Читать книгу Al is die maan 'n misverstand - Danie Marais - Страница 10

Wees gerus

Оглавление

Raak my aan, asseblief,

raak my nie nou al aan nie.

Uit hierdie bitter grond gebore

tussen windhande wat my wil klief.

H.J. Pieterse – “Artisjok”

Dis doodreg,

want ek wil jou nie sommer

vuil vat en klou nie –

as mens aan die sterre vat

gaan hulle dood, sê Breyten.

Ek kap net soos ’n kat na ’n vlinder

my pelspoot na jou.

Ek:

kyk vir jou soos ’n nagapie,

waai my stert, honde-glimlag,

gooi verbete flikkers vir jou

soos ’n vuurtoring oor die water.

Ek ry ons enigste soen soos ’n luck dragon

as almal slaap.

Soggens kom fluit ek soos jou ketel,

jaag met ’n fris bries

die reëndruppels soos paddavissies

oor jou venster.

Ek staar oop en bloot pers na jou

soos ’n Pretoria in Oktober.

Ek gaan lê bloot met die boekmerk tussen jou blaaie

as jy die lig afsit snags.

Daar is niks om voor bang te wees nie –

ek doodle maar die sewe lucky letters van jou naam

en laat jou in vrede spartel

met jou donkerbloed jou warm-alleen

jou rooi hart-gedagtes.

Kyk, ek trek net die gordyne oop

sodat jy kan voel hoe roekeloos die maan

deur die diefwering aan jou vat

in Sun Court 8 –

jou gehuurde kou

in ’n wilde stad

in Afrika.

Al is die maan 'n misverstand

Подняться наверх