nie. Hy weet nie. Hy het jong soldate ná ’n geveg hoor joel en mekaar uitlag oor hees krete, vlak en hygende asems, rooi gesigte, selfs oor druppende swaarde. Hoe kan een soos hy iets daarvan weet? Hy is nie ’n man of ’n vrou nie. Sy impotensie ontmagtig hom. Van sy gedagtes moet in die inkhoring verdroog.
Eenmaal het hy aan die generaal gevra: “Dink jy ek sal oorlede Proxenos of Klearkos kan beskryf?” Dit was ’n wit somerdag in ’n straat in Trapezum. Hy het riem in die hand voor ’n esel geloop wat twee mandjies hawer dra, Xenophon het sy plankdun merrie met ribbe soos ’n voëlkou, vuilgeel maanhaar en treurige oë gelei, Agasios het ’n klotsende wynsak op die skouer gehad vir sy onderoffisiere ná ’n goeie vertoning op parade. Die lug was koel, oop en vaalblou soos die see. Dit was destyds toe hul gedink het die ergste is verby, hulle is veilig.
“Jy het hulle nooit geken nie,” het Xenophon gesê en sy maer ryperd oor die nek gestreel.
“Is dit nodig? Homeros het nie vir Akilles geken nie.”
“Daardie ou. Jy dink te veel van ou Homeros, met sy koorsagtige taal en ’n voetsoldaat se goedkoop nostalgie.”
Die generaal skerm met hom. Is hulle gewapen, speel hulle met dolke? “Voetsoldaat?” vra Nagri gretig. “Dan bedoel jy sy Ilias, maar ’n vrou kan tog die Odusseia geniet.”
“Ek het dit nog nie met ’n vrou bespreek nie. Het jy?”
“Geen kans gehad nie. Ek wil seker wees dat ’n vrou verstaan wat ek skryf. Ek weet hulle hou nie van oorlog nie, maar soldate is broers, mans, vaders, neefs, swaers, of hulle eie kinders. Oorlog is deel van ’n vrou se lewe, soos boerdery, en die huishouding.”
Kaptein Agasios het sy wynsak van skouer na skouer verskuif en hulpvaardig gesê: “Die lewe is nie dieselfde vir al twee nie. Kan jy dit nie sien nie? Jy kan nie ’n boek blameer as ’n vrou nie daarvan hou nie. Dit is nie die skrywer se skuld nie.”
“Is dit so?” vra Nagri aan Xenophon. Hy weet Agasios kan nie lees nie.
“Absoluut. Hulle hoor graag van maanskyn en rose of van die sater en die nimf. Miskien moet jy digter word, Jood, en jou roeping verkondig in kleurryke begrippe, blomme rooi en wit, fonteine van geurige vrugtesap en bloed, Homeros met Sappho gepaar.”
Nagri het nie geweet wat om van dié antwoord te maak nie. Die generaal spot waarskynlik met hom. Oral, selfs in Babilon, is roostuine en ’n volmaan mooi, en waarskynlik vir mense ’n plesier. “Ons volk het ’n gesegde,” het hy op ’n ingewing gesê, “ ’n man se liefde vir ’n vrou kwyn en groei soos die maan, maar sy liefde vir ’n broer skyn soos die son vir ewig. Is dit waar?” Want selfs die liefde tussen broers ken en verstaan hy nie. Daar was Abel en Kain, Jakob en Esau, Josef en sy elf broers, Kuros en ArtaXerxes, Xenophon en sy Tienduisend. Bloedbroers.
“Baie waar, Jood. Dit bewys jy kry nie één boek vir mans en vrouens nie. Nee, laat hulle self stories opmaak. Maar ’n tweede Sappho kry jy selde.”
Weer begryp hy nie die antwoord of antwoorde nie. Verstaan die generaal wat hy bedoel, of het hy net geen simpatie met sy onkunde en twyfel nie? Hy vermoed dat hulle hom oor sy erns spot.
Nagri vou sy bene onder hom in soos ’n kleremaker, stut sy rug teen die deurpaal van sy kamer, en hervat sy skryfwerk: Ek vertel nie van ’n prins se ambisie, ’n mislukte staatsgreep en ’n vlug voor ’n oormag, of van ’n arm soldaat se reis op soek na die hart van boosheid nie. Ek verkondig die koms van die Verlosser.
Dit was nie ’n vlug nie, dit was ’n beheerde strategiese onttrekking, ’n aftog, ’n uiters knap stuk krygsvernuf. Net, hy het nooit aan hulle lang en gevaarlike reis as ’n aftog gedink nie, vir hom was dit andersom, vir hom was dit die opmars. Die groot slagvelde, sy slagvelde, het nog altyd vóór hom gelê.
Hy hoor beweging in sy kamer, ’n fluistering bokant hom, onder die krom bruin daklatte. Wie besoek hom? Dit is die swaels wat na hulle nes teruggekom het. Hy hou die luggat dop, hoe hulle binnekom, aan die oorblyfsel van hulle nes hang en weer langs die sonstraal uitglip. Die nes het ’n pyp en ’n sak, die sak is oopgebreek, die eiers het uitgeval, en hulle werk daaraan om dit reg te maak. Hulle dra nat geelklei aan, korrel vir korrel, en maak dit heel.
Hierdie trekswaels kom uit die ver suide, jy sien hulle in hulle swerms aankom, jy kry vreemde insekte wat nie hierlangs voorkom nie in die krop. Honderde dagreise ver kom hulle, elk op soek na ’n huis wat hy agtergelaat het, soos die Tienduisend in die Verlosser se naam nou huis toe gaan. Hulle is ’n goeie teken. As hulle teen sy dak wil kom plak en nes bou, is hulle welkom. Sy kamer is stil, koel en gesond.
Nagri doop sy pen, maar die ink word droog terwyl hy herlees wat hy geskryf het. Hart van boosheid, hart van die bose? Wat het die generaal hom daar voorgestel, ’n kadawer uitgelê op ’n tafel? Die bose is oral, chaoties, vormloos, tydloos. Toe Xenophon diep teleurgestel was deur die leër het hy hulle verwyt: Julle is ’n bose mag. Dit was by Kotiora aan die Swart Kus toe sy broers hom wou stenig. Maar wat wou die jong man Xenophon in afgeleë Babilon gaan soek? Nagri het ’n vermoede: dieselfde waaroor Jode in ballingskap, waarskynlik alle bannelinge, altyd met weemoed praat.
In die berge, toegedraai in ’n growwe bruin vrouerok, het hy Xenophon een oggend uitgevra terwyl die leër skuil teen die sekel van ’n bytende noordewind wat sneeu hoër en hoër teen hul klappende, rukkende tente gesmyt het. Hulle was saam; die generaal wat hom moes bring tot waar God hom wou gebruik, was gebondel in sy dun, swart mantel. Hy vermoed die generaal wou dié oggend sy gees laat rus van kommer oor die groot moeilikhede waarin hulle daardie ysige, honger, moedelose dae verkeer het en die tientalle wat elke dag siek word en sterf van die koue. “Kuros was oortuig dat julle in warm Babilonië gaan oorwinter,” het hy aan Xenophon gesê. “In ons heilige boek staan ’n duidelike waarskuwing: Moenie op prinse staatmaak nie.”
Dit was ’n seldsame kans om met hom te praat: Xenophon van Athene, leier van die Tienduisend, die soldaat wie se lot in die sterre met sy eie oorkruis gelê het. ’n Haas onpeilbare man, wat met vrae verlei moes word om iets van sy herkoms, lewe en gedagtes te laat sien. “Waarom verkies Atheners deesdae die buiteland?” het hy aangepor.
Die generaal het nie gou gepraat nie, net sy verslete swart mantel styf om sy skouers getrek asof hy diep ingedagte ’n volgende skuif in die geweldige spel teen konings en gode oorweeg.
“Wat was julle gevoel, in dié tye?” het hy weer probeer. “Die verlies van land en vryheid. Julle wêreld uitgewis.”
In sy familie, het die generaal stil en nog nadenkend, geantwoord, was daar verliese, soos in ander waar weduwees en swanger vroue oor meer as een man rou. Hoopverskrompelende honger, naas meer beskadigde wapens as bruikbares en vliegbemorste beeldjies van Hermes die Geneser, was algemeen in hulle huise. Buite, op strate wat nie meer herstel is nie, was brandsiek honde en verminktes wat met daglig uitgedra word om te bedel. Hy is op sestien opgeroep, en het dankbaar wapens uit die dakbalke gehaal, roes afgeskuur, geslyp, vet gesmeer, rieme en gespes verstel, skedes gelap; hy was die vierde geslag wat dit sou gebruik. Ten minste sou daar vir hom rantsoenkos wees.
“Wat het hulle gesê, waarom was dit só?” Die woord “waarom” is vir Nagri belangrik. In vraag op vraag strek dit terug tot die oomblik voor die skepping; die laaste sinvolle vraag vóór daar lig was, die heel eerste daarna.
Die generaal se oë het in diep skaduwee gelê, sy lippe het van koue gebewe, op sy baard was vlokkies sneeu (of was hy reeds grys?). Sy stem was nie meer die van ’n Atheense redenaar, geskool in die retoriek nie, maar traag, asof hy by ’n graf praat. “Negentig jaar gelede het Darius uit Persië gekom en ons kolonies in Asië aangeval, daarna ons eilande, toe ons vaderland self. Duisende moes sterf voor ons hom by Marathon kon stuit. Tien jaar later het sy seun Xerxes weer in die ooste verrys. Ons moes uitgewis word, al ons Atheners.”
Xenophon het sy helm op sy knie getel, aan die kenband gestel en ondertoe, in die gesig van die helm, gepraat asof hy daar ’n vergete voorvader sien aan wie hy verantwoording doen, of by wie hy bieg en vergifnis vra. “By die Hellespont laat hy ’n tweeling kruisig – ’n offer aan die see, ’n waarskuwing aan al wat leef, ’n basuin wat sy waansin aan die wêreld verkondig – en dryf ’n miljoen soldate oor ’n brug van bote om wéér ons vaderland aan te val. Daar was Termopulai om te beween voor hulle ons stede en dorpe bestorm . . . mense, diere en bome om die lewe bring . . . huise plunder, plase verwoes, tempels verbrand. Net op see kon ons Hellene ons handhaaf.” Nagri het belangstellend gewag. Dit was die hele gruwel in omtrent honderd woorde, soos skoolseuns in die retoriek opgelei word: wees bondig, kronologies, met die rolspelers – aggressor en slagoffer – duidelik uitgewys. Maar die generaal was weer stil, hy moes hom aanmoedig. “Wat soek Atheners dan deesdae oorsee? Is julle land onaangenaam?”
Xenophon het opgekyk, met sy vingerpunte geraak aan die tentvel wat gons soos ’n tamboer (van waar dié vibrasie? A, die wind in die toue) en effens geglimlag. “Ons vlug vir ons noodlot. Soos die spreekwoord sê, soos jy sal weet uit die tragedies: Geen Griek soek sy noodlot nie, die noodlot soek hóm. Ons wat onafhanklik was, die regeerders en leiers op elke gebied in hierdie streek, sit nou met ’n waardelose burgerskap in ’n derderangse staatjie. Ons vlug oorsee om weer iemand te wees.” Met drie vingerpunte teen sy bors, teen homself gedraai, het hy benadruk: “Dit is nie meer óns land nie. Met die hele Persiese Ryk in die ooste en Sparta in die weste was ons soos graan tussen twee meulstene. Saam sou hulle ons fyn maal. Sparta sou Persië se aanspraak op ons eilande en kolonies erken, as hulle goud gee vir ’n vloot én leër om Athene te dwing om oor te gee en ons stadsmure self af te breek, en ons vir alle tye te onderwerp.” Die beskuldigende vingers het teen sy borsbeen, op sy hart, gebly. “Ons, Atheners. Ons aan barbare onderwerp. Dit verklaar, sien jy, waarom Persië ons nog nie weer aangeval het nie. Hulle betaal Sparta om dit te doen. Sparta woon langs ons en baklei graag. Sparta het dadelik teen ons stad kom oorlog maak.”
Die generaal het sy kop geskud, duidelik bekommerd, dalk oor sy land se toekoms, dalk oor hierdie leër se situasie. Die klam tent het onder die noordewind geruk en gebuk en gevou, gebuk en geruk en gevou. “Dertig jaar van oorlog teen Sparta het die Atheense gees geblus. Ons bou nie meer nie. Aanbid nie, sing nie, dans nie meer nie. Ons is verbluf. Iets het met ons geskiedenis verkeerd geloop. Ons leef verward, sonder vaderland. Deur nederlaag verneder het ons bedroef en bitter geword. Wat het met ons gebeur? Ons ken nie die kunstelose uitlanders met hul vreemde uitspraak wat op hulle manier oor ons probeer regeer nie. Ons sien neer op hulle, bespot hulle, ons gesprekke gaan gedurig oor hulle agterlikheid en gebrek aan sosiale grasie.”
Toe het hy weer ernstig aan die afwesige voorvaderlike gesig in die helm verduidelik: “Al wat gebeur het, is dat ons vinnig tot hulle vlak gedaal het. Hulle sing nie, ons sing nie meer nie. Hulle skryf nie, ons skryf nie meer nie. Hulle bou nie, ons bou nie meer nie. Geen welmenende god kan wil hê dat sulkes oor ons moet heers nie. Oor óns, Atheners. Maar dit gebeur. Wat sien ons as ons opkyk na die berg? Die godin is weg. Ons sien die goue tye in ruïnes, in die verbrande rooi dakpanne en woud van marmersuile wat swart ingestort lê op die Akropolis. As dit deur ’n aardbewing was, kon ons alles makliker verstaan. Nou vrees ons die Pers en sy huurling die Spartaan, en blameer dié een, dáárdie een en mekáár. Wat word van ons verwag? Ons voel onseker, ons waag niks meer nie.”
Nagri het die generaal sien rusteloos word. “Is alle regering nie boos nie?” het hy gevra om die gesprek nog te verleng. “Oorlog en die begeerte om te heers ontstaan uit dieselfde bron.” Hy het drie verkluimde vingers gewys. “Magsug. Gierigheid. Eiebelang.”
“Ja, selfs die gode is daarmee besmet.” Xenophon het die helm opgesit en vasgegespe, sy hande onder sy arms vasgeknyp, verlangend na hitte homself omhels. Hy het sy naels vir die pers vlekke van kouevuur ondersoek, dampende asem oor sy vingers geblaas, en toe die tentflap gelig en na buite gekyk. “Die wind gaan lê. Pak ons goed. Ek gaan die generaals sê.”
Só was die man. Hy kies die storm bo ondervraging, en spring soos ’n swak skaakspeler uit ’n onsekere posisie na ’n onbekende. Dit gee hom ’n gelyke kans, sê hy.