Читать книгу Al is die maan 'n misverstand - Danie Marais - Страница 15
Asseblief II
ОглавлениеDis drie-uur, Sondagoggend –
Mary Coughlan se Tired and Emotional hang
soos sigaretrook en herinnering
in die lug om my.
Gregor sit-lê oopmond en slaap
in ’n swart stoel
skuins oorkant my,
maar jy is ver weg
as ek koorsagtig probeer
om die toekoms te sien
in die sewe wasige letters van jou naam
soos iemand wat ’n kleur probeer hoor
of ’n klank wil proe
soos ’n baba in sy wieg wonder
oor die betekenis van nagwind in die blare.
Onthou, Marais, niks was ooit soos jy gedink het
dit gaan wees nie –
jou laaste liefde het jou
“Alles Schlechte!” toegewens
voor sy vir altyd
met haar bitterrooi Volkswagen Polo
weggery het …
Met die laaste sluk wyn
kom ’n woord soos ’n ysskots
iewers in my los –
dryf suid met ’n ysbeer
in ’n ra-ra-rooi Hawaiise hemp.