Читать книгу Afstande - Dan Sleigh - Страница 8
Regte gode
ОглавлениеXenophon loop met sy slaaf Delphi toe, met ’n oskalf aan ’n tou. Die kalf se kloue en horings is wit gekalk en ’n olyfkrans met wit blommetjies hang om sy nek. Hulle kooigoed is op sy rug vasgemaak. Xenophon loop van sy kinderdae af saam met hierdie slaaf, eers na sy skoolmeesters, later na die stadswag se kampe. Die man het suur geword in sy diens omdat hy nooit sy mening vra nie. Jong seuns vra hulle paidagogos se mening. Hulle loop noordwes op die vervalle soldatepad genaamd die Heilige Weg. Op die skor kus aan hulle linkerhand hurk vissers se vaal gehuggies met vervalle stellasies langsaan. Vroeër, sê die slaaf, was dié huisies wit en die stellasies vol vis, maar oorloë maak mense moedeloos, waarom moeite doen? In sy jeug was dit ’n besige pad vol smouse en pelgrims, nou is dit uitgeput, leeg en moeg.
Hulle trek verby die swart kliphope van Platea, deur Sparta verower, verwoes, verbrand, met sout gesaai, vir dood gelaat. Lae boerehuisies met klipkrale en klipheinings, grys, vervalle en verlate, skuil teen rotskoppies. Later draai hulle noord na die berg Parnassus waar die Muse woon. Heilige Delphi, waar die orakel gespreek word, hang aan die sonnige suidekant. Die stad se marmer gloei room en goud soos die rotse waarteen dit leun. Op pieke, omring van ander pieke deur wolkstringe gestreel, blink die laaste wintersneeu. Voëls jubel in die dennewoud. Stilte asseblief, vra kennisgewings.
“Sodat die dawerende kranse nie neerstort nie,” brom die slaaf.
Daar is ’n dorpie met kamers wat hulle nie kan bekostig nie, en vlak teen die doodgetrapte stofpad ’n ry tafels waar boerinne aan pelgrims brood en vrugte verkoop en wanskapige kleibeeldjies van Apollo om terug huis toe te neem. Op die gras agter hulle lê fuike met hane en staan ’n kalf met ’n krans en geverfde hoewe, en ’n boklam aan ’n pen vasgemaak. Xenophon loop ongeduldig verby.
Dit is die eerste keer dat hy met ’n versoek hierheen kom. Hy sal versigtig vra, want die orakel se reputasie vir dubbelpratery is berug. Hoe hoër hulle klim, hoe haastiger word hy, hoe skerper brand sy asem in sy bors, hoe harder dreun sy bloed in sy kop. Sy gedagtes styg boontoe, hy wonder of die suising in sy ore die van Apollo se groot vlerke kan wees. Hy hoor skaars wat sy slaaf agter hom roep. Die meeloper vra om te rus, die ou man is moeg, hy kry nie asem nie.
Hulle gaan langs die pad sit, met die heilige stad nog bó hulle. Hulle kalf pluk aan gras en blomme. Ver onder hulle voete kronkel ’n vallei waardeur donkergroen olyfboorde in diep skadu stroom. In die suide skitter die see by Korinte. Agter die blink is blou heuwels agter blou heuwels agter blou heuwels. Dááragter, ver en vreemd, is die vyand se Sparta.
“Zeus wou die nawel van die aarde vind, hoor jy,” hyg die slaaf. Hy beduie ernstig na rooi kranse, verwring deur die Aardskudder. Hy dink hy moet nog altyd sy jong meester onderrig. “Hy het twee arende laat vlieg, een uit die sononder, een uit die dagbreek, en hier bo ons koppe het hulle ontmoet en hulle kloue verstrengel om te paar. Hier plant Zeus toe sy baken, die aarde se nawel. Daar staan dit, sien jy? In die outyd was Gaia die aardmoeder se kind Piton baas op dié plek, maar Zeus het sy eie seun gestuur om hom uit te skop, en van toe af regeer Apollo hier. Dit is sy tempel dáár, sy orakel.”
Hy weet dit alles, lankal. Maar hy is onseker: Moet hy vandag die Vader aanroep, of die Moeder, of die Seun?
“Zeus het honderde seuns,” gaan die paidagogos voort, “maar Apollo is sy spogklong. Daar is geen ander soos hy nie. Duisend jaar al kom mense hier om sy wil te verneem. Vind jy dit vreemd, Meester, dat ’n god sy dissipels kies tussen vissers?”
Waarom sou dit vreemd wees? Xenophon kyk weg na die see in die blou, mistige suide. Apollo het daar as ’n dolfyn aan vissers in hul skuit verskyn. Volg my, het hy gesê, ek maak julle vissers na die waarheid. Hulle was sy eerste priesters.
“Ek vind dit vreemd,” sê die slaaf. “Vissers. Nie eens boere nie. Sit nog ’n oomblik, ons os wei lekker.” Dan wys hy na ’n grot teen die berghang. “Dáár het mal Dionusos, die twee maal gebore god, in die goeie ou tyd gewoon. Sy grot was vol wynvate, sy tyd het hy deurgebring in herberge en taphuise in die geselskap van mans wat van mans se geselskap hou.”
Xenophon kyk in stilte. Hy weet dié dinge al van sy kinderdae af. Die son skyn warm deur die geurige denne. Hulle os het nie nou meer voer nodig nie. En waarom sien ’n slaaf neer op vissers?
“Hierdie Piton, hoor jy, Meester, hy is toe nooit dood nie. Apollo het hom onder die vuurspuwende berg Etna begrawe. Daar asem hy die vure deur sy mond uit. Maar hoor nou dié stuk: Sy ma was gepaar met ’n leeu en ’n bok en ’n draak, en ’n monster is gebore. Het my heer gehoor die naam, Kimaira? Op die kus van Asië lê hierdie monster onder die grond en asem sy vuur uit. As julle kuslangs trek, gaan julle daar verby.”
“Het jy besluit ek gaan met Proxenos saam?”
“Die gode besluit. Mense loop ver uit hul pad uit om dit te sien. Hulle sê dit kom en gaan net, dag en nag. Dit slaan uit die grond uit op, dit vlam, dan is dit weg, dan is dit weer daar. Dit is vreemd. Die Kimaira gaan miskien op julle weg wees.”
Xenophon is gewoond om sy eie kop te volg. Hy loop vooruit. Die geplaveide pad lei heen en weer van terras tot terras. Op elke terras is daar tempels, klein en groot, en amper uitasem van die hoogte staan hy eindelik voor Apollo se sierlike tempel. Dít is waar mens en god kontak maak. ’n Duisend jaar! Skerpsinnige Troilus was vroeër priester hier. Herodotus die geskiedskrywer het gekom, en ook Pithagoras wat die aardbol uitgemeet het. Oedipus, die godverlate koning, het sy afskuwelike lot hier verneem. Koning Kroisos, eens magtig en ryk, het hier kom leer om nie sy eie uitleg aan gode se woorde te gee nie; dit het hom nederig en baie arm gemaak.
Agter hom hyg die slaaf, getrou aan sy taak: “Kroisos stuur, hoor jy, Meester, ministers met goud. Twaalf slawe dra dit. Hulle moet vra: ‘Moet Kroisos van Lidië sy land teen Persië verdedig?’ Die orakel antwoord: ‘As Kroisos teen Persië veg, gaan ’n groot koninkryk val.’ Hy was uitermate bly. Ses maande later gooi die Pers hom voor sy eie poort op ’n brandstapel.”
Die Heilige Weg bekruip die berghang van die kant af, gly tussen die geboue in. Hulle moet hulle aanmeld en in die tou wag tot hulle geroep word. Oorlogshelde uit Sparta en handelaars uit Athene het vir groot bedrae hier spoggerige gedenktekens gebou, Athene om sy eerste oorwinning oor die Perse te gedenk, Sparta syne oor Athene. ’n Bronsperd herdenk die oorwinning by Troje, ’n brons-os herdenk ’n ongelooflike vangs dolfyne. Duisend jaar! Die verskriklike Persiese Ryk bestaan skaars tweehonderd jaar. Die slaaf fluister en wys: Twaalf stede het hulle met ’n eed verbind om hierdie plek te onderhou en te bewaar teen oorlog, armoede, afguns, onkunde en die tyd se verval.
Tussen struike langs die plaveisel lê potskerwe met skriftekens daarop. Xenophon tel op om te lees. Is ek die pa van die kind? Die slaaf raak aan sy mou en hy gooi die skerf vererg tussen die bossies weg. Dié aanraking: As kind wou die slaaf sy hand vashou, soos die gewoonte is, wanneer hulle skool toe loop. Hy wou dit nie toelaat nie. “Kyk, my heer,” sê hy en wys, “die rooi skeur daar waar die krans afgestort het die dag toe die Perse dié heiligdom aangeval het. Die Aardskudder het hulle verjaag.”
Op die voorste terras, ingekap in die berghang, staan drie tempels, een groot en twee kleiner. Apollo se skatkis staan op die vloer van sy heiligdom agter ’n heining van bronsspiese. Op die plaveisel lê borsspelde met edelstene, silwerarmbande soos slange inmekaar gevleg, kamme van skilpaddop in goud geset, silwerbekers gegraveer met bokkies en bome, goue hoofringe met olyftakkies versier, muntstukke, ringe van goud en silwer met swart, rooi en blou edelstene. Sononder kom versamel ’n priester dié donasies, vertel die slaaf, vee die plaveisel en sluit weer die hek.
Toe hulle voor in die tou kom, vra ’n kort, dik priester hul offerande, bekyk die ring wat Xenophon aanbied, byt daaraan, en beduie hulle moet die kalf altaar toe neem. Hulle hou die horings vas en die slaaf krap die kalf se keel tot hy sy kop lig en sy keel uitstrek. Die kalf ruk weg by die eerste reuk van sy bloed, maar die priester sny die keelare en lugpyp met twee, drie hale van sy mes. Die os sak roggelend op sy knieë, sy bloed pomp uit in ’n bronsskottel. By die taai, swart altaar doop die priester herhaaldelik sy vingers en sprinkel bloed in die vuur. Bediendes in bruin jurke kom met ’n slee en sleep die rukkende karkas na hulle woonplek.
Xenophon koop ’n potskerf by die priester, word pen en ink gegee en skryf sy vraag: Tot watter god moet ek bid en offer om eerbaar en veilig op reis te gaan en veilig en suksesvol tuis te kom?
Die priester knik. “Wag hier.”
“Ek wil saamkom.”
Die priester hou sy hand uit. Xenophon wys: twee kopermunte? Die priester vryf sy duim en wysvinger teen mekaar. Nie genoeg nie. Nog twee? Nee, meer. Hy gee die helfte van wat hy by hom het, en hulle loop teen die steilte op, draai regs, klim in ’n spoelsloot op tot dit ’n ruigbegroeide klofie word wat onder ’n lae krans begin. Die berg se skaduwee verdonker die omgewing. Die priester wys hulle om stil te bly.
“Moeder.” Die priester se stem is toonloos, asof hy in ’n droom praat. Hy staan daar gebuk en praat met die grond.
Stilte.
“Hier is ’n jong man wat vra tot watter god hy moet offer en bid sodat hy veilig en suksesvol mag terugkom van ’n ekspedisie wat hy in gedagte het.”
Stilte.
Xenophon leun vorentoe om deur die bosse in die skaduwee in te kyk. “Wat is daar agter?” vra hy nuuskierig.
“Gaia. Moenie na haar kyk nie. Moenie nader gaan nie. Moenie praat nie. Laat haar met rus.” Uit die bosse kom ’n gemompel, sagte kreune en skerp krete asof iemand pyn ly. Weer stilte.
“Kom weg.” Die priester neem sy arm. Hulle gaan haastig bergaf, die priester vooruit, Xenophon onseker agterna, die slaaf skellend agter hulle aan.
“Wat het sy gesê?” roep Xenophon agter die priester se rug.
“Die regte gode,” sê die priester hard, sonder om sy kop te draai.
“Is dit al?”
“Ja. Aan die regte gode.”
“Maar hoe weet jy dit?”
“Jy kan dit nie hoor nie, glo net.”
“Hoe lyk sy?”
“Ek mag nie sien nie. Ek glo net.”
“Maar waarom? Waarom?”
Die priester steek vas, sy sandale gly skor oor die gruis. “Liewe vader, hoor ek iemand ‘waarom’ sê? Waaragtig moet dit ’n leerling van Sokrates wees. Gode in die hemel, vaders van die stad en die state, verlos my van filosowe en hulle kinders.” En dan reguit aan Xenophon: “Jou Sokrates sal binnekort sy agterste sien, glo my. Hy wat die jeug mislei en die gode se priesters minag. Glo my.”
Hulle loop bergaf. Die slaaf se gemor rol soos los klippe saam met hulle af. “Meester, hierdie man dink ons kom van die plaas af. Het jy hom om die aardmoeder gevra? Want die Pitia profeteer in die portaal van Apollo se tempel, dáár.”
Hy weet dit. Almal weet dit. “Dit is die regte antwoord. Ek het daarom gevra.”
“Ons kom Delphi toe en jy praat nie eens met die orakel nie? Die vent is ’n buikspreker. Hy het jou belieg.”
Pedantiese ou dwaas, dink Xenophon. Wat weet hy, of enigeen, hoe die genadige reën in die lug vorm, of watter kleure van blomme en soorte van vrugte slaap in sade wat almal eners lyk? Jy weet nie. Jy waag. Nou is hy haastig om hier weg te kom en sy toekoms te sien.
“Gaan ek saam, Asië toe?”
“Nee.” Hy ignoreer die gefluisterde “goddank” agter hom.
Toe hy tuis kom en sê wat die antwoord was, is Sokrates ontevrede. Hy lê ’n verslete ou stuk klere waaraan hy werk opsy. Hulle sit buite sy skerm, agter die digte heining vol jong granate.
“Wat?” sê hy terwyl hy die brood kou en die bier wat Xenophon gebring het in sy baard stort. “Waarom het jy nie reguit gevra of dit beter is om met die soldate te gaan of tuis te bly nie?”
“Ek hoor Apollo roep, en ek het besluit om te gaan. Dit is dringend. Ek wou hoor hoe ek die beste sou vaar.”
Die ou man klink teleurgesteld. “Wat, wat? Hoor jy, my seun, werklik gode roep? Maak dan soos die orakel gesê het. Twaalf Griekse stede het onderneem om dit in stand te hou. Gaan kyk en word wys. Kom eet saam met my, vir oulaas. Kom, hier is genoeg vir twee.”