Читать книгу Al is die maan 'n misverstand - Danie Marais - Страница 18
Onthou
Оглавление“My ma sê hulle gaan geen opehart-operasies meer
in Kaapse staatshospitale doen nie,”
sê ek op jou bed
in jou flat in Sunnyside
terwyl ek met my tone oor jou voetsool vryf.
“Regtig?” sê jy
skielik wawyd wakker.
“Ek ken al daai Kaapse hospitale van binne –
Karl Bremer, Tygerberg, Panorama.
My ma het in almal gelê tot sy
in Tygerberg se kankersaal oorlede is.
Ek onthou daai hospitaalbesoeke ná skool
asof ek gister nog in standerd 4 was.”
Jy vertel van destyds,
van die tyd van die foto’s
wat jy so versigtig
saam met ’n paar briefies en knipsels
in ’n Cadbury’s Black Magic-boksie bewaar.
Wanneer jy vertel, sien jy goed wat ek nie kan sien nie.
Ek oorweeg dit om die onderwerp te verander,
maar te laat –
ek is ingesuig.
“Jou ma is redelik vinnig oorlede, nè?”
Ek hou op om jou voetsool te streel.
“In Maart-April ’87 is longkanker by haar gediagnoseer,
en op die 11de van die 11de daai jaar is sy weg.”
“So, sy was net nege maande siek?”
“Ja, so lank soos ’n vrou swanger is,
maar as ’n mens elf is,
voel dit soos jarre.”
“Het jy ooit in die hospitaal vermoed
daar is nog gevoelens tussen jou ma en pa?
Hulle was mos al vyf jaar geskei.”
Ek dink aan my eie egskeiding,
hoe dit sou wees as ons kinders gehad het;
die dood.
“Partykeer
as my pa ons vir ’n naweek kom oplaai,
het ek my so iets verbeel.
Miskien net wensdenkery …
Maar die dag toe my pa so vroeg
by die nasorgsentrum was,
toe ek hom so klein
voor die saaldeur sien staan het,
het ek geweet sy’s dood.”
Ek laat ’n vinger sag
op en af oor jou arm gly.
“Haar dood was aan die begin net
so onwerklik.” Jou stem nou vol ou huil.
“Sy was net 39 en haar hele klerekas
het nog geruik na haar.
Hoe kan ’n mens dood wees
as jou klere nog na jou ruik?”
Toe jy jou gesig na my toe draai
herken ek duidelik jou ma.
Dis warm, en ek ruik jou
in die fyn haartjies
teen jou nek.
Buite is dit pers Oktober.