Читать книгу Afstande - Dan Sleigh - Страница 16
Die see
ОглавлениеDie kusvlakte suid van Tarsus is kosbare grond waarop eeue oue olyfboorde groei, hul vaal stamme is vol groewe en skurwe uitgroeisels soos ou soldate se skene en sleutelbene wat verwronge uit verwonding genees het. Die vaalgroen blare lyk stowwerig, maar die krom takke dra vrugte aan jong lote, soos ou mans met jong bruide. Oor dié vlaktes trek die leër tot by Issos in die hoek van ’n lang baai. Dit is die laaste stad in Asië, en hier kom hulle die eerste keer by die see.
Prins Kuros se vloot wag in Issos se baai. Die Grieke voel almal meer gerus, want die see verlig die gemoed; dalk vaar hulle nog op dié skepe huis toe. Hulle eet daagliks vis, vars brood en olywe, maar hoor bowenal die lewende see, ruik hom in die lug, proe sy sout op die hande en sien hom blou, vaal en groen met sy bietjies wit en sy swewende grys meeue. In herinnering gooi hul weer visse uit blou-en-wit skuite op die strand en dra ’n nat, vol mandjie op die skouer huis toe. Nou voel ’n man soos toe jy jonk en gelukkig was, jou ouers nog in die lewe en die dorpsmeisies so vars en mooi soos die jong somer. En jy kan op see ’n lewe maak, oorlog maak, dan huis toe vaar, maar om weg te wees van die see en hom nie elke dag te hoor dreun of sug of sing nie, dit bring onrus in die hart. Jy kreun in jou binneste, wáár het ek my pad verloor, wat maak ek op dié godverdomde plek, wanneer kan ek hier weg? En wanneer jy Poseidon se klam koninkryk weer ruik, die wye skeepspad huis toe oop het en groen water oor die boeg voel slaan, dan word die onrus minder en aanvaar jy watter troos daar is.
Maar Babilon? Te ver. Te ver, te ver van die see.
Kuros se skepe lê teenoor sy blou tent aan boeie. Die soldate bly onrustig, hulle offisiere bly onrustig, want die opmars word ’n vreemde, duur onderneming, en toenemend gevaarlik omdat hul bevelhebber nie sy planne met hulle bespreek nie. Jy kry niks uit die prins nie. Die skeepskapteins besoek hom ook, of hy vaar aan boord om met hulle te praat, maar niemand hoor waarom die vloot hier is nie.
’n Spartaanse generaal met sewehonderd hoplitai het met die skepe gekom om by Kuros aan te sluit. Sy naam is Keirisofos. Hy is lank, dun en droog soos ’n verweerde paal, met ervaring van kampanjes teen Athene, rooi hare, en ’n krom neus waarlangs hy neerkyk op almal wat nie Sparta se skarlaken dra nie. Klearkos verwelkom hom in die generaals se tent en dit lyk of hy ’n gunsteling by die prins en by Klearkos gaan word. Proxenos se agterhoede noem hom Kalbaskuite oor sy duur skeenskutte van blinkgevryfde leer.
By Issos gaan die Griekse regimente aan boord en word ’n dag lank kuslangs geroei. Die kreunende roeiers, geketting aan hulle spane, word gedryf deur die slae van ’n dreunende tamboer en ’n reuse-sweetblink Ethiopiër se sambok. Die see is kalm, die skepe hou goed bymekaar en hulle kom teen skemer regoor die Siriese Poort.
Dié sogenaamde poort word bewaak deur twee lae, grou klipforte, seshonderd tree vanmekaar, met tussen hulle die rotsige monding van die Karsos-rivier in ’n harde kloof. Die breë, vlak stroom oor sy bedding van donkergroen wier is die grens tussen Kilikië en Sirië. Sinesus se soldate beman die Kilikiese fort en ’n garnisoen van satrap Abrokomas beman die Siriese een. Kuros verwag sy eerste teenstand hier: Abrokomas sal hierdie goeie stelling verdedig. Die strategie is dat die skepe die Grieke verby die Siriese fort dra en daar aan wal sit. Generaal Arras se inlanders sal te voet volg.
Terwyl die roeiers die skepe met die spane agter die lae branding hou, word die nodige offers aan Poseidon gebring. ’n Priester met ’n krans van seewier strek sy arms oor die water en sing ’n lang gebed. Die skippers breek kruike wyn teen die skip se boegpaal. Prins Kuros gooi eers ’n robyn en ’n diamant en saai daarna hande vol goue en silwer munte in die see.
Die soldate sak oorboord met toue af en met skilde op die rug die borsdiep water in en sukkel strand toe teen die trek van die skrotum-verskrompelende see. Teen skemeraand is almal op die strand. Die Griekse regimente sing hulle paean aan Zeus en bestorm die donker Siriese fort met ’n groot geskreeu, maar daar kom geen uitdagings en geen wolk van pyle op hulle aangevlieg nie, net ’n swerm vlermuise vlug uit die koue kantele op en verdwyn tussen die sterre. ’n Visser wat sy vuurtjie in die verlate fort gemaak het, sê Abrokomas is al ’n paar dae gelede weg hoofstad toe. Die Griekse soldate wag daar, koud en miserabel van die honger, tot die volgende dag op generaal Arras se inlandse regiment, die trekvee en bagasie, wat padlangs van Issos aankom.
Xenophon voel dat Abrokomas die nie-geveg by die Siriese Poort gewen het, dat hulle nou in ’n lokval afdaal. Hy skryf dit so in sy joernaal: Hy verwag dat die geveg om die Goue Troon maande van nou af en baie verder suid sal plaasvind, wanneer die leër, uitgeput en hulle voorrade op, in die middel van die woestyn is, presies waar koning ArtaXerxes hulle wil hê. Dit is waarom die satraps gedurig voor hulle wyk en die hele land ontruim. Hy sê aan Proxenos hy hoop die generaals besef dat hulle daagliks dieper in ’n val afsak, soos Peleseus in donker Hades na kennis van die dood gaan soek het, maar dit nie kon kry nie, tensy hy self sterf.
Na een dagmars teen die kus af lê die leër sewe dae in die Fenisiese dorp Miriandos. Hier is ’n hawe met ’n breekwater soos ’n krom arm van rotsblokke wat die skepe teen die see en westewind bewaar. In en om die stad groei duisende dadelpalms. Die mark is groot en bedrywig, en matrose en handelaars met vreemde tale uit Egipte en die noorde van Afrika en die ver weste van Europa werk in die hawe en op die skepe. Kuros koop sakke vol pers wyn, graan, honderde kamele om pitvoer en hooi vir die ruitery se perde te dra, en huur as hulle drywers luidrugtige, skraal donker mans in bruin wolrokke wat hulle oë blou verf en aan iets swarts kou terwyl hulle werk. Xenophon laat sy perde beslaan, koop twee paar goeie stewels wat die enkels bedek, pluime, potlood, inkpoeier (swart, rooi en selfs blou kan jy hier kry), en nog ’n rol ongebleikte katoen teen die noodlot en die nalatigheid van sy draer.