Читать книгу Al is die maan 'n misverstand - Danie Marais - Страница 14
“Maar die grootste hiervan was die hoop”*[1]
ОглавлениеNá middagete en ’n bier
het ek gaan loop regdeur ’n somerdag in Londen –
daar was baie mense, rooi busse en padtekens,
maar ek was los voor
in my kortbroek en sandale,
’n wip in my stap
en die rooi ligte het hulle groen geskrik
die stoptekens het gesê “Ry!”
Al die waarskuwingstekens was vir ander bedoel.
warning! scaffold is alarmed
het rooi letters my vermaan.
“Take it easy, Mr Scaffold,” het ek gereken.
“Don’t be alarmed now, darling.”
Want kyk, daar’s ’n meisie met sewe letters
in haar naam
en sy sê sy hou van my, Mr Scaffold,
sy sê sy soek my en ek glo haar
en loop aan onder staande toejuiging
van lamppale,
middeldeur die somer;
die Japannese toeriste langs die Teems
wat vir my glimlag
voor hulle met duur kameras behang
omdraai
en my agterna staar.
By Westminster Bridge
het ek gestop, my ingegrawe
met ’n pint donker gedokterde bier –
Big Ben soos ’n Lucky Strike in my lawwe bek
en ’n wêreldstad soos wolke
af, af met die rivier …
Ná daai pint moes ek my skateboard-luim
straataf, tipsy en somerlangs ry
om te wag vir haar
in al die straatkafeetjies,
die duisend restaurante
en donker pub-hoekies,
die kouebier-terrasse
waar die blou lug lawaai
en elke slag
het sy oorkant my
agter haar verstaanbril kom sit –
heimat in haar handsak
in haar glimlag die groot miskien.
En ek, ek was eensklaps Elvis,
Time Man of the Year,
Lucky Luke en Han Solo –
“fell into the cauldron when I was a baby”.
Bliksem, sy sit net en smile vir my
op die foto in my hand
en ek ís die Pink Panther, Aragorn, son of Arathorn,
die uitverkore volk, die oop pad
en die ewige lewe.