Читать книгу Al is die maan 'n misverstand - Danie Marais - Страница 16

Mens klop en mens waai

Оглавление

Dis tjoepstil, halfdonker en kort voor toemaaktyd

toe ek by Bremen se lughawe-restaurant inval.

Iemand is besig om te vee en op te ruim,

maar hy sien my nie

en ek gaan regs in die hoekie langs die ruit staan –

net betyds om te sien hoe jy jou paspoort

aan die ou met die snor

by “Passkontrolle” gee;

hoe jy deurgaan om tranerig maar vriendelik

vir iemand by Gate C

te vra of jy op die regte plek is

en of die vliegtuig nog nie vertrek het nie.

Twee minute gelede het ons mekaar

onbeholpe en ontoereikend

totsiens gesoen

ná ’n streng Duitser jou beboet het –

Suid-Afrikaners het altyd te veel bagasie

het hy droogweg opgemerk.

In die stil skemerhoek van die restaurant kyk ek

vasgenael

deur twee stukke glas hoe jy,

bril op die voorkop,

jou kaartjie nagaan

en jou paspoort check,

hoe jy naarstig na ’n tissue soek,

een vind

en jou neus selfbewus blaas;

hoe jy jou selfbeheersing effens herwin

en rondkyk

voor jy nog ’n slag huil

weer ’n Kleenex uit jou sak krap

kompulsief kyk of jou kaartjie reg is

en daarna nogmaals op die tv-skerm seker maak

of jy werklik by die regte hek wag.

Dis toemaaktyd en ek staan soos ’n spook

in ’n blikkerige lughawe-restaurant

en gee sonder ’n sweem huiwering weer

my swart hart vir jou,

maar jy sien my net nie raak nie.

En daarom begin ek vir jou waai –

dringend maar terughoudend,

versigtig om niemand te laat sien

hoe buite beheer ek skielik voel nie.

Ek klop weer en weer teen die glas,

bang om soos ’n maniak te lyk

en teen die ruit te hamer soos my binneste wil,

maar dit bly te sag ...

As jy net jou bril weer wil opsit.

Jy kan my seker nie so ver sien nie,

maar wag, jy sit nou jou bril op en jy kyk

twee ondraaglike kere

regdeur my.

En nou raak ek desperaat –

is dit dalk eenrigting-glas?

Ek loer oor my skouer

om te kyk of die kelner my dophou.

Ek oorweeg dit om jou naam te roep

en voel pateties daaroor,

maar lafhartig en skuldig

omdat ek dit nie wil waag nie.

Ek is nou bygelowig oortuig

as jy my sien,

sal jou vliegtuig nie val nie

en jy sal weet ek twyfel nie meer nie,

maar ek bedwing my;

waai net oor en oor

my beleefde noodkreet aan jou

tot ek my skaam vir my goeie maniere.

Want so klop ons behoedsaam

teen die deksel van die doodskis

as begeerte ons stil-stil begrawe –

vasbeslote om nie die bure te pla

of mense in die middel van aandete

lastig te val nie;

bang iemand sal uitvind

hoe bloederig ons voel.

Ná twintig minute gee ek moed op

en los jou op die lughawe;

loop weg saam met baie mense

en vat ’n trem

die drukkende skemer in.

Al is die maan 'n misverstand

Подняться наверх