Читать книгу Afstande - Dan Sleigh - Страница 19

Kunaxa

Оглавление

Soos vlieë in ’n fles daal die prins se leër in die koning se lokval af. Daar is tekens op die grond dat duisende perde en mense verder terug, nader aan die hoofstad, verskuif is. Dit is ’n goeie teken, die koning trek terug.

Silanos die waarsêer het voorspel die koning sal nie binne tien dae veg nie, en Kuros se reaksie was: “Dan veg hy nooit, want tien dae bring ons in die hoofstad. Voorspel hier reg, en jy kry drieduisend darik van my.”

Nou is die tien dae verby, en Kuros roep die waarsêer en weeg sy loon voor die hele leër uit. Die soldate kyk verwonderd toe; dit is soveel as wat hulle almal tesaam vir tien dae se marsjeer behoort te kry. Hulle vind Kuros se buitensporige beloning so onredelik soos sy uitspattige strawwe, maar die gevoel onder hulle groei dat koning ArtaXerxes nie gaan veg nie. Die pad is nou oop vir hulle Babilon toe. Die generaals lag en wens prins Kuros geluk. Hulle marsjeer sonder teenstand van middernag tot die volgende middag, kampeer soos hulle gewoond is, eet en rus.

In hierdie jaargety begin elke dag heuninggoud onder die skitterende môrester. ’n Stofwolk op die oostelike horison styg soos onweer, maar die oggendwind waai dit weg. Van die middag af speel warrelwinde oor die hete vlakte. Kuros gaan met vertroue vorentoe. As die koning hulle vordering dophou, sal sy aanval omtrent middag kom, wanneer die invaller moeg en honger is. Vanselfsprekend, dink Xenophon, alles vanselfsprekend.

Twee dae nadat hy Silanos betaal het, sit Kuros en sy drywer in sy vegkar met net die Griekse regimente op die pad voor hom en die verkenners ver voor waar blink lugspieëlings strepe staande water voor ’n dynserige horison trek. Dit is middag en naby die plek waar hy beplan om te laer. Sy lyfwag is agter hom, en daarna die inlanders soos skaaptroppe wat in droogtetyd water toe gelei word, die meeste loop in groepies van ses of agt versprei oor die veld, half aan die slaap van die hitte, met hul wapens en gereedskap op waens of pakdiere.

Soos die bewende rookstrepie waar ’n veldbrand begin, sien die Grieke beweging in die hittenewel reg voor hulle, dit word digter en donkerder, dan roep iemand “Verkenner!” en ’n ruiter op ’n beswete perd kry vorm en kom uit die newel aangejaag met sy stof soos ’n trop honde op sy perd se hakke. In Grieks en Persies skree hy soos hy verbygaan: Die koning se leër kom!

Offisiere, wadrywers en onderoffisiere roep en slaan; daar kom dadelik ’n deurmekaarspul, almal verwag die vyand gaan op hulle wees voor hulle gereed is. Kuros spring van sy kar, gooi sy borsplaat aan, klim op sy perd en neem drie werpspiese in sy hand. Sy drywer gee die helm aan, maar hy weier dit. Hy skree sy eerste bevele, dat almal hulle moet bewapen en dwars oor die pad ’n front vorm, Grieke regs, Perse links. Sy plek is in die middel, voor sy seshonderd Onsterflikes met hulle sabels, pyltas en boog en roesrooi wapenrok van ysterskubbe wat tot onder die knieë hang; hulle perde kry haastig harnas voor die kop en bors. Agter en links van die lyfwag neem negentigduisend inlanders stelling in onder Arras, Kuros se vriend en tweede in bevel, vier man diep en ver na die linkerflank uitgebrei. Griekse onderoffisiere skreeu hulle hoekmanne in hulle plekke in. Dáár steek gekleurde wimpels aan spiese op uit die stof wat al stiebeuelhoog tussen die perde en mense walm.

Die Grieke sit by hulle wapens en rugsakke op die grond, swetend onder harnas en helm, met die skilde teen die knieë gestut. Klearkos se regiment het die regterflank teenaan die Eufraat. Langs hom is dié van Proxenos en dan die ander generaals linksaf tot by Menon, langs Arras se voetvolk. Kos word uitgedeel; die offisiere, soos die gebruik is, eet staande. Xenophon sit sy rantsoen van beskuit en droë vye in sy sak. Hy kan nie eet nie, van sy jeug af ruk sy maag voor ’n geveg asof hy gaan opgooi; later wanneer sy bloed kop toe spring, sal hy daarvan vergeet. Regimente neem beurte om watersakke in die rivier te vul. Agter hulle word die honderde provisiewaens deur ’n afdeling peltastai en draers in ’n vierkantige dubbele laer gesleep.

In die vroeë namiddag kom ’n grys wolk soos ’n sandstorm dwarsoor die vlakte aan, ’n soort donker skyn deur die bewegende wolk soos swartroes waar graan gewan word. Soos hulle nader, word flitse van blinkgevryfde brons gesien en kan formasies van ruiters en voetgangers onderskei word. Voor, oor die volle breedte van die front, ry strydkarre met lemme aan die wiele; stof warrel agter hulle aan. Die voetvolk hou die pas met hulle, op honderd tree sal die drywers die perde begin slaan om hulle met spoed deur die Grieke te dryf. Maar Kuros was verkeerd toe hy aan die generaals gesê het om vas te staan teen die geskreeu van die vyand. In plaas van skreeuend kom hul stil en in ’n egalige pas aan, myle wyd uitgesprei met die skuiwende stofgordyn om hulle.

Hulle kom in stamme ingedeel, in ’n digte, smal kolonne van ses man breed en eenhonderd diep. Aan die vyand se linkerflank, teenoor Klearkos se regiment, is ruiters met wit harnas. Dáár’s Tisafernes, sê hulle. Langs hom marsjeer soldate met rottangskilde, en langs hulle soldate met houtskilde wat tot by hulle voete kom. Egiptenare, sê die veterane. Nader na die middel is ’n digte massa ruiters en duisende boogskutters. Die Grieke soek die koning se goue banier tussen al die vaandels, maar sien dit nie.

Grieke lei altyd van die regterflank, Perse altyd van die middel. Kuros ry met drie lyfwagte en sy tolk heen en weer voor die front. Hy skreeu op Klearkos en wys met ’n spies: “Lei jou Grieke teen hulle sentrum. Dit is waar die koning is. As ons dáár wen, is die hele ding klaar.”

Klearkos kyk na die swaar formasie in die middel van die vyand se front waar die koning is en sien dit tot verby die Griekse linkerflank strek. Sy hele linie van tienduisend man sal meer as twee myl na links moet skuif, meer as twee myl weg van die rivier, wat hom aan omsingeling blootstel. Hy ry na Proxenos toe. “Wat dink jy?”

“Skuif, solank ons tyd het. Die koning is dáár, nie hier nie.”

“Nee. Hulle kom te breed. As óns teen die middel slaan, omsingel sy twee flanke ons. Laat Kuros skuif. Ons hou vas aan die rivier.”

“Sy bevel is duidelik. Ons moet skuif.”

“Ek sal sorg dat dit regkom.”

“God Zeus,” sê Proxenos, “wat doen ek hier?”

Klearkos ry terug na sy plek in die middel en Proxenos kom voor sy regiment aantree. Dit is weer die onnosele Spartaan wat nie kan verander nie. Die geledere word nou digter soos laatkommers uitasem kom aansluit; Proxenos stuur syne om hul watersakke te vul. Die vyand kom steeds in goeie orde aan en die woestynwind wat elke middag opsteek, dra nou hulle stof vooruit en oor die Griekse leër.

Kuros ry weer voor die front verby en kyk na die vyand en na sy eie volgelinge. Xenophon hou hom dop van sy posisie in die linie. Wat gaan hier van my word, dink hy. Daar is ons leier, hy wou nie sy generaals vertrou nie en nou vertrou sy generaals hom nie. Wat bedoel die gode, en wie gaan hulle hier as instrument van hulle wil gebruik, gaan dit daardie gesiglose stuk sonde genaamd ArtaXerxes wees, die ambisieuse en onbetroubare prins Kuros, die trotse en onbuigsame Klearkos, of hierdie honderdduisend voetvolk? Toe die prins naby is, stap Xenophon vorentoe, salueer met die swaard en vra of hy bevele vir hom het om oor te dra.

Kuros trek sy perd in. “Waarsêers het geoffer,” sê hy. “Die tekens is goed. Versprei die nuus.”

Goed waarvoor? Goed vir wie?

Terwyl Kuros praat, kom ’n geluid soos donderweer van ver af aan en rol agter hulle langs die linies af. Die prins draai hom om in die saal. “Wat is daardie geroep?”

“Dit is die wagwoord en weerwoord wat aangestuur word, prins Kuros,” sê Xenophon.

“Wat is die wagwoord? Wie het dit beveel?”

“Zeus die Verlosser. Die weerwoord is: Oorwinning.”

“Ek aanvaar dit so.” Dan ry die prins terug na sy plek in die middel, en Xenophon draai om en gee die boodskap aan Proxenos: Daar is geoffer en die tekens is goed, versprei die nuus.

Nou is die twee leërs ’n halwe myl uit mekaar. Onderoffisiere draf met wynsakke tussen die linies. “Eer aan Zeus,” sê hulle, “Zeus die Vader.”

Klearkos steek sy spies met die rooi wimpel in die lug, Proxenos doen dit ook en dadelik daarna die ander generaals al op die ry af. Die Grieke tel skilde op, laat sak spiespunte gelyk met die grond, begin die paean aan Zeus sing en stap vorentoe teen die koning se leër. Twintig tree afgetel en die paean klaar, verander hulle die greep, hef spiese bo die kop en storm vorentoe in hulle linies. In die voorste gelid slaan sommige hulle spiese teen skilde om die vyand se perde te verskrik, een groep swerm vooruit, die ander sukkel om hulle lyn reguit te hou, Proxenos se kapteins skreeu op mekaar om die voorste linie te bedwing. Terselfdertyd skreeu die hele leër, hees of skril “Eleleu, Eleleu, Eleleu,” aan die oorlogsgod. Van agter kom die eerste pyle oor hulle koppe vorentoe gevlieg, en die droë, warm stof begin die kele brand.

Nou word al die oë wyd en swart. Waar die pyle tref, weifel fraksies van die Persiese front, huiwer en beur terug, afdelings draai en vlug, skild teen skild beur hulle terug teen hulle eie mense. Die koning se rooi vegkarre jaag nog heen en weer, sommige sonder drywers breek wild tussen die Grieke deur, ander jaag na hul eie linies terug. Toe gooi die Grieke alles met mag teen hulle; hulle kap die spiese in die rûe van vlugtendes en beur verby, die kapteins skreeu om gelid te hou, maar die soldate voel die sukses en begin los agter mense aanhardloop. Die prins hou sy seshonderd ruiters bymekaar en soek waar die koning gaan verskyn, sy lyfwag sien hoe die Grieke die vyand terugdryf, hulle juig en roep al Kuros tot koning uit.

Koning ArtaXerxes is daar in die middel, anderkant Kuros se linkerflank. Hy sien daar kom geen aanval teen sy sentrum nie en bring sy regterflank om na binne soos ’n bokser ’n haakhou swaai, teen Menon se regiment en Arras se inlanders agter Menon.

Kuros verwag nou sy leër gaan teen die rivier gedruk word, en ruk teen die koning se sentrum op om hom te stuit en terug te dwing. Met sy lyfwag van seshonderd storm hy die sesduisend rondom die koning, hy kap met die sabel na nekke en gesigte, steek hulle generaal Artagerges dood en breek dwarsdeur hulle. Anderkant uit draai sy Onsterflikes om, dring weer in die digte geswerm rondom die koning in, maar verloor daar hulle samehang, tot prins Kuros nog net sy eie paar tafelgenote tussen die malende lyfwag in ysterbruin visskub-harnas om die koning herken. Dan sien hy ’n banier van purper en goud met ’n gevleuelde leeu op. Hy skreeu: “Ek sien my man!” Hy dryf sy perd met bloedige skoppe vorentoe, en slaan sy broer koning ArtaXerxes ’n sabelhou wat hom deur sy borsplaat wond. Maar in die swaai van sy arm steek ’n Ethiopiër met ’n borsplaat van swart olifantvel hom met ’n bamboeslans onder sy oog dat die versplinterde punt soos vyf oop vingers agter sy kop uitbars.

Die omsingeling van Kuros se leër vorder vinniger, vlotter. Onder sy inlanders is nie meer leiers nie; Arras, die tweede in bevel, se voetvolk breek voor die koning se ruiters weg en vlug eers deur hulle eie kamp en dan verder en verder terug, tot by die plek waarvandaan hulle vroeg dié oggend vertrek het, omtrent twaalf myl agter die front. Die koning laat hulle nie agtervolg nie; sy lyfwag dring die prins se kamp binne, kap die nagblou tent uitmekaar asof dit ’n lewende dier is, en gil hulle het die veldslag gewen. Saam met ’n hele klomp goed van goud en silwer vang hulle die meisie wat Kuros uit Fenisië saamgebring het en stroop haar nakend vir die koning. Die jonger vriendin, uit Miriandos, word ook gevang en dadelik deur die soldate kaal gepluk, maar sy ruk los en vlug met die lyfwag brullend agter haar aan na die Griekse peltastai wat die bagasielaer bewaak. Daar breek die gevegte nou uit; die peltastai veg met swaard en skild teen ruitersabels, hou die Perse weg en red die meeste van die slawe, bagasie en persoonlike eiendom wat in hulle sorg was, maar ly tientalle verliese.

Soveel stof hang oor die veld dat niemand ver kan sien nie. Omtrent drie myl vóór die bagasietrein dryf die Griekse hoplitai, nog juigend oor hulle maklike oorwinning, die vyand voor hulle uit. Dáár kom ’n boodskap by die generaals dat die koning met sy lyfwag tussen hulle bagasie is. Klearkos laat roep Proxenos, die naaste aan hom. Hy verneem na ongevalle: Sal hulle saam soontoe marsjeer, of een regiment stuur om die walaer te ontset? Wag, kry eers orde in die linies.

In Kuros se walaer kom koning ArtaXerxes regop in sy stiebeuels om hom aan sy ruitery te vertoon: Die hou deur sy harnas was nie dodelik nie. Hy verneem die Grieke het sy voetvolk verslaan en hulle omtrent drie myl agter hom teruggedryf. Hy laat sy rasende, rowende lyfwag tot orde bring en aantree.

Aan die geroep van basuine daar klink dit nou vir die Grieke of die koning van agter af teen hulle opmarsjeer, maar in die rooi woestynstof kan hulle nie sien wat aangaan nie. Klearkos laat die regimente omdraai en gereed maak om die vyand te ontvang, maar die koning val hulle nie aan nie. Soos hy tevore agter die Grieke se linkerflank verby gegaan het, ry hy en sy lyfwag met dieselfde pad terug en red onderweg Tisafernes met sy afdeling. Dié satrap het met die eerste ontmoeting deur Menon se peltastai aan die linkerflank gedring sonder om veel skade te doen, want die Grieke het net geledere geopen, sy ruiters deurgelaat en gesteek en gekap soos hulle verbykom. Toe hy sien hoe sy afdeling van die hoofmag afgesny word, het hy hulle nie laat omdraai vir ’n tweede aanval in die Grieke se rug nie, maar voortgejaag tot waar hy die koning se vaandel in die prins se walaer kon sien. Nou kom hulle saam in gevegsorde terug soos oorwinnaars, met basuine en vaandels vooraan.

Die koning trek agter die Griekse linkerflank verby. Vir Menon se hoplitai lyk dit of hulle omsingel gaan word. Klearkos sien die vyand hier naby, skaars honderd tree weg, en steek sy spies met die rooi lint op. Die hoplitai sing die paean, vervat die handgreep en storm skreeuend vorentoe met die spiese bo die kop, nog meer aggressief as tevore. Xenophon hardloop in die voorste linie van Proxenos se regiment in die plek van ’n gesneuwelde hoplite. Die Persiese ruitery veg weer nie: Hulle perde word ingetrek, deins agteruit, dan draai hulle om en galop weg. Ook die koning en sy bruin lyfwag draai voor hulle weg.

Oorwinning! Die oorblywende deel van dié middag agtervolg die Grieke die vyand te voet, met hulle stampende, skommelende soldatedraf tot by ’n lae heuwel naby ’n gehuggie met die naam Kunaxa. Klearkos halt sy leër daar, want vir agtervolging is ruiters nodig, en Kuros se ruiters en Arras se voetvolk is nêrens te sien nie. “Drink ’n kwart van julle water,” beveel Klearkos.

Bo-op die heuwel by Kunaxa, hoër as die hangende stof, staan die koning se lyfwag om hom saamgetrek. Sy banier is daar te sien: op purper, ’n goue leeu met gevoude vlerke. Die heuwel staan met ruiters oortrek terwyl tienduisende Persiese voetvolk verbystroom, agtertoe. En terwyl hulle kyk, ry die koning se ruiters ook weg, en nie in een groep nie, maar in bendes wat in verskillende rigtings vertrek sodat die heuwel geleidelik ontbloot word.

Klearkos laat die leër wag en stuur verkenners om te weet wat anderkant gebeur. Dit blyk die vyand is in totale aftog.

“Die Oosterling vermy die geveg as hy kan,” sê Xenophon. “Meer heuning, Neef. Waarom moet hy veg? Die mot sal vanself die kers vind.”

“Ek dink jy is reg, wyse Sokrates. Maar volgens die boek moet ’n verslane vyand agtervolg word. Net, ek sien nie ons prins of sy ruitery nie.”

Die Grieke stapel wapens, kampeer waar hulle is en stel die buitewag ’n myl ver op, met een pos bo-op die heuwel. Solank dié dinge gebeur, sak die son rooi agter stofnewels. Die generaals vergader by Klearkos se salpeter-gevlekte perd. Hulle wonder waarom geen boodskapper van Kuros kom nie en raai dat hy nou vooruit jaag om die een of ander belangrike stelling te beset en die koning in te wag, of miskien wag hy al met verversings in die hoofstad op hulle. Hulle bespreek of hulle moet bly waar hulle is en ’n boodskap agtertoe stuur om die bagasiewaens nader te bring, of om na hulle vorige kamp terug te gaan. Die besluit is: marsjeer terug.

Die son is onder en dit is donker toe hulle by die tente agter die slagveld kom. Die meeste het dié middag nie geëet nie, nou is daar ook nie aandkos nie. Al die bagasie, ook die kos en drank, is weggedra; Arras se vlugtende horde het die veertig waens met gars en wyn gestroop wat Kuros spesiaal teen ’n moontlike skaarste vir sy Grieke gespaar het. Tussen die prisoniers wat in die verdediging van die walaer gevang is, is twee bejaarde amptenare en die koning se persoonlike dokter, ’n Griek genaamd Ktesias. Nadat hulle ondervra is, kry Xenophon toestemming om met Ktesias te praat. Daar kry hy inligting oor die samestelling van die vyand se leër, hulle manier van trek en kampeer, van hulle rantsoene en medisyne. Ktesias en die vernaamste Persiese gevangenes word aan die koning teruggestuur met die boodskap: Laat ons in vrede huis toe gaan, of jy sal dit berou.

Xenophon skets die slagveld, met die posisies van die verskillende regimente en skryf die afstande waaroor hulle geveg het en versprei was daarby. Só bring hulle die nag op die vlakte by Kunaxa honger en koud deur, met hulle wapens in hulle hande. Die swart nag is maanloos, die hemel kook van die sterre, en hulle hoor jakkalse uit die rigting van die slagveld en later ook nader, rondom hulle eie kamp.

Afstande

Подняться наверх