Читать книгу Afstande - Dan Sleigh - Страница 18

In Babilon

Оглавление

Waar die Eufraat- en die Tigris-rivier die naaste aan mekaar kom, trek hulle die antieke koninkryk van Babilon binne en marsjeer drie dae stroomaf langs die Eufraat, reg op die hoofstad af.

Om middernag op die derde dag, toe die leër opstaan om vroeëkos te maak, bring die afgeloste buitewag drosters uit die koning se leer binne, wat vertel dat die koning die volgende dag voor die middag gaan verskyn. Kuros ondervra hulle, hy soek inligting oor die koning se mag. Hoeveel, waar, watter soort troepe? Is sy huishouding by hom, die kinders, harem, die kabinet van satraps? Hulle sê hy het ’n persoonlike lyfwag van sesduisend ruiters, vierhonderd-en-vyftig-duisend voetvolk en tweehonderd strydkarre met lemme aan die wiele, dit is wat die drosters uit die koning se leër vertel. Abrokomas, Tisafernes, Arbakes en Gorias is die koning se generaals, sy kavallerie is onder Artagerges. Wie beskerm die hoofstad? Die koninklike stadsgarnisoen.

Kuros roep sy Griekse generaals en hulle kapteins om te sê hoe hy die slag gaan lewer. “Griekse offisiere, bewys julle waardig aan julle beroemde naam en die vryheid van Persiese verdrukking wat julle vaders by Marathon en Salamis gewen het. Ek het julle hulp gevra omdat julle doeltreffender is as hordes van my inlanders. Julle gaan lag as julle agterkom watter soort mans hierdie land het, dit moet ek met skaamte erken. Hulle getalle is groot en hulle val met ’n helse klomp lawaai aan, maar staan julle dan vas. Onthou, die Westerling soek die oop geveg, die Oosterling vermy dit as hy kan.”

Hy kyk hulle kalm aan. “Kyk om julle, generaals en kapteins. Alles is my voorvaders se ryk, noord tot waar koue en suid tot waar hitte dit onmoontlik maak om te woon. Oor elke klip en kluit hiervan regeer my broer se satraps. Wen ons, kom my vriende in daardie poste. Ek is meer bekommerd dat ek nie genoeg vriende gaan hê nie as dat ek nie genoeg belonings vir hulle sal hê nie. Elke generaal kry vannag ’n goue hoofband van my.”

Klearkos sê: “Ons dink dit sal beter wees as jy met jou lyfwag ’n goeie posisie in die agterhoede neem, Kuros. Kommandeer van daar af.”

“Hoe kan ek? Ek kom my broer doodmaak.”

“Dink jy die koning gaan self op die slagveld wees?”

“Sekerlik. As hy die seun van Darius en Parisatis is. Veg julle soos julle gewoond is.”

Die gesprek verval weer tot vae beloftes oor wins en roem en mag. Die goue hoofringe word op ’n skinkbord ingedra, elkeen is rondom ingelê met twaalf ovaal ametiste, diep-pers en koninklik ryk. Toe die generaals die oggend met hul sierade aantree, versprei die entoesiasme. Goud het die mag om dit te laat gebeur, dit het ook die mag om die verstand in iets soos perdemis te verander.

Verkenners kom aan; hulle was ver uit, maar die vyand se stof is nog nie te sien nie. Die drosters het leuens vertel.

“Bring hulle hier,” sê Kuros. “Ons sal sien. As hulle oë hulle bedrieg, behoort hulle nie met oë vertrou te word nie. Beter af daarsonder.”

In sy jeug het Xenophon hom ’n Tempel van Boosheid voorgestel, met altare waarop die Persiese koning gevangenes offer. Nou kyk hy na ’n landskap waarin niks beweeg nie, na lae, sonverbrande klipbanke en ’n roerlose lug, amper wit van hitte. Die Grieke is nou ’n paar dae van die stad waar al honderd jaar lank die gedagtes gebore, planne gesmee, leërs versamel en bevele gegee word om hulle vaderland te verwoes, maar waar in hierdie barre godverlate woesteny skuil die duiwelse vyand? Alles lyk leeg, leweloos, maar hy weet dat kwaad ’n abstraksie is wat maklik, maklik in niks bestaan. Hy dwing homself om op werklikhede te konsentreer; hy het nie gekom om simbole soos tempels en altare te help omgooi nie, maar om ArtaXerxes se nageslag uit te roei en ’n vriend van die Grieke in sy plek te kroon.

Moeg van die geweldige hitte en afstande, pak hulle nogmaals op en hervat die mars. Orals voor hulle flikker water en palmbome, die landskap bewe van lugspieëlings, van hitte en bedrog. Nege myl verder, omtrent middag, is daar ’n leë loopgraaf oor hulle pad gegrawe, vier man diep en vyf wyd met loodregte kante. Ooswaarts strek dit so ver hulle kan sien, maar hier by hulle, tussen die sloot en die rivier, is ’n poortjie van tien tree wyd oopgelaat.

Wat is dié? Die generaals vergader daar op hulle perde om die loopgraaf te bespreek, terwyl die soldate verbymarsjeer en onrustig lag oor dié sonderlinge loopgraaf met ’n deurgang, waaraan tienduisende slawe maande lank moet gespit het. Wat bedoel die vyand nou hiermee? Die generaals kyk rond, onseker en besluiteloos. Miskien is die sloot nie belangrik nie. Dan trek hulle deur die gaping.

Terwyl hy die agterhoede deurlei, sê Proxenos: “Ek reken Roinos, die Olimpiese kampioen, spring hieroor.”

Maar die sloot sê iets vir Xenophon. “Wat sien jy, Proxenos?”

“Tydmors.”

“Die sloot sê dat ons in die koning se gedagte klaar verslaan is. Hy sien ons vlug.”

“Ons kreupeles en siekes is hier deur.”

“Dit is nie ’n loopgraaf nie. Kyk na die póórt. Dit nooi jou binne soos vlieëvangers met ’n bietjie heuning in. Almal kan in, maar nie een kom weer uit nie.”

“Waarvan praat jy, in die naam van Zeus?”

“Die poort lok ons in. Sal vlieë in die fles gaan as daar nie heuning en ’n openinkie is nie? ’n Vlugtende leër is verdoem. Die koning se ruiters dryf ons teen die loopgraaf terug; ons en die inlanders drom daar saam, almal wil soos skape gelyk deur die poort, sabels kap in die bondel, duisende spring af in die sloot om die slagting te ontkom. Die koning soek nie gevangenes nie. Die sloot is ’n oop graf.”

“Almal sal gelyk deur die poort probeer kom,” sê Proxenos. “Ordeloos. Gevang tussen die inlanders.”

“Ons moet hier wegkom. Al sê Kuros die landsvolk is lafaards, maak dié soort ding my skrikkerig. Help ons, Apollo van Afstande.”

Afstande

Подняться наверх