Читать книгу Al is die maan 'n misverstand - Danie Marais - Страница 20

Bismarck en die tuinman

Оглавление

Hier waar ek lê

in lou badwater

voel ek hoe die somerhitte druk.

Ek sweet

onder my gewaste papnat hare.

Die sonbesies buite

klink soos ’n sameswering;

herinner my

aan my kuiers by Leon met die groot ore

toe ek 11 was –

Leon, die enkelkind in die groot huis

met ’n swembad en ’n tennisbaan

en al die jongste plate en ’n ouma

wat altyd tuis was

om koekies en koeldrank aan te dra

vir ons wat na Wham of Michael Jackson luister.

Op die tennisbaan

het Leon my gemaklik geklop,

maar toe ek eendag ’n stel wen,

het hy sy raket op die grond gegooi

en binne toe gehardloop.

Op die vuurwarm tennisbaan

het ek onseker agtergebly –

die kombuis se sifdeur wat agter Leon toeklap;

die sonbesies wat te kere gaan.

Bismarck die rottweiler –

’n knorrige, opvlieënde bliksem –

het tussen my en die agterdeur kom staan.

Vir Bismarck was ek bitter bang.

Hy’t eenkeer na my gehap.

In my nagmerries

het hy altyd van agter gekom.

Met die grom en die omkyk

was dit te laat.

Sy kake het maklik om my ribbekas gevou,

die tande wat in my vleis wegsink

soos stewels in modder.

Hy’t my in sy bek opgetel –

ek kon my hopelose tennisskoene in die lug

sien spartel.

Ek was te bang om te skree.

Maar die tuinier het vir my geglimlag

en gewaai.

Ek kon nooit verstaan hoekom

die tuinman met my vriendelik is nie.

Leon het my vertel

hoe hy die tuinman bekruip

wanneer hy die gras sny,

en hom met sy BB-gun skiet.

Kon ’n mens ’n verskil

tussen my en Leon sien?

Was die tuinman so bang vir Bismarck

soos ek?

Het hy Leon gehaat

soos ek hom sou haat

as ek die tuinman was?

Dat die tuinman vir Leon eendag

met sy tuinvurk sou doodsteek,

was nie vir my onwaarskynlik nie.

In die somerhitte en my angs

is sy wit glimlag

tot ’n hatige gryns verwring.

Die bloed in my ore

het harder gesuis as die sonbesies.

Ek was naar en duiselig,

maar niemand het kom help nie,

niemand het my op die tennisbaan sien staan nie.

Ek het vriendelik vir die tuinman gewaai.

Wanneer ek bang vir binne

en bang vir buite

soos vandag in die bad dobber,

weet ek glad nie hoe om uit te klim nie.

Buite patrolleer Bismarck die aarde.

Binne glimlag die tuinman breed.

Al is die maan 'n misverstand

Подняться наверх