Читать книгу Afstande - Dan Sleigh - Страница 20
Die koning se genade
ОглавлениеLank voor dagbreek, in die koudste tyd van die nanag, staan die generaals om ’n vuur bymekaar. Daar is nog geen tyding van die prins nie. Oggendparade word vroeg gehou, onder fyn miswolke wat oor die rivier dryf. Al die afdelings is daar om te monster, elke offisier is teenwoordig. Behalwe onder die peltastai van die kampwag was die verliese gering en die gewondes is reeds behandel, ’n lae prys vir gister se oorwinning. In dié omstandighede besluit die generaals om op te pak, krygsgevangenes te verdeel, en sonder ontbyt vorentoe te trek om die prins te vind. Met sonop beveel Klearkos hulle om te marsjeer.
Na ’n paar myl haal twee offisiere van Arras se inlandse ruitery hulle van agter in. Hulle vra na Klearkos, en hy verlaat sy regiment om te hoor wat hulle wil hê; die drietal staan en praat met hulle perde se koppe bymekaar, terwyl Proxenos met die agterhoede aan die windkant verbytrek. Arras, die prins se vriend en tweede in bevel, laat weet dat Kuros dood is. Arras wag in die kamp waarvandaan hulle die vorige oggend vertrek het, met omtrent negentigduisend inlandse troepe en sal die dag daar bly om te kyk of die Grieke by hom wil aansluit, maar die oggend daarna gaan hy terug Sardis toe waar hulle opmars begin het.
Klearkos antwoord die boodskappers: “Sê aan Arras ons het die koning verslaan, en soos julle hier sien, agtervolg ons hom. Daar is geen weerstand nie. Sê aan hom dat as hy saamkom, sit ons hom op die troon van Persië.”
Klearkos laat die generaals roep, hulle moet die nuus van die prins se dood aan hulle kapteins vertel, maar voorlopig nie aan die soldate nie. Hy sit sy hand oor sy neusgate, blaas stringe slym en stof in sy palm en vee dit aan sy bobeen af. “Dit is ’n nuwe set van hierdie duiwels. Mooier kan dit nie. Twee vrywilligers, om by Arras te gaan hoor wat waar is. En hulle waag waaragtig hulle lewe.” Sy stem is sonder emosie. Die gevoel van triomf is nog in hulle; as hulle later treur sal dit oor hulself wees, hulle gevaar, hulle verlies, hulle kommer oor ’n toekoms wat skielik ’n skemerkleur gekry het.
Twee generaals, Keirisofos en Menon, ry saam met die boodskappers weg om Arras se antwoord te ontvang. Veral Menon is bly om te gaan; hy geniet Arras se geselskap.
Die leër word weer langs die Eufraat tot halt gebring en verdaag. Dit is waar hulle moet wag. Alles word nogeens afgepak. Twintig man uit elke regiment en ’n priester word met waens na die slagveld toe teruggestuur om pyle, skilde en die oorblyfsels van strydkarre vir brandhout te haal, en as hulle Griekse lyke vind, hulle behoorlik te begrawe.
Die generaals laat slag van die esels en pakosse en die soldate soek iets te ete bymekaar, en braai met wrakhout van die slagveld af die vleis vir ontbyt. So rus hulle en kry die eerste keer in twee dae iets te eet, maar daar is ’n stilte in die kamp en die kos is smaakloos en droog in die mond, asof hulle as eet.
Omtrent die middel van die oggend daag ambassadeurs van koning ArtaXerxes met ’n herout en ’n berede geleide op, net toe Klearkos begin om te offer. Die buitewag ontvang die herout se ampstaf van eboniet met goud ingelê. Daar is baie goud te sien aan klere, sierade en hulle perde se tuig. Vyf is Perse, die sesde is Palinus, ’n swartgeklede Griekse tolk in satrap Tisafernes se diens. Hulle wil met die generaals praat.
Klearkos kom bebloed van die altaar en wink hulle nader. En Xenophon gaan saam; hy moet hoor wat hier gesê word. Dit is oomblikke van geweldige belang, vir hom, vir die leër, vir die vaderland en die wêreld. Apollo van Afstande sê dit aan hom, in sy gedagte.
Palinus is ’n lang, regop man, dit is jammer dat so ’n Griek vir die vyand werk. Hy kyk van sy hoogte op Klearkos neer en sê: “Die koning het Kuros gedood en die oorwinning behaal. Hy beveel julle om wapens oor te gee, aan sy hof te verskyn en, as julle kan, sy genade te verwerf.”
Die generaals hoor dit met verontwaardiging aan, en terwyl hulle met mekaar praat, kom roep die waarsêer vir Klearkos dringend na die altaar terug: Die god Zeus het ’n teken gestuur. Klearkos sê aan die ambassadeurs: “Dit is nie vir ’n wenner om wapens oor te gee nie. Nog nooit gebeur nie.” Aan sy generaals sê hy: “Ons moet net die eerbaarste antwoord aan dié mense gee. Bespreek. Ek kom nou weer.”
Kleanor van Arkadië, die oudste van die generaals, praat eerste. “Julle eis ons wapens. Hoe het Leonidas vir Xerxes by Termopulai laat weet? ‘Kom haal hulle.’ ”
Palinus vertaal dit. Die ambassadeurs knik instemmend. Proxenos sê: “Vra julle koning ons wapens as oorwinnaar of as teken van vriendskap? As hy die oorwinnaar is, waarom vat hy dit nie? Anders, vra hom wat ons kry as dit as gevolg van ’n ooreenkoms is.”
Palinus antwoord: “Die koning weet dat Kuros dood is. Sjah’k mat; die spel is verby. Dit is al.” Hy wink ’n soldaat nader wat ’n velsak van sy saal losmaak en ’n tappende kop aan die hare uit geel, skuimgevlekte pekel lig. Die gesig is omtrent deur wonde verwoes, maar die lang hare en yl, gevlegte kenbaard is dié van hulle leier, hulle prins, Kuros. Palinus kyk van die een na die ander, daar is triomf in sy stem, soos ’n uitdaging. “Is daar iemand onder julle wat die troon van Persië opeis? Enigeen? Nie? Dan behoort die oorwinning aan die koning. Julle is in die middel van sy gebied, omring deur dodelike leërs en dooie woestyne. Julle sal nooit ontsnap nie.” In die stilte wat op sy woorde volg, laat die soldaat Kuros se kop in die pekel plons en bind die sak aan sy saal.
Xenophon, wat langs Proxenos staan, sê aan Palinus: “Al wat ons het, is ons wapens en ons moed. Solank ons wapens het, kan ons die moed benut. Gee ons wapens oor, is moed tevergeefs.”
Die tolk glimlag hieroor. “Eg filosofies, jong man, en heel goed verwoord. ’n Athener, sou ek raai. Maar moed is nie genoeg om die koning se posisie te troef nie. Julle het reeds probeer en gefaal.”
Van die kapteins wat agter staan, fluister onder mekaar dat hulle, soos wat hulle tot gister ’n vreemde prins gedien het, nou hierdie koning kan dien as hy hulle wil huur. Hulle is bruikbare soldate, is hier met hulle wapens en kan hom van nut wees. Sal hulle dit voorstel?
Klearkos kom van die altaar terug, sy hande en voorarms nog bebloed van sy offer. “Het julle die mense geantwoord?”
Palinus sê dadelik: “Hulle gee verskillende antwoorde. Wat sê jy?”
“Ja, Palinus. Ek dink almal hier is bly dat dit jy is wat na ons toe gestuur is, want jy is ’n Griek. Die advies wat jy hier gee, sal in Griekeland bekend word, en mense gaan dit nog jare lank oorvertel. ‘Palinus is eendag gestuur om Grieke te oortuig om hulle wapens neer te lê,’ sal hulle sê. ‘Toe hulle sy advies vra, het hy hulle so-en-so aangeraai.’ ”
“My advies is,” sê Palinus vinnig, “moenie wapens neerlê nie as daar maar één kans uit tienduisend is dat julle dit kan oorleef wat die koning teen julle gaan bring.”
“Tienduisend teen een. Dit was die verhouding in gister se geveg ook. Dit is dan jou advies. Nou ons antwoord: As ons vriende van die koning moet word, sal ons waardevoller vriende wees as ons die gereedskap hou waarmee ons ons brood verdien. En moet ons veg, sal ons beter veg as wanneer ons wapens in sy pakhuise lê.”
“Dit is die antwoord wat ons sal terugneem,” sê Palinus. “Maar die koning sê ook ’n wapenstilstand is van krag solank julle bly waar julle is. As julle vorentoe of agtertoe beweeg, is dit oorlog. Julle moet my hierop ook antwoord.”
“Sê ons stem saam.”
“Wat bedoel jy?”
“Wapenstilstand as ons bly, oorlog as ons marsjeer.”
“Wat moet ek sê? Oorlog of wapenstilstand?”
“Wapenstilstand as ons bly. As ons vertrek, oorlog.”
Die ambassadeurs ry weg. Arras se boodskapper bring laatmiddag vir Keirisofos die Spartaan, maar Menon het by Arras gebly. Arras laat weet hy sal nie as koning aanvaar word deur die Perse nie, daar is honderde van ’n hoër stand as hy. Hy begin môreoggend vroeg sy aftog huis toe. As die Grieke by hom wil aansluit, moet hulle dié nag nog kom.
“Sê aan jou heer,” antwoord Klearkos die boodskapper, “as ons kom, sal dit gebeur soos hy sê. As ons nie kom nie, moet hy doen wat hy dink die beste is.”
Die generaals reken Klearkos het nog nie besluit wat om te doen nie, maar na die aandparade, toe die son amper onder is, ontbied hy al die offisiere na sy groot tent. Sy bediende skink vir elkeen ’n halfbeker wyn. Hulle staan dig teen mekaar om Klearkos op sy veldstoel gedrom. “Generaals, kapteins,” sê Klearkos, “toe ek vanoggend offer, was my vraag aan Zeus of ons verder teen die koning moet veg. Die tekens was swak, die antwoord was nee. Soos ek verstaan, lê die groot rivier Tigris tussen ons en die hoofstad. Sonder bote kan ons nie oor nie. Ons kan nie hier bly nie, want hier is geen proviand nie. Ek verwag ons mense kan onder mekaar oor kos begin baklei as ons hulle nie gou hier wegneem nie. Toe ek vanaand offer met die vraag of ons met Arras moet saamgaan, was die tekens goed. Dit is dus wat ons gaan doen. Ons moet ons by Arras voeg. As julle hier uitgaan, laat julle mense eet wat daar is. As die trompet blaas, pak julle goed. Op die tweede trompet, laai die pakdiere. Op die derde, tree aan en volg die verkenners noord, met die diere langs die rivier en die hoplitai buite hulle.”
Toe staan hy op. Klearkos is nou die bevelvoerder. Dit was nie nodig om daaroor te stem nie, hy is die mees ervare en het die regte soort verstand vir ’n veldowerste. Soos hulle verbygaan, skud hy elkeen se hand. Dit is die eerste keer dat Xenophon van hom ’n handdruk kry en ook die vuishou teen die skouer waarmee hy vriende groet.
Nagri, met sy rug gestut teen die oop deur van sy huurkamer in Bisantion, skryf: Draai hier om. Keer jou rug op Babilon. Dit het Klearkos se gode aan hom gesê. Vir die Vaders wat sy seëvierende leër oor drie of vier dae in die hoofstad verwag het, was dit nie net ’n teleurstelling nie, maar ’n geweldige slag vir die saak van die Verlosser. In Babilon het die Jode al ’n fees gereël, die oorwinning verkondig met die ramshoring, die herdenking met ongesuurde brode, ’n ongeskonde lam en bitter sous, en ’n optog deur die strate soos in Egipte destyds, maar dié keer triomfantelik met palmtakke.
Destyds, toe dae verbygaan en die leër nie opdaag nie, wou die Vaders van hom weet: “Hoe vertolk jy dit nou, Nagri? Waar is die beloofde strydkar en perde van Israel?” Hy het met stygende vertroue na hulle gesigte gekyk, want snags het hy diep in sy siel ’n stem sy naam hoor roep: Nagri. Nagri. “God se wil,” het hy hulle geantwoord. ’n Beter plan sal geopenbaar word. Amin.
Klearkos loop stok in die hand in die donker by die gidse. Hulle is op die koninklike hoofweg, reguit, gelyk, weg van Babilon af. Sommige soldate, duiselig van honger en uitputting, loop honderde treë ver in hulle slaap agter hulle offisiere aan, skrik en marsjeer ’n paar passe met helder sintuie voor hulle weer aan die slaap raak; later word hulle effens verkwik wakker. Omtrent middernag kom hulle by die vorige dag se staanplek waar Arras met meer as negentigduisend inlanders lê. Klearkos halt sy kolonne voor Arras se buitewag; sommige skrik daar wakker van die skildwag se geskreeude daging en Klearkos se antwoord: “Klearkos van Sparta, in die prins se diens.”
“Staan, Klearkos van Sparta.” Stemme roep oor en weer tot ’n offisier na die wagvuur kom en Klearkos tussen twee van sy eie lyfwagte na Arras lei.